Nabetragting oor Russel Botman

Deel op

Een van Botman se opdragte… is dat vasgestel moet word hoe die donateur Jannie Marais se stigtingsvereiste, dat die US ‘n Afrikaanse universiteit moet wees, omseil kan word.

Deel op

Die dood is die groot gelykmaker. Omdat ons dan nie meer is nie, is ons uiteindelik almal gelyk. In die dood is almal met dieselfde mate van onvermoë geslaan; dus absolute inklusiwiteit. Alle lewende dinge gaan vroeër of later dood; maak nie saak hoe belangrik iets deur ander dinge of homself geag is nie. Daar is dus die neiging tot soberheid na die dood van iemand, maar dit word dikwels oordryf; dermate dat die oorledene onherkenbaar word. Na Jakes Gerwel se dood is sy fanatieke aanhang van die kommunisme en die feit dat hy die vader van die eentalige Engelse Universiteit van Wes-Kaapland is doelbewus verswyg. Hy is eerder as ‘n “struggle-held” geloof en as iemand wat Afrikaans bevorder het. In die geval van Russel Botman, die gestorwe rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), is daar ‘n soortgelyke selektiwiteit.

In hierdie rubriek word geensins probeer om Botman te diskrediteer of ‘n valse beeld van hom voor te hou nie. My skrywe is ‘n eerlike poging tot realisme. Dit gaan vir my om die heil van Afrikaans, die US en die Afrikaner. Ek wil geensins oneerbiedig wees nie. Ek trag om aan te toon dat sommige reaksies op sy dood redelike perke oorskry en in ‘n te groot mate met doodgewone valsheid aangedik is. In my poging word ek gesterk deur die kommentaar wat deur vele lesers op die internet op bv koerantartikels gelewer is. Dit gee ‘n mens moed as daar mense is wat teks krities lees en nie alles as vye verorber nie. Die leserskommentaar wat wel die rekenaarskerm gehaal het, is in die geval van bv die Media24-publikasies heel moontlik net die oortjies van die seekoei. Na sy dood het Die Burger in sy gedrukte uitgawe egter net pro-Botman-internetreaksies gepubliseer (1 deser, p 11).

Die aanloop tot die jongste vlaag Botman-tekste was ‘n voorbladsyberig in Die Burger op Maandag, 23 Junie. Daar is genoem dat ‘n mosie van wantroue Botman se voorland by ‘n US-raadsvergadering kon wees. Praag het sy lesers op dieselfde dag daaroor ingelig. Ek het toevallig omvattende teks oor Botman gereed gehad vir moontlike publikasie op die daaropvolgende Sondag. Die genoemde voorbladsyberig het my genoop om my teks dadelik vir publikasie aan te bied. Ook dit is op 23 Junie op Praag gepubliseer.

Op 24 Junie berig Die Burger: “Matie-raad stil ná lang gesprek oor transformasie” (p 1). Klaarblyklik sou daar eers deur die raadsvoorsitter en US-bestuur besin word oor hoe om die uitkoms te plooi voordat ‘n amptelike verklaring uitgereik word. Die dag daarna berig Die Burger (p 1, 5): “US-bestuur ‘moet ingryp by sentrum’.” Die sentrum waarna verwys word, is dié vir inklusiwiteit, wat as stormram vir Botman se oordrewe transformasie-inisiatiewe gebruik is. Hierdie sentrum was veronderstel om ‘n US “te skep waarin ‘n verwelkomende kultuur, gelykheid, diversiteit en transformasie floreer.” Dié sentrum het die US gekarakteriseer as steeds “hoofsaaklik wit, heteroseksueel, manlik, Afrikaans en met belang in die sieninge van die alumni en die konvokasie en sieninge in die Afrikaanse media.”

Blankes en Afrikaans, die twee hoofkenmerke van die tradisionele US, is dus as die hoofeuwels voorgestel wat in die transformasieproses geteiken moet word. Dit verwoord ongetwyfeld die kern van Botman se beleid sedert sy diensaanvaarding as rektor in 2007. Die Burger het destyds die bedenklike rol gespeel van pleitsbesorger vir die aanstelling van die eerste nie-wit US-rektor; deesdae feitlik deurgaans die “eerste swart US-rektor” genoem. Tot vroeër vanjaar het hierdie koerant geen werklike kritiek op die Botman-US gepubliseer nie. Vanjaar het misdaad op die kampus en in die res van Stellenbosch sulke afmetings aangeneem dat Die Burger sy beleid gewysig het.

