Leon Lemmer: Oor Jaap Steyn se boek, ‘Ons gaan ‘n taal maak’

In my rubrieke het ek reeds dikwels na JC Steyn (gebore in 1938) se jongste boek verwys: ‘Ons gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, 621p, R395). Blykbaar is geen elektroniese weergawe in die handel beskikbaar nie. Sonder om te herhaal wat ek voorheen geskryf het, wil ek ander aspekte aan die orde stel. Daar is nog glad te min oor hierdie omvangryke monografie geskryf.

Afgesien van poësie en fiksie, het Jaap Steyn verdienstelike biografieë oor Piet Cillié (2002), NP van Wyk Louw (2003) en MER (2005) geskryf. Hy is ook die hoofouteur van Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990 (Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1992, 612p), al het hierdie boek onder die naam van die redakteur, WD (Wiets) Beukes, verskyn. Meer spesifiek oor Afrikaans het Steyn die volgende belangrike bydraes gelewer: Tuiste in eie taal: Die behoud en bestaan van Afrikaans (Kaapstad: Tafelberg, 1980, 523p), Trouwe Afrikaners: Aspekte van Afrikaner-nasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek, 1875-1938 (Kaapstad: Tafelberg, 1987, 243p) en die meer outobiografiese Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu (Kaapstad: Tafelberg, 2008, 408p).

Voordat ek by die inhoud van Steyn se jongste boek kom, is dit ongelukkig nodig om kritiek op die fisiese boek te lewer. Dit is gewoon ‘n skande dat so ‘n voortreflike teks op so ‘n onvoorbeeldige manier gepubliseer is. Die boek is moeilik hanteerbaar vanweë sy gewig, wat te wyte is aan die gebruik van swaar glanspapier. Die illustrasies noodsaak nie die gebruik van glanspapier nie. Dié papier maak die teks moeilik leesbaar in skerp lig. Die lengte van die teks het die uitgewer genoop om ‘n uitsonderlike groot formaat aan die boek te gee, met die teks in dubbelkolomme geset. Anders as wat ‘n mens by so ‘n nie-fiksie boek sou verwag, is daar geen deurlooptitel vir die boek- of hoofstuktitel nie. Die binnekantlyne is smaller as die buitekantlyne, gevolglik is die binneste tekskolomme moeilik(er) leesbaar. Kortom, die fisiese boek is ‘n skande vir die Suid-Afrikaanse boekuitgewersbedryf, wat in talle opsigte met die beste ter wêreld vergelyk kan word. ‘n Mens is eintlik verplig om die boek op ‘n tafel- of lessenaarblad te lees en nie in ‘n leunstoel nie. [Tans lees ek Peter Watson se uitstekende boek oor die 19de en 20ste eeu. In Brittanje is dit publiseer onder die titel, The age of nothing, en in Amerika as The age of atheists (New York: Simon & Schuster, 2014, 626p). Die voortreflike fisiese versorging dra by tot ekstra leesgenot. Selfs al was Watson se teks meer as ‘n duisend bladsye lank sou ‘n boek in hierdie formaat nie so ‘n onaptytlike monster soos Kraal Uitgewers se produk gewees het nie.]

Die titel van Steyn se jongste boek is ontleen aan wat ‘n taalstryder, Izak van Heerden (Vaalswaer), in 1905 aan Gustav Preller geskryf het (p 11). Volgens Preller bestaan daar ‘n onbreekbare band tussen die Afrikanervolk en sy taal: “Die taal … laat hom nie uitroei nie anders as met die uitroeiing van die volk waarin dit leef” (p 85). “‘n Suiwer Afrikaans moes ontwikkel en ‘n suiwer Afrikaanse nasionaliteitsgevoel moes aan[ge]kweek en ontwikkel” word … Die stryd teen verengelsing het die taal deel gemaak van Afrikanerskap, en vir Preller was Afrikaans daardie onontbeerlike element van Afrikaneridentiteit” (p 87). “Preller was toe [1908] al wrewelrig teenoor die Afrikaanse kerke oor antinasionale gesindhede en praktyke soos die Engels-prekery, selfs in die oorlog, baie kerkmense se afwysing van die Afrikaanse beweging, die Kaapse kerk se houding oor die Groot Trek [1830’s], en die maklike manier waarop die kerk die joiners weer aanvaar het” (p 99). [“Joiner: Boer wat gedurende die Tweede Vryheidsoorlog by die Engelse wapens opgeneem het; verraaier, oorloper” (HAT).] Deesdae word druk in die NG Kerk vir die aanvaarding van die Belhar-belydenis uitgeoefen. Dit word in groot mate aangevuur deur ANC-joiners en ander verloopte Afrikaners. Hierdie soort kerk was destyds ‘n “anti-nasionale faktor” (p 88). Deesdae vervul elemente in die Afrikaanse kerke weer hierdie rol.

