Leon Lemmer: Jerzy Koch oor die geskiedenis van Afrikaans

Deel op

Jerzy Koch is ‘n dosent in die departement vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies aan die Universiteit Adam Mickiewicz in Poznań, Poland. Hy spesialiseer in veral Nederlandse koloniale geskrifte en het hom mettertyd ook in die Suid-Afrikaanse literatuur geïnteresseer. Die volgende boek van hom is onlangs gepubliseer: A History of South African Literature: Afrikaans Literature; Part One: From the 17th to the 19th Century (Pretoria: Van Schaik Publishers, 2015, 359p, R399). Die teks behels meer as bloot ‘n literatuurgeskiedenis van aanvanklik Nederlands en mettertyd van proto-Afrikaans en daarna Afrikaans. Dit skets ook die sosiaal-kulturele Suid-Afrikaanse milieu van 1652 tot 1900. Die boek toon in aard verwantskap met JC Steyn se Ons Gaan ‘n Taal Maak (2014; Praag 14 Junie) en dek veral die tydperk voor dié wat in Steyn se teks behandel word. Oorvleueling is grootliks tot die laaste kwart van die 19de eeu beperk. Deel 2 van Koch se teks het reeds in Pools verskyn en ‘n derde boekdeel word in die vooruitsig gestel.

Dominika Ferens het die boek uit Pools in Engels vertaal. ‘n Tersaaklike vraag is: Waarom ‘n boek oor Afrikaanse literatuur in Engels pleks van Afrikaans vertaal? Waarop dít onteenseglik dui, is die verswakte posisie van Afrikaans. Die outeur “encountered a lack of interest on the part of some South African publishers, who justified their refusal to bring out the book with claims about the low interest in Afrikaans literature” (p 8). In die vorige eeu sou Naspers oorgretig gewees het om so ‘n boek in Afrikaans by een van sy hoofstroom-uitgewerye, bv Tafelberg, te publiseer. Deesdae stel Naspers nie daarin belang om werke ter bevordering van Afrikanerkultuur en Afrikaans te publiseer tensy dit lonend sal wees nie. Op die terrein van Afrikanerkultuur en boeke oor Afrikaans het Protea Boekhuis en LAPA Uitgewers die vaandeldraers geword. Maar in sulke gevalle is subsidiëring deur bv die LW Hiemstra Trust dikwels nodig. In die geval van Koch se boek is dit by Naspers/Media24 se akademiese uitgewery, Van Schaik, gepubliseer. Die subsidiëring het van die Poolse nasionale program vir die bevordering van die humaniora gekom. Die werk is deel van die Universiteit Pretoria se Talatala-reeks.

‘n Buitelandse outeur, soos Koch, kan nuwe perspektiewe op die Afrikaanse literatuur bied. Enersyds kan so iemand bv emosioneel, kultureel en ideologies meer onbetrokke as plaaslike outeurs wees en daarom objektiewer oordeel; dus soos van Hendrik Swellengrebel (1734-1803) gesê is: “He preserves a distance characteristic of a foreign traveller” (p 90). Andersyds kan daardie afstandelikheid negatief inwerk omdat dit vir ‘n buitestander moeilik kan wees om hom werklik in die omstandighede en geestelike klimaat van ‘n verafgeleë land met ‘n ingewikkelde bevolkingsamestelling in te leef, asook om ‘n betroubare aanvoeling vir die nuanses van daardie vreemde land se geskiedenis te ontwikkel. Koch se spesiale belangstelling in gekoloniseerdes bring mee dat hy neig om sake eerder uit die oogpunt van inheemse nie-wittes as wittes te benader.