Die koerant het toe begin om ruim publisiteit te verleen aan die heersende misdadige omstandighede aan die US waarin normale universitêre studie nie meer moontlik is nie. Heelwat kritiek op die afskaling van Afrikaans en die oorheersing van Engels as onderrigtaal is ook geplaas. Leopold Scholtz, blykbaar ‘n getroue Praag-leser, wat voorheen aan Botman die voordeel van die twyfel gegee het, het uiteindelik tot die korrekte gevolgtrekking gekom dat daar aan die Botman-US “‘n breë aanslag teen Afrikaans is” (Die Burger, 27 Junie, p 14). Op 4 deser volg Scholtz dit op deur te verwys na “die sigbare agteruitgang van Afrikaans onder sy [Botman se] bewind” (p 14). Polities korrek is daar in Die Burger egter steeds geen ruimte vir die bevordering van blanke belange nie, om van die Afrikaner se politieke belange nie te praat nie. Die US mag dus maar al hoe meer verswart, wat sedert 2007 ook Botman se telkens uitgesproke ideaal is.

Na die 25ste Junie was Botman weens siekte nie meer op kantoor nie. Op die 26ste het ‘n laaste foto van hom as lewende wese op die US-webwerf verskyn. Dit was ter ondersteuning van die Solomon Mahlangu-beursfonds. Mahlangu was ‘n “bevrydingsikoon” wat in 1979 op ‘n moordklag skuldig bevind en opgehang is. Hierdie beurse word waarskynlik net aan swart swartes toegeken. Botman se ondersteuning hiervan moet gekontrasteer word met sy weiering dat die US enigiets te make mag hê met studiebeurse wat bepaal dat die ontvangers wit moet wees. Blankes word hiermee willens en wetens van belangrike geleenthede ontneem. Ek ken toevallig ‘n oud-Matie wat jare lank gepoog het om ‘n beursfonds ter bevoordeling van blanke studente aan sy alma mater in te stel. Van die kant van die Botman-US is hierdie welwillende aanbod botweg geweier. Dit is omdat ANC-politiek voorkeur bo akademiese oorwegings geniet. In hierdie proses mag die belange van blanke studente blykbaar maar vertrap word. Dit sal interessant wees om te sien hoeveel blanke studente by die gestigte Botman-beursfonds gaan baat (Die Burger, 2 deser, p 4).

In die laaste week van Junie is drie briewe in Die Burger gepubliseer wat ter sake is:

  • Op die 24ste (p 16) het Louis, Tygervallei, Anton van Niekerk se lofrede vir Wandile Ganya (Praag 19 Junie) gekritiseer deur tereg aan te voer dat dit “geen regverdiging [is] om Afrikaanse moedertaalsprekers die geleentheid om voorgraads in Afrikaans te studeer te ontsê nie.”
  • Op die 26ste (p 19) het Spook de Kock, Stellenbosch, die US bestempel as ‘n plek waar “onverbloemde politiek nou die septer swaai.” Hy beaam: “Die US het vanaf ‘n historiese Afrikaanse universiteit verander na ‘n polities korrekte instrument van transformasie.”
  • Op die 28ste (p 13) verwys Charles, Grabouw, na Van Niekerk se lof vir die verengelsings- en keuringsbeleid van die US se mediese fakulteit. Hy noem dan die geval van ‘n plaaslike bruin student wat huil-huil vort is na die Potchefstroom-kampus omdat hy as plattelander nie kans sien om hoofsaaklik in Engels aan die Botman-US te studeer nie.

Die week daarna (30ste, p 10) noem Carolus Heydenrych, Velddrif, Van Niekerk se artikel “‘n ylbedekte aanval op die ‘Afrikaner’, Afrikaans en ‘Afrikaanse’ universiteite – asof dit alles veranderlikes is wat Ganya te bowe sou moes kom as daar nie die wyse toelatingsbeleid van die universiteit was nie.”

