Grensbeamptes wat duisende deurlaat, vas

Nege polisiebeamptes en sewe ander mense is Dinsdag vir bedrog en korrupsie by die Caledonspoort-grenspos in hegtenis geneem, het die Valke gesê.

Volgens kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, was ses uit die sewe immigrasie-beamptes en een ‘n beampte van die departement van gesondheid.

Die beamptes het mense van Lesotho sonder die nodige dokumente oor die grens tot in Suid-Afrika laat kom deur hulle R150 elk te vra.

“In sommige gevalle het taxibestuurders ook teen ‘n fooi van R150 paspoorte by die grenspos afgelaai om stempels te kry sodat die paspoorthouers langer in Suid-Afrika kon bly,” het hy gesê.

“Dit word al vir ‘n lang tyd georkestreer. Die beamptes het meer as R100 000 ‘n dag gemaak. In een geval het die beamptes R200 000 gedeel.”

Hy het gesê mense sonder paspoorte het in ‘n bus by die grens opgedaag, waarna ‘n polisiebeampte op die bus sou klim en hulle tel.

“Elke persoon is R150 of R200 gevra en daarna was die bus toegelaat om Suid-Afrika binne te gaan.”

Besonderhede oor wanneer hulle in die hof sal verskyn was nog onbekend.

Maak 'n opvolg-bydrae