In sy voorwoord sonder Koch die invloed van twee mense uit. In Bloemfontein, waar hy ‘n navorsingsgenoot is, skakel hy veral met Hennie van Coller, van wie daar myns insiens ‘n positiewe ideologiese invloed behoort uit te gaan (Praag 20 Junie). In Europa is Koch egter aangewese op Ena Jansen, wat Afrikaans in Amsterdam doseer. Hierdie oud-Matie is so links dat sy na haar verdere studie in Nederland om politieke redes nie na Suid-Afrika wou terugkeer nie. In die geledere van (blanke) Afrikaansdosente is sy seker uniek omdat sy selfs aan die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl nie bestaansreg gegun het nie. [Koch verwys na die monument wat in 1893 op Burgerdorp onthul is ter herinnering aan “De Overwinning der Hollandse Taal” (p 286). Ek het voorheen die aandag op hierdie taalmonument gevestig (Praag 14 Junie).] Jansen distansieer haar ideologies van ‘n Amsterdamse voorganger soos Elizabeth Conradie (1903-1939). Onlangs was Jansen afwysend oor die Universiteit Stellenbosch se “verontskuldigende taalbeleid” (LitNet, Portale, 26 Augustus). Om die balans te handhaaf en die koring van die kaf te skei, moet vir die Pool Koch uiters moeilik wees. In die geheel beskou, het hy eintlik nie sleg gevaar nie. Hy skryf tereg: “It is easy to fall into the trap of political correctness and to moralise with the hindsight of contemporary knowledge” (p 14).

Die proeflesing van Koch se boek laat veel te wense oor. (Let op hierdie uiterste geval: “werkhyphenzaamheeden”, p 117.) Met beter redigering sou bv onnodige herhaling, die inkonsekwente gebruik van hoof- en kleinletters (maar “Voortrekkers” word deurgaans met ‘n kleinletter geskryf) asook talle ander foute uitgeskakel kon word. Die hiërargiese indeling van die teks, soos ‘n akademiese verhandeling of proefskrif pleks van konvensionele hoofstukke, doen vir veral nie-akademiese gebruikers afbreuk aan die leesbaarheid van die boek. Tog hoop Koch dat sy teks ‘n wye spektrum lesers sal trek (p 41).

Maar ek wil eintlik skryf oor aspekte waarin Praag-lesers waarskynlik belangstel. Soos die outeur (p 9) gaan ek selektief wees. “The development of Afrikaans as a fully fledged medium of expression, rather than a medium limited to certain functions, was definitely connected with the rise of Afrikaner national-consciousness. Only when political and cultural changes intensified in the last quarter of the nineteenth century as a result of the conflict of interests between the Boer Republics and Great Britain did the Afrikaner consciousness begin to crystallise and a political and cultural identity begin to form, accelerating the production of literature in the new language” (p 34). Koch verwys hier na onder meer die werksaamhede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Na die Tweede Anglo-Boere-oorlog (1899-1902) was daar ‘n soortgelyke gelyktydige opbloei van Afrikanernasionalisme en Afrikaans (p 115).

Weens verraad in eie geledere het Afrikanernasionalisme myns insiens in die 1990’s ‘n onverwagte en ernstige knou gekry. Die ANC het dadelik met ‘n doelbewuste aftakelingsproses van Afrikaans begin. [Dit is soortgelyk aan die owerheidsgedrewe verengelsing wat vanaf 1806 tydens die tweede Britse bewind aan die Kaap plaasgevind het (p 113-114), bv ‘n 1865-wet “predicated state subsidies for private schools on the introduction of English as the language of instruction” (p 287; ook p 294).] Die smoring van Afrikanernasionalisme en die ontkragting van Afrikaans is aangehelp deur die politieke korrektheid van Afrikaanssprekendes, bv aan eens Afrikaanse universiteite en in liggame soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM). Daar word uitgegaan van die standpunt dat Afrikaners swart nasionalistiese nasiebou-inisiatiewe moet steun en die dominansie van Engels moet aanvaar. Die gevolg is ‘n taboe-verklaring van Afrikanernasionalisme en selfs ‘n verbod op die geregverdigde aansprake van Afrikaners dat hulle in groot mate Afrikaans ontwikkel en uitgebou het. [“Afrikaners have worked most consistently and successfully to develop an autonomous literature” (p 197).]