Op 1 deser (p 10) bestempel Johann Holzapfel, Vredekloof, die doel van die Sentrum vir Inklusiwiteit (vierde paragraaf hierbo) as “polities korrekte wollerigheid.” Dan volg skerper kritiek: “Deur die bestaande instelling tot op sy fondamente af te breek en dan te meen die ‘nuwe’ Stellenbosch sal soos ‘n feniks uit die as verrys, is gewoon onsin. Die resep in Stellenbosch, Potchefstroom en Bloemfontein het veel gemeen: die noodsaak om die kampusse te reinig van die booshede van die verlede, naamlik te wit, te manlik, te Afrikaans, te Christelik en selfs te heteroseksueel. Soos prof Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, dit gestel het: ‘Ons visie is die skepping van ‘n nuwe kultuur – vry van enige (bestaande) kultuur en vry van die geskiedenis’.” Hierna verwys Holzapfel na die US se koshuisbeleid en die begeerte om die DF Malan-sentrum se naam te verander. “Die minagting vir ‘n eens trotse instelling vorm duidelik deel van ‘n strategie om uiteindelik die Groot Prys, Afrikaans, se kop op ‘n goue skinkbord aan die ideologie-gedrewe ‘ingenieurs’ in die Kremlin te oorhandig.”

Die dobbelsteen was teen Botman gelaai, selfs by Die Burger, sy eens stoere ondersteuner, toe Botman se dood op die 28ste bekend gemaak is. Maar ‘n koerant verander gou en maklik sy deuntjie, sonder om dit ruiterlik in sy kolomme te erken. Die uitgawe van 30 Junie (p 1, 4, 5 en 10) word oorheers deur berigte wat van onverdunde verering vir Botman getuig. Mense en instansies soos die volgende het van hulle laat hoor: US-ampsdraers, ander universiteite, politieke partye en politici, teoloë en veral bevrydingsteoloë. Ek stip enkele hoogte- of laagtepunte aan. Ek begin met die mening van drie bruines.

  • Conrad Sidego, die DA-burgemeester van Stellenbosch, sê: “Botman was gedrewe wanneer dit gegaan het oor transformasie en inklusiwiteit.”
  • Christo van der Rheede, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, wat in werklikheid baie sydelings met hierdie saak te make het, beweer dat Botman van Suid-Afrika ‘n beter plek help maak het. “Sy nalatenskap aan die US is bewys van sy strewe om die universiteit as ‘n instelling van toeganklikheid en uitnemendheid in die Afrika-konteks te posisioneer.” Uit sy skrywe op LitNet (1 deser) blyk dat Van der Rheede se vriendskap met Botman UDF/ANC-gegrond is. Van der Rheede is lid van ‘n bruin mafia wat as studente politieke gif aan die UWK ingekry het en (gevolglik) baie eienaardig met Afrikaans omgaan. Probeer gerus om die logika in Van der Rheede se stelling te vind dat Botman “die waardigheid van Afrikaans aan die US herstel” het. Baie nader aan die waarheid sou wees om te sê dat Botman verseker het dat Afrikaans sienderoë drasties aan die US agteruitgaan.
  • Franklin Sonn, wat akademies nie verder as ‘n UWK-honneursgraad kon vorder nie, maar graag as doktor en selfs as professor aangespreek wil wees, beweer Botman se taak was “om vorm en inslag aan die nuwe volk te gee.” Dit is nie duidelik of “volk” na ‘n enkele etniese groep of na alle inwoners verwys nie. Botman “het nooit in die kerk en universiteit leierskap gesoek nie, maar is deur ander daartoe verhef [!]. Opvallend was hy nooit afbrekend in sy omgang met andersdenkendes nie” (maar kyk Praag 23 Junie). “Opvallend was Russel se liefde vir sy moedertaal, Afrikaans … Dit moes instrument wees vir insluiting eerder as wegwysing. Dit sou die dood in die pot vir sy taal wees” Inderdaad! “Russel was soos ons … die kinders van Mandela.” Ek het jare lank daarop aangedring dat Botman sy persoonlike gesindheid teenoor Afrikaans openlik moet bely, bv “Ek en my huis, ons sal Afrikaans dien.” Daar was na die beste van my wete nooit betroubaar berig dat Botman sy liefde vir Afrikaans verklaar het nie. (Maar kyk die George Steyn-gerug hieronder.)

Braam Hanekom, ‘n NG Kerk-moderator, kry dit reg om in die volgende uitlating van Botman iets positiefs te vind: “Ons sal hulle [die plaaslike blankes] self slegsê as ons [die plaaslike nie-wittes] dink hulle verdien dit.” ‘n Klassieke “ons” en “hulle” wat volgens die inklusiwiteitsleer nie mag wees nie.

Ten slotte beweeg ek in drieërlei opsigte na die kern van hierdie saak.

