Leon Lemmer: Die geskiedenis van ons ondergang

Twee jaar gelede is die volgende boek van Niël Barnard gepubliseer, Geheime revolusie: Memoires van ‘n spioenbaas (Kaapstad: Tafelberg, 2015, 289p, R250; Amazon Kindle $23,75). In Junie vanjaar het Barnard se opvolgboek verskyn, Vreedsame revolusie: Uit die enjinkamer van die onderhandelinge (Kaapstad: Tafelberg, 2017, 328p, R280; Amazon Kindle $23,34). Albei is ook in Engels as gedrukte en as e-boeke beskikbaar. Die woord “revolusie” kom in albei boektitels voor; nie net om die sensasionele advertensiewaarde daarvan nie, maar ook om die radikaliteit van die veranderings, wat mandaatloos aan ons opgedring is, tuis te bring. Maar Barnard saboteer self hierdie titel wanneer hy beweer: “Suid-Afrika het sonder ‘n revolusie vrede bereik” (p 269). Meer gepas word dit ‘n onderhandelde (myns insiens eerder oorgawe-) revolusie genoem, bv in die titel van Allister Sparks se 1995-boek, terwyl vrede (in die sin van ‘n nie-gewelddadige samelewing) ons steeds ontwyk. Oor baie van die gevolge van die onderhandelinge is die publiek, weens die samespanning van die betrokke politici en die inligtingsmedia, maande en selfs jare lank in die duister gehou. Die woord “geheime” in die titel van die eerste boek is dus heel vanpas.

Die woord “vreedsame” in die titel van die tweede boek is egter heeltemal onvanpas. Dit is ‘n gewilde valsheid om die magsoorgawe vreedsaam te noem. In werklikheid het die ANC, omdat hy nie verplig is om geweld af te sweer nie, onderhandelinge gevoer terwyl hy deurlopend buitensporige geweld gepleeg het ten einde die een toegewing na die ander van die patetiese Nasionale Party-onderhandelaars af te dwing. Hierdie verraderlike tweestroomaksie is in 1990/94 onder die leiding van Nelson Mandela gevoer. Met die frase “vreedsame revolusie” onderskryf Barnard dus by implikasie die polities byderwetse siening dat Mandela eerder ‘n vredesikoon as ‘n geweldenaar is.

In werklikheid het Mandela begin om vrede en versoening te bepleit eers nadat die ANC in sy (bose) doel om die politieke mag te bekom, geslaag het. Maar Barnard spreek nogeens sy boektitel teë: “Vandag dink baie mense blykbaar dat die Suid-Afrikaanse skikkingsproses heel vreedsaam en ordelik verloop het. Niks is verder van die waarheid nie. ‘n Legio geweldsaanslae uit alle oorde het die land oor die ganse tydperk geteister. Volgens sommige berekeninge het sowat 14 000 mense sedert die middel van 1990, toe onderhandelinge begin het, tot [die verkiesing op 27] April 1994 in politieke geweld omgekom” (57).

Oor die verloorsituasie van Afrikaans in die nuwe opset het ek onlangs geskryf: “Hoe die Nasionale Party-Broeders Afrikaans verloën het” (Praag 13 Junie). Oor Barnard se eersgenoemde boek het ek destyds onder die volgende opskrif geskryf: “Die eienaardige ondergang van blanke politieke mag in Suid-Afrika” (Praag 2.05.2015). Daarvolgens was die referendum van 17 Maart 1992 ‘n slenter; dat De Klerk & kie toe reeds geweet het dat dit nie om effektiewe magsdeling gaan nie maar om magsoorgawe. Ek het laasgenoemde rubriek pas herlees om my geheue te verfris en beveel hoogs beskeie aan dat Praag-lesers dieselfde doen. Dit is ‘n verwikkelde bespreking wat ek nie hier bevredigend kan opsom nie.

Die res van hierdie rubriek handel oor Barnard se jongste boek. Ek skenk egter slegs aan enkele aspekte aandag en herhaal nie wat ek voorheen oor bv die breë konteks van ons 1990/94-ondergang geskryf het nie. Daar is ook die deurslaggewende rol wat die ANC se gelieg en bedrieg, met Mandela aan die spits, oor die Boipatong-slagting (17 Junie 1992) in die magsoorgawe gespeel het. Ek het onlangs hieroor geskryf, wat Barnard se kommentaar insluit (Praag 18 Junie), sodat dit ook nie herhaal word nie.

In die voorwoord skryf Albert Grundlingh, ‘n historikus wat daarvan hou om polities byderwets te wees, dat Barnard ‘n “onverbloemde binneblik” en ‘n “volronde beeld van komplekse verwikkelinge” bied, maar dat die outeur ook krities oor sy eie rol is (13). Myns insiens is Barnard in sy geheel hoogs ingenome met wat hy as hoof van die Nasionale Intelligensiediens (NID) en van 1992 af as direkteur-generaal van Staatkundige Ontwikkeling gedoen het. Hy skaar hom nogal uitgesproke aan die kant van die staatsamptenary wat die politici op die “regte” pad probeer hou het. Daarteenoor het FW de Klerk ‘n “obsessie [gehad] om amptenare op hul plek te hou en politici se soewereine gesag te handhaaf” (41). “Dit bly een van die groot skynheilighede van die politici dat hulle hul aangematig het om uit hul beskermde posisies oor die lot van amptenare te beslis wat hul opdragte uitgevoer het” (95).