As gevolg van ANC-vyandigheid en politieke korrektheid by Afrikaansinstansies het Afrikaans die afgelope kwarteeu sienderoë agteruitgeboer. Let gerus op hoe die ATR, ATKV en ATM die rol van die GRA en Afrikaners verswyg of verdoesel, vanjaar versuim het om die nagedagtenis van Jannie Marais te eer en deurgaans niks daadwerkliks doen ter behoud van Afrikaans as skool- en universitêre onderrigtaal nie. ‘n Mens kan seker sê dat hierdie instansies se handelinge deur “onspoed” (p 118) gekenmerk word. Koch skryf: “It was under Dutch rule in the Cape that the foundations of South Africa’s modern culture were laid” (p 51). Hoeveel te meer het Afrikaners nie in die daarop volgende twee eeue hiertoe bygedra nie?

Simon van der Stel (1639-1712) het in 1685 ‘n ekspedisie na Namakwaland se Koperberg gelei. Hendrik Claudius (1655-1697) het ‘n waterverfskildery van die goewerneur se kamp gemaak. Op grond hiervan “we know that long before the voortrekkers of the nineteenth century, when the Dutch set up camp they arranged their carts in a characteristic circle called laager or laer (camp) for safety, filling the gaps between the carts with thorney bushes and branches. Within this enclosure they pitched their tents” (p 74). Iets anders wat uit lank gelede (bv 1830) dateer, is hierdie gesegde: “All the people living in this country … are Africans” (p 185).

Deesdae word plek- en ander name verander, naamlik geafrikaniseer. Naamsverandering is nie ‘n nuwe verskynsel nie. Koch noem pleknaamveranderings soos die volgende, wat van 1806 af deur die Britse bewind aangebring is: Swartland/Malmesbury, Schietfontein/Carnavon, Buffelskloof/Cradock, Hooivlakte/Beaufort-West, Boschjesveld/Worcester, Boschberg/Somerset-East, Jan Disselsvlei/Clanwilliam, Doornkraal/Riversdale, Zwartberg/Prince Albert, Driefontein/Richmond, Kapokfontein/Victoria-West, Klipdrift/Napier, Brakfontein/Aberdeen, Kliprivier/Ladysmith, Agter-Cogmanskloof/Montagu, Olijvenhoutsdrif/Upington, Tijgerberg/Durbanville en Vredendorp/Harrismith (p 114).

Na etnografiese navorsing het Johannes de Grevenbroeck (1644-1726) in 1695 aan ‘n predikant in Amsterdam geskryf “that it was under European influence that perjury [meineed], disputes and theft appeared among them [Khoi-Khoi]. His description is dominated by the positive qualities of the local peoples, such as hospitality, frankness, intelligence and diligence” (p 77). Die blankes word reeds eeue lank enersyds verantwoordelik gebou vir die tekortkominge van ander etniese groepe en andersyds daarvan bewus gemaak dat hulle blind is vir die goeie hoedanighede van sulke mense.

“The more the writers [soortgelyk aan De Grevenbroeck] were influenced by John Barrow’s [1764-1848] opinions, and the more they idealised the indigenous population as ‘noble savages’ [‘n frase van Jean-Jacques Rousseau 1712-1778 (p 123)] in accordance with the spirit of the age, the sharper their criticism. If they perceived cruelty and savagery in the indigenous people, they attributed it to contacts with the barbarian white colonists” (p 97). “In Researches in South Africa [1828] [John] Philip [1775-1851] attempted to show that the Hottentots had initially been good, and that their current dissolution had been caused by the colonists” (p 121).

