Leon Lemmer: Leopold Scholtz oor Afrikaners se kruispaaie

Leopold Scholtz skryf reeds jare lank feitlik weekliks in Afrikaanse koerante; deesdae (sedert sy aftrede in 2013) meerdere kere per week. Dit is seker net van Max du Preez wat ons deesdae meer teks moet verduur. Gelukkig is daar ‘n graadverskil: Scholtz se geskrifte gee vir Afrikaners minder aanstoot as dié van Du Preez. By Scholtz is daar minder opsetlik uitlokkende moedswilligheid as by Du Preez en ook nie berekende dwarsheid nie. Maar omdat Scholtz se standpunte en manier van inkleding by gesoute koerantlesers so uitermate bekend is, wek Scholtz se jongste boek by my eerder die indruk van matheid* as oorspronklikheid. Ek verwys na Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu (Centurion: Kraal Uitgewers, 2016, 224p, R260). [* Mat: “moeg, uitgeput, kragteloos … dof, nie glansend” (HAT).]

Soos in die geval van ‘n ander publikasie uit hierdie oord, JC Steyn se ‘Ons gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare (Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, 621p, R395), het ek ernstige besware teen die fisiese boek. In feitlik elke opsig (algemene voorkoms, formaat, tipografie, papier, drukwerk, foto’s, hanteerbaarheid/gevoel) is daar tekortkominge. Maar Steyn se boek is ‘n groot aanwins vir Afrikaans. Oor Scholtz se boek is ek minder entoesiasties, maar ‘n mens kan sê dat dit beter is dat dit gepubliseer is as dat dit ongepubliseer gebly het. Dit is des te meer waar omdat boeke wat redelik gesaghebbend en in ‘n mate positief oor Afrikaners is deesdae selde gepubliseer word, veral as die outeur homself ‘n Afrikaner noem (p 12). Die matheid van Scholtz se boek begin by die titel, want daar is bv Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer se Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal (2001).

Ek het oor Steyn se boek geskryf (Praag 14.06.2015), maar merk nou dat ek eintlik net die eerste ses van die sewentien hoofstukke in daardie rubriek onder die loep geneem het en dit sedertdien nog nie aangevul het nie. Steyn begin sy relaas met die Genootskap van Regte Afrikaners, gestig in 1875. Scholtz se oorsig neem ook ongeveer daardie tyd ‘n aanvang. Die verskil is dat Steyn se boek meer taal- (veral Afrikaans-) georiënteerd is, terwyl Scholtz op die politiek fokus. Daar is heelwat oorvleueling. Maar daar is seker baie mense wat eerder Scholtz se korter teks (die eintlike teks strek van bladsy 7 tot 176) as Steyn se lywige boek sal lees. In daardie opsig kan Scholtz se boek verwelkom word, maar dit moet, soos tewens enige boek, krities gelees word.

Vanweë nabaat en seker ook om in die mode te wees, is Scholtz glad te negatief ingestel op die Afrikaner se geskiedenis. Byvoorbeeld, apartheid was “in talle opsigte ‘n ramp vir die swart en bruin mense. Dit was in ‘n sekere sin ook ‘n ramp vir die Afrikaners, want dit het hulle moreel gekorrumpeer en uitgehol. Dit het die bedding voorberei vir die verlamming waaraan hulle tans ly” (129). Terselfdertyd is daar heeltemal te min kritiek op en verdoeming van die huidige situasie waarin Afrikaners hulle bevind; ‘n situasie wat in groot mate nie Afrikaners se skuld is nie; eerder dié van enersyds ruggraatlose, immorele politici en andersyds misdadige, gewelddadige, bose magte. Die blankes, spesifiek Afrikaners, het glo “van swart mense vreemdelinge in hul eie land gemaak” (129), maar oor die huidige vervreemding van en diskriminasie teen blankes wei Scholtz nie uit nie. Anders as oor Afrikaners word daar feitlik geen kritiek oor bv die ANC of swartes uitgespreek nie. Oor die jongste drie dekades het Scholtz baie sketsmatig geskryf. Dalk omdat baie potensiële lesers daardie tye eerstehands deurleef het. Maar hoeveel van hulle het afdoende insig in wat werklik gebeur het, veral met inagname van hoe die hoofstroommedia met inligting omgaan?

