Die algemene gevoel onder Afrikaners is dat “dinge nie langer so kan aangaan nie”. Een deel van die Afrikanervolk is besig om op die vlug te slaan en in Australië en veral Nieu-Seeland word daar gepraat van ‘n “instroming” van Suid-Afrikaanse immigrante.
Elke dag vind die gruwelikste geweldsmisdade plaas terwyl die ANC-president dit as ‘n “persepsie” afmaak. In Pretoria en in Johannesburg kry die munisipaliteite dit nie eens meer reg om nuwe voertuie by die lisensieafdelings te registreer nie en eienaars moet weke en maande lank vir registrasiesertifikate wag.
Dan is daar nog die dreigende elektrisiteitskrisis wat veroorsaak is deur onbekwame topamptenare van Eskom wat hulself tien jaar lank astronomiese salarisse en bonusse betaal het, sonder dat daar die nodige beplanning en belegging in toekomstige opwekkingskapasiteit plaasgevind het.
Maar nog erger as die geweld, wanadministrasie, spandabelheid en korrupsie, is die onwettige immigrasie oor ons grense heen. Volgens amptelike statistieke wat laat verlede jaar vrygestel is, ontvang ons tans 85 000 onwettige immigrante per maand, oftwel 1 020 000 per jaar. Oor tien jaar is dit tien miljoen. Hierdie onwettiges koop vir hulself ID-dokumente waarmee hulle toegang tot die ANC-welvaartstaat met sy gratis gesondheidsdienste, opvoeding, kindertoelaes, staatspensioene, ens. verkry.
Die vraag is: hoe lank kan so ‘n stelsel hou?
Omdat rekordbedrae belastings ingesamel word, mag die maatskaplike krisis nie onmiddellik in ‘n finansiële krisis oorslaan nie, maar vir seker gaan die toenemende verlies aan staatsgesag met oop grense en misdaad wat heeltemal handuit ruk, binnekort tot groter onstabiliteit lei.
Onder hierdie selfde omstandighede woed ‘n magstryd binne die ANC tussen die Zuma-faksie en die Mbeki-faksie om ‘n nuwe leier vir die party aan te wys. Dit moet in Desember vanjaar by die party se kongres geskied, maar lank voor daardie tyd mag sektariese geweld tussen die strydende faksies uitbreek. In soveel Afrikalande was demokrasie al die aanleidende oorsaak tot burgeroorlog. Ons het in die Ivoorkus en in Zimbabwe gesien hoe betreklik welvarende lande eensklaps in chaos en ellende gedompel kan word deur ‘n leierskapstryd en ‘n verkiesing. In daardie opsig is Suid-Afrika kwalik anders as enige ander Afrikaland, gegewe die staat wat nóg die wette kan handhaaf, nóg sy grense teen indringing kan beskerm.
Die Afrikaner as die mees sigbare minderheidsgroep in die land, is juis die kwesbaarste as dit by etniese geweld kom. Net soos wat Mugabe sy visier op die kommersiële boere gestel het in sy magstryd met die MDC, mag een van die swart faksies die Afrikaner as die “derde mag” aanwys wat swart eenheid beduiwel. Dan sal die gort gaar wees.
Wat nou van die uiterste belang is, is dat strukture gevestig word om misdaad te bekamp en sodoende lewens te spaar. Gegewe die staatsverval, is ons op onsself aangewese om ons te beskerm. Maar daar sal ook helder gedink moet word oor die politieke opsies wat daar vir ons oorbly ná De Klerk en Meyer ons kanse op onderhandeling verspeel het. Die versugting van baie Afrikaners na ‘n volkstaat of eie gebied waar vroue, kinders en bejaardes veilig sal wees teen die aanslag van moordbendes wat hulle tans afmaai en waar Afrikaans ampstaalstatus sal geniet, behou sy stelligheid. Maar om daarby uit te kom, sal ons die ontwikkelende politieke, maatskaplike en veiligheidsituasie baie fyn moet dophou en op die regte oomblik eise van dié aard begin stel.
Die beriggewing oor geweldsmisdaad in die media geskied in ‘n bykanse vakuum, sonder dat die onderliggende oorsake van staatsverval en aanhitsing tot rassegeweld deur radikale swart leiers, asook die SAUK met verlede jaar se Sowetodagherdenkings, ooit ontleed word. Nog nooit in die geskiedenis was joernaliste in die land so naïef en blind vir ‘n naderende konflik soos tans nie.
Ook die DA en ander opposisiepartye sal baie meer realisties na die huidige toestand in die land moet kyk en besef dat Sowjet-Afrika geen normale, stabiele demokrasie is nie, maar eerder ‘n ramp van die Afrika-tipe wat reeds besig is om te gebeur.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.