Wat ek uit Steyn se teks aanhaal, word bepaal deur die huidige toepaslikheid daarvan. Die geskiedenis herhaal homself in sekere opsigte of hou lesse vir latere geslagte in. Vir Steyn gaan dit om meer as bloot ‘n geskiedkundige oorsig van Afrikaans. Hy plaas ons taal in ‘n breë kultuurhistoriese perspektief. Steyn se teks begin in 1875 by die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Die GRA se doel was: “Om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land” (p 22). Dit toon dat die taal in ‘n sosiale konteks verstaan moet word. Die Patriot-digters het in “Die Afrikaanse volkslied” onder meer geskryf: “Een ider nasie het syn Land … Een ider nasie het syn taal” (p 23). In die GRA se manifes van 1875 staan: “Daar is Afrikaanders met Engelse harte. En daar is Afrikaanders met Hollandse harte. En dan is daar Afrikaanders met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaanders” (p 25). Die GRA wou Afrikaners aan die lees kry en het dus probeer om Afrikaanse leesstof te skep en te publiseer. Dit staan as die Eerste Afrikaanse Beweging (1870-1900) bekend.

Na die Anglo-Boere-oorlog volg die Tweede Afrikaanse Beweging. Hiervan het MT Steyn gesê: “Vir mij is die eerstelinge van onse literatuur so heerlik als die geluid van die eerste reëndruppels na ‘n langdurige droogte” (p 89). MER (Maria Elizabeth Rothmann) het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Afrikaans is vir ons die taal van die hart” (p 47). In 1919 kon DC Hesseling skryf dat “die geestelike selfstandigheid van die jong nasie ná die Vrede van Vereeniging [1902] beter gewaarborg is dan ooit nou dat die eie taal die voertuig geword het van ‘n letterkunde wat … hoe langer hoe meer aan eie krag genoeg het” (p 101). Nog ‘n Nederlander, RA Kollewijn, het geskryf dat “niks die Afrikaners só kan verbind, sóseer hul selfvertroue kan sterk nie, as die besef dat hul Afrikaans … die taal van ‘n volk is” (p 102).

Ek gaan vir ‘n wyle voort in hierdie patriotiese trant. In 1884 het Paul Kruger gesê: “Ons het ons eie taal behou … Ons ganse stryd lê daarin opgesluit” (p 32). Afrikaans was in werklikheid die amptelike spreektaal in die Transvaalse en Vrystaatse republieke (p 35). Christiaan de Wet het in 1897 tereg gesê “dat die verwaarlosing van ‘n taal die onafhanklikheid van ‘n nasie ondermyn” (p 35). In 1900 het Kruger hierdie wens uitgespreek: “Mag die Afrikaanse stam, van wie die toekoms nog altyd vol hoop was, in die einde opgroei tot ‘n kragtige boom” (p 45). Na die Anglo-Boere-oorlog was “die Afrikaners se selfrespek, selfbeeld en toekomsverwagting … op die spel;” dus die volk se “eiewaarde” (p 60). In 1902 het De Wet ‘n pleidooi gelewer dat die “nasionaliteit” (bedoelende identiteit) van die Afrikaner nie verlore moet gaan nie. “Die wêreld moet weet dat hulle [die Boere] dit wat hulle met hul wapens probeer verdedig het, naamlik hulle volksbestaan, ook in die toekoms wil handhaaf. Hy is trots op sy taal en wil dit met alle mag verdedig, en hoop dat dit eendag ‘n plek in die ry van wêreldtale sal inneem” (p 64). In dieselfde jaar skryf DF Malan aan sy suster “dat as die Afrikaners hul identiteit wil behou, hulle Afrikaans ’tot ons erkende volkstaal’ moet verhef omdat dit as volkseiendom bewus of onbewus die volksliefde reeds besit soos geen ander taal dit kan besit nie” (p 94).