Ek gee voorkeur aan die werke van die historikus Hermann Giliomee, bv Die Afrikaners, ‘n biografie (Kaapstad: Tafelberg, 2004, 656p) en Die laaste Afrikanerleiers: ‘n Opperste toets van mag (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 460p), bo dié van Scholtz, wat soos Max du Preez in te groot mate eerder ‘n joernalis is. In sy boek skryf Scholtz openbarend oor die “plofbare karakter” van die Afrikanerdissident Du Preez en sy koerant Vrye Weekblad, waarin daar “veel gevloek en baie Engelse woorde” is (144). Du Preez het “Afrikaners nog verder geïrriteer met die herskryf van die geskiedenis deur landsverraaiers soos Piet de Wet (genl Christiaan de Wet se broer) as die eintlike helde en patriotte te beskryf of die SAKP [Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party] van die struggle-tyd as ‘n brawe, liberaal-demokratiese party voor te stel. Du Preez is egter, blykens sy geskrifte, intens deur die ANC ontnugter” (145). Maar wie sal ooit vergeet hoe Du Preez, met die hartlike samewerking/sameswering van Antjie Krog, “hom met hart en siel gestort het in sy taak om rugbaarheid te gee aan die wandade van die apartheidsregering wat voor die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) oopgevlek is”? (144).

Scholtz vertel hoe Afrikaners na die Anglo-Boere-oorlog (ABO) hulle vryheidstryd gestry het totdat hulle in 1948 die verkiesingsoorwinning behaal het en in 1961 ‘n republiek kon uitroep: “heeltemal geweldloos en met konstitusionele middele” (8). Konstrateer hierdie beskaafde manier van doen met die immorele, misdadige en gewelddadige manier waarop “bevrydingsbewegings” soos die ANC/UDF en PAC te werk gegaan het. ‘n Afrikaner het toe presies gesê wat Nelson Mandela later gesê het: “We have got our country back” (9). Die verskil is natuurlik dat ‘n land met bv Europese infrastruktuur onder die leiding van blankes geskep is, terwyl die land van Mandela se voorvaders onontwikkelde grond was.

Ek gaan nie ‘n oorsig van die inhoud van Scholtz se boek gee nie omdat die geskiedenis van die Afrikaner reeds in talle bronne tot stof getrap is. Ek lig bloot enkele aspekte uit. Ek skryf eintlik na aanleiding van sommige uitsprake van Scholtz en borduur dan daarop voort. Maar daar is nie ruimte om alles uit te sê nie.

Daar is stellings gemaak waarvan ‘n mens steeds met vrug kennis kan neem, bv in 1871:”Hoe meer vryheid ‘n mens aan ‘n swarte gee, hoe erger dit is.” Scholtz se kommentaar is dat “dit bekend klink” (17). Die historikus FA van Jaarveld het met verwysing na Afrikanernasionalisme in 1957 geskryf: “Iemand se waarde het in sy graad van Afrikanerskap begin lê” (26). In hierdie droewe land behoort dit myns insiens steeds die geval te wees. Hanskakies is ‘n euwel wat sedert die ABO met ons is. Dink bv aan die verengelsing van ons universiteite, insluitende Stellenbosch. NP van Wyk Louw het tereg opgemerk: “Om ‘liberaal’ te wees, kom minstens vir die Afrikaner … op nasionale selfmoord en ook individuele vernietiging neer” (26-27).

“Van hul kant het [MT] Steyn en [CR] De Wet daarop gehamer dat die Afrikaners hul selfrespek kwyt sou wees as hulle oorgee sonder dat hulle tot die uiterste geveg het. In ‘n omsendbrief na aanleiding van die Middelburgse samesprekings het De Wet in Maart 1901 eksplisiet ‘de onafhankelijkheid van onze Republieken’ en ‘onze volksbestaan’ as sinonieme gebruik. Hy het, enigsins profeties, ook daarop gewys dat die Afrikaanse taal verdruk sal word, ‘want, hoewel gezegd wordt dat beide talen kunnen worden gebruikt, weten wij toch hoe dit met onze taal gaat in Natal en de [Kaap] Kolonie, waar dezelfde teorie bestaat, maar de praktijk zoo anders is'” (31-32).

Dink aan die plegtige ooreenkoms tydens die grondwetlike onderhandelings, soos vervat in die Oorgangsgrondwet (1993), dat Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika nie aan status sou inboet nie, maar wat in die ANC-oorheersde wetgewende vergadering (parlement) en in die 1996-Grondwet tot die sotlikheid van elf amptelike tale verander is, met die gevolg dat tien tale aan status gewen en net Afrikaans onberekenbaar aan status ingeboet het. Hier was daar aan die kant van die Nasionale Party, soos in so baie ander opsigte, kwalik oortrefbare onnoselheid. Die ANC sit sedertdien, soos Alfred Milner, die stryd voort: “The South African struggle … is no longer a war with bullets, but it is war still” (38); ‘n kulturele oorlog gemik teen veral Afrikaners en Afrikaans.

