Hierdie ideaal resoneer in die Nuwe Suid-Afrika se landsleuse, vervat in daardie onuitspreeklike x’e en uitroeptekens onder die dansende, boepens-en-boesmanboudjies figuurtjies: Eenheid in diversiteit. Die slagspreuk is ‘n eggo van die vorige landleuse, “Eendrag maak mag.” Diversiteit is ook daarin geïmpliseer want waar daar nie ‘n verskeidenheid is nie, is ‘n oproep tot eenheid oorbodig.
Verskeidenheid wat in ‘n huls van eenheid verskans is, is ‘n ideaal waarna selfs getas word met die ontwerp van die huidige nasionale vlag. Twee kulture word in kleurkode verteenwoordig. Afrika is te sien in die geel, groen en swart wat nie net die kenkleure is van die Afro-Nasionale Kongres nie maar veelseggend genoeg ook van die Rasta-beweging waarvan die hartland in Ethiopië is. Hierdie kleure druis van links na regs oor kleure wat onmiskykbaar en onbeskaamd Europees is: Die rooi, wit en blou soos uiteengesit in die Nederlandse vlag, die Franse tricolore en, les bes, ook in die Britse Union Flag en selfs Ol’ Glory, die Amerikaanse sterretjies-en-strepies vlag. Met die bekendstelling van dié vlag – toe dit nog die “oorgangsvlag” was – het Cyril Ramaphosa by die westekant daarvan, oorheers deur die groen, geel en swart, gestaan en Roelf Meyer by die rooi, wit en blou aan die ander kant. Roelfie, wat gewys het ‘n mens kan nog ‘n (flouerige) sin vir humor hê net voordat jy jou volk in die rug by die afgrond afskop, het geskerts: “Staan jy by jou kant van die vlag en ek by my kant.”
Nie al die Afrikaners het gegrinnik nie maar die meeste was tog naïef beïndruk deur die atmosfeer van die landsimbole wat skynbaar die bewaring van identiteite binne die inklusiwiteit van die Nuwe Suid-Afrika beklemtoon het. Kyk, ons kan Xhosa wees of Zulu, Basotho, Tswana of inderdaad Indiër of Kleurling. Ons kan selfs Afrikaner wees want ons is soos die rooi, of die indigo of die groen in die reënboog, herkenbaar ‘n afsonderlike volk en selfs wanneer hierdie rooi of indigo of groen oor die kromming van die reënboog gespan word bly rooi rooi en indigo indigo en groen groen. Daar is hoop! Ons kan hierdie reënboogding doen. Dit is in hierdie gees, het hulle geglo, wat Desmond Tutu – op sy flikflooierige beste – die uitdrukking “Reënboognasie” geskep het en net sy verklanking daarvan (“ê, ê, ê reinnn—bou nê-sjôn”) het dit laat klink asof dit ge-kerspit moet word en in ‘n blommetjiesraam skuins onder ‘n Madiba-portret in die voorkamer moet hang.
As dit die reënboog is, sê ek en sê miljoene ander Afrikaans, bring dit hier! Dit is ‘n herinterpretasie van die ou Verwoerdiaanse ideaal van afsonderlike ontwikkeling en die Afrikaner voel gerieflik daarmee. Hy verkies om na homself om te sien en is tuis tussen sy eie mense en sku tussen ander. Maar, ê ê ê ê wag nou, wag nou net so ê ê ê ê bietjie… dit is glad nie wat die Aartsbiskop in gedagte gehad het nie. Dit omseil wat hy die “vryheidsdividend” noem, die swartmens se aanspraak op die Afrikaner se rykdomme. Dit laat die inboorling verantwoordelik vir sy eie gebreke en vergrype en dit sal nooit, nooit in die Nuwe Suid-Afrika deug nie. Nooit nie. Nie in Tutu se Reënboognasie nie.
So sou die Afrikaner leer, ‘n reënboog, nes skoonheid in die Engelse uitdrukking, is in die oog van die kyker. Een man se reënboog is nie ‘n ander man s’n nie en dit is duidelik dat die A.N.K. óf nooit soos die Afrikaner oor reënboë gedink het nie óf dit bitter gou herbedink het. In die Nuwe Suid-Afrika het die reënboog net een kleur. Natuurlik is daar net een manier om ‘n enkele kleur te maak uit die verskeidenheid kleure van die optiese verskynsel wat ons ‘n reënboog noem: Keer die prismatiese effek om. Wanneer al die rooie en oranjes en gele en groene en bloue en indigo’s en violette as een lig gesien word, is daardie lig wit; weliswaar, gesien die gekleurde mens in Suid-Afrika se nimmereindigende obsessie om wit te wees, ‘n ironiese kolskoot, maar waaragtig nie die effek wat die Tutus in ‘n populistiese slagspreuk wil besing nie. Die Tutu-reënboog, het ‘n dosyn jaar se rassisme, dorpsherbenamings, grondeise, regstellende aksie, hoë-vlak politiek-korrekte rowery en swart-teen-blank geweld ons geleer, is donker; donker soos die eindelose middelveld van Afrika wat ‘n mens in daardie satelliet nagfoto’s sien; nie blinkswart soos antrasiet nie maar grys, dofgrys soos aangepakte lood of die vel van ‘n Sjangaan wat op die N3 voor Vosloorus doodgery is. Die Reënboognasie reënboog, na alles, is nie ‘n begrip wat in terme van ‘n kaatsing van lig uitgedruk kan word nie. Dit is ‘n idee wat ‘n beter analogie vind in verf of, nog trefferender, in drukkersink.