In sy laaste boodskap aan sy volk het Paul Kruger in 1904 die volgende bekende (verafrikaanste) woorde geskryf: “Soek in die verlede al wat goed en mooi was wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.” Hy het aanvaar dat hy sy vaderland nooit weer sou sien nie, “die land waaraan ek my beste gewy het om dit oop te maak vir die beskawing en waar ek ‘n eie nasie sien ontplooi het” (p 69). Naas Kruger moes Christiaan de Wet ‘n merkwaardige mens gewees het. Hy word beskryf as “een van die indrukwekkendste openbare gebruikers van Afrikaans” (p 147). Hy het in 1902, dus in dieselfde jaar as die Vrede van Vereeniging, sy omvangryke boek, Die stryd tussen Boer en Brit, in Hollands voltooi terwyl hy per skip op pad na Europa was. Omdat hy min skoolonderrig gehad het, het JD Kestell hom bygestaan. In dieselfde jaar is daar ‘n Duitse en ‘n (baie letterlike) Engelse vertaling* (glo gebaseer op die Duitse teks) gepubliseer. As die stand van vervoer, kommunikasie en drukprosesse van daardie tyd in ag geneem word, was dit uitsonderlike prestasies. [* Three years’ war, New York: Charles Scribner’s Sons; Amazon Kindle $0. Die teks wek die indruk dat dit deur De Wet aan Kestell gedikteer is. De Wet het respek vir sy mede-Afrikaners en selfs vir sy Engelse teenstanders gehad, maar geen goeie woord vir verloopte Afrikaners/joiners nie.]

Dit is Kestell wat na aanleiding van die Rebellie (1914)* vrae gevra het wat ons vandag weer kan vra: “(1) Moet ‘n mens jou dan gedwee oorgee aan die bestaande mag? (2) Nie vra? (a) Is daardie mag die goeie mag? (b) Blus daardie mag nie die Afrikaner-ideaal nie?” (p 136). In Johannes van Melle se roman, Bart Nel (1936), is die hoofkarakter iemand wat aan die Rebellie deelgeneem het, “‘n Afrikaner wat alles verloor, maar sy siel behou het” (p 138). Ek haal aan uit die roman: “Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar my het hulle nie. Hulle kan maar kom, hulle kan my maar in die tronk gooi en hulle kan maar my grond vat; hulle kan my maar doodskiet ook, maar my sal hulle nie kry nie … My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel van toe af, en ek is nog hy” (p 138-139).

