So raadop soos HG Wells?

Deel op
Die wetenskapfiksieskrywer HG Wells, waarna Leon Lemmer verwys
Die wetenskapfiksieskrywer HG Wells, waarna Leon Lemmer verwys

deur Leon Lemmer

Dit gebeur glad te selde dat ‘n werklik sinvolle brief in ‘n koerant gepubliseer word. J Hagen sr van Durbanville se brief (Die Burger, 27 Des, p 13) is ‘n welkome uitsondering. Dit is duidelik dat hy nagedink het voordat hy die brief gestuur het. Ek lewer tussen vierkantige hakies kommentaar.

“Die skokkende chaos waarin ons land verkeer, tref my diep – net soos vir duisende ander Suid-Afrikaners … die volgende [sal] ten minste gedoen moet word om die werkloosheid, armoede en vermorsing van belastingbetalersgeld die hoof te bied:

  • Raak (heel eerste) ontslae van pres Jacob Zuma. Hy is ‘n verleentheid vir ons land; [Eintlik was/is al die staatshoofde van die nuwe Suid-Afrika myns insiens ongewens, onder meer omdat hulle pro-kommunisties en anti-blank was/is.]
  • Wettig die doodstraf vir bewese moord; [Die doodstraf is noodsaaklik in nie-ontwikkelde of nie-beskaafde samelewings, want radikale en geweldadige weerwraak is wat sulke mense verwag en verstaan.]
  • Pas instromingsbeheer uit die buiteland toe. Ons het nie eens genoeg werkgeleenthede en behuising vir ons eie mense nie; [Ander negatiewe gevolge is die invloei van armlastiges en misdadigers en die vermurwing van plaaslike kulture. Die tragedie is dat die DA ingevolge sy liberale ideotisme pro-immigrantinstroming is en selfs die ANC kritiseer omdat die regering onwettige immigrante glo nie goed genoeg behandel nie.]
  • Gee aandag aan die bevolkingsaanwas. Bestaande kindertoelaes moedig geboortes aan en is onvolhoubaar; [Ooreenkomstig tradisionele Afrika-kultuur predik die ANC nie geboortebeperking nie. Polities korrek rep die DA geen woord oor hierdie saak nie.]
  • Skep so gou moontlik meer opleidingsgeriewe om die ongeskooldes vaardighede te leer; [Beter skoolonderrig, ‘n groter verskeidenheid naskoolse opleidingsprogramme, meer en beter geriewe en veral beter onderrigpersoneel, aangestel ingevolge bekwaamheid, is nodig.]
  • Alle werknemers moet harder werk en met ‘n kleiner vergoeding tevrede wees. Soos sake tans staan, sal ons nooit mededingend met ander lande kan wees nie; [Die beginpunt behoort die afskaling (minstens 50%) van die vergoeding van politici en amptenare in die sentrale, provinsiale en plaaslike regering te wees.] en
  • Laastens moet ons tot elke prys ‘n ander regering kry. Die huidige regering bewys oor en oor dat hy magsbehep en spandabelrig is.” [Dié regering is ook onbekwaam en daarom ondoeltreffend. Wat noodsaaklik is, is nie bloot ‘n ander regering nie, maar ‘n heeltemal ander staatkundige bedeling, bv stemreg slegs aan nie-misdadige funksioneel geletterdes wat inkomste- en munisipale belasting betaal. Die politiek, parlement en regering sou dan kwalitatief baie beter daar uitsien.] Tot hier Hagen se brief.

Wanneer ‘n mens jonk en gelukkig (of ten minste tevrede) is, sien jy kans vir problematiese situasies. Jy is dan geneig om lig aan die einde van selfs die langste en donkerste tonnel te sien. Wanneer jy ouer en wyser is, is jy geneig om meer skepties oor die vooruitsigte te wees. Die politieke ramp wat Suid-Afrika in 1990/1994 getref het, het plaaslik op alle terreine apokaliptiese afmetings aangeneem. Daar is geen vooruitsig dat die land ooit van hierdie terugslag gaan herstel nie. Die rede waarom sommige jonger mense hoop het, is nie net omdat sulke mense geneig is om optimisties te wees nie. Dit is ook omdat die jonges nie die ellendige hede met die (ten minste potensiële) voortreflikheid van die verlede kan vergelyk nie. Jong mense het immers nie die Suid-Afrika van weleer eerstehands geken nie en word dikwels wan daaroor ingelig.