Van die dinge wat my deurgaans tydens die lees van die boek gehinder het, is die verhewe voetstuk waarop Barnard die NID plaas en die luukses wat hierdie amptenare hulleself ten koste van die belastingbetalers veroorloof het. Byvoorbeeld, na sekerlik ‘n duur aandete en drank met ANC-kamerade in Switserland (een van die duurste lande ter wêreld) het Barnard “in die vroeë ure … ‘n bottel Chivas Royal Salute van ‘n gepaste 21 jaar na die hotelkamer bestel” (25). Hy noem dit ‘n “ligte spandabelheid” waarvoor die destydse regering opgedok het. Veel duurder was die luukse reise en verblyf en allerhande geheime vergaderplekke wat blykbaar voltyds tot die NID se beskikking was maar skynbaar selde benut is, bv ‘n woonstel in Somerset-Wes (21) en ‘n “luukse kamp” in die Kruger-wildtuin (267).

Willie Esterhuyse wek in sy boek, Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 365p; Amazon Kindle $23,75 – ook in Engels beskikbaar) die indruk dat ons aan hom baie dank vir die wonder van die nuwe Suid-Afrika verskuldig is. In sy vorige boek het Barnard egter in net ‘n enkele paragraaf na Esterhuyse verwys. In sy jongste boek skryf Barnard nie veel meer oor hierdie “gesiene” Stellenbosse filosoof nie (20). In die verkeerde geselskap het baie Suid-Afrikaners die afgelope dekades as gesiene mense ontpop.

De Klerk se aankondigings op 2 Februarie 1990, wat die ondergang van blanke politieke beheer ingelui het, word deur Barnard ‘n “epogmakende toespraak” genoem (22). De Klerk se uitlatings het selfs ‘n “ná-gloed” gehad (22). Waar ‘n mens met Barnard staan, word duidelik wanneer hy op dieselfde bladsy die woord “terroriste” tussen aanhalingstekens plaas (ook 97). Hieruit kan seker afgelei word dat die kamerade eerder om vryheid geveg het as om hulle aan terreurdade skuldig te maak. Dit behoort duidelik te wees dat ek ‘n wesenlike probleem met Barnard se politieke posisionering het. Hy was te intiem by die magsoorgawe betrokke om ‘n gesonde afkeer daarvan te hê. Ons en die kamerade het in ‘n sin ‘n “gemeenskaplike vaderland” (25) maar in die huidige politieke bedeling is dit die blankes wat (permanent) die ontheemdes is.

Let op hoe gunstig Barnard die katastrofiese magsoorgawe sien: “Gegewe die enorme uitdagings [ANC-terminologie] van beperkte tyd en politieke prima donnas was die bestuur van die oorgang van ‘n droewe [?] verlede na ‘n demokratiese republiek vir al [?] sy mense ‘n kompliment [eerder skande] vir die bestuursvermoë van Suid-Afrika” (254). Teen die einde van sy boek beweer Barnard selfs “ons is ‘n wenland” (297), sonder om ‘n enkele rede te verskaf. Te midde van daaglikse berigte van swart vernietigingsaksies skryf Barnard van “Suid-Afrika se voortgaande bouprogram” (312). Ek sou eerder sê ons wás ‘n wenland, die ontwikkeldste en voorspoedigste in Afrika, maar wat was is deesdae bloot ‘n mooi, nostalgiese herinnering.

Die weifelende houding van die NP-onderhandelaars het myns insiens ook by Barnard ingebed geraak. Byvoorbeeld: “Ek het my openlik teen regstellende optrede uitgespreek” (229). Dit klink na gesonde standpuntinname. Maar kyk hoe word dit dan afgewater: “Ek is wel gekant teen regstellende aksie tot elke prys” (286). Daarna volg verdere vermurwing: “Gaandeweg kon ons die ANC van die verdienste van ons standpunt oortuig dat regstellende optrede wel nodig is, maar nie op omgekeerde diskriminasie moet neerkom nie en op kragtige programme vir opheffing en die energieke bevordering van gelyke geleenthede moet berus” (229). Nog later berus Barnard soos volg in diskriminasie teen blankes: Daar sal “vir die afsienbare toekoms in gevalle waar die aanstellingsfaktore gelyk is, steeds bevoordeling van voorheen benadeeldes moet wees” (293).