[* Nadat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het die Suid-Afrikaanse regering hom by Brittanje geskaar. Suid-Afrikaanse troepe het opgeruk na Suidwes-Afrika (tans Namibië), wat ‘n Duitse kolonie was. Louis Botha en Jan Smuts was in die voorpunt van hierdie oorlogsverklaring. Afrikaners kon nie aanvaar dat mense soos Botha en Smuts, wat albei teen Britse oorheersing in die Anglo-Boere-oorlog geveg het, radikaal van lojaliteit verander het nie. Afrikaners se simpatie het eerder by die Duitsers gelê. Talle Afrikaners/Boere het aan die Rebellie deelgeneem. Van Melle gebruik hierdie gebeure as agtergrond vir sy roman, wat deur baie kenners as van die beste in Afrikaans beskou word. Dit is in 2004 deur Tafelberg hergepubliseer (163p). Van Botha word gesê dat die “boer in hom dood is. Hy is soos ‘n bees wat tulpe gevreet het. Botha het Engelse tulpe gevreet en die Boer in hom het gevrek” (p 16). “Die Driejarige Oorlog was nog maar twaalf jaar gelede en hoe kon hulle [Botha en Smuts] nou verlang dat die Boere hul kinders sou gee om vir die eer en die voordeel van Engeland te veg?” (p 26). “Man, dat onder ons nasie altyd so baie moet wees wat by die Engelsman onder die kombers wil kruip … Die Boere sal nog eendag algar Boere word, jong. Gee hulle net tyd. Hulle is nog maar soos jong hondjies, hulle oë begin nog maar pas oop te gaan” (p 39). “Dit is vir my ‘n vreugde om te sien dat daar nog manne onder ons volk is wat die moed het om op te staan teen ons Engelsgesinde regering … Net jammer dat ons so min is … maar beter ‘n paar wat opstaan as glad niemand nie” (p 40). “Die rebellie … het ons geleer om nie te veel op ons voormanne te vertrou nie. Dis ‘n fout van ons volk dat ons te veel opsien na ons voormanne en ons volg hulle naderhand waar ons nie moes gevolg het nie. Ons het ook geleer dat ons nie te veel op mekaar moet vertrou nie, dat in moeilike tye baie grootpraters ons verlaat … Dat die gevoel van reg nog leef in ‘n deel van ons … Ons Boerenasie sal eendag weer bymekaarstaan en ons sal almal rebelle wees” (p 128).]

Deur sy boek met die GRA te begin, vermy Steyn die omstredenheid oor die ontstaan van ons taal. Christo van Rensburg het hierdie saak in sy boek, So kry ons Afrikaans (Pretoria: LAPA, 2012, 159p), aangespreek, maar Wannie Carstens voel geroepe om polities korrek daarop te verbeter. Carstens se boek sou reeds verlede jaar verskyn het, maar die jongste inligting is dat dit eers volgende jaar gepubliseer gaan word. In 1875 het Johannes Brill “Afrikaans ‘n dialek genoem wat deur verwaarlosing van die moedertaal (Hollands) ontstaan het” (p 21). Dit sal interessant wees om te sien in hoeverre Carstens die Europese en plaaslike blanke oorsprong van Afrikaans erken en in hoeverre hy dit aan die Khoi-San en slawe toedig; nie-blanke bevolkingsgroepe wat andersins seker niks van blywende waarde tot stand gebring het nie. [Wanneer ‘n boek oor Afrikaans deesdae gepubliseer word, is dit dikwels danksy ‘n subsidie afkomstig van die LW Hiemstra Trust. Dit geld sowel Van Rensburg as Steyn se boek. Dit maak die vorm waarin, of die manier waarop, Steyn se teks gepubliseer is des te meer teleurstellend.]

Twee van Steyn se kenmerkende woorde is “taalgetrouheid” en “boere-adel”. Hy is beskawingsbewus en daardie beskawing het sy bakermat in Europa. Daardie beskawingsmat kan onder ons uitgeruk word as ons nie ons taal handhaaf nie. “Sonder aktiewe taalhandhawing is taalverskuiwing byna onvermydelik … sonder bewuste handhawing kan dit binne drie generasies verdwyn” (p 70). Vir sy teks gaan Steyn uit van hierdie standpunt: “Die eksterne geskiedenis is die verhaal van ‘n taal soos wat die lotgevalle van sy sprekers dit bepaal: gebeurtenisse wat veroorsaak het dat die taal sekere funksies kon verwerf of moes prysgee, prosesse wat die gesindheid teenoor taal verander, of wat taalgetrouheid laat afneem of toeneem het. Dit het alles ‘n invloed op die maak van … die taal” (p 11). “Belangrik vir die ontwikkeling van ‘n taal is sy status: skryftaal of nie, amptelike taal of nie. Omdat die maghebbers van ‘n staat gewoonlik die besluite oor die status en belangrike funksie[s] van ‘n taal neem, word die lotgevalle van ‘n taal beïnvloed deur politieke woelinge … maar ook deur strominge soos nasionalisme en liberalisme, en demografiese prosesse soos stygende of dalende geboortesyfers*, migrasie en verspreiding oor die taalgebied. Die eksterne geskiedenis het altyd gevolge vir die interne geskiedenis. Só kan kontak met sprekers van ander tale die woordeskat, grammatika en uitspraak beïnvloed. Owerhede en gemeenskappe kan ‘n taal as’t ware ‘maak of breek'” (p 11). Die ANC-regering as die neo-Milner probeer tans om Afrikaans te breek. Hy word in sy pogings gesterk deur Afrikaanssprekendes wat nie taalgetrou is nie; oftewel nie taaltrots het nie. Reeds in 1909 “is betoog dat ware eenheid amptelike eentaligheid noodsaak” (p 104). [* MT Steyn het in 1913 geskryf: “Die toekoms van ons land en ons volk lê in die wieg” (p 123). Daarvolgens het Afrikaners en Afrikaans deesdae kwalik ‘n realistiese kans op oorlewing.]

