‘n 18-jarige student in die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, se kantoor, en sy vriendin is doodgeskiet, is Dinsdag berig.
Jarryd Manuel en sy 19-jarige vriendin, Megan Hendricks, is Saterdagaand buite sy ma se huis in Delft doodgeskiet, berig die Cape Argus.
Kapt. Frederick van Wyk het aan die koerant gesê ‘n 19-jarige man is in verband met die skietery ondervra.
Manuel was ‘n PAY-projek (Premier’s Advancement of Youth)-student in die premier se departement.
“Dit is ‘n tragiese en sinnelose dood wat benadruk hoe ernstig die krisis van bendegeweld is,” het Zille aan die koerant gesê.
“Jarryd kon ongetwyfeld ‘n suksesvolle loopbaan bou vir homself deur die geleentheid te gebruik wat sy internskap gebied het.”
Zille het haar medelye met die twee se gesin en vriende uitgespreek.
Die voorsitter van Delft se polisiëringsforum, Reggie Maart, het gesê daar was onlangs ‘n toename van skietvoorvalle in die gebied. Minstens vyf mense is sedert verlede Maandag dood en twee gewond.