Dink ook aan wat van die gelyke status van Afrikaans en Engels aan die Universiteit Stellenbosch (US) onder die leiding van die hanskakie Wim de Villiers geword het. Hy is nie die eerste De Villiers wat tot ‘n hanskakie getransformeer is nie. Daar is bv ook “hoofregter lord Henry de Villiers” (42). Aan die ander uiterste is daar Wim se pa, AB de Villiers, wat ‘n meelewende trustee van Het Jan Marais Nationale Fonds was. Die appel het baie ver van die boom geval. Wanneer kom die hedendaagse hanskakies tot die besef van “the fallacy of the ideological neutrality of the English language”? (Neville Alexander, Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 84).

Wim de Villiers het hom stewig in die Saptradisie gevestig. Jan “Smuts het regdeur sy hele politieke loopbaan geen vinger vir Afrikaans gelig nie” (43). “Feit is dat [Louis] Botha en [Jan] Smuts albei lou oor gelyke regte vir Nederlands en Engels was” (43). Voor die Uniewordingskonvensie (1909) het Botha, wat Engels nooit behoorlik magtig was nie, gesê: “How can there be any equality between our beloved taal, which is our language, but the language of a small country, and the English language, which is the greatest in the world and spoken everywhere? How can there be equality? I know what I am doing, but it’s for the good of the rest of South Africa … Vandag slag ek my liewe moedertaal” (43). In 2016 redeneer Wim de Villiers steeds só en slag hy met entoesiastiese oorgawe sy moedertaal aan die US.

Onlangs is ‘n teks van Amanda Gouws oor die verkragtingskultuur aan die US op die US-webwerf gepubliseer. Sy is nie net as ‘n militante feminis bekend nie, maar ook as ‘n groot voorstander van die verengelsing van die US. Wat my opgeval het, is haar onsekere en onidiomatiese Engels. Die volgende woorde van Scholtz het my aan Gouws herinner: “Die taalstryder JHH de Waal het byvoorbeeld vroeg in die 20ste eeu op die persgalery van die Kaapse Wetgewende Vergadering gesit ‘en my waarlik geskaam oor die slaafse houding van baie van die Afrikanerlede’. Hul Engels was krom en skeef, maar hulle het hom gepráát en weggebly van Afrikaans/Nederlands” (47).

Van die US gepraat: “Ook die Stellenbosse filosoof prof Anton van Niekerk het vroeër [2003] verwys na ‘Paul Kruger, die oorlogsvalk, wat medeverantwoordelikheid moet dra vir die dood van 26 000 vroue en kinders’ … die verantwoordelikheid van die werklike skuldiges, naamlik die Britte, [word] geïgnoreer … Dit is, in alle nugterheid, ‘n moreel bedenklike houding” (32-33). Hoe laag kan ‘n Afrikaanssprekende blanke moreel daal? Seker nie laer as etikus Van Niekerk nie. Van die era na die ABO is gesê: “Die taal is gesien as die instrument om die selfrespek van die Afrikaners te herstel” (37). “Die Afrikaners sou nooit ‘n skikking aanvaar ‘which left the absolute equality of their language in doubt and so left them with a sense of humiliation’ [EH Walton] nie” (41). Afrikaans kan en behoort dieselfde rol sedert die mandaatlose, roemlose, algehele politieke magsoorgawe van 1990/1994 te speel. Iemand soos Van Niekerk ondermyn Afrikaans egter reeds dekades lank aktief aan die US. Hy is openlik sowel anti-Afrikaner as anti-Afrikaans.

‘n Weergawe van wat Scholtz oor bruin mense geskryf het, is in Rapport (22 Mei, Weekliks, p 8-9) gepubliseer in ‘n poging om verkope van sy boek aan te moedig. Hy begin hoofstuk 6 met hierdie omstrede stelling: “Die keuse vir Afrikaans het gepaard gegaan met ‘n keuse teen die bruin mense. Die feit dat hulle oorweldigend dieselfde taal as die sogenaamde wit Afrikaners gepraat het, is grotendeels geïgnoreer” (63). Waarom “sogenaamde wit Afrikaners”? Dit is ook bekend dat sedert die Britse besetting van die Kaap veral stedelike bruines op groot skaal eerder Engels as Hollands aangehang en eerder vir die Engelse as die Afrikaners kant gekies het.