In die vlakdrukproses word die illusie van volkleur geskep deur piepklein kolletjies wat in “rosette” van vier kleure – blou, rooi, geel en swart – gedruk word. Die intensiteit van elke kleur in verhouding met mekaar gee die indruk dat die beeld ingekleur is. Dit is nie ‘n besondere ingewikkelde proses nie, maar een wat groot noukeurigheid vereis om seker te maak die kleure is in registrasie. Omdat die kleure in volgorde met lang tussenposes gedruk word, smeer die onderskeie kleure ink nie. Maar as jy die blou en rooi en geel en swart ink in blertse langs mekaar sou aanbring en, terwyl dit nog nat is, deurmekaar sou smeer, sal daar ‘n nuwe kleur – onkleur? – op jou voorvingerpunt wees: Loodgrys. Dooie-Sjangaan-langs-die-N3 grys. Die soort grys wat jy by ‘n Soweto-braai in die marog-bokvleis-en-stywepap bredie in die driebeenpot sal kry: Die grys van die Tutu-reënboog.
Die Tutu-rëenboog, ‘n visie van die natuurverskynsel soos deur die gerookte glas van ‘n sweisbril gesien, duld geen ander kleur as grys nie. Hierdie grys kan swart wees met wit kleurelemente en ons sien die manifestasie daarvan elke dag, die bemagtigde swartman as westerling oorgetrek in sy snyerspak, sy pinkiering, sy handgestikte skoene, sy Rolex en sy Police donkerbril. Hy ry by ons verby in sy glimmende hoëwerkverrigting, lugversorgde, klankverrykte statusmissiel, op pad na ‘n megarand-per-vierkante-meter kantoor, iewers hoog in die korporatiewe of administratiewe atmosfeer waar hy gaan inpronk om gesien te word in die besetting van ‘n pos waarvoor hy nie gestudeer het nie, geen opleiding voor ontvang het nie, nooit voor beplan het nie; hy moet net gesien word, want hierdie grys, hierdie swart met deurskynende wit selofaanoortreksel, hoef geen waarde by ‘n organisasie te voeg nie, geen administratiewe behendigheid, strategiese aanvoeling, bestuursvernuf nie, hy hoef net aan die organisasie te behoort want hy is swart, hy is bemagtig en sy teenwoordigheid, word hy vertel en glo hy, is waardevol genoeg.
Maar hierdie grys kan ook uit wit bestaan met ‘n swart skimmellaag oor. In die Nuwe Suid-Afrika, grysboogland, moet die wit verdwyn, grys word, vervaag in die skadu’s in. En hy trek soos Denis Beckett sy Madiba-hemp aan, daardie los oortrekstuk met die etniese patrone op; daardie kledingstuk wat die verstommende vermoë het om ‘n swartman flambojant en sorgvry te laat lyk maar wat die middeljarige blanke draer se los keelvelle beklemtoon en hom hangskouerig en beboeppensd laat lyk. Maar die Getransformeerde! blanke is bedrewe daarin om die nuwe lewe se klein afjakke en verkleinerings met ‘n gestyfde grinnik op die gesig te aanvaar. Dis met daardie grinnik wat hy plek maak vir die getroue Selina om aan tafel met die gesin te eet en waarmee hy haar aanpor om haar belewenisse met hom en sy gesin te deel. Behalwe wanneer sy oor ernstige sake, soos haar kultuur en lewe in die township praat. Dan grinnik hy nie. Hy knik sy kop swaar en sy oë trek dán nou, dán wyd net sodat sy kan weet dat hy elke woord van haar met deernis ontvang en met ontsag in sy binneste bewaar. Grinnik. Kopknik. Kopknik. Grinnik, grinnik, grinnik. Met sy jongste se verjaarsdag sê hy vir haar om haar klein Precious te laat saamkom wanneer die kleuters dit by die Spur met papierhoede, ballonne, kinderporsies en ‘n kelnerserenade vier. En wanneer hy aandring dat Sipho, die kantoor se nuwe stelselbestuurder, saam met hom en ‘n paar kollegas by 41 in Groenkloof gaan eet, word daardie grinnik nóg breër, nóg stywer veral om Sipho se kwinkslae te bekragtig of sy faux pas toe te plak as hy sukkel om ‘n voorgereg reg uit te spreek. Hierdie Nuwe Gryse ken al die etniese gonswoorde waarvan “ubuntu” nie net die belangrikste is nie maar as’t ware die sosiale ideaal wat hy glo hy eendag sal behaal. Wanneer hulle Nkosi Sikelela sing, staan hy nie op aandag nie want aandag is ‘n wit postuur; hy staan regop met sy regterhand op sy linkerbors en hy sing saam want hy ken al die woorde in al vier van die elf landstale waarvan die volkslied gemaak is. Hy ken die name van die meeste kabinetslede, spreek “Xhosa” met ‘n tongklap uit, sing lofliedere oor Mboweni en Manuel wat hy as die beste finansiële span wat daar nog ooit in ‘n Suid-Afrikaanse regering was beskryf en hy praat van Rolliesjlasjla Mandela as “Madiba.” Hy is ‘n pasifis, het ‘n Nuwe S.A. vlag vir ‘n plakker in sy stasiewa se agterruit, verkondig die evangelie van anti-retrovirale middels en dra ‘n rooi strikkie in die eerste week van Desember. Hy stem DA maar is eintlik lief vir die A.N.K. Hy glo daar is ruimte vir almal, gun vir almal die beste in hierdie land waarop hy so openlik en verbete trots is. Maar om ‘n rewolusie te vier moet ‘n mens die teenslag afkeur. En so, omdat daar so iets is as geregverdigde woede, sien hierdie Nuwe Gryse, hierdie voorheen bevoorregte witte, rooi as ‘n bende reaksionêre idiote die ou landsvlag swaai wanneer die Springbokke in ‘n toets speel.
Wat hulle intellektuele standaard ook mag wees, ‘n klompie mense hét die ou vlag, die Oranje-Blanje-Blou, op die paviljoene geswaai toe die Springbokke einde verlede jaar nógmaals voetbalskande gemaak het op ‘n toer na Europa. Hierdie verfoeilike gedrag moes onmiddellik en ten sterkste in die openbaar uitgekryt word. Toe laat kom hulle die kaptein.