Suid-Afrika het voor 1990 deurlopend ‘n geskiedenis van evolusionêre politieke verandering gehad. In 1990/1994 was daar ‘n totale breuk met dié geskiedenis; dus presies wat die ANC begeer het, naamlik revolusionêre verandering. Die mandaat wat die meerderheid blanke kiesers aan FW de Klerk gegee het, was onderhandeling vir magsdeling. Hierdie kiesers het dit in die 1992-referendum gedoen nadat die Nasionale Party sy veldtog onder die vaandel van teenkanting teen meerderheidsregering gevoer het. Op ‘n verraderlike wyse het die grondwetlike onderhandelings meerderheidsregering in sy uiterste vorm tot gevolg gehad en daarby sonder dat die blanke kiesers toegelaat is om, soos in 1992 plegtig belowe is, hulle vir of teen hierdie resultaat uit te spreek. Die verraad was en is dus van ‘n tweeledige en hemelskreiende aard.

Net ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blanke politici was medepligtig aan hierdie ruggraatlose magsoorgawe. Na al die jare is dit vir my steeds onmoontlik om te glo en aanvaar wat hierdie groepie die blankes (ons en ons nageslag) en die land aangedoen het. In die hede is van die ontstellendste verskynsels dat hierdie verraaiers dit moreel in orde vind om steeds in die openbaar te verskyn en dan verering, of ten minste begrip, vir hulle wanprestasie verwag. ‘n Gesofistikeerde, vooruitstrewende land wat oor eeue ontwikkel is, is verkwansel aan ‘n klomp immorele, misdadige* kamerade wat alles in hulle vermoë doen om af te breek wat onder blanke leiding opgebou is. Hulle het na die magsoorname spoedig laat blyk dat hulle bekwamer brekers as bouers is. [* Ilana Mercer verwys na “jail birds” (Praag 29 Des).]

My totale onbegrip, selfs na verloop van twee dekades, vir die graad van politieke dwaasheid wat tydens my lewe in my vaderland gepleeg is, laat my dink aan die laaste boek (eintlik pamflet) wat die befaamde Britse skrywer HG Wells (1866-1946) gepubliseer het: Mind at the end of its tether (San Francisco: Millet Books, 1945/1973, 34p). “In that invincible ignorance of the dull mass lies its immunity to all the obstinate questioning of the disgruntled mind” (p 8).

Van geen beskaafde, meelewende, rasionele wese kan met enige reg aanvaarding van die verregaande 1990/1994-bedrog verwag word nie. “There was no reason whatever in it. It happened so” (p 27). Dit is ‘n nagmerrie wat in die werklikheid afgespeel het en waarvan die katastrofale gevolge oral in die land sigbaar is. Nie net die huidige geslag nie, maar ook geslagte wat kom, sal (as hulle nie aan die situasie kan ontvlug nie) hulle weg in hierdie onverkwiklike chaos moet probeer vind. Vir die Westerling kan afrikanisering nooit ‘n plaasvervanger vir Westerse beskawing wees nie. In tradisionele Afrika-kultuur kry Westerse beskawing moeilik ‘n vastrapplek. Dit is soos om te poog om verkoeling in die hel te installeer.

Wells het geweet hy is in die laaste jaar van sy lewe. Hy het die vernietigende gevolge van twee wêreldoorloë beleef. Wells se einde, die vernietiging van sy self, was naby. Hy voorsien “a voiceless limitless darkness” (p 15). Daar was geen manier hoe hy sy situasie kon verbeter nie. Sy toekoms was sonder ‘n horison. Hy is met “mental defeat” gekonfronteer (p 9). Wat hy waargeneem het, het nie meer sin gemaak nie: “Is this all?” (p 14). “A harsh queerness is coming over things and rushes past what we have hitherto been wont to consider the definite limits of hard fact” (p 8).

“All through we have the same spectacle of beings over-running their means of subsistence and thrusting their fellows out of the normal way of life into strange habitats they would never have tolerated but for that urge to live, anyhow and at any price, rather than die” (p 10-11). Al wat oorbly, is wanhoop. Wells se gees, hy as mens en skynbaar ook die wêreld of werklikheid, was raadop. Daar was “the distressful fate that closes in upon us all” (p 16). “Everything was driving anyhow to anywhere at a steadily increasing velocity” (p 5). Die resultaat is “incredible chaos” (p 6).