In 1902, na die Anglo-Boere-oorlog, “het die Afrikanerleiers besef dat hulle self verantwoordelikheid vir hul mense en hul taal moes aanvaar. Daarby het hulle geweet dat hulle min kon verwag van die voormalige vyande wat die land regeer het” (p 62).”Ook in die oorlog was daar helde en lafaards, twyfelaars, hensoppers en joiners” (p 62). Baie van die joiners “moes [in die kerk] voor die gemeente hul sonde van verraad bely voordat hulle weer tot die Nagmaal toegelaat is” (p 68). Vir sommige was die nuwe bedeling so onaanvaarbaar dat hulle na ander lande uitgewyk het. In hierdie oorgangsituasie “het swartes blykbaar op groot skaal skade aangerig” (p 63). Hierdie land ervaar tans weer blanke emigrasie en swartes maak hulle op groot skaal aan vandalisme en erger skuldig. Vreemdelingehaat of -vrees is ook nie ‘n nuwe verskynsel nie. Party Chinese mynwerkers het destyds gedros en is dan “in die bosveld vermoor deur swartes, wat doodbang vir hulle was” (p 68).

Alfred Milner wou die Afrikaners verander/transformeer. Deur verengelsing moes hierdie “separate, exclusive caste” as ‘n volk met ‘n eie taal verdwyn (p 63). “We must knock the bottom out of the Afrikaner nation for ever and ever” (p 84). Toe Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, Suid-Afrika in 1903 besoek het, het hy gesê: “Any aspirations for a separate Dutch identity … are absurd and ridiculous” (p 65). Milner het ‘n nuwe Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. Hier vind ons van die wortels van die inklusiwiteit wat deesdae daagliks aan ons opgedring word. Skole is verengels, maar “Afrikaanse weeshuise het ‘n groot groep kinders Afrikaans gehou” (p 66). Plekname is verengels. “Openbare kennisgewings op stasies en elders was net in Engels, soms ook in ‘n Afrika-taal, maar selde in Hollands” (p 64).

Na 1902 het die ellende onder Afrikaners geblyk “een van die sterkste dryfvere vir ‘n etniese nasionalisme” te wees (p 66). “Afrikanergevoel en -taalbewustheid [is] in die donker naoorlogse tyd nie uitgedoof” nie (p 71). Met die stigting van ‘n politieke party, Het Volk, in 1904 in Pretoria, is daar besluit “dat ‘n volk wat homself respekteer, nie kan toelaat dat sy taal verdring word nie” en “dat die gebruik van die Engelse taal as enigste offisiële taal veel las en nadeel en onbillikheid veroorsaak” (p 67). “Met argumente oor die onmisbaarheid van die taal vir die voortbestaan van die volk, kerk en godsdiens het Afrikanerpolitici, -predikante, -joernaliste en -onderwysleiers die gedagte ingegrif dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar. Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en selfs verag … Die taal en godsdiens was al wat hulle [Afrikaners] nog oor het … die taalstryd [het] die houding versterk dat taal deel is van die identiteit van die Afrikaner. Ná die verlies van die vryheid was die taal die één ding wat die volk nie durf prysgee nie” (p 75). “As die Afrikaners hul taal verloor, sou hulle sonder spoor in die vergetelheid verdwyn en in ‘n ander nasie opgelos word. Die taal het in die middelpunt gestaan van die stryd om voortbestaan as volk” (p 76).