Deesdae word gebreke in Suid-Afrika en by lede van sy nie-wit bevolking dikwels aan blankes toegedig, veral vanweë wat genoem word die nalatenskap van kolonialisme en apartheid. Charles Boniface (1787-1853) het reeds in 1824 verwys na veral die Afrikaners as ‘n “aaneen gruwelyk gehoond en gelasterd volk” (p 169). In 1838 het die redakteurs van die tydskrif De Ware Afrikaan iets soortgelyks geskryf: “Wij vreezen hunne vijanden niet, onze zaak is een rechtvaardige zaak, want gij is de eens onschuldig belasterden volks tegen eene vurige en boos-aardige factie” (p 188).

Hendrik Wikar (1752-1779) het buite die grense tot diep in die binneland rondgedwaal en met baie inboorlingstamme kennis gemaak. “He had an amazing ability to build relations with the natives, and even became an opligtbroer or spiritual twin of Ouga, the chief of a Bushmen group (one man was obliged to help the other and could deny him nothing)” (p 91). Is dit nie dalk ‘n feit dat blankes sedert 1652 die ondankbare rol vervul van opligbroers en -susters vir hulle mede-inwoners nie? Dat dit hoofsaaklik die blankes is wat opbou en gee en dat die nie-blankes afbreek en ontvang nie? Dat geen einde hieraan in die vooruitsig is nie? Dat “deny him nothing” ‘n omskrywing van die bodemlose putsindroom is nie? Pleks van “opligtbroer” word dit deesdae “ubuntu” genoem, maar die eenrigting-goedertierenheid vloei van wit na swart eerder as andersom. Daar is geen werklike begrip vir wat blankes (kultureel wesenlik Europeërs) opgeoffer het en steeds opoffer nie. Soos Thomas Burgers (1834-1881), president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (1872-1877), dit in 1872 gestel het: “Dat hier echter nog veel ontbreekt wat voor een beschaafde maatschappij onmisbaar is, voelde de Europeanen maar al te zeer” (p 193).

In Februarie 1837 het Piet Retief (1780-1838) in sy manifes, waarin hy die redes verstrek vir die Voortrekkers se trek die binneland in, onder meer geskryf (ek haal die Engelse vertaling aan): “We have no hope that this country will be delivered from the evil that threatens it with the riotous and subversive behaviour of vagrants who have been allowed to roam in every corner of the country; neither do we see any prospects for peace or prosperity for our children in a country plagued by internal discord” (p 134). ‘n Jaar later, in Februarie 1838, is Retief en 60 van sy manskappe deur Dingaan se impi’s vermoor (p 340). Deesdae hoor ons eerder van ‘n ander manifes, die ANC se Vryheidsmanifes (1955), en van swartes wat destyds deur die blanke bewind se veiligheidsmagte “vermoor” is. Maar lewer Retief nie profeties uitspraak oor die huidige situasie van blankes in die nuwe Suid-Afrika nie? Retief was onbewus van moerse wigte en teenwigte wat sy heil en dié van sy mense sou verseker. Ek is ook onbewus van huidige doeltreffende of beskermende wigte en teenwigte en sal soos die Voortrekker Susanna Smit (1799-1863) kon skryf: “Ontevredenheid over den moedswil onzer vijanden bring matheid op mijn ziel” (p 163). Smit “is said to have announced that if the British were to occupy Natal, the women would rather walk back barefoot over the Dragon Mountains than stay in Pietermaritzburg under their yoke” (p 162-163).

