Anton van Niekerk handel in politieke korrektheid en halwe waarhede

Deel op

‘Die mees bekwame swart mediese personeel van vandag is ouer as 40 en is dus onder apartheid opgelei.’

Deel op

Aangesien prof. Anton van Niekerk van die Universiteit van Stellenbosch se artikel oor “waarheid” handel het ek as gewone Suid-Afrikaner besluit om die waarheid voor te lê. Hy skryf:

“‘Politieke korrektheid’ het moontlik die vernaamste skelwoord geword waarmee regse Afrikaners deesdae hul opponente links van hulle toetakel.”

Dit klink amper soos die “skelwoord” of eerder skelwoorde soos “rassisme” en “apartheidsontkenner” waarmee linkse Afrikaners deesdae hul opponente van regs wil toetakel. Dit doen u selfs in hierdie rubriek deurdat u die gegronde en intellektuele betoë teen regstellende aksie en grondhervorming aftakel deur die redenasie dat Afrikaners (selfs dié wat na 1994 gebore is) steeds verantwoordelik gehou moet word en moet boet vir ‘n beleid wat lankal afgeskaf is. U beweer verder:

“Waarheid, veral in ’n morele konteks, kan daarom nie altyd sonder meer gelyk gestel word met ‘die naakte feite’ nie. Die waarheid funksioneer in ’n konteks wat nie altyd bloot ‘meegedeel’ kan word nie, maar wat dikwels geïnterpreteer moet word.”

Dit klink baie na ’n manier om die waarheid van die mislukkings van Suid-Afrika tot in der ewigheid te onderdruk deur die linkse interpetasies oor die verlede alewig onder almal se neuse te vryf.

Byvoorbeeld: Ja, die “naakte feit” is dat daar deesdae teen wittes gediskrimineer word, maar dit is nie die volle waarheid nie, want daar moet ook “geïnterpeteer” word dat daar êrens in die verlede (volgens my linkse interpretasie) teen swartes gediskrimineer is.

Linkses soos u, deur u “interpretasies” skep dus ‘n “sertifikaat” wat in elke instansie opgehang kan word en kan dien as die regverdiging vir die aanhoudende diskriminasie teen wit Suid-Afrikaners. Is so ’n “sertifikaat” tydloos? Wanneer volgens u, mag daar weer ‘n gelyke speelveld wees waar wit kinders weer mag medies studeer? Wanneer die gesondheidsdienste reeds aan skerwe is, of wanneer die mediese klas honderd persent swart is? ’n Disfunksionele gesondheidstelsel is een van die pryse wat betaal moet word vir die najaag van getalle om uitkomstes te manipuleer.

U erken dus die diskriminasie teen witmense, maar glo dat dit regverdigbaar is volgens ‘n blote “interpretasie” van die verlede? Hoekom word witmense dan so gekritiseer wanneer hulle die legitimiteit van die reënboogideaal bevraagteken? Hier staan en erken u dan oop en bloot dat daar teen witmense gediskrimineer word. Of die diskriminasie teen witmense regverdigbaar is of nie, getuig enige vorm van diskriminasie beslis nie van ’n “reënboognasie” nie. Nog minder van die “non-racial South Africa” waarvan Mandela gepraat het. Dieselfde “nie-rassige demokrasie” waarvoor witmense in 1992 moes stem. Dan is daar dié sinsnede:

“praat asof ons onlangse geskiedenis in Suid-Afrika weggewens kan word nie.”