Wat die blankes betref, het ons in die nuwe Suid-Afrika as standaardpraktyk sowel nie-gelyke geleenthede as rassediskriminasie; nie omgekeerde rassediskriminasie nie maar doodgewone, blatante, wraakgierige rassediskriminasie. Barnard erken: Daar is “die terugkeer van apartheid in die vorm van regstellende aksie” (231). Eintlik erger want dit word suiwer demografies bedryf sonder om verdienste/bekwaamheid werklik of genoegsaam in ag te neem. “Regstellende aksie het spoedig belangriker as die behoud van kundigheid geword” (239). Dit is moontlik dat baie swartes bekwaamheidsgewys met blankes kan meeding slegs as die “speelveld” in hulle guns doelbewus ongelyk gemaak word.

Hoofstuk 3 begin soos volg: “Van Nelson Mandela se vrylating op 11 Februarie 1990 tot met sy inhuldiging as president op 10 Mei 1994 het Suid-Afrikaners om tallose onderhandelingstafels die vreedsame [!] ontlonting van die wurggreep waarin hulle hul bevind het, uitgehamer. Dié meer as 1 500 dae was vol roemryke epog. Daar was helaas ook roemlose selfsug en blatante opportunisme, selfs ook manteldraaiery en magsgierigheid” (27). Vir die onderhandelaars was vrede glo ‘n “passie” (27). Ook vir die ANC? Barnard se onvleiende woorde is veral teen blankes gemik. Hy is lugtig om swartes te kritiseer en Mandela word as ‘n “wêreldikoon” opgehemel (28, 75). Die hoofkenmerk van daardie “epog” was nie die vreedsaamheid daarvan nie maar die feit dat dit meer gewelddadig was as seker enige ander periode in Suid-Afrika se geskiedenis. Barnard skryf: “Beheer oor die magte van veiligheid en geweld is die begin en die einde van enige beskaafde skikkingsproses” (96). Omdat geweld grootliks buite beheer was, was dit myns insiens geen beskaafde skikkingsproses nie en is die gewelddadige nuwe Suid-Afrika nie ‘n beskaafde samelewing nie.

Barnard erken darem dat wat die “Derde Mag” betref, “die ANC self knus agter die deur gestaan het” (28) – met Mandela van wie die leiding uitgegaan het. “Op die voetspoor van klassieke kommunistiese doktrine sou ondergrondse basisse gestig word wat tot die skepping van ‘n volksleër sou lei wat op sy beurt opgelei en van die nodige logistieke steun voorsien sou word om ‘n volksopstand te lei. Die opleiding van kaders, soortgelyk as [aan] wat MK-lede reeds in lande soos Angola, Tanzanië en Oos-Duitsland ondergaan het, het volgens dokumente reeds in Mei 1990 begin” (47). Dit is bekend dat ANC-terroriste van 1990 af ook in die Transkei opgelei is (125). Maar Mandela het “hoog en laag gesweer … dat hy nie van Operasie Vula bewus was nie” (48). In werklikheid het die ANC “die beëndiging van die gewapende stryd as die afswering van hul enigste wringkrag op die onderhandelinge” beskou (49).

“Die massas [was] daar om tot massa-aksie of geweld opgeroep te word indien die onderhandelinge vasval en die ANC nie hul sin daar kry nie” (31). “Mandela het massa-aksie as ‘n regmatige politieke aksie verdedig” (149). “Die ANC-leierskap was voorbokke om die etos en versoeningsgees van die akkoord flagrant en uitdagend te verbreek” (59). Geweld is deel van die historiese kern van die ANC. Geweld het vir die ANC die gewenste resultate gelewer. Tot op hede word hierdie geweldskultuur om dieselfde rede deur swartes voortgesit. In ‘n helder oomblik skryf Barnard in die afdeling oor Azapo iets wat ook op die ANC van toepassing gemaak kan word: “Helaas is fanatieke mense klaarblyklik geneties nie in staat om van hul geweldsweë af te sien nie” (190).

Die ANC se besluit om nie die gewapende stryd te beëindig nie maar dit na bewering op te skort, word deur Barnard as ‘n “wen-wen-situasie vir albei partye” beskryf (49). Eerstens is dit ‘n inflame leuen dat die ANC voor die 1994-verkiesings sy geweld beëindig het. Tweedens was dit juis die ANC se gewetenlose voortgesette gewelddadigheid wat toegewings afgedwing en aan hom die politieke mag besorg het; veral na die Boipatong-slagting (17 Junie 1992). Hierin het Mandela ‘n leidende aandeel gehad maar hy het doelbewus valslik vir De Klerk en die NP-regering van die geweld beskuldig. Hiermee het Mandela op sy immorele manier reeds voor die Boipatong-slagting begin. “Op ‘n buitelandse besoek in Mei 1992 het Mandela in Helsinki beweer dat pres De Klerk aandadig was aan die geweld waarin ‘meer as 1 000 mense’ in Suid-Afrika dood is. ‘n Paar dae later in Genève het hy die Regering se stappe om wet en orde te handhaaf met die Nazi’s se volksmoord op die Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog vergelyk” (59). Op sy gemene manier het “Mandela in Swede verklaar dat die dooiepunt die NP se skuld was ‘wat tot elke prys aan die mag wil vasklou'” (119). “‘We will use mass action to break the government’s intransigence,’ was sy dreigement” (123). Barnard het toe tereg opgemerk: “Dit kom voor asof die ANC tans ‘n beleid van verskroeide aarde volg en so behep is met die politieke ideaal om die mag tot elke prys oor te neem dat hulle nie omgee hoeveel die land en sy inwoners in die proses skade ly nie” (123).