Bruines het hulle teen die Afrikaners en Hollands geskaar lank voordat lede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) van 1875 af Afrikanernasionalisme en Afrikaans as primêr ‘n witmanstaal gepropageer het. CJ Langenhoven se uitspraak dat Afrikaans “die enigste witmanstaal [is] wat nie onmiddellik oor die see kom nie” (64) is feitelik korrek en geuiter lank voordat politieke korrektheid sy onwelkome sensurerende opwagting gemaak het. Heeltemal tereg het “die voorvegters vir Afrikaans sy Germaanse karakter beklemtoon” (64), naamlik Nederlands en Duits maar nie Engels nie, wat aan Standaardafrikaans tot op hede ‘n mate van verskansing teen sowel Engels as die mengeltaal Kaaps bied.

Scholtz erken “diegene onder die bruines wat bevoorreg was om te kon lees en skryf … dikwels Engelsgesind geword en eerder Engels as Afrikaans gepraat” het (65). “In Januarie 1900 het ‘n groep bruines lord Milner verseker van die ‘firm and unalterable loyalty of the Coloured population of South Africa'” (66). Daar is “verskeie redes vir die verskynsel dat die bruin elite doelbewus Engels wou wees” (67). Volgens Mohamed Adhikari “most status-conscious Coloured people preferred English even though Cape Dutch [Afrikaans] may have been their mother tongue” (67). ‘n Sprekende hedendaagse voorbeeld is Jonathan Jansen wat Afrikaans as moedertaal het maar voorkeur aan Engels as sy sogenaamde “eerste taal” gee. Hierdie mens het Afrikaans groot skade aangedoen.

Dit behoort duidelik te wees dat Scholtz se voorstelling moedswillig eensydig is insoverre hy voorgee dat die Afrikaners alleen of grootliks die verantwoordelik vir die breuk tussen wit en bruin moet aanvaar. Engelssprekende blankes het die bruines vir bv politieke gewin teen die Afrikaners ingespan (68). Daar is die smeerstories dat Afrikaners van bruines weer slawe sou maak (69) of apartheid sou terugbring. Scholtz noem tereg dat “die meeste elemente van die apartheidsbeleid reeds in die voorafgaande segregasiebeleid bestaan het” (105). [Die bruin kommunis en oud-Robbeneiland-gevangene, Neville Alexander, skryf: “According to Paul Maylam, it was only during the period of the second British occupation [1806] that race thinking became the dominant mode of seeing and describing social relations at the Cape. Before 1806, more or less, religion was the decisive indicator of social (status) difference among individuals and communities … Race theory in South Africa is not, in the first instance, the excrescence of Afrikaner nationalism. The prime suspects are in fact British soldier-administrators, missionaries and other organic intellectuals of British imperialism” (bron hier bo, p 117-118).]

Standaardafrikaans is ongetwyfeld grootliks die produk van lojale blanke toewyding. Waarom sou Afrikaners toelaat dat hulle eiendomsreg op hulle taal van hulle weggeneem word in ‘n tyd soos die huidige waarin hulle van feitlik alles beroof en voortdurend maar valslik sleg voorgestel word? In die huidige US-taalstryd het daar sover ek weet net een bruin mens, Danie van Wyk, ondubbelsinnig gelyke regte vir Afrikaans en Engels onderskryf. Al die ander bruin elite het geswyg of soos Adam Small, Michael le Cordeur en Bettina Wyngaard openlik vir Wim de Villiers se verengelsingsbeleid kant gekies. My standpunt is dat instansies wat veronderstel is om Afrikaans te bevorder, soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), nie versoening en inklusiwiteit der mate moet oordryf dat Afrikaansdislojales in hulle direksies geduld word nie, bv diegene wat die verengelsing van die US voorstaan en hulle kinders na Engelse skole stuur en selfs Engels as huistaal het. Die ATR se aksies ten bate van Afrikaans word op hierdie manier deurlopend aan bande gelê.

Geoff Cronjé word deesdae dikwels voorgestel as ‘n opperste rassis, maar hy het geskryf dat “geen gemeenskap daarop geregtig is om ‘n ander gemeenskap(pe) vir altyd aan hom ondergeskik te laat bly nie” (94). Dit is tog seker ‘n beginsel wat in die huidige era van swart mag steeds vir die blankes en veral die Afrikaners behoort te geld. Insgelyk is William Nicol se oproep in 1937 dat Afrikaners Afrikaners moet bly en nie Suid-Afrikaners moet word nie ( 96) steeds net so geldig. Om van Afrikaners te verwag om swart Afrika-Afrikane en selfs wêreldburgers te word, is heeltemal misplaas. Dit sou vereis dat ons moet ophou om Afrikaners te wees.