Wat beteken “onlangs” volgens u? Anders as u, beskou ek die Suid-Afrikaanse geskiedenis as lank voor 1948. Daarom is 1899 vir my ook “onlangs”. Die konsentrasiekampe waarin Boerevrouens- en kinders gesterf het, moet dan liefs ook nie “weggewens” word nie. Volgens u “oog-vir-‘n-oog”-logika, het Afrikaners tot vandag toe die reg om Engelse witmense ook so uit te mergel. Nie dat die Afrikaners dit selfs na die oorlog of nadat hulle mag verkry het, ooit gedoen het nie. Van Niekerk skryf verder:

“Ons geskiedenis is ’n verhaal van een van die die mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur wat die wêreld nog ooit gesien het. Terwyl wit mense in regse kringe fulmineer oor slim, wit jongmense wat deesdae nie meer so maklik toegang tot ’n studierigting soos geneeskunde kry nie, vergeet ons veels te vinnig dat swart mense voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie – laat staan nog tot medies.”

Hierdie belaglike linkse “interpretasie” van u spreek vir my boekdele oor hoekom die wit Suid-Afrikaner so suksesvol gemarginaliseer word. Dit is hierdie witskulddogma wat veroorsaak het dat regstellende aksie regverdigbaar geword het, en dat daar nooit werklike verset teen sulke beleide was nie. Daarom sit 250 000 witmense vandag in plakkerskampe in Johannnesburg. Daarom moet ouers vir hul kinders verduidelik dat hulle te wit is om te mag studeer. U “interpretasies” oor die verlede regverdig juis dít.

Ek wil ek u inlig dat u “interpretasies” skeef is en gegrond is op ’n neo-apartheidsgeskiedenis wat eers na die jaar 1994 gevorm is en juis op so ‘n manier opgestel is om anti-wit-diskriminasie suksesvol te kan regverdig.

Die tydperk van die “mees blatante instansies van diskriminasie teen mense op grond van velkleur” is immers die tydperk waarin mense van alle kleure meer kon floreer as ooit. Dit was veral die swartmense wat wonderbaarlik ontwikkel het en hul plek in die ekonomie en werksektor begin inneem het. Vandag verloor hulle dit. Ek haal aan uit die Amptelike Handboek van die Republiek van Suid-Afrika 1985:

  • In 1970, Blacks earned 1751-million (25,5%) of the country’s total wage bill of 6865-million. By 1984, their share had grown to 32,3% (17 238-million) – an increase of more than 1000% in 14 years
  • In 1970 Blacks accounted for 23% of the total personal disposable income in South Africa and the Black national states. By 1985 their share had grown to 31,8%, while that of whites declined from 67,7% to 55,5% during the same period.
  • Of the 1 264 500 employees in the manufacturing sector during 1976, 56% were black, 22% white, 16% colored and 6% Indian.

Verder vertel die 1991-sensus dat swart werkloosheid in 1991 8,1% was. Dít teenoor die huidige 37,5%.

Daar was ook 323 340 swart besigheidseienaars in 1991 waarvan 120 662 swart vrouens was. Dit staat meer in verhouding tot die destydse swart demografie as vandag. Van Niekerk beweer ook:

“voor relatief laat in die 20ste eeu hoegenaamd nie toelating tot enige Suid-Afrikaanse universiteit gehad het nie – laat staan nog tot medies”

Dit is ’n totale leuen. In 1985 het 43 000 swart studente aan blanke universiteite in die Republiek studeer. Selfs voor 1985 het instansies soos Medunsa ekslusief duisende swart mediese studente per jaar opgelei. Daar is talle swart universiteite deur wit belastingsbetalers in die tuislande opgerig wat honderde duisende gekwalifiseerde swartmense opgelewer het. Voor 1948 was so ‘n resultaat slegs ’n swart droom wat, gegewe die onderontwikkelde swarte van 1948, onmoontlik gelyk het. (Verskoon tog as die benaming “swarte” nie polities korrek is nie.)

Die mees bekwame swart mediese personeel van vandag is ouer as 40 en is dus onder apartheid opgelei.

Moet wit skoolkinders hierom vandag tot meer as 90 persent kry om in aanmerking te kom vir toelating tot mediese opleiding? Die Stellenbosse ideoloog kom dan met sy argument oor grondbesit vorendag:

“…staan die beskuldigende horison van die geskiedenis toe swart mense slegs 13% van Suid-Afrika se grond kon besit – en daarvan baie min privaat kon besit.”