John Smit, soutierooi van haar, rooinekbleek van velkleur en gebou soos ‘n pond botter – en beweeglik soos een ook – frons, kug sy keel skoon en verklaar dat die Springbokke in die verleentheid gestel is deur dié vlagwaaiers. Enige iemand wat al sy goed-gerepeteerde post-wedstryd onderhoude (“… ek is trots op my ouens… hulle het baie karakter getoon… ons het onsself in die steek gelaat…”) gehoor het sal saamstem dat John nie die helderste sweetband op die veld is nie, dat dowwe instink eerder as volkleur verbeelding hom aandryf. Maar! Wanneer hy oor verleenthede praat – luister! want ons Springbok-kaptein is ervaringgewys ‘n wêreldkenner van verleentheid.
As daar ‘n trofee was vir voetbalverleenthede, was dit die John Smit beker. (Die trofee vir die swakste rugbyspeler van die jaar is Iafrica se “Rudolf”, vernoem na Rudolf Straeuli, voormalige Springbokafrigter. Die huidige houer van die trofee is….. John Smit!)
John laat na om die presiese vlak van verleentheid wat deur die vlagswaaiers veroorsaak is aan te dui. Is dit ‘n verloor-teen-Frankryk-in-Suid-Afrika verleentheid of is dit meer van ‘n verloor-met-16-52-teen-die-All-Blacks gevoel van skande of is dit die skaamte wat die kaptein ervaar wanneer die Springbokke op een toer met rekordtellings teen Wallis, Frankryk én Engeland verloor? Is dit in die graad van vernedering wat ‘n mens sou ervaar as jy, die kaptein, jou span lei (?!) in ‘n nederlaag van 49-0 teen ‘n pieperige span Wallabies of as jy ‘n beduidende bydrae gelewer het in die telling van 34 gemiste vasvatte in ‘n enkele wedstryd of wanner jou span bulvoorspelers as “poefters” afgeskryf is? Met die vertoninglys van die huidige korps Springbokke, waarskynlik die vrotste in geskiedenis, sou ‘n mens nie dink dat hulle ‘n paar lapsimbole op die paviljoene nodig sou hê om verleë te voel nie.
Maar daar is John, sy soutierooi gesig nog rooier en sy dik lyf in ‘n knellende wit hemp en ‘n Springbok-kleurbaadjie geskink. Sy breë gesig is net so weemoedig soos wanneer die Springbokke nog ‘n slag afgeransel word. ‘n Mens kan maar sê dit is sy gebruiklike gesigsuitdrukking. Daar om toe te sien dat hy sy rympies mooi voordra – en vermoedelik dat sy naels skoon is, hy binne-in sy naeltjie gewas het en ‘n gestrykte sakdoek by hom het – is ene Zola Yeye, die huidige Springbok spanbestuurder – een van daardie standaarduitgawe politieke kommissar wat, so wil dit voorkom, in ‘n ondergrondse laboratorium in Uzbekistan of iewers geproduseer word vir die uitsluitlike rede om witmense te irriteer. Die inhoud van Johnny se voordrag is dat die Springbokke skaam gevoel het toe hulle die ou vlag op die paviljoene gesien het.
En ‘n mens dink, ja wraggies, ons kan verstaan dat hulle verleë voel. As jy ‘n span is wat so gereeld uitoorlê, papgeskrum, kisgehardloop, voosgeduik is, en jy dink aan die Springbokke wat op hulle tyd die Oranjé-Blanje-Blou gesalueer het – ysters soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, Jan Ellis, Danie Craven, Hennie Muller, Hansie Brewis, Japie Krige – nou ja, dan is dit maklik om te bloos, skaam te voel en weg te kyk. Neeneeneenee! Nie dáárdie soort verleë gevoel nie. John Smit praat van iets heel anders.
Johnny resiteer mooi maar effe eentonig. Die enigste vlae wat hom skaam maak is dié met ‘n Afrikaner-verbintenis: Die Oranjé-Blanje-Blou, die Transvaalse Vierkleur en die vlag van die Oranje Vrystaat. Die ander vlae word deur sy verstek om hulle te noem as onbesproke verklaar. Sy verklaring is so onoortuigend as wat verwag kan word van ‘n rugbyspeler vir wie ‘n eenvoudige wedstrydplan ( hou die bal, moet dit nie wegskop nie; hou die bal moet dit nie wegskop nie; hou die bal moet dit nie… JOHNNNY! Wat MAAK jy?!) ‘n intellektuele brug te ver is.
Zola Yeye het duidelik nie ‘n hoë agting vir die kaptein se verstandelike spierkrag nie. Met die matelose arrogansie van ‘n nuutbemagtigde lid van die Grys Reënboog, bewe hy vir die geleentheid om sy rewolusionêre ywer te demonstreer. J.J. Harmse, Rapport se verslaggewer op die toer, skimp kliphard dat Yeye een van daardie selfbehepte administrateurs is wat geen moeite of sonde ontsien om in die kalklig te gloei nie. Niemand mag, byvoorbeeld, voor hom die spanbus verlaat nie en hy reserveer die perskonferensies met die meeste publisiteitswaarde vir homself. Wat hom, ‘n minderwaardige rugby-apparatsjiek met ‘n armsalige verlede as speler en onbeduidende loopbaan as administrateur, betref, is hierdie die Zola Yeye-toer met die Springbokke bloot as ondersteunende item. Hy hef een van daardie onsamehangende, siedende, verontwaardigde monoloë aan waarvoor swart retorici berug geword het.