Dwarsdeur die geskiedenis was dit begaafde indiwidue en kundige minderhede (en nie die meerderheid of massa nie) wat die gang van gebeure en die lot van die mensdom bepaal het. In Wells se laaste sin is daar ‘n sprankie hoop: “But my own temperament makes it unavoidable for me to doubt, as I have said, that there will not be that small minority which will succeed in seeing life out to its inevitable end” (p 34). Vroeër het hy geskryf: “Only a small, highly adaptable minority of the [human] species can possibly survive” (p 30). Nou het hy daardie hoop ook laat vaar. Wells het in laaste instansie sy hoop sekerlik nie op die gepeupel gevestig nie en selfs nie op indiwiduele mense nie, maar op ‘n nuwe spesie, “Over-man” (p 5), dus op na-humanisme (Praag 24 Nov): Daardie nuwe spesie “will certainly not be human” (p 19).

Wat in linkse geledere graag “die wonder van die nuwe Suid-Afrika” genoem word, is in werklikheid die spreekwoordelike bomenslike gemors wat FW de Klerk en kie van die grondwetlike onderhandelings gemaak het. Die resultaat is onterend vir beskaafde mense; eintlik die skepping van werklik onmenslike omstandighede wat skynbaar net deur tans nie-bestaande supermense ongedaan gemaak sal kan word. Daardie supermense sal nie gedurende my leeftyd hulle opwagting maak nie. Ek sal in die chaos van die nuwe Suid-Afrika doodgaan. Dit stel min of meer my pessimistiese standpunt.

Met die blankes in Rhodesië/Zimbabwe en Suidwes-Afrika/Namibië kan gesimpatiseer word omdat hulle hulle lank teen magsoorgawe verset het en eers ondergegaan het nadat die NP-regering sy steun aan hulle onttrek het. Insgelyks geniet die Israeli’s dwarsoor die beskaafde wêreld wye steun omdat hulle die moed van hulle oortuiging het om diegene te beveg wat wet en orde bedreig en wat die ondergang van hulle nasiestaat nastreef. In die geval van blanke Suid-Afrikaners en veral Afrikaners is die simpatiemat onder hulle uitgetrek, want ‘n groepie van hulle eie mense het op ‘n uiters sluwe manier hulle de facto ondergang veroorsaak. Dit kom dus op selfvernietiging neer.

Op die Praag-webwerf word egter gevra dat ek met konkrete voorstelle moet kom oor wat gedoen kan word om ons situasie te verbeter. Die posisie van regse blankes in Suid-Afrika is soortgelyk aan dié van regses in Europa. In albei gevalle word regses in die openbare media nie regs genoem nie, maar as ver-regs geëtiketteer. In Europa word regse politiek as gevaarlik beskou omdat dit met die Nazi’s geassosieer word. In Suid-Afrika word regse politiek taboe geag omdat apartheid as iets ongoddeliks sleg voorgestel word en daar beweer word dat die regses apartheid wil terugbring.

In albei gevalle word die meeste regses se strewe doelbewus onjuis voorgestel. In hierdie konteks kan ‘n sterk saak teen etikette soos “regs” en “rassisties” uitgemaak word. In sowel Suid-Afrika as Europa gaan dit by hierdie sogenaamde (ver)regses oorwegend om identiteitspolitiek en nie om die bevordering van naakte rassisme ingevolge waarvan nie-wittes bloot op grond van velkleur geminag word nie. Dit gaan om die reg om jou eie kultuur, jou manier van dink en doen, insluitende jou eie taal, in jou eie veilige, welvarende omgewing, letterlik in jou eie tuisland, verkieslik ‘n nasiestaat, uit te leef. Dit is nie links of regs nie. Dit is in die kol.

Die punt is dat dit in Europa te kort na die Nazi’s (1945) en in Suid-Afrika te kort na apartheid (1990) is om groot steun vir identiteitspolitiek te verwag. In Suid-Afrika is blankes se posisie bedenkliker as in Europa, nie net vanweë hierdie korter tydsverloop nie, maar ook weens die immer groter wordende, dus verswelgende, getalsoorwig van die swartes. Daarom is ek so raadop soos HG Wells.

Wat kan hieromtrent gedoen word? Soos sommige regses in Europa wend ek my tot metapolitiek. Ek stig nie organisasies nie. Ek plant nie bomme en landmyne soos Nelson Mandela en sy kamerade gedoen het nie. Ek probeer duidelikheid kry oor wat aangaan. Ek probeer ons lot verstaan sonder om dit te aanvaar. Dit is my erns. Namate ek vorder, sal ek al hoe meer kan besin oor hoe (en nie “of” nie) en wanneer ons uit hierdie onverkwiklike situasie kan kom. Ons moet eers weet en verstaan en dan doen. Dit is waarom ek op die Praag-webwerf skryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.