Die “geskiedenis” wat u gebruik om die “kliniese feite” te onderdruk en te verkleineer is ongelukkig gegrond op halwe waarhede en leuens.

Net soos die vorige voorbeeld, is die voorbeeld oor grondhervorming belaglik. Die “13% van Suid-Afrika se grond”-weergawe is nie heeltemal onwaar nie, maar uiters simplisties gestel en slegs ‘n halwe waarheid. Kom ek wys u op die “kliniese feite” wat nie deur enige ander “interpretasie” verkleineer kan word nie.

Die 13% (eintlik 14%) grond wat deur swartes besit kon word, was in die eerste plek dieselfde grond waarop die onderskeie swart kultuurgroepe lank voor die eerste ras-wetgewing gevestig het. Dit is hand aan hand met die implementering van apartheid summier aan hulle toegeken vir hulle ekslusiewe bewoning. Geen ander rassegroep het hierdie voorreg geniet nie. Daardie grond was die mees vrugbare streke in die hele land met die hoogste reënval.

Honderde wit boere het oor die jare hul grond verkoop om die area van die tuislande aan te vul.

Die vrugbaarheid en bewoonbaarheid van die res van Suid-Afrika, waar nie net witmense nie, maar ook kleurlinge en Indiërs moes woon, het egter veel te wense oorgelaat. Volgens South African Profile 1978 was slegs sowat 10% van die nie-tuislandareas beskikbaar vir verbouing. Die res van die nie-tuislandgrond was semi-woestyn of bloot onbewoonbaar a.g.v. onaangename klimaat en lae reënval. Dus, behalwe vir ’n handjie vol veeboere en klein primitiewe plattelandse dorpies, het blankes en kleurlinge slegs sowat 15% van Suid-Afrika se grond bewoon, waarvan hulle ‘n klein persentasie privaat besit het. Dan moet u ook onthou dat hierdie klein bewoonbare areas waar witmense en kleurlinge gewoon het, ook sowat 20% van die swart bevolking moes huisves in die stede.

Die blanke/kleurling-gebiede is dus baie meer onder druk geplaas en digter bevolk as die swart tuislande.

Die landbouprojekte vir swartes in tuislande het ook sedert 1960 duisende suksesvolle swart boere opgelewer. Anders as die swart boere van vandag wat eenvoudig aanspraak maak op grond en veroorsaak dat daardie selfde grond ’n paar jaar later vervalle en onproduktief is.

Is grondhervorming dus steeds regverdigbaar? U wil hê dat die agtergrond van die geskiedenis in ag geneem word wanneer “die waarheid” gepraat word. Juis dít het ek nou gedoen en daardeur kon ek die belaglikheid van grondhervorming en regstellende aksie selfs nog meer uitwys.

Die “agtergrond van die geskiedenis” moet ongelukkig juis interpreteer word deur alle feite in ag te neem. Nie net die oppervlak nie, maar ook die diepte van elke feit moet ondersoek word. Dit is byvoorbeeld waar dat swartmense slegs 13% van die grond kon besit, maar het u die rede en diepte van daardie feit ondersoek soos wat ek hierbo uitgelê het?

Sulke interpretasies sal die enigste manier wees om ‘n verstandhouding te bereik waarvolgens gelyke speelvelde bewerkstellig kan word en ons kan voortleef in ’n ware nie-rassige Suid-Afrika. Suid-Afrika is die land met die meeste rasgebaseerde wetgewing ter wêreld en dít as gevolg van regverdigings daarvoor wat spruit uit gebrekkige interpretasies van die verlede. Hierdie interpretasies moet vernietig en reggestel word en as dit vir sommige mense na “rassisme” en “apartheidsontkenning” klink, is dit die prys wat ons bereid is om te betaal!

– John White

Lees ook:

Anton van Niekerk: politieke korrektheid, feite-waarheid en morele waarheid

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.