JG Strijdom het in 1944 gesê: “As ons Suid-Afrika as witmansland wil handhaaf, sal ons die politieke mag in die hande moet hou” (98). Scholtz se kommentaar hierop is ‘n enkele woord: “Basta”*, wat toon in watter mate hy teen 1994 of sedertdien oorgegee het. “In 1955 het hy [Strijdom] bruut eerlik in die Volksraad gesê hy wil geen verskonings maak nie; óf die wittes behou die mag óf die swartes neem oor” (110). Hierop is Scholtz se kommentaar dat daar by Strijdom geen realisme was nie, naamlik “‘n bewussyn dat swart getalle die wittes sonder radikale gebiedskeiding onherroeplik sou onderploeg” (110). Dié kommentaar lyk vir my onrealisties, want dit was in die era voor afsonderlike ontwikkeling en dus tuislande. Daar was wel reservate en protektorate vir swartes en niks in Strijdom se politiek dui daarop dat hy teen sulke aparte gebiede vir swartes gekant was nie. Later skryf Scholtz “dat slegs ‘n geslaagde radikale gebiedskeiding ‘n behoorlike morele grondslag vir die apartheidsbeleid kon verskaf” (113). [* Basta: “Genoeg! klaar!” (HAT).]

Redes waarom die “partisievergesigte misluk het, is die feit dat die apartheidskip uiteindelik op drie rotse gestrand het. Dit was die demografie [die verswelging van blankes deur swartes], die ekonomie [bv die handelsboikotte] en swart verset” [bv die ANC/UDF se terrorisme] (121). Dié verset/terrorisme “het nie opgehou voor die oordrag van die mag in 1994 nie” (125). My standpunt is dat die bedenklike misdadige en geweldadige voorbeeld wat die ANC gestel het aan die massa getoon het dat misdaad lonend is, dat geweld toegelaat word om ‘n suksesvolle uitdrukking van mag te wees, dat dit ‘n manier is om resultate te behaal, gevolglik word die geweld tot op hede voortgesit.

Die Tomlinson-kommissie het in sy verslag (1956) “die integrasie van die rasse verwerp omdat dit die einde van die wit beskawing in Suid-Afrika sou inhou en nie in die swartes se belang sou wees nie” (115-116). Na die Soweto- en ander onluste in 1976 is die moontlikheid van “vryheid in één plurale gemeenskap … volwaardige burgerskap” en die uitskakeling van groepdominansie in Die Burger genoem (127). Maar volwaardige burgerskap in die vorm van een mens, een stem in ‘n eenheidstaat ís oorheersing deur een groep, naamlik die swartes. Vir blankes ís dit onvryheid en ‘n wesenlike bedreiging van hulle voortbestaan. Dit sou dwaas wees as Afrikaners toelaat dat hulle nasionalisme, hulle strewe na selfbeskikking, in so ‘n situasie geblus word. Maar Scholtz beweer: “Teen die einde van die 1980’s was … Afrikanernasionalisme … sonder werklike morele of praktiese inhoud” (161). Apartheid in die eng sin was dalk dood maar nie die ideaal van afsonderlike voortbestaan in etnies-kulturele nasie-/volkstate/tuislande nie. Scholtz beur in die teenoorgestelde rigting. Hy sê van sy boek: “Dis … nie om die wurggreep [!] wat die Afrikanernasionalisme tot diep in die 20ste eeu op die geskiedskrywing uitgeoefen het, voort te sit nie” (12). Dus, wat hom blykbaar welgeval, is soos wat met die Afrikaners in Argentinië gebeur het: akkulturasie/identiteitsverlies/verbastering na twee of drie geslagte. Hy beweer gevolglik ook dat “die gelykstelling van Afrikaner en wit aan die verbrokkel” is (11).

Scholtz dink besinning oor die volgende is nodig: [1] “Het die moderne Afrikaners dit in hulle om hulle eweneens nie by die nuwe werklikheid van die verlore heerskappy neer te lê nie en dit binne die praktiese beperkings in ‘n herwonne toekoms te omskep? [2] Het hulle die geestelike, die emosionele en die intellektuele krag om die verlies van mag te bowe te kom en nie alleen [= slegs] te oorleef nie, maar iets groots in die praktyk tot stand te bring? [3] Sal van hulle gesê word dat hulle in ‘n krisistyd deur die smeltkroes gegaan en sterker anderkant uitgekom het? [4] Of sal hulle sagkens, soos ‘n kers onder ‘n maatemmer, uitgedoof word?” (10).