Willem Postma het in 1905 geskryf: “‘n Volk sonder taal, of liewer, wat sy taal verag, is ‘n karakterlose volk en kan nie as volk bestaan nie, maar smelt weg in ‘n ander een” (p 98). In 1909 het DJ Kestell gesê: “As jy die Afrikaner sy taal ook ontneem, sou hy ook verdwyn” (p 98). Die Nasionale Party is in 1915 gestig met as uitgangspunt “dat die Afrikaners ‘n volk is wat ‘n eie taal as simbool van sy nasionaliteit moet hê” (p 125). Postma het nasionalisme omskryf as die gehegtheid aan “iemands land, landstaal, sedes en gewoontes” (p 123). Tobie Muller het in 1913 gesê “dat die eerste stap tot die verkryging van nasionale selfrespek in die waardering en ontwikkeling van sy eie taal lê. ‘Die taal … is die intiemste uiting van ons hele nasionale wese'” (p 126). Wat Afrikaners graag wil hoor, is “die eenvoudige, pittige, harttreffende taal van die volk” (p 128).

Dikwels word beweer, veral deur diegene wat teen die verering van Afrikaans gekant is, dat die Taalmonument in die Paarl (1975) die enigste monument vir ‘n taal in die wêreld is. In werklikheid het hy plaaslik ‘n voorganger, te wete die taalmonument op Burgersdorp, wat in 1893 onthul is (p 30-31). ‘n Belangrike verskil is dat die monument op Burgersdorp Hollands vereer (“De overwinning der Hollandsche Taal”, p 31) en die een in die Paarl Afrikaans. “Pres [MT] Steyn het in Mei 1907 op ‘n taalfees op Burgersdorp gesê daar moet ‘n einde kom aan ‘ons flou meegaandheid [meelewing], ons papbroekigheid.’ Hy het ‘n replika van die taalmonument onthul wat in die Anglo-Boereoorlog verniel en deur die Britte verwyder is. Die verlore monument is in 1939 in King William’s Town gevind, maar sonder die kop en een arm [van die vrouefiguur]. Die beskadigde monument is in 1957 agter die replika op die kerkplein geplaas” (p 76). Die huidige vlaag van standbeeldskendings is dus ook nie iets nuuts nie.

‘n Jaar tevore, in 1906, het MT Steyn die volgende beroep op Vrystaters gedoen: “Vrees nie vir die toekoms nie, en moenie skrik vir die las wat u as Afrikaner te dra het nie. Dit is ‘n las wat nie deur u gesoek of deur u gemaak is nie, maar dit is vir u gevorm deur die dwalinge van ander in die afgelope eeu en vir u verswaar deur die hebsug van die teenwoordige tyd … gaan voort op u weg, indien nodig selfs alleen, met die bewustheid dat u doel die geluk van u volk en die voorspoed van u vaderland is” (p 78). Sedertdien is die euwel van hebsug in die nuwe Suid-Afrika aangevul met korrupsie, onkunde, ondoeltreffendheid, onbekwaamheid, gebrek aan toewyding, rassisme, haat, moord, ens. As ‘n mens ‘n katedraal wil bou, moet jy ‘n gat in die grond maak. Heelwat spitwerk is nodig. As die werkers staak en die sement en stene word voor gebruik gesteel, word die uitvoering van hierdie taak tot ‘n onbegonne uitdaging getransformeer.

MT Steyn het geskryf: “Ik zal nooit tot een constitutie toestemmen waarin de [taal-]gelijkheid niet is neergelegd” en JBM Hertzog “het gesê dat die Afrikaners nooit ‘n skikking sou aanvaar wat twyfel laat oor absolute taalgelykheid en hulle ‘n gevoel van vernedering laat ervaar nie … ‘Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor'” (p 105). Hertzog se “nooit” is verkeerd bewys toe ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes in die jare negentig ingestem het dat Afrikaans tot een van elf amptelike tale afgegradeer kon word, met Afrikaans wat in die praktyk heeltemal ondergeskik aan Engels gestel word. Kontrasteer dit met wat MT Steyn in 1913 geskryf het: “De taal van de veroveraar is in de mond van de veroverde de taal van slaven” (p 120).