In die tweede helfte van die 19de eeu het Afrikaans tot wasdom gekom; nie net as spreektaal nie, maar toenemend ook as skryftaal. Koch onderskei vier bewegings: dié van die Oosgrens, Maleier-Afrikaans, Genadendal-Afrikaans en dié van Afrikaners. Laasgenoemde bestaan uit die Bybelvertalingsbeweging (1872-1878), die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA, 1875-1878) en die Afrikanerbond (1880-1898). Dit is Oosgrens-Afrikaans wat deur die Groot Trek tot in Natal, die Vrystaat en Transvaal versprei is (p 206). “The issue of language as the traditional vehicle of national identity automatically came up in this context” (p 201). Koch onderbeklemtoon die rol van die GRA, waarvan ‘n kragtige invloed lank na 1878 uitgegaan het. Byvoorbeeld, die tydskrif Ons Klyntji (1896-1906) “was initiated by former GRA members after the Society [GRA] ceased to exist” (p 307). Die rede vir die GRA-onderbeklemtoning is moontlik die volgende: “The twentieth-century emancipators of Afrikaans were more willing to see themselves as heirs of the religiously, ideologically and racially exclusive GRA than of other nineteenth-century movements” (p 205). “The GRA activists presented Afrikaans as a white people’s language” (p 207). Dit is myns insiens die kernrede waarom die ATR, ATKV en selfs die ATM verkies om nie prominensie aan die GRA te gee en geen GRA-lofliedere sing nie. In die geheel beskou: “The [Afrikaans] language movements … were … first and foremost, a reaction to British policy” (p 202). Deesdae is die tyd sekerlik reeds oorryp vir ‘n sterk Afrikanerreaksie teen die ANC-regering se verengelsingsbeleid.

Waar Koch die klem laat val, blyk uit die getal bladsye wat hy in sy boek aan die genoemde Afrikaansbewegings afstaan: Oosgrens-Afrikaans 10 bladsye, Maleier-Afrikaans 29 bladsye, Genadendal-Afrikaans 31 bladsye, Afrikaner-Afrikaans 16 bladsye (Bybelvertaling 7 bladsye, GRA 5 bladsye, Afrikanerbond 4 bladsye). Daar kan geredeneer word dat inligting oor Oosgrens- en Afrikaner-Afrikaans geredelik beskikbaar is en dat Koch daarom nie daaroor hoef uit te wei nie. Maar die pad van Maleier-Afrikaans is ook reeds snuif getrap. By Koch kan hier sprake van sterker assosiasie met nie-wittes en distansiëring van veral nasionalistiese Afrikaners wees. (Maar kyk die voorlaaste paragraaf hier onder, die bladsy197-aanhaling.) Dit is juis Afrikanernasionalisme wat as stukrag vir die vinnige ontwikkeling van Afrikaans gedien het.

Oor die GRA-tydskrif, Di Afrikaanse Patriot (1876-1904), skryf Koch: “It had had a limited sphere of influence throughout its existence” (p 282). De Volkstem spreek hom egter direk teë: “Zy [Di Afrikaanse Patriot] een van de krachtigste faktoren is geweest om het volk van Zuid-Afrika een besef te doen krygen van zyne politieke rechten en verantwoordelikheden” (p 286).

Nie-Afrikaners, by name nie-wittes, kla steen en been dat hulle bydrae tot Afrikaans nie genoegsaam erken word nie. In werklikheid het nie-wittes op geen stadium aktief aan die taalstryd deelgeneemn nie; ook nie tans nie. Luister maar na wat mense soos Henry Jeffreys, Michael le Cordeur en Danny Titus oor Afrikaans sê: dat dit goed met Afrikaans gaan, dat sy toekoms rooskleurig is, ens. Daarom is daar wat hulle betref geen taalstryd om te stry nie. Daarom het geen bruin haan gekraai toe die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) verengels is nie. Die subteks is: Die ANC sal nie Afrikaans laat skade ly nie. Daar is in bruin geledere ook geen woord van ontsteltenis oor die gehalte van Afrikaans nie. Die gebruik en vertroeteling van ‘n mengeltaal soos Kaaps word openlik gepropageer. Tussen Afrikaners en bruin mense is daar ‘n groot verskil in gesindheid/lojaliteit jeens en gebruik van Afrikaans. Vir bruines het Afrikaans bloot gebruikswaarde, wat by die ontwikkeldes Afrikaans maklik vir Engels verruilbaar maak. Vir Afrikaners is Afrikaans nie verkwanselbaar nie, want dit is dié onontbeerlike middel waarin hulle uitdrukking aan hulle diepste wese, hulle identiteit, gee.