Barnard verwys tereg na “die ANC se verknogtheid aan MK … Die ANC-voorbokke het te kenne gegee dat die [Nasionale] Vredesakkoord [14 September 1991] ondergeskik is aan die DF Malan Akkoord [12 Februarie 1991] en gevolglik val Umkhonto en sy bedrywighede nie onder die verbiedinge van die vredesakkoord nie. Mandela het dié opsigtelike slenter ondersteun wat daarop neergekom het dat die ANC ‘n private ‘weermag’ kon behou, maar nie die ander ondertekenaars van die akkoord nie” (60). Maar in die Malan-akkoord “is kennis geneem van die feit dat MK met wapens en kaders die land geïnfiltreer het en ooreengekom ‘that it was vital that control over such cadres and arms be exercised to ensure that no armed actions or related activities occur'” (244). Dit was om dwaaslik van wolf skaapwagter te maak as van die ANC verwag is om daardie beheer uit te oefen.

Maar dit is presies wat die geslepe ANC wou hê: “Die ANC het op sy beurt verklaar dat omdat die land nog nie ‘n ‘demokratiese gemeenskap’ was nie, daar nie van die ANC verwag kon word om MK aan enige vorm van Regeringsbeheer te onderwerp nie” (245). Dit is ‘n tipiese drogredenasie wat net mikrogeeste sonder verweer sou laat. Voorts is geredeneer dat die ANC “nie ‘n politieke party is nie maar ‘n bevrydingsbeweging” (60). Regter Antonie Gildenhuys het bevind: “Geweld wat in die verlede kovert voorgekom het, word nou openlik bedryf” (61). Vir my is dit duidelik dat daar nooit met sulke immorele ANC-leiers in gesprek getree behoort te word nie. Kobie Coetsee “was reg toe hy later opgemerk het dat dit lyk of die vordering met die onderhandelinge die produk van geweld en massa-aksie was en dat die persepsie bestaan dat die Regering die wil en vermoë verloor het om by sy standpunte te hou” (91).

Desnieteenstaande is Barnard die ANC simpatiek gesind. Die leiers is “deur die alleroorheersende ideaal van bevryding saamgebind” (30). Bevryding van wat? Bloot van apartheid, wat reeds deur De Klerk afgeskaf is? Nee, dit het selfs nie eens gegaan om van ‘n uitsluitlik blanke regering ontslae te raak nie, wat sedert die Driekamerparlement in elk geval nie meer bestaan het nie. Indien dit die geval was, sou die ANC tevrede met verdere politieke magsdeling gewees het. Bevryding beteken vir die ANC (algehele) magsoorgawe, swart meerderheidsregering, dus swart mag wat swartes in staat stel om deur blatante rassediskriminasie blankes te benadeel, bv uit poste te weer, hulle eiendom te konfiskeer, hulle in ‘n staat van onveiligheid te plaas, hulle kultureel af te takel (bv Afrikaans te misken), hulle talente en positiewe nalatenskap te minag, hulle valslik te beskuldig en sonder ophou verskoning en skadevergoeding te eis, ens. Dit is die ANC se siening van geregtigheid en versoening.

In teenstelling met sy ANC-simpatie is daar by Barnard duidelike afkeer van enige politieke groepering wat regs is; “flentergatpartye” genoem (28), asof min steun by die kiesers op dwaasheid en meerderheidsteun op wysheid dui. Later skryf Barnard van ‘n “potpourri van regse organisasies” (176). Barnard hou daarvan om die (ver)regses met Eugène Terre’Blanche se Afrikaner-Weerstandsbeweging se assosieer: “Boeremusiek is gereeld gehoor en op die sypaadjies is lustig gebraai en heelwat ‘Klippies en Coke’ ingeneem” (56). “By NI [Nasionale Intelligensie] het ons egter geweet dat talle van die regses alte dikwels vol brandewyn-en-bier-bravade was” (201). Vir Barnard is dit nie genoeg om die patetiese Kobie Coetsee as onbeholpe uit te beeld nie – Coetsee het bv versuim om algemene amnestie vir bv lede van die veiligheidsmagte te beding. Coetsee word ook daarvan beskuldig dat daar “plek-plek regse ondertone” by hom uitgeslaan het (35).

Kyk hoe mislik stel Barnard die goeie reg van egte Afrikaners voor: “Die konserwatiewe Afrikaners moes ook aan boord gehou word. Hulle was nie noodwendig teen die onderhandelinge gekant nie maar het die heimlike droom gekoester dat die onderhandelinge só moes verloop dat hulle ‘n plekkie van hul eie onder die son behou” (36). Is hierdie Afrikanerstandpunt nie hoogs redelik nie? Is dit nie onder die leiding van blankes en veral Afrikaners dat Suid-Afrika die ontwikkeldste en voorspoedigste Afrika-land was nie? Hoe is Afrikaners aan boord gehou tydens en selfs na die onderhandelinge? Deur vir hulle te lieg en hulle te bedrieg met bv fiktiewe wigte en teenwigte. Barnard verwys bv na “verregse wit reaksionêre” se “staatsgreeppraatjies” wat “soms dik geloop het” (49).