Volgens hom het mense vir John, die gedienstige kaptein, gevra om ‘n ou vlag te teken en toe hy geweier het, het hulle “hom in Afrikaans gevloek.” Dit is af te lei dat dit die Afrikaans eerder as die skelwoorde was wat die dwarsgraat in Yeye se keel is. Dit, reken hy, is dit die gedrag van mense wat nie wil “aanvaar wat in die land gebeur het nie.” “Die ou vlag behoort aan gister,” mor hy en voeg onheilspellend, indien ietwat kripties, by: “’n Publieke onreg gun jou nie ‘n private reg nie.” Waarna hy aanbeveel dat ‘n publieke onreg gepleeg word: “Hulle [met die ou vlag] moet nie die geleentheid gegun word om dit te doen [die ou vlag op die paviljoen te waai] nie.” Hierdie vlagswaaiers beduie hy, “probeer oneer aan ons nasionale simbole bring. Ons vlag is ons hart en siel.” Wat beteken hy iets gesien wat die res van ons misgekyk het. Hoe ‘n goeie idee ek by myself mag dink dit is, ek het niemand in die paviljoene gesien urineer op die Nuwe Suid-Afrikaanse Jockey Junior Zolroker Vlag nie. Hy voer aan dat die Springbokke teen “elke land” wil speel – ‘n begeerte wat nie sondermeer ooglopend op die veld is nie – en “hulle gee nie om oor jou politiek of jou ideologie nie.”
Reg. Hulle (die Springbokke) gee nie om oor jou (die Afrikaner) se politiek of ideologie nie. Mooi. So waaroor die bohaai dan?
Want ‘n yslike bohaai was daar ‘n bohaai. Die vlagswaaiers is wyd uitgekryt; die woord “idioot” is algemeen gebruik, gewoonlik in die styl van John Robbie (“Kry daardie idioot van die veld af!”) Dit is lank reeds duidelik dat die bewakers van goeie Grys Suid-Afrikaanse politieke sedes die vertoon van die Oranje-Blanje-Blou as barbaars en aggressief beskou. Maar dit is nie net die ou vlag wat nie die nuwe populêre sensor se skêr ontglip nie, dit is ook die Stem, ander volksliedere, die gebruik van tradisionele Afrikaanse dorpsname en selfs Afrikaanse popmusiek.
‘n Rits van hierdie klagtes is in Oktober in Business Day aangehef deur Christi van der Westhuizen, ‘n liberale navorser van Natal oor wie se prosa die hale van haar uitgebrande buustelyfie lê. Nadat sy die Afrikaner – en veral in sy manlike gestalte – van bakboord na stuurboord sleggesê het, hyg sy gebelgd oor ‘n Afrikaanse musikant, ‘n “sanger du jour” soos sy hom noem (“daar is hordes van hulle”) wat opspraak verwek het deur die Stem op die verhoog te sing. (Dié maaifoedie is Pieter Smith wat ‘n ritueel daarvan maak dat sy gehoor aan die einde van ‘n vertoning op aandag staan terwyl hy voorgaan met Die Stem. Alles behalwe ‘n musikale wasempie gaan sy loopban van krag tot krag, dankie.) Sy sien in Steve Hofmeyr se albumverkope ‘n sieklike hunkering na apartheid en sy skel die groep Kobus! uit oor die titel van hulle nuutste CD: “100% skuldgevoelvry.” Dit is natuurlik hoe sy die Afrikaner verkies – struikelend, stamelend, deurtrek met skuldgevoelens, afgerem deur sy sondelas. Dat die vooruitgang van almal in hierdie land en die behoud van die strukture daarvan afhanklik is van ‘n sterk, selfversekerde, positiewe Afrikaner roer haar geensins.
En dit is wat mens die meeste tref in hierdie hele protes oor die huldiging van die Afrikaner se simbole: Die algehele gebrek aan gesonde verstand daarin. Selfs ‘n takties gestremde haker behoort dit te kan insien maar, indien nie, laat ons nie versuim om hom in sy dinkprosesse te help nie.
Laat ons dan stadig met hom praat, soos met iemand wie se verstand nog in ‘n losskrum is terwyl die spel al na die oorkant van die veld verskuif het:
Nou kyk Johnny, jy weet daardie ding wat julle altyd sê oor skeidsregters, dat al wat vir julle as voetbollers tel is dat hy “konsekwent” moet wees; dat wat onkant is vir een span, onkant moet wees vir die ander een, en so aan? Net so met vlae, Johnny. Sien jy? Die reëls wat geld vir een vlag, moet geld vir ander vlae ook.
Sal ons dan by die ou landsvlag begin en kyk hoe dit gaan? So, sê vir ons, Johnny, wat is dit van die ou vlag, die Oranje-Blanje-Blou, wat vir jou soveel aanstoot gee? Nee, Johnny, nee, jy’s verkeerd. Yeye is verkeerd. Christi van der Westhuizen is verkeerd. Die Oranje-Blanje-Blou is geensins die “apartheidsvlag” nie. Dit is al in 1928 amptelik gehys, ‘n goeie twintig jaar voor die uitvinders van apartheid, die Nasionale Party, hulle eerste algemene verkiesing gewen het. Niemand het dié vlag ontwerp om die ideale van apartheid te verteenwoordig nie. Dink jy iemand het gaan sit, ‘n kleurpotlood se agterpunt gekou en gemymer: “Hmmm… hoe sal ek nou weer apartheid op ‘n vlag voorstel? Ek weet! Ons begin met oranje, wit en blou bane en sit die Union Jack en die Boererepublieke se vlae in die wit baan!” ?.