SJ du Toit (1847-1911), GRA-stigterslid en -leier en vader van JD du Toit (1877-1953), die digter Totius, het geskryf: “De taal van een volk vertoont het karakter des volks. Men kan geen nationaliteit vormen zonder een eigen taal. Ontneemt een volk zyne taal en gy ontneemt dat volk het voertuig zyner gedachten; gy ontneemt dat volk de wysheid zyner voorvaderen, nagelaten in al die zinspreuken, spreekwoorden, uitdrukkingen, enz” (p 277). Vier GRA-lede, waaronder CP Hoogenhout (1843-1922), het saamgewerk aan “Die Afrikaanse volkslied” (p 281, 312): “Een ieder nasie het syn land.” Hoogenhout het ook “Ons toekomstige volkslied: [Waar Tafelberg begin tot ver in die Transvaal]” (1876) geskryf (p 312). SJ du Toit is die outeur van “Die Transvaalse Vryheidslied: [Die Vierkleur van ons dierbaar land]” (1881) (p 313, 319). In 1869 het Jan Lion Cachet (1838-1912) ‘n gedig, “Die Afrikaanse Taal: [Ek is ‘n arme Boerenôi]” geskryf, hoewel dit eers in 1896 gepubliseer is (p 313).

Hier wil ek ‘n gedagte in die midde lê. Sou dit nie wonderlik ter bevordering van die Afrikanersaak wees as iemand soos Steve Hofmeyr ‘n laserskyf vir regte Afrikaners publiseer met stof soos die items genoem in die vorige paragraaf nie? Daar is ook die “Volkslied van de Oranje Vrijstaat: Heft Burgers, ‘t lied der vrijheid aan” en die Transvaalse/Zuid-Afrikaansche Republiek-volkslied: “Kent gij dat volk vol heldenmoed.” In hierdie konteks verskaf Anton Hartman belangrike inligting in Benedictus Kok (redakteur) se boek, Afrikaans: Ons pêrel van groot waarde (Johannesburg: FAK, 1974, p 262-277), bv “De Vierkleur: Op! op! met de Vier-kleur de vlag van ons land!” getoonset deur JS de Villiers (p 267, 269). De Villiers het ook bogenoemde “Die Afrikaanse volkslied” getoonset (p 267-269). Hartman het vanselfsprekend nie CJ Langenhoven se “Die Stem van Suid-Afrika” vergeet nie (p 271). “Sarie Marais” word ook nooit meer gehoor nie, terwyl dit voorheen dikwels voor die aanvang van rugbywedstryde gesing is.

Terug na Koch se boek. Anne-Marie Beukes, die voorsitster van die ATR, het die Bo-Kaap onlangs as die “wieg” van Afrikaans beskryf (Praag 24 Augustus). Hoe ver sy die bal misslaan, blyk uit die volgende: “It was only in the mid-nineteenth century that coloured Muslims began to settle in what came to be called Upper Cape Town (Bo-Kaap), which today is perceived as the traditional Malay Quarter (Slamse buurt). Located on the picturesque slopes of Signal Hill, Upper Cape Town is still a district of small houses built in the eighteenth and nineteenth century for white artisans” (p 214). Die Kaapse Maleiers is tot op hede in groot mate Afrikaanssprekend omdat die Nederlandse owerheid gepoog het om Moslem-slawe apart te hou sodat hulle nie christene tot hulle geloof bekeer nie (p 225). Sedert 1642 was daar in Nederland wetgewing wat die propagering van enige ander religie as calvinisme verbied het (p 221).