Die volgende woorde moet met ‘n knippie sout geneem word, want van opregte simpatie met regse Afrikaners is daar in die boek weinig sprake. “Ek het baie begrip vir die sogenaamde regse konserwatiewes se vrese gehad. Hulle was kultureel my mense, maar ek het polities fundamenteel [!] met hulle verskil. Nogtans het ek geglo dat hulle nie verneder en verstoot moes word nie maar eerder met wysheid verstaan en begelei [! – erg neerbuigend] moes word. Van my kollegas – veral Meyer, [Leon] Wessels, [Sam] de Beer en Fanie van der Merwe – het klaarblyklik anders daaroor gevoel” (163). Dit is blykbaar hulle “wat geglo het die regses moet verguis en beswadder word” (171). Hoe radikaal links hierdie onderhandelaars is, blyk uit die volgende: “In die binnekringe van die Regering val harde woorde tussen my en veral Roelf Meyer en Fanie van der Merwe omdat ek kwansuis te inskiklik oor die regse eise is” (256).

Maar dit is Barnard wat na “die meeste [!] regses se nukkerige en verstokte koppigheid” verwys (163). Ook: “Histories was daar altyd [!] baie Afrikaners wat meer bek as binnegoed gehad het” (167). In gesprek met Ferdi Hartzenberg van die Konserwatiewe Party (KP) het Barnard regses van ‘n “Jannie Jammergat”-houding beskuldig; dat hulle bydrae eerder “konstruktief en inskiklik moes wees” (168) – so inskiklik soos die NP-onderhandelaars? Die KP het myns insiens billike, sinvolle vereistes gestel: selfbeskikking, eie grondgebied vir verskillende volke, ‘n konfederasie en vrywilige assosiasie (169-170).

Barnard gebruik allerhande hoogs ongepoetste woorde om die regses te beskryf; terminologie wat hy nooit teen swartes uithaal nie. ‘n Moontlike verklaring is die hulp wat Barnard van sy mede-outeur, die linkse joernalis Tobie Wiese, gekry het, maar dit is nie ‘n aanvaarbare verskoning nie. Wiese het ook Barnard se vorige boek in woorde geklee. Constand Viljoen, die leier van die Afrikaner-Volksfront (AVF), het tereg aangevoer dat “die onderhandelingsproses onbekwaam bestuur [en] dat te veel toegewings gemaak word” (177). Hierop het Barnard destyds gereageer “dat bewerings oor toegewings en ‘n oorgee-mentaliteit van die Regering ongegrond is” (178). Sedertdien het Barnard darem seker (in ‘n mate) tot beter insigte gekom.

Barnard vind die AVF se aandrang dat slegs “Afrikaner/Boere” burgers van die volkstaat kan wees “bykans komies rassisties” (256). Daarmee diskwalifiseer Barnard homself as potensiële burger van so ‘n volkstaat. Die kardinale vraag wat eerlik deur Barnard en sy “medebevryders” beantwoord moet word, is: Funksioneer die nuwe Suid-Afrika vry van regerings- en grondwetgesanksioneerde rassediskriminasie of is naakte anti-blanke en pro-swart rassisme skering en inslag van die ANC-bewind? Sonder die rasseklassifikasie van apartheid (blankes, bruines, Asiate en swartes) sou die regering sedert 1994 nie sy wraakbeleid kon uitvoer nie; wraak, nie weerwraak nie, want in die ou Suid-Afrika was daar geen wraakbeleid nie. Dit is dus louter twak dat die ANC teen “any solution with a racial or ethnic tendency” sou wees (260).

Oor FW de Klerk skryf Barnard: “Hy het graag kompromieë gesoek, en ek kan min geleenthede onthou waar hy onwrikbaar oor fundamentele vraagstukke standpunt ingeneem het” (34). Hy verwys na De Klerk se “gebrek aan strategiese insig” (134); “dat hy nie die oomblikke van groot strategiese belang na maat beoordeel het nie” (143). “Die grootste enkele fout wat pres De Klerk na my mening begaan het, was om nie ‘n span toegewyde ministers – ‘n ‘Onderhandelingskabinet’ – heeltyds aan die onderhandelinge af te staan nie” (275, ook 143). Dit was immers “lotsbepalende onderhandelinge” (275). Myns insiens was van die domste De Klerk-dinge om uitsluitlik NP-politici in die onderhandelinge te gebruik. Daar was talle ervare, bekwame blankes, insluitende Afrikaners, wat in bv die arbeidsektor gewoond aan onderhandelings met bv vakbonde was. Barnard is deels verantwoordelik vir hierdie fatale fout. “Dit was ‘n fout van my en ander om sulke sterk standpunte in te neem teen die gebruik van kundiges van buite” (191). In die kabinet was daar ‘n ervare onderhandelaar wat De Klerk nie gebruik het nie: “Pik Botha, wat ‘n bedrewe onderhandelaar was – veral ná die uitgerekte politieke en diplomatieke stryd vir die onafhanklikheid van Suidwes-Afrika (Namibië) – is deur De Klerk op ‘n syspoor gehou en nie as ‘n onderhandelaar ingespan nie” (271). Maar ek dink nie Pik Botha sou veel beter as sy kabinetskollegas gevaar het nie.