Wat ook al die politieke prestasies of sondes van die verlede, Johnny, dit maak nie saak nie. ‘n Vlag, sien jy, is nie veronderstel om ‘n politieke beweging se simbool te wees nie. Die funksie daarvan is om ‘n volk te identifiseer. Die Oranje-Blanje-Blou is die vlag van die Afrikaner – vóór, týdens en ná apartheid. Dit was veronderstel om elke Suid-Afrikaner se vlag te wees maar terwyl die Afrikaner dit omhels het, het die gekleurdes en die Engelse weggeskram daarvan. As jy dié vlag as ‘n verleentheid sien, trek jy jou neus vir die Afrikaner op. (Jy weet mos wie die Afrikaner is, Johnny? Dis nou sulke ouens soos Os du Randt, Bakkies Botha, Jacques Cronjé, Danie Rossouw, Schalk Burger, jy weet mos, die ouens wat jou moet uithelp elke keer as jy droogmaak op die veld en in wie se oë jy weier om te kyk as jy wéér ‘n keer die bal aangeslaan het.)
Die Afrikaner het finaal sy rug op apartheid gedraai. Gaan vra maar vir daardie lede van die publiek wat die ou vlag by hulle het, Johnny, daardie ouens wie se vlag jy te nougat was om te teken, en hulle sal jou vertel, apartheid is nie ‘n stelsel wat hulle wil herbesoek nie. Hulle waai nie die vlag om te sê “Gee ons apartheid terug” nie. Hulle wys die vlag en sing Die Stem om te sê “Hier is ‘n Afrikaner, een van die afsonderlike kleure van die aartsbiskop se Reënboognasie!” As jy dit nie kan verdra om die Afrikaner trots op sy eie te midde van die verskeidenheid te sien staan nie, weet jy wat doen jy, jy voeg jou stem by dié wat reken die Afrikaner moet padgee – in sy eie grondgebied in waar daar geen politieke korrekte koliekeriges is wat deur hom ontstel kan word nie. En waar hy sy eie vlag sonder teenspraak kan hys al is dit die vlag wat julle verkeerdelik die “apartheidsvlag” noem.
Ja, niemand stry nie, dit wás die vlag waaronder apartheid ontwikkel en toegepas is. Die apartheidsregering het nooit enige ander vlag gesalueer nie. En kom ons aanvaar dat apartheid die ongenaakbare onderdrukking was wat jy vertel is dit was – en… so…? Onthou net, dit was onder die Oranje-Blanje-Blou wat die Afrikaner – en niemand anders nie – die stelsel van apartheid afgetakel het. Die vlag behoort mos dan, soos julle daaroor dink, gerehabiliteer te wees.
Maar daar was nie net ellende onder die ou vlag nie, was daar? Daardie vlag was die simbool van ‘n land waar daar vrede, veiligheid en vooruitgang was. Inwoners van lande wie se vlae jy met eerbied op Ellispark sal aanvaar, het hongersnood en uitdelging in hulle eie lande onder sadistiese despote probeer ontkom deur te vlug na die land van die Oranje-Blanje-Blou.
Dink so daaroor, as dit nie vir apartheid was wat die regering as beleid in 1948 ingestel het nie, was daar nie vandag ‘n Loftus, ‘n Ellispark of ‘n Nuweland vir jou en jou dapper manne om julle toetse op te verloor nie. Suid-Afrika sou, met die uitsondering van die gebiede rondom die genasionaliseerde myne, uit stofstrate bestaan het waar verflenterde, verhongerde kaalvoetklonkies leë Rooikruis kosblikkies rondgeskop het voor buitemuurportrette van korrupte vetvark diktators in heroïese postuur. Onder die gewapper van die Oranje-Blanje-Blou is ‘n sterk, welvarende, veilige land gebou. ‘n Verpletterde volk het sterk en trots geword en was uiteindelik in die posisie om sy hand ondertoe te hou om ‘n primitiewe inboorlingras boontoe te trek na die beste lewenstandaard Suid van die Sahara.
Ja, daar was vergrype deur die inwoners van die land onder die Oranje-Blanje-Blou maar hulle het self hierdie tekortkominge ontleed en weggedoen daarmee. Dit is, na alles, in die aard van die westerling. Hy het nog altyd die nasionale karakter gehad om sy eie onreg aan te spreek al was dit, sê nou maar, slawerny. (Hierdie is nie ‘n Afrika-eienskap nie. Slawerny sou nou nog in Suid-Afrika gedy het as die blankes nie die inboorlinge verplig het om dié praktyk te staak nie.)
Nou kyk Johnny, wanneer jy sê dat die vlag van jou pa en jou oupa vir jou ‘n verleentheid is, vat jy hulle in die gesig, as jy volg wat ek sê. Ek weet dat vir iemand wat so hard moet werk om lynstaankodes te memoriseer dit moeilik is om nou nog oor die geskiedenis ook te gaan oplees. (Terloops, is dit waar dat jy jou vinger onder die lyntjie hou en jou lippe beweeg as jy lees?) Die waarheid, Johnny, is dat jou oupas nie sommer net op ‘n regeringstelsel besluit het omdat hulle nie van “kaffers gehou” het nie. Hulle opsies was beperk. Het hulle die regte een geneem? Wie is ons om te sê? Miskien, miskien nie. Maar sê jou wat, Johnny, die alternatief – om die land se regering aan swart mense oor te laat – lyk vir my, na twaalf jaar se knoeiwerk deur die A.N.K., al hoe onaanlokliker.
En kom ons praat nou oor die ander vlag, Johnny, die Nuwe Suid-Afrika s’n. Meneer Yeye sê julle is baie trots daarop en ek sien jy stry nie met hom nie. Sien jy iets raak as jy na die vlag kyk: Die grootste deel daarvan is die presiese kleure van die Afro-Nasionale Kongres, die A.N.K? Ek kan onmiddellik aan twee ander politieke partye dink wat hulle eie simbole deel van hulle landsvlag gemaak het: Die Kommuniste van die U.S.S.R. en die Nazi’s van Adolf Hitler.