[1] Dit gaan nie om verlore heerskappy nie, maar om verlore vryheid. Dit gaan om selfbeskikking in ‘n eie geografiese gebied. Vir Afrikaners lê die keuse tussen verswelging of oorlewing en daardie oorlewing moet kwalitatief afdoende, dus identiteits-/kultuurbehoudend, wees.

[2] Afrikaners het bewys wat hulle kan vermag, wat hulle tot stand kan bring, asook dat hulle kan herbou wat deur ander afgebreek is en ook daarop kan verbeter.

[3] Die brutale werklikheid van die nuwe Suid-Afrika louter Afrikaners. Nog nooit het Afrikaners toegelaat dat geslag na geslag verbygaan sonder daadwerklike verset nie. Dink aan NP van Wyk Louw se bekende woorde: “Wat gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

[4] Bye is goeie, hardwerkende insekte, maar vreemde elemente moenie hulle lewens versteur en hulle nes misdadig probeer binnedring nie. In so ‘n nes is daar heuning én moer. Insgelyks is Afrikaners nie ‘n erbarmlike bron waar bv plase en nywerhede en geld kragtens willekeurige aanspraak en sonder teenprestasie gekollekteer kan word nie.

Oor die afloop van die ABO skryf Scholtz twee eienaardige sinne: “Dit was dan die eerste groot strategiese keuse van die Afrikaners in die 20ste eeu – die keuse vir hulle selfrespek sodat hulle kon oorleef. Dit is die een keuse waarop hul nasate ‘n eeu later steeds sonder enige [!] aarseling trots kan wees en wat ook vandag nog hul selfrespek kan voed” (34-35). Die Afrikaners het so lank as wat sinvol was teen die Britse oormag geveg: “Die Boere hét inderdaad tot die bitter einde geveg, tot hulle werklik nie verder kón nie” (32). Die vredesluiting was dus nie werklik ‘n vrywillige keuse wat uitgeoefen is nie. Dit was glad nie ‘n keuse wat hulle selfrespek danig gevoed het nie. Scholtz skryf: “Op geestelike vlak is baie Afrikaners [deesdae], ofskoon lank nie almal nie, weer, net soos destyds, verdwaas, radeloos, reddeloos, moedeloos en leierloos” (10). Daardie lys van woorde is nie ‘n sinoniem vir selfrespek nie. Al wat ‘n sprankie selfrespek na die ABO kon voed, is dat die Afrikaners heroïes geveg het en dat daar mettertyd ‘n groot mate van konsensus was dat oorgawe die enigste realistiese opsie was.

Daar was dus moontlik ‘n bietjie ruimte vir Afrikaner-selfrespek na die ABO. Maar in 1990/1994 het ‘n klein groepie kolossale* klein** mensies*** roemloos en mandaatloos oorgegee in die helder wete dat die oorgrote meerderheid blanke kiesers nooit die politieke bedeling wat “beding” is, sou goedkeur nie. Daar is vir Afrikaners nie ‘n sprankie selfrespek in hierdie algehele magsoorgawe nie. Feitlik die slegste moontlike uitkoms is “beding”, bv algemene stemreg van gelyke waarde in ‘n eenheidstaat sonder minderheidsregte en met behoud van rassediskriminasie, maar hierdie keer sonder keerdatum en uitsluitlik teen blankes, met Afrikaans as die enigste taal wat beduidend aan status inboet. [* Kolossaal in hulle eie oë. ** Klein in die oë van ander mense. *** Mensies: my evaluering.]

“In 1994 het eindelik gebeur wat agtereenvolgende geslagte as ondenkbaar beskou het: Die swart meerderheid het wit heerskappy met swart heerskappy vervang” (167). Dit dui opgetwyfeld daarop dat hier ernstig gekonkel is; dat die oorgrote meerderheid blankes nooit FW de Klerk en sy groepie meelopers se magsoorgawe aanvaar of goedgekeur het nie. Ten slotte probeer Scholtz om in hierdie onverkwiklike situasie in vyf opsigte (Afrikaans, witheid, volkstaat, demokrasie en oorlewing) antwoorde te verskaf op die vraag: Hoe nou?