Die Moslem-slawe is verplig om Nederlands te praat (p 222) en hulle kinders het daarin skoolonderrig ontvang (p 220). By geleentheid is dit “Hoelandsieke taal” genoem (p 233). “Muslims used Afrikaans as an instrument of religious instruction and for propagating Islam, unlike the Afrikaners they were not concerned with emancipating the language itself … they did not attempt to raise it to the level of official language or make it an element of group consciousness. For their purposes, the religious difference sufficed as a source of identity” (p 235-236). Dit is ‘n geval van “treating linguistic identity as secondary to religious identity” (p 237). “Meanwhile, for Afrikaner activists the cultural promotion of Africanised [verafrikaanste] Dutch meant the possibility of creating and solidifying their own national identity as separate from a Dutch or British identity. Their emancipatory movement, which had initially been religious, was soon clearly dominated by cultural – and then political – goals” (p 236).

Koch verwys na William Maskew (1861-1903) se versamelde tekste, ‘n Jolly Hotnot en ander snaakse Versies (1890). In sy boek Jakob Platjie (1918) skryf GR von Wielligh (1859-1932): “Daar steek fyn humor in ‘n Hot[t]entot” (p 323). Die frase “Jolly Hotnot” is deur Jakes Gerwel in sy doktorale proefskrif gebruik as ‘n voorbeeld van hoe stereotiep bruines in die Afrikaanse literatuur uitgebeeld word. Gerwel se teks is onder die titel Literatuur en apartheid (1984) in Genadendal gedruk (p 255). In die besoekersboek van Genadendal kan gesien word dat Gerwel in hierdie hoogs Afrikaanse omgewing sy inskrywing in Engels gedoen het. Gerwel is ook bekend daarvoor dat hy sy intreerede as hoogleraar in Afrikaans aan die UWK uittartingsonthalwe in Engels gelewer het. As rektor het Gerwel die oorwegend Afrikaanse UWK in ‘n eentalig Engelse inrigting getransformeer. Hierdie sake kan gerus in gedagte gehou word wanneer bv sy etniese genote Gerwel as ‘n toonbeeld van Afrikaanslojaliteit probeer voorhou.

Oor Herman Marx (1827-1917) se boek Benigna van Groenekloof of Mamre (1873), wat in Genadendal gepubliseer is, het Koch in besonderhede geskryf. Daarin is baie van die oorbekende uitlatings, bv “the ill-treatment of coloureds by white farmers” (p 267). Maar dit word darem soos volg gekwalifiseer: “Maar hulle is nie allemaal so” (267). Dalk is die titel van Jean Goosen se boek, Ons is nie almal so nie (1990), hieraan ontleen.

Aan die einde van sy boek verskaf Koch ‘n kronologie van gebeure. By 1620 staan daar: “Two English captains, Andrew Shilling and Humphrey Fitzherbert, claim Table Bay in the name of King James I of England and fly the British flag on Signal Hill (Vlaeberg/Seinheuwel); because the captains did not act on royal authority, this gesture had no political consequences” (p 331). Reeds in 1594-1601 “the English sailor James Lancaster establishes trade relations with Khoi-Khoi” (p 331). In 1614 “the British East India Company orders its ships to sail into Table Bay every year” (p 331). Hiervolgens lyk dit asof die Kaap en by implikasie seker ook Suid-Afrika lank voor 1652 ‘n haarbreedte van Britse besetting was. Dat die Britte mettertyd Suid-Afrika sou probeer verengels, is seker nie moeilik voorspelbaar nie. Wat my verstand te bowe gaan, is dat na bykans 350 jaar van blanke bewind daar in 1990/1994 feitlik sonder slag of stoot aan swart mag oorgegee is en daarby sonder ‘n mandaat van die blanke kiesers en dat daar toe dadelik met hernude ywer met ‘n verengelsingsproses begin is.