En wat het Suid-Afrika onder die A.N.K. vlag bereik? Wel, eintlik het dit die vlag geword waaronder moord, diefstal en rassehaat aangemoedig word. Die regeerders onder dié vlag begaan die misdaad teen die mensdom om ewe vroom hulle stilswyende goedkeuring gee terwyl honderde duisende mense gemartel en vermoor word. Die leiers onder dié vlag tree, in die woorde van Anton Barnard, soos gulsige varke by die trog op. Hulle roof en plunder die eiendom van hulle eie mense terwyl die armes en siekes van suiwer ellende vergaan. Die ou, ou Afrika-storie, of hoe sê ek?
Maar weet jy wat, Johnny, al sou ek die leiers onder hierdie vlag nooit kan respekteer nie, weet ek daar is mense – mislei sou ek dink – wat lief is vir hierdie vlag. En ek sal staan op hulle reg om daardie vlag te waai net waar hulle wil, net wanneer hulle wil. Ek sou dink julle sal dieselfde basiese hoflikheid aan die Afrikaner en sy vlag gun.
Jy gun dit vir die vlae van ander lande, Johnny, lande met menseregte rekords wat apartheid skugter en filantropies laat lyk. Soos Pakistan. (A, ja, weer daardie verpeslike ding, geskiedenis, Johnny. Ek weet jy verpes dit en probeer dit vermy.) Pakistan is gebore uit die magsug van ‘n enkele Moslem, Mohammed Ali Jinnah, en die ontstaan daarvan is gekoop met die bloed van amper ‘n miljoen hulpelose Hindoes. En tog, ek sien nie dat jy piep of mompel wanneer Suid-Afrikaanse Moslems die vlag van Pakistan by ‘n krieketwedstryd op Supersport Park waai nie. En dink daaroor, is hierdie mense nie verraaiers nie? Suid-Afrika sit kos op hulle tafels maar hulle ondersteun vir Pakistan! Konsekwent, John, wees konsekwent. Kry vir Meneer Yeye om ‘n perskonferensie te reël waar jy kan vertel hoe hierdie renegaat vlagwaaiers die sportlui van Suid-Afrika in die verleentheid bring. Ek wag.
Ek wag ook dat jy iets vir die Pakistanis se bure te sê het. As ‘n vlag regtig skakelwerk doen vir die misdade wat onder dit gepleeg word, hoekom word die Indiese vlag hoegenaamd nog geduld? Het jy al gehoor van die tienmiljoen babadogtertjies wat die afgelope paar jaar in Indië vermoor is, Johnny? Baie Indiërs wil mos eintlik net seunskinders hê. Daarom, as ‘n kind gebore word en dit is ‘n dogtertjie word haar boudjies gepiets en, wanneer sy skree, gooi hulle haar mond vol grond sodat sy verstik en sterf. Hoe vergelyk die plan om ‘n land in dele op te deel waar elke volk in vrede en sy eie weergawe van voorspoed kan leef met sulke grootskaalse kindermoord?
John, John, John, dis nou vir eers genoeg. Jy het baie om oor te dink en ek weet jy het ‘n vol program. Jy moet daardie lynstaankodes gaan opswot. Maar belowe my, in die vervolg, as Meneer Yeye wil hê jy moet resitasies gaan opsê oor vlae en verleenthede, né, weet jy wat, al wat jy doen is, sê vir hom… “ek sal ’ie!”
Tragies genoeg is dit nie net ‘n voetbalspeler wat gebelgd is oor die vertoon van die Oranje-Blanje-Blou en ander Afrikaner simbole nie. Skrywers, kommentators en akademici hyg en sis oor ‘n breë boeg by aanskoue van die vlag. ‘n Mens moet wonder wat die emosionele stoom is wat al dié venyn aandryf. Suiwer woede en preutse verontwaardiging verduidelik nie alles nie. Sulke emosies word gewoonlik getemper deur die geringste flentertjie logika. As daar enige redelikheid in die kabaal was, was die debat al verby. Westerse kleure en Die Stem is na alles in die landsvlag en volkslied opgeneem en kan dus nie só radioaktief wees nie. Nee, hier is iets anders aan die werk en, by oorweging, kan dit net een dryfveer wees, die mees voor die handliggende, die eenvoudigste, die een waarby ‘n mens met ‘n enkele haal van Occam se skeermes uitkom. Die Oranje-Blanje-Blou, Die Stem en ander Afrikaner afdrukke verwek nie eenvoudige weersin nie, nee, dit laat iets heel anders opwel in die gemoedere van die liberalis, iets magtig en ononderdrukbaar: Vrees.
Dit is vir ons wat weet hoe gemoedelik, vrygewig en besorgd ons mense is, vreemd om in te sien dat enige iemand se hele gedragspatroon verwring kan word omdat hy bang is vir die Afrikaner. Maar dink ‘n mens daaroor, ja wraggies, dit móét intimiderend wees om saam met die Afrikaner in een land te bly.
Die Afrikaner, wanneer hy nie uitgehol is met selftwyfel nie, is onstuitbaar. Hy het die dictum “’n volk red homself” ontwerp en hy onderskryf dit. Jy kan, deur verraad, hom onderkry maar jy kan hom nie onderhou nie. Hy kan nie afgepers of omgekoop word nie en as hy ‘n rigting ingeslaan het, wyk hy nie af daarvan nie. Hy het die geduld van Afrika en die energieke rusteloosheid van die Europeër. Watter intellektuele of professionele gebied hy ook al inneem – landbou, die spoorweë, administrasie, die regte, medisyne, ingenieurswese, die krygsbedryf – oorheers hy vroeër eerder as later. En enige volk met ‘n nasionale selfvertrouekrisis of met ‘n gebrekkige vertoningsrekord raak ongemaklik, verbouereerd en self bevrees as die Afrikaner naby is.