1. Afrikaans: Dit is die terrein waarop Scholtz goeie werk doen. Hy is eintlik die enigste joernalis wat in Die Burger sterk ten gunste van Afrikaans argumenteer, bv vir die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch. Vir Afrikaans is die uitkoms van De Klerk se grondwetlike “deurbrake” troosteloos: “As mense wil hê Afrikaans moet oorleef, sal die Afrikaanse burgerlike samelewing sélf daarvoor moet sorg. Vergeet die staat” (171).

2. Witheid: Scholtz verwys na Hans Heese se berekening dat Afrikaners 6,9% nie-wit is. Dit is in werklikheid ‘n ignoreerbare klein krakie na verloop van meer as drie eeue. Scholtz vervolg: “Daar [is] tradisioneel slegs twee verskille tussen die ‘wit’ [!] Afrikaners en hul bruin taalgenote, te wete ‘n klasseverskil en die feit dat die Afrikaners minder bruin as die bruines is … [daarom] sal die Afrikaners hul taal – en daardeur ook hulself – nie kan red as hulle hul in ‘n eksklusiewe wit bastion wil terugtrek nie … Ten eerste sal die velkleur uit die definisie van wie ‘n Afrikaner is, gehaal moet word … In die tweede plek sal jy die Afrikaanse lewensterreine vir almal moet oopstel … ‘n Ander resep vir oorlewing is daar nie” (172-173).

Scholtz is hier moedswillig. Daar is nie net daardie twee verskille tussen wittes en bruines nie. Hy weet ook dat dit nie primêr om skakerings van pigmentasie/velkleur gaan nie, maar om kultuurverskille, dus verskille in lewenswyse, verskille in maniere van dink en doen. Byvoorbeeld, hy noem self dat Afrikaans hoogstens ‘n kommunikasiemiddel vir bruines is, terwyl “Afrikaners dit as ‘n identiteitskwessie beskou” (172). Dit is nie eensydig die geval “dat die Afrikaners hul bruin taalgenote verwerp het” nie (172). Baie bruines het Afrikaners verwerp deur reeds eeue lank met Engelssprekende blankes te heul en aktief mee te werk aan die swartes se geweld, vandalisme en terrorisme ten einde Afrikaners se politieke mag te ondermyn. Baie bruines, veral die elite, tree tans verwerplik op deur die verengelsing van al die universiteite te ondersteun. Ook word Afrikaans met oorgawe deur bruines gerysmier deur daarvan ‘n aanstootlike mengeltaal te probeer maak.

3. Volkstaat: “Daar is groepe wat ‘n volkstaat op pure rassistiese gronde bepleit” (173). Weereens, dit gaan vir Afrikanervolkstaters primêr om kultuur en nie om etnisiteit in die sin van verskille in velkleur nie. Velkleur is bloot aanduidend van kultuurverskille. Volgens Scholtz is ‘n Afrikanertuisland “onhaalbaar, veral omdat die ideaal op die lang termyn steeds ‘n aparte, onafhanklike Afrikanerstaat is” (173). In die wêreld bestaan daar talle nasie- of volkstate. Ingevolge afsonderlike ontwikkeling het die blanke politieke bewind etnies-kulturele tuislande en selfs volkstate aan die swartes gegun. Maar Scholtz gun dieselfde reg nie aan blankes of Afrikaners nie. Hy gee toe dat ‘n Afrikanervolkstaat “‘n relatiewe ekonomiese sukses sal wees” (dus nie ‘n rommelstatusaffêre nie), maar dat “swartes masaal op hom sal toesak om werk te kry” (174) en die blankes gevolglik sal verswelg en die politieke beheer sal oorneem. Hy vergeet gerieflikheidshalwe dat Orania die navolgenswaardige voorbeeld van geen volksvreemde arbeid stel. Ook dat landsgrense grense is wat eerbiedig moet word en dat ‘n bekwame, nie-kruipende regering sal sorgdra dat sy grense eerbiedig word.

4. Demokrasie: Ek het hier bo sommige van die gebreke van die huidige Grondwet, waarmee geen egte Afrikaner genoeë kan neem nie, uitgewys. Scholtz herhaal egter die modestelling dat Suid-Afrika ‘n goeie grondwet het (165, 174). Die Grondwet moet glo net toegepas word. In werklikheid is die huidige grondwet vir die ANC bloot ‘n stappie in die revolusionêre proses. By Scholtz is daar blykbaar geen besef van die fundamentele boosheid van die ANC nie. Voorheen het blankes die swartes oorheers, terwyl Scholtz waaragtig voorgee dat die huidige Grondwet blankes teen swart oorheersing verskans (174-175). Maar daarna erken hy dat die parlementêre opposisie min werd is: “Afrikaners se oorlewing gaan nie van dié mense afhang nie … die Afrikanervolk se oorlewing [hang] van homself af” (175). By die eintlike punt kom hy nie uit nie: Die ANC is in werklikheid glad nie op demokrasie ingestel nie, in die sin dat glad nie gepoog word om na alle Suid-Afrikaners se belange om te sien nie. Daarom word blatant teen blankes gediskrimineer en word hulle kort-kort sleggesê, ook deur die staatshoof. Demokrasie word bloot as ‘n rookskerm gebruik. Dit gaan om swart mag en swart oorheersing met as ideaal ‘n outoritêre eenpartystaat met ‘n groot skeut kommunisme.