Afrikaners moet weer, soos na die Anglo-Boere-oorlog, hierdie vraag beantwoord: “Moet ons verengels soos die [kwasi-]oorwinnaars dit van ons wil hê?” (p 81). JHH de Waal het “Afrikanerparlementslede gekritiseer wat in die parlement net Engels of oorwegend Engels praat” (p 83). Tans is dit weer die geval dat feitlik geen Afrikaans in die parlement gehoor word nie. Nog ‘n ooreenkoms tussen tóé en nou: “Die Afrikanervolk [toe] beskuldig is van allerlei oortredinge terwyl die Engelse politiek geprys is” (p 82); tans is dit die ANC/swartes wat ten koste van die blankes, veral die Afrikaners, geprys word. ‘n Nuwe politieke bedeling is die soort situasie wat seker in groter mate as enige ander meebring dat mense hulle mantels draai. Dink aan al die oud-Broeders wat by die ANC aangesluit het. Van hulle kan dieselfde gesê word as destyds van die Sappe: “Skeef gegroei van politieke onderdanigheid” (p 124). Nog ‘n ooreenkoms: Vaderlandse geskiedenis is reeds destyds verdraaid aangebied (p 83). Nadat moedertaalonderrig van 1925 af in skole ingevoer is, was daar hierdie verskynsel, wat deesdae ook al hoe meer voorkom: “Heelwat Afrikaanse ouers wou egter hul kinders in Engels laat opvoed” (p 116).

‘n Eeu gelede is al besef dat Engels ‘n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans inhou:

  • In 1906 het DF Malberbe verwys na Engelse woorde en idiome wat Hollands/Afrikaans “bij dosijne” binnegedring het (p 76).
  • Die jaar daarna het NM Hoogenhout gesê dat die gemiddelde Afrikaanse huisgesin “‘n toonbeeld oplewer van liederlike taalverbastering” (p 76).
  • WJ Viljoen het ongeveer dieselfde tyd gepraat van “wanluidende koeterwaals”, ‘n “onbeholpenheid in het gebruik van een beschaafde spreektaal,” en “heersende brabbeltaal” (p 77).
  • In 1908 het DF Malan gedink dat Afrikaans die inherente krag het om die indringende Engelse woorde te verwerp (p 96).
  • JJ Smith het in 1927 van oordeel dat die Afrikaanse spreektaal “in baie kringe so ‘n skrikwekkende mate van Engelse beïnvloeding begin vertoon het, dat daar tereg gevrees is vir sy spoedige en algehele verdwyning” (p 77).
  • Tien jaar later het J du P Scholtz gesê daar was ‘n tyd “toe so baie woorde en uitdrukkings uit Engels oorgeneem is dat die gevaar ontstaan het dat Afrikaans sy eie karakter sou verloor. Ook ‘n taal kan op ‘n gesette tyd maar net ‘n sekere aantal vreemde elemente assimileer” (p 77).
  • TH le Roux het in 1953 geskryf dat diegene wat die destydse taaltoestand nie self beleef het nie, volstrek nie besef “hoe diep die deurspekking met Engels in daardie dae inderdaad in die Afrikaans van beskaafde en ontwikkelde Afrikaanssprekende dames en here deurgedring het nie” (p 77).

In die nuwe Suid-Afrika beleef ons ‘n soortgelyke situasie en daarby een wat jaarliks erger word. Myns insiens kan dit gewyt word aan ‘n gebrek aan selfrespek by sommige Afrikaanssprekendes, wat geen taaltrots het nie. Daarby sit ons met die Afrikaanse Taalraad wat geen poging aanwend om Standaardafrikaans en taalsuiwerheid te bevorder nie. Hy doen eerder die teenoorgestelde deur die mengeltaal Kaaps te steun.

Hiermee het ek nog net die eerste ses van Steyn se sewentien hoofstukke aan die orde gestel, tot by 1914. Die res sal moet oorstaan tot ‘n moontlike latere geleentheid.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.