Vrees? Maar is vrees nie ‘n blanke ingesteldheid nie, net soos wat slagofferskap en status as Grys Suid-Afrika voorspoedikoon die reserwe van die swartman is nie? Blanke vrees is ‘n opgeruimde tema van die liberale pers en smalende swart kommentators. Hulle sien dit as die dryfveer vir wat hulle waarneem as Afrikaner agterdog, traagheid om te transformeer en oorreaksie op misdaad. Nou ja, ek is ‘n Afrikaner en derhalwe blank en ek erken, ek is bang. Ek is bang om oorval te word, gemartel te word en wreedaardig vankant gemaak te word en elkeen van ons wat in Grys Suid-Afrika woon, staan ‘n werklike kans op sulke behandeling. Dit is vrees ja, maar nie onredelike vrees nie.
Die liberalis en die swarte se gesamentlike vrees lyk anders. Dertien jaar van Afrikaner verdraagsaamheid het vir hulle die valse gerustheid gebring dat die blanke weerloos teenoor geweld is en gaan bly. Maar ‘n rusteloosheid knaag aan hulle want die Afrikaner se tradisionele taaiheid, vindingrykheid en energie is eienskappe wat ‘n indruk gelaat het op die kollektiewe geheue van die res van die inwoners. Elke keer wat hulle verbitterd sis oor die verdrukking wat hulle moes ervaar, besef die swartman, die Afrikaner het hulle onderdruk want hy kón.
“Wat julle nie besef nie,” vertel ‘n inwoner van Fouriesburg my die ander dag, “is hoe vreeslik bang die swartes vir die Afrikaner is.” Hy behoort te weet want hy het ‘n wit pa wat, in sy eie woorde, “ontugtig” geraak het in Lesotho en ‘n gesin van gemengde ras verwek het. Hy ken beide kulture vorentoe, agtertoe uit.
Die vrees waarvan hy praat is geensins die produk van blank-op-swart geweld nie. Vir meer as ‘n eeu was daar geen sprake van georganiseerde of selfs grootskaalse lukrake geweld deur Boere op swartmense in die Oos-Vrystaat nie. Maar hier, soos in die res van Suid-Afrika, het die Afrikaner gekom en die wêreld deur die mag van sy wil verander. George Bernard Shaw het roemryk gesê dat die redelike mens by die wêreld aanpas en dat die onredelike mens die wêreld by hom aanpas. Sy gevolgtrekking is dat alle vooruitgang op die onredelike mens berus. Die Afrikaner kan as bewys van dié stelling dien.
Die Boer van die negentiende eeu was tevrede met die eenvoudige lewe. Hy was in pas en in beheer van die natuur. Hy was materieel arm maar het die weelde van geloof en ‘n hegte gesinslewe gehad. Dit was ‘n harde bestaan, maar ‘n bevredigende een. Dit alles het verander in die puin wat deur die Tweede Vryheidsoorlog gelaat is. Die Boer is verskuif na ‘n nuwe bestaansarena. Meeste het verstedelik en moes eers leer om aan te pas by die ritmes en eise van lewe in die stad. Maar hy het gou genoeg daardie ritmes en eise herprogrameer om by sy ideale en doelwitte aan te pas. Hy het die een na die ander gebied wat deur sy Britse veroweraar verskans is, binnegedring en oorheers. Die boere wat op die plase gebly het, moes ook hulle benadering verander. Hulle moes eenvoudig kommersieel mededingend word eerder as om bloot op bestaansboerdery ingestel te wees. En so word hulle, die Suid-Afrikaanse landbou-omgewing in ag geneem, die mees vindingryke, doeltreffende boere op die planeet. Die Afrikaner, om die minste te sê, is ‘n nasionale handvol en op sy beste was hy onaantasbaar.
Derhalwe het dit as ‘n skok gekom, nie net vir homself nie maar ook vir die blanke liberalis en die algemene swart bevolking, toe die Afrikaner verslaan is in ‘n rewolusie, nie deur eksterne druk of binnelandse rewolusionêre magte nie, maar deur sy eie gemanipuleerde sin vir regverdigheid. Die liberalis en die swartman was die onverwagse begunstigdes van die verstommendste magsoorgawe in die geskiedenis. Aanvanklik was dit maklik genoeg om hulleself deur hulle eie lofsange te oortuig dat hulle die oorwinning self behaal het. Die moeilike deel van dit alles was die oorname self, het hulle tipies geglo. Om ‘n land te regeer, nou ja, is ons nie die nuwe Übermensch, die Novus Negro nie? Maar twaalf jaar se administratiewe onbeholpenheid en algemene hopeloosheid het dit al hoe moeiliker gemaak om die gedagte te onderdruk dat hulle nuwe status nie toe te skryf is aan hulle eie skranderheid nie maar dat dit ‘n toegewing was deur die Afrikaner. En in die nasionale geheue roer herinneringe van die forse, doelgerigte, kragdadige Boer. Dit is net ‘n kwessie van tyd, is dit nie, dat die Boer sal sê “Genoeg!” en sy posisie as die toonaangewende volk in die streek opeis.
En die Nuwe Gryse, die swartman, maak nie saak hoe hard hy sy Brenda Fassie laserplaat oor die 24 luidsprekers van sy nuwe Lexus speel nie, hoeveel geld hy en sy departement by onthale op kos uitgee waarvan hulle nie hou nie of met hoeveel drif hulle nuwe planne, idees, strukture, herorganiserings en herstrukturerings by werkswinkels, konferensies, konvensies, imbizos of seminare bespreek asof hulle regte administrateurs is nie, in sy binneste, net bo die sooibrand van sy nuwe stres, is daar ‘n gedagte wat kronkel soos ‘n paling in ‘n modderpoel en wat so dan en wan met die stert sweepslaan sodat jy hom vir ‘n oomblik duidelik bo al die ontkennings en bravado kan raaksien: Die Boer… ek weet wie die Boer is… en hy is nêrens heen nie… hy’s nog hier en sy geduld gaan een van die dae opraak en as ‘n Afrikaner ongeduldig is met die swart volk… nou ja… ons almal weet wat dit beteken… Hierdie emosie is na driehonderd jaar deel van die swartmens se DNS. Net so min as wat hy homself kan kielie dat hy lag, kan hy dié gevoel kan ignoreer. Dit is… vrees… vrees dat hy met die Afrikaner op ‘n gelyke voet moet meeding. Vrees om homself te moet handhaaf waar die Afrikaner aktief is.