Maar ek wil die aandag op ander historiese gebeurtenisse vestig, na aanleiding van Don Jordan en Michael Walsh se boek, White Cargo: The forgotten history of Britain’s white slaves in America (Edinburgh: Mainstream Publishing Company, 2007, 322p; Amazon Kindle $18,67). Aan die begin van die 17de eeu was daar sterk aandrang, veral in Londen, dat van ongewensde mense, soos misdadigers en leeglêers, ontslae geraak moet word deur hulle na die kolonies of elders te stuur. Thomas Aldworth het in 1609 aan Thomas Smythe (1558-1625), die eerste hoof van die East India Company (1600-1874), voorgestel dat Britse prisoniers aan die Kaap ‘n heenkome kon vind. “An earlier European visitor had carved a huge cross on the steep mountain overlooking the [Table] bay. The vegetation grew lushly on the narrow peninsula and the natives seemed friendly … Smythe decided to send just ten convicts to see how they fared” (Kindle 940).

James Crosse en nege ander prisoniers het in die Kaap geland “with what Smythe’s men deemed sufficient for their survival: ‘half a peck of turnip seeds’, a few other seeds, ‘and a spade to dig the ground'” (945). Hulle het geen wapens gehad om hulle teen die Khoi en San te verdedig nie en het vir veiligheid na Robbeneiland gevlug. “Here, the ten Englishmen eked out a miserable existence, probably living on shellfish or the seals that basked on the shore. Eventually, a visiting ship took pity on them and took them off. Three of the convicts got back to England” (951).

“Smythe tried once more. He ordered another group of convicts to be sent to the Cape aboard one of his India-bound ships. When it reached Table Bay and anchored, the convicts begged the captain to hang them rather than leave them in Africa. He couldn’t oblige. Following orders, they too were dumped on the shore. However, Lady Luck was with this group. Another passing ship took them off within a couple of days. Nearly two centuries would pass before England would again send convicts to the Cape,” [1849] (955).

Dit lyk asof Jordan en Walsh se boek op deeglike navorsing berus. Ek vind dit eienaardig dat ek hierdie inligting nog nie voorheen in ander bronne raakgelees het nie. Dit is nog ‘n voorbeeld van hoe naby die Kaap en Suid-Afrika lank voor 1652 aan Britse beïnvloeding of beheer was.

Terug na Koch se boek. Toe ek oor die Afrikaanse Taalmonument geskryf het (Praag 31.08.2014), was daar inligtingspanele in die besoekersentrum by die monument waarin die geskiedenis van Afrikaans skeef voorgestel is. Hierdie panele is deur mense van die Universiteit van Wes-Kaapland en Genadendal opgestel. Die rol van bruin mense en sendingstasies is oorbeklemtoon. Die aanvang van Afrikaans word van die voorkamer na die kombuis verskuif. Koch sluit by hierdie tradisie aan met sy uitgebreide behandeling van Genadendal. Sy Genadendal-navorsing kan as die vernaamste vernuwende element in sy boek beskou word. Maar dan skryf Koch gelukkig ook: “The classification we choose throw light on hitherto marginalised movements without necessarily depreciating the value of those which were associated with the development of the Afrikaner national ideology … What this study proposes is … not that we replace the centre with the peripheries but that we include hitherto marginalised phenomena” (p 197).

Die nomadiese/swerwende San/Boesmans het ‘n eie siening van die hiernamaals gehad wat (noodwendig) deur die hiermaals beïnvloed is. “Na de gedachte van Onze Arme boschjesmans loop de menchen die sterven verre weg, zij sterven niet, maar verhuise van de eene plaats naar den anderen, Het veld dat Groot en wyd is (zeggen zy) is nog vol boschjesmans zy kunnen niet doodgaan, maar reise zo ver weg dat niemand hun daar na weer ziet” (p 151). Vir die sendelinge was dit nie altyd maklik om die inheemse bevolking tot die christelike godsdiens te bekeer nie. “The efforts of the Danish missionary Johan Georg Böring who came to the Cape to proselytise were a complete failure: allegedly the Hottentots laughed in his face when he began to talk about God” (p 243).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.