5. Oorlewing: Dwarsdeur hierdie boek word aangetoon dat die wil tot oorlewing en dus verskansing teen verswelging deur swartes soos ‘n goue draad deur die Afrikanergeskiedenis loop. Dit verklaar waarom daar apartheid was en waarom blankes so oordrewe deur swartes daarvoor verkwalik word. “Moet ons as volk oorleef, of … moet ons maar ons identiteit prysgee”? (168). Scholtz gee op hierdie bladsy voor dat Afrikaner-identiteitsbehoud bloot verset teen verengelsing is, terwyl Afrikaner-identiteit baie meer as net taal behels. “NP van Wyk Louw het geoordeel dat die Afrikanervolk eenvoudig van skaamte sou gesterf het as hy voor die aanbreek van die bitter einde [van die ABO] sou oorgegee het” (168; ook 34). Scholtz voeg by: “‘n Saak wat tans swaar op die Afrikanergemoed druk … is hul skaamte oor apartheid … Gaan daardie skaamte … die oorlewing van die Afrikanervolk onmoontlik maak? Gaan die Afrikaners na binne emigreer? … Massaal na die buiteland emigreer?” (168).

Hierdie inskrywing oor oorlewing is seker die teleurstellendste gedeelte in Scholtz se boek. Hoe kan/durf hy skaamte as blykbaar die enigste faktor in Afrikaners se politieke ondergang in die jare negentig uitsonder? Daar is baie (dalk die meerderheid) Afrikaners wat geen werklike skaamte oor apartheid het nie, juis omdat apartheid ingevolge Afrikaners se hoogs natuurlike oorlewingsdrang verklaar en selfs in hoë mate moreel geregverdig kan word. Die geskiedenis van die blanke politieke bewind in Suid-Afrika kan nie tot slawerny, rasse-segregasie en apartheid gereduseer word soos deesdae so graag gedoen word nie. Die era voor 1990 is bowenal gekenmerk deur die lofwaardige ontwikkeling van ‘n woeste Afrikaland en die vestiging van ‘n voortreflike Europese beskawing. Daaroor behoort daar geen skaamte te wees nie; eerder regverdigbare trots. Die skaamte/verontwaardiging/woede in Afrikanergeledere sedert 1990 is nie apartheidgesentreerd nie. Die nog nie voldoende oorstygde “skaamte” is oor die verraderlike, eerlose De Klerk-oorgawe. Dit is nie die blankes en veral nie die Afrikaners wat oorgegee het nie. Dit is ‘n klein groepie dwase swakkelinge wat die land in die skoot van die swartes laat beland het. Daarmee kan en sal nie onbepaald vrede gemaak word nie. Die Afrikaners sal tot verhaal kom en dan sal daar nuwe betekenis gegee word aan die uitdrukking: ‘n Boer maak ‘n plan.

“Het die Afrikaners dieselfde kollektiewe wil om te oorleef as ‘n eeu gelede?” (175). Scholtz noem die opsie van die ontwikkeling van “‘n aangepaste identiteit in nuwe omstandighede” (175). Die nuwe omstandighede wat Scholtz vir homself gekies het, is om hom in Nederland te hervestig. Die vraag is: In hoeverre het hy die aangematigde reg behou om voorskrifte aan Afrikaners te verskaf wat daagliks die brutale werklikheid van die nuwe Suid-Afrika ervaar? Afrikaners in Suid-Afrika weet dat ‘n (oordrewe) aangepaste identiteit van hulle iets anders as Afrikaners sal maak. Teen akkulturasie/identiteitsverlies, insluitende verbastering, en potensiële uitwissing sal hulle bly waak. Afrikaners sal voortgaan om selfbeskikking en ‘n eie vaderland en die grootste moontlike vryheid na te streef en kan, soos voorheen, sukses in die vorm van ‘n helder, ellendevrye daeraad behaal.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.