Die blanke vrees geweld. Die swarte vrees vrede.
En wanneer die mens vrees, het hy net ‘n paar meganismes om dit mee aan te spreek.
Jy kan die voorwerp van vrees wegwens of probeer wegpraat. Die blanke doen dit deur sy ontkenning van die omvang van misdaad of dat dit deel van ‘n omvattender strategie is. En as dit nie heeltemal oortuigend is nie, is daar nog altyd die laaste toevlug van ontkenning: Dit gebeur met ander maar nie met my nie.
Die konfederasie van die swartman en die blanke liberalis probeer mekaar onderskraag met die gedagte dat die Afrikaner pap en magteloos geword het. Hy het sy stoom verloor, soos wat ‘n ontleder – ‘n Venter nogal! – in die Citizen aangevoer het. En hy is bang: Daardie blanke vrese! Jou ma het mos al kleintyd vir jou vertel dat wanneer jy vir ‘n spinnekop gril, jy net in gedagte moet hou dat hy banger vir jou is as wat jy vir hom is. Maar hierdie ontkennings begin toenemend vibreer in ‘n desperate crescendo. Hoe harder en skriller die liberaliste aandring dat die Afrikaner sy laaste assegaai gewerp het, hoe opvallender word die nuwe Afrikanerbewustheid, hoe meer swel die volume van “De la Rey” op die hoëtroustelle uit, hoe meer CD’s verkoop Steve Hofmeyr, hoe hoër word die premie wat op Skouspel kaartjies geplaas word.
So, jy kan hom nie wegpraat nie maar miskien kan jy, uit desperaatheid, hom aanval en vir jouself ‘n illusie van sy swakhede skep. As jy dié illusie glo, wat bly daar oor om te vrees? Dié dat dit so opvallend is dat die lesbiese Christi van der Westhuizen haar eie geslagtelike onsekerheid, wat so duidelik afgetrek staan teen die morele fermheid van die Afrikaner, probeer verlig deur die Afrikanerman se “manlikheidskrisis” aan te val. Dit het ontstaan, wensdink sy hardop, omdat hierdie man “moeilikheid ondervind om aan te pas” nadat hy van sy politieke mag “beroof” is. Maar… maar… daardie ellendige gesing van Die Stem…
Uiteindelik, as al die ontkennings en beledigings nie die gevoel van naderende onheil in die inboorling se gemoed kan verlig nie, nou ja, dan kan hulle die blanke bliksems aanval, letterlik fisies aanval, en uitwis. En daar is ‘n landswye orgie van geweld – teen wit bejaardes en swakkes want die swart rampokker is net te bang vir die Boer om ‘n fikse, geharde Afrikaner aan te pak. Maar die dag is op ons wat die Afrikaner sy verdediging op homself gaan neem en bewaar die lafhartige hond wat hom en syne sal probeer aanval. En so sal die Grys Reënboogman weer gereduseer wees om bloot te wens die Afrikaner wil – kul jou hier! kul jou daar! – net verdwyn.
En net daar lê die krisis van die Tutu-reënboog. Die swartman en die liberalis kan homself handhaaf as wetgewing en die projektering van nasionale sentiment ‘n doelvervaardigde reënboog kan skep, ‘n grys een, waarin die Afrikaner gedienstig sal wegraak. Dit is die primitiefste en kinderlikste beswering van ‘n vrees: As jy jou kop onder die karos intrek en jy kan nie die tokkelos sien nie, dan bestaan hy nie. So ons kleur die Afrikaner grys. Gee vir hom ‘n nuwe vlag. Leer hom ‘n nuwe volkslied. Meng hom in die vaal stroop van ons sepiereekse in. Gee vir sy dorpe inboorligname. Maak sy skole Engels praat. Trek vir hom ‘n Madiba hemp aan.
En… die verligting! Die Afrikaner het onsigbaar geword. Nou! is die Grys Reënboog perfek… Die Afrikaner is nog met ons en dit verlig ons grootste afgryse want die enigste moontlikheid wat meer vreesaanjaend as die teenwoordigheid van die Afrikaner is, is dat hy sal verdwyn en die kinders – die swartmense en die paplyf liberaliste – alleen sal los om hulleself in ‘n ongenaakbare omgewing te handhaaf. Buitendien, hoe nodig het ons hom nie in die enjinkamer van die ekonomie nie! So hy is daar maar, verstaan dit tog, dis die wonder van ons Reënboognasie – al is die Afrikaner nog met ons, ons kan hom nie sien nie. As jy om jou kyk is daar net… grys… hemelse, heerlike, salwende grys. En ons kan ons uitnemendheid vier want as hy onsigbaar is staan die Afrikaner se vertonings nie in kontras met ons s’n nie. Sy prestasies word ons s’n. Ons kan die motors ry, die kantore beset, die grootpraat praat, ons en jou en die ander vermaak met visies van ‘n toekoms wat aan Afrika behoort…
O die onmeetbare volmaaktheid van die land van die Grys Reënboog. Maar dan sal iemand – ongetransformeerde idioot of idiote – ‘n vlag, ‘n oranjé-wit-en-blou banier waai – op ‘n pawiljoen! – waar almal… dit kan sien.

Oral waar mens tans in Suid-Afrika – of Sowjet-Afrika soos Joseph Secrève dit noem – reis, heers die gevoel dat 2007 ‘n waterskeidingsjaar gaan wees. Die wanorde en geweld in die land is nou erger as ooit in die geskiedenis, met die moontlike uitsondering van die Tweede Vryheidsoorlog.