Eerstens is daar die uitlatings van Michael le Cordeur, die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), wat op sowel LitNet as die ATR-webwerf (28 Junie) gepubliseer is. Namens die ATR skryf Le Cordeur dat Botman “ons onvoorwaardelike steun geniet [het] en ons het ook ons skriftelike steun aan hom toegesê met sy transformasieplanne … Die ATR kan getuig – soos ook ek persoonlik – dat hy inderdaad instrumenteel was in die daarstel van ‘n vreedsame einde van apartheid in Suid-Afrika en sedertdien een van Afrika se toonaangewende universiteite gemobiliseer het om verskeie van die probleme wat ons land in die gesig staar, die hoof te bied.”

Soos gebruiklik is Le Cordeur se opmerkings etnies en polities gedrewe. Die ATR is veronderstel om met taalsake te make te hê. Onvoorwaardelike ondersteuning van Botman se ANC-gedienstige transformasieplanne is heeltemal misplaas, des te meer omdat dit die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal insluit. Dit is ook bekend dat Botman hom nie net vir ‘n vreedsame einde van apartheid beywer het nie. Daarvan getuig die onrus wat in 1976 onder Botman se leiding op die UWK-kampus gestook is en die verwoesting van staatseiendom wat daaruit gevolg het. Le Cordeur toon met sy uitlatings weer ondubbelsinnig dat die samestelling en voorsitterskap van die ATR dringend getransformeer moet word.

Dat die ATR radikaal foutief funksioneer, blyk ook daaruit dat Die Burger se berig oor Botman se begrafnisreëlings (1 deser, p 5) op die ATR-webwerf hergepubliseer is, asof ‘n groot Afrikaans-taalbul ter ruste gelê word. Sy grootste ondersteuner sou Botman nie ‘n Afrikaans-taalbul noem nie. In die ATR-nuusbrief, Die Koker (Julie-uitgawe), word Botman nogeens gehuldig; klaarblyklik op aandrang van Le Cordeur.

Tweedens verwys ek na wat die bevrydingsteoloog Llewellyn MacMaster op 29 Junie in Rapport geskryf het. Die teks van sowel Le Cordeur as MacMaster herinner aan dié van die swart Amerikaner John McWorther (Praag 1 Junie) omdat linkse politieke uitlatings oormatig met komplimente vir die outeur self gegarneer word. LeCordeur vertel van sy oorsese reis, van sy aanstelling by die US en sy rektorstoekenning. MacMaster spog dat hy weens onwettige politieke bedrywighede saam met Botman in die tronk was. Hy maak dit baie duidelik dat hulle albei, bv sedert die stigting van die Sentrum vir Inklusiwiteit in September 2013, die bevrydingstryd voortgesit het. Ons is hier by die kern van die US se akademiese verrotting. ‘n Universiteit kan nie suksesvol as ‘n akademiese inrigting met ‘n ideologies eensydige politieke program bedryf word nie.

MacMaster was voorheen die US se studentedekaan. Tans is hy die projekleier van die Sentrum vir Inklusiwiteit. As studentedekaan het hy dit as sy plig beskou om nie-wittes op die kampus tuis te laat voel. Wittes moes blykbaar sien hoe kom klaar. By MacMaster is daar geen simpatie met die geldige standpunt dat die US histories en andersins ‘n plek vir blankes en Afrikaans is en wittes dus rede het om ongelukkig oor opgedringde multikultiraliteit, meertaligheid en inklusiwiteit te wees nie. Mense wat tradisioneel nie op die kampus hoort nie en Engels as onderrigtaal verkies, word aan die Botman-US bevoordeel. (Danksy die stigting van die US is Engels in werklikheid kort na 1918 uitgefaseer.) Die huidige oogmerk is dat sowel nie-wittes as Engels teen 2018, die US se eeufeesjaar, in ‘n alles oorheersende posisie moet wees. Vir Afrikaner-kultuur gun MacMaster klaarblyklik geen ruimte nie. Volgens wat hy op RSG kwytgeraak het, moet die US daarna strewe om wêreldburgers te lewer.

Die US-raad se besluit van 23 Junie lui soos volg: “Die Raad is besorg oor uitsprake van sommige personeellede van die Sentrum vir Inklusiwiteit wat, weens ‘n fokus op enkele aspekte van transformasie aan die US, die potensiaal het om belangrike ondersteuningstrukture van die US te vervreem en dat dit ander doelwitte (soos die strewe na uitnemendheid) kan benadeel” (US-webwerf 24 Junie).