Reeds in Februarie 1993, dus binne ‘n jaar na die 17 Maart 1992-referendum, het De Klerk gesê “dat magsdeling nie op die lang termyn vasgeskryf sal kan word nie” (83). Van aanvanklike NP-standpunte soos federalisme, groepregte en ‘n blanke vetomag het niks tereg gekom nie omdat die weifelende De Kerk in ‘n “tipiese verbale rookskerm” (83) beweer het dat “die regering nooit getroud was met een spesifieke struktuur nie” (84). Ietwat later skryf Barnard “dat die De Klerk-regering toe reeds nie meer by magte was om die stang vas te byt en planne meedoënloos te implementeer nie” (138). “Ramaphosa en Maharaj [het] hulle verkneuter … in die feit dat hy [De Klerk] in hulle beoordeling so maklik toegegee en voor Mandela se dreigemente geswig het” (149-150).

De Klerk “was altyd ongemaklik met die realiteite van intelligensiewerk” (153). Die persoonlike grief wat Barnard teen De Klerk koester en wat sy ego steeds aantas, is De Klerk se “besluit om die intelligensiehoof [Barnard] nie langer aan die staatshoof [soos in PW Botha se tyd] te laat rapporteer nie, maar aan ‘n adjunkminister” (300). Volgens Barnard “het ‘n mens nooit agtergekom dat hy [De Klerk] dié uiters nuttige voorkennis in landsbelang aangewend het nie” (153).

De Klerk het ook ‘n “bewese afkeer van veiligheidsake” gehad (101). Sy ontslag van 23 senior Weermagoffisiere teen die einde van 1992 word as “uiters dwaas” bestempel omdat De Klerk “reg in die hande van die ANC gespeel” het (100). Die veiligheidsmagte is “afgekam en hul selfvertroue afgebreek” (100). Die ANC se strategie was “om die amptenare en veiligheidsmagte [eintlik alle blankes] berekend te verneder en te beswadder met die doel om hul selfrespek en beeld by die publiek af te breek” (107-108). “De Klerk se weersin in veiligheidsake en -mense is goed geïllustreer deur die skepping van allerlei komitees van wie se werksaamhede hy, indien dit nodig sou word, sy hande in onskuld kon was” (242).

Hermann Giliomee skryf: “Ek het die indruk gekry dat hy [De Klerk] doelbewus ‘n duidelike afstand geplaas het tussen hom en sy voorganger, en die veiligheidsmagte, wat baie invloed onder PW Botha geniet het. Dit was betekenisvol dat genl Magnus Malan, minister van verdediging, nie in die regering se span was nie wat ‘n ANC-afvaardiging vroeg in Mei 1990 by die ampswoning Groote Schuur ontmoet het. Dit het vir my gelyk of die kritieke besluite oor die onderhandelings onder De Klerk in ‘n klein kringetjie van ministers geneem sou word waarby adviseurs oor sekuriteit of onderhandelinge nie betrek sou word nie. Dit het gou bekend geword dat De Klerk die Staatsveiligheidsraad sowel as die Nasionale Intelligensiediens na die kantlyn geskuif het. Dit was vir my ‘n rede tot kommer” (Hermann Giliomee: Historikus; ‘n outobiografie, Kaapstad: Tafelberg, 2016, p 179).

Hierdie dwase strategie het myns insiens meegebring dat ANC-geweldpleging effektief tot algehele magsoorgawe gelei het.

“Op 16 September 1991 het Suid-Afrika die Kernsperverdrag [KSV] in Wene onderteken” (Barnard, p 214) waarvolgens Suid-Afrika sy kernbomme sou aftakel. By Barnard was daar “ongeloof dat ons so baie vir so min weggee” (214). Eintlik is dit waar van die hele 1990/94-era. “Toe FW de Klerk president word [1989], luister hy na niemand om sy onkundige en gedienstige kniebuigings voor Washington met die ondertekening van die KSV te laat vaar nie. En só het ons een van ons kragtigste diplomatieke hefbome vir die beïnvloeding van die wêreldmening met die oog op ons onderhandelinge sonder slag of stoot prysgegee” (217-218). Dit lyk vir my asof onbekwaamheid tot op die hoogste politieke vlak nie by Jacob Zuma begin het nie, maar reeds sedert die uittrede van PW Botha in volle swang is. “Geen [volk,] land, beskawing of wêreldryk het al ooit wanneer sy voortbestaan op die spel was, nie sy volle vermoë gebruik om homself te verdedig nie” (218).

Dit is in hierdie opsig wat De Klerk en Constand Viljoen radikaal verskil het. “De Klerk – wat altyd meer op sy gemak en baie skerp was wanneer hy met regses onderhandel het maar minder so met linkses – het Viljoen meegedeel dat hy (Viljoen) geloofwaardigheid aan die ‘regse opsie’ gee, maar dat daar nie morele gronde vir ‘n soewereine volkstaat vir die Afrikaners bestaan nie aangesien hulle nie vir hulself kan opeis wat nie vir ander volke geld nie” (261). Dit is ‘n drogredenasie. Dit is die ANC wat ‘n eenheidstaat geëis het. Die meeste blankes, insluitende Afrikaners, was myns insiens eerder ten gunste van ‘n volkstaat vir iedere etniese groep en het dit ingevolge afsonderlike ontwikkeling aan die swartes bewys. De Klerk het doelbewus ‘n opvallende valsheid verkondig met sy stelling dat ‘n volkstaat iets is wat blankes of Afrikaners opeis maar nie aan swartes gun nie. Die waarheid is dat die blankes volkstate aan die swartes gegun het maar dat hulle deesdae ‘n volkstaat aan blankes of Afrikaners misgun.

De Klerk het teenoor Viljoen beweer dat “die Zulu’s nie in ‘n volkstaat vir hulleself belang stel nie” (261), asof dit afdoende rede is waarom blankes of Afrikaners nie ‘n volkstaat kan eis of begeer nie. Maar toe kort voor die 1994-verkiesing pogings aangewend is om die Inkatha-Vryheidsparty tot deelname oor te haal, was “die eerste eis … onafhanklikheid vir die Zulu-koninkryk” (264). Inkatha was deurgaans ten gunste van ‘n federasie, of konfederasie soos die regses. Die NP was aanvanklik ook ten gunste van ‘n federasie. Maar ruggraatloosheid het De Klerk & kie oorgehaal tot die ANC se vereiste van ‘n eenheidstaat. “Geen groep in Suid-Afrika kon toegelaat word om hom van die res van die land af te skei nie” (266).

Daar was ‘n “gebrek aan duidelike rigting en besluitneming” by die De Klerk-regering (103). Die NP-politici wat onderhandel het, “het advies gesoek by junior amptenare en weinig leiding van De Klerk of Meyer gekry” (77). “Ons amptenare het meermale besluite geneem oor sake wat eintlik op politieke vlak gelê het. Dit was nodig omdat die tempo van die [oorgawe]proses dikwels onmiddellike besluite vereis het wat ons geweet het ons nie van die politici sou kry nie” (249). Amptenare is “al meer in die politiek ingetrek … om die NP se standpunte te formuleer en te verdedig” (274). “Dit was duidelik dat almal aan Regeringskant leiding gesoek het – ook die leiers” [!] (92). “De Klerk en sy kollegas [het] nie onwrikbaar op knelpunte vasgeskop nie” (150). “Die Regering [het] in eie geledere koersloos rondgedobber tot die verkiesing in April 1994” (122).

“Die feit is dat duidelike, beredeneerde en goed gekommunikeerde doelwitte by die Regering ontbreek het. Dit was deels te wyte aan die stryd binne die Regering tussen die verligtes en die verkramptes wat telkemale gebots het oor die koers wat ingeslaan moet word. Veral oor magsdeling, die afswering van geweld deur die ANC en die PAC, asook ‘n federale streeksbedeling was daar ingrypende verskille” (272). Eintlik was daar “geen doelgerigte politieke visie” nie, “oënskynlik geen onderhandelingstrategie nie,” of hoogstens ‘n “reaktiewe onderhandelingstrategie” (273). Die persepsie was dat die Regering ‘n benadering van “krisisbestuur” gevolg het (274). Barnard het by geleentheid gesê: Die persepsie bestaan dat die regering “konsekwent agteroorbuig om die ANC se eise te akkommodeer” (274). “Terwyl Mandela ‘n duidelike doelwit vir die ANC voor oë gehad het, het dit by De Klerk grotendeels ontbreek” (281). “As leier van die regerende party moet De Klerk die finale verantwoordelikgheid daarvoor aanvaar dat die Regering sonder ‘n duidelike visie en werkbare plan die onderhandelings tegemoet gegaan het … slim het spoedig sy baas gevang” (282).