Die wins is dat Botman waarskynlik die eerste keer die wind van voor tydens ‘n raadsvergadering gekry het en daarby oor sy troetelskepping, die Sentrum vir Inklusiwiteit. Maar Botman se ideologie is nie uitdruklik verwerp nie. Daar moet dus nie afgelei word dat die meerderheid US-raadslede ‘n Damaskus-ervaring gehad het en hulle hulle voortaan eerder vir die akademie as die politiek gaan beywer nie. Die rede waarom daar ‘n meerderheid vir dié besluit was, is geld. Dit is wat met “ondersteuningstrukture” bedoel word. Donateurs mag nie vervreem word nie; die US wil hulle geld hê asof hy nog steeds die akademiese inrigting van weleer is.

MacMaster kla oor “foto’s op mure en ander simbole [wat] die seer van die verlede oorbeklemtoon.” Dit is waarom hy en Botman die naam van bv die DF Malan-sentrum wil verander. MacMaster wil nie die status quo aanvaar nie en wil dit soos mede-aktivis Botman uitdaag. Kameraad Botman het glo besluite geneem “wat goed en reg is vir almal.” Een van Botman se opdragte aan hierdie sentrum is dat vasgestel moet word hoe die donateur Jannie Marais se stigtingsvereiste, dat die US ‘n Afrikaanse universiteit moet wees, omseil kan word. Vergelyk dit met Sonn se stelling hierbo waarvolgens Botman opvallend lief vir Afrikaans sou wees, of Van der Rheede se bewering dat Botman die waardigheid van Afrikaans herstel het.

Daar is ook ‘n gerug deur George Steyn, die huidige voorsitter van die US-raad, versprei waarvolgens Botman sou wou hê dat sy kleinkinders in Afrikaans aan die US studeer (US-webwerf 29 Junie). Waarom het Botman dan nie skool- en universiteitsonderrig in Afrikaans vir sy vier kinders vereis nie? In 2011 het Botman “vertel van sy kinders wat nie Afrikaans lees nie, want hulle is kwaad en ongelukkig oor Afrikaans se rol” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, 2013, p 232). Wie het hulle teen Afrikaans beïnvloed? Sekerlik onder andere en dalk veral hulle pa as UDF/ANC-aktivis. Verder, hoeveel Afrikaansmediumonderrig het daar aan die Botman-US oorgebly waarin sy kleinkinders onderrig kon ontvang? Afrikaans is nie meer die US se hoofonderrigtaal nie. Volgens Botman is Afrikaans bloot iets wat op die kampus “aanbly” (Kapp, p 175).

Derdens en laastens kom ek by die verregaandste stelling wat tydens hierdie nabetragting gemaak is en wat as aanleiding en aansporing vir my skrywe dien. Daardie stelling kom voor in ‘n hoofartikel van Die Burger (30 Junie, p 10; ook groot op die voorbladsy gereproduseer): “Die US kan nie verkeerd gaan nie as hy min of meer hou by die visie en rigting wat Botman aangedui en nagestreef het.” Dit word gesê in die konteks van: “Sy werk by die US is nog ver van afgehandel.”

Die implikasie is dat ‘n opvolger gesoek moet word wat Botman se goeie werk sal voortsit, bv (1) die verdere verswarting en (2) verengelsing van die kampus en terselfdertyd (3) afskaling van Afrikaans, asook die voortgesette gebruik van rassistiese en seksistiese norme by (4) studente-toelating en (5) die aanstelling en bevordering van personeel. (6) Ook die taboeverklaring van enigiets op die kampus wat met Afrikaners geassosieer word, soos die DF Malan-benaming. Al verskonings wat vir hierdie stiksienige en skynheilige soliede dwaasheid aanvoer kan word, is eerstens dat Die Burger oor ‘n naweek (toe hierdie hoofartikel geskryf is) selfs minder joernalistieke talent as gewoonlik beskikbaar het en tweedens dat daar ‘n kwalifisering van “min of meer” in hierdie wilde stelling ingebou is.

Weens die lengte van my bostaande teks, dek ek in hierdie rubriek hoofsaaklik gebeure tot 1 deser. Daarna het die druk begin om die aanstelling van die volgende rektor en die toekoms van die US te beïnvloed. Daaroor skryf ek liewer ‘n volgende keer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.