Roelf Meyer, die NP se hoofonderhandelaar, se “louheid” het by sy politieke kollegas die indruk van ruggraatloosheid gewek. Hulle het “hom spoedig daarvan verdink … dat hy kop in een mus met die ANC was” (34), wat nie ver verkeerd is nie, want kort na die 1994-verkiesing het Meyer lid van die ANC geword. “Hy het kennelik eers met die ANC beraadslaag voor konsultasie met sy kollegas in die Regering” (105). “Meyer het die Regering se beplanning soms gesaboteer deur besluite nie daadwerklik en stiptelik uit te voer nie” (121). Regeringsopdragte is deur Meyer “hoe langer hoe meer verontagsaam” (146). Meyer en Fanie van der Merwe, ‘n staatkundige raadgewer van die regering, het “al meer in isolasie gewerk en hulle al minder gesteur aan die opdragte en riglyne wat hulle van die regering ontvang het” (240). Wanneer Meyer tuislandleiers gespreek het, was hy “vol bravade, wat normaalweg ontbreek het toe hy met die swaargewigte van die ANC kragte gemeet het” (37). In September 1992 het Barnard in ‘n nota aan Meyer tevergeefs op die volgende aangedring: “Dit is in ons belang dat daar nou ‘n bietjie vasgebyt moet word” (145).

“Die verskansing van ‘wigte en teenwigte’ in die Grondwet sou almal – veral natuurlik die Regeringsondersteuners – vir tyd en ewigheid teen magsvergrype, diskriminasie en outokratiese optrede deur die owerheid beskerm. Vanaf tallose politieke verhoë is dié gerusstellende [maar valse] boodskap verkondig” (277). Die bedoeling hiermee was om die blankes te sus en te voorkom dat die veiligheidsmagte (weermag en polisie) in opstand kom.

Teen die einde van sy boek kom Barnard by die ANC-kruipery wat al hoe meer in NP-geledere posgevat het. “Baie oë” was “reeds stewig gevestig op ‘n politieke possie in die nuwe Suid-Afrika” (277). Dit gaan toe nie meer oor wat in landsbelang is nie – die belange van blankes of Afrikaners het nooit sterk genoeg gefigureer nie – maar om persoonlike voordeel. “Ministers Roelf Meyer, Leon Wessels, Sam de Beer, Stoffel van der Merwe, George Bartlett en selfs [?] Dawie de Villiers was gewoon nie hiervoor [die onderhandelinge] opgewasse nie. Van hulle het heimlik en van meet af die oog op die toekoms gehou en só opgetree dat hulle nie onnodig hul kanse by ‘n toekomstige ANC-regering versuur nie” (271). “In die Kabinet was daar in die sogenaamde verligte hoek Pik Botha, Roelf Meyer, Leon Wessels, Dawie de Villiers en Sam de Beer” (272). Naas De Klerk is dit Botha, Meyer en De Villiers wat in 1994 kabinetsposte in die Regering van Nasionale Eenheid gekry het. Die ANC se gunsteling NP-onderhandelaar,* Wessels, het nie kans gesien om in ‘n ANC-oorheersde kabinet te dien waarvoor hy hom so sterk beywer het nie.

[* Cyril Ramaphosa is as die voorsitter van die Grondwetskrywende Vergadering gekies en Leon Wessels as ondervoorsitter. Uit ANC-geledere is daar aan Wessels genoem: “Enige ander nominasie uit julle [NP-] geledere sou nie suksesvol gewees het nie” (Leon Wessels, Vereeniging: Die onvoltooide vrede, Kaapstad: Umuzsi, 2010, p 269); ‘n aanbeveling waarop geen Afrikaner sou roem nie. Wessels is hierna verder vergoed met sy aanstelling as ‘n menseregtekommissaris.]

In Januarie 1993 het Frank Mdlalose van die Inkatha-Vryheidsparty gevra: “Where is Afrikaner integrity and National Party honour? Is there a selling of Afrikaner souls?” (161). Dit kan dui op die mandaadlose uitverkoping van die Afrikanerdom se siele; hulle diepste kulturele kern. Dit kan ook impliseer dat omkopery, bv deur die Amerikaanse Central Intelligence Agency (CIA) of George Soros, plaasgevind het want sowat van ‘n halsoorkop koersverandering (van magsdeling na magsoorgawe) kan kwalik rasioneel verklaar word. Daar was ook al dikwels die beskuldiging dat De Klerk met sy huweliksprobleme gepreokkupeer was, dus met sy persoonlike belange, en nie deurgaans die nodige aandag gegee het aan wat van deurslaggewende belang vir die land was nie.

Die onbekwaamheid van die NP-onderhandelaars, ook in vergelyking met dié van die ANC, word deesdae wyd as evangelie aanvaar. Die waarheid is dat wat eufemisties die onderhandelinge of die skikkingsproses genoem word nie ‘n toonbeeld van Afrikanerintegriteit of van NP-eerbaarheid is nie. Daarom het die NP kort daarna tot niet gegaan. In 1990/94 het heel moontlik die skandaligste magsoorgawe in die geskiedenis van die mensdom plaasgevind met katastrofiese gevolge vir die land en veral vir sy (myns insiens) verdienstelikste bevolkingsgroep, die blankes, veral die Afrikaners. Die bittere ironie is dat dit juis die NP was wat histories Afrikanerbelange gedien het. Bitterheid is regverdigbaar maar dit hef nie die dwase gevolge op nie.

Ek het na aanleiding van Niël Barnard se twee boeke die ongelooflike, allersotlikste geskiedenis van ons ondergang vertel. Die vraag is: Gaan ons as Afrikaners weer opstaan?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.