Het Anton van Niekerk elitisme omarm?

Deel op

eugenics3Deur Leon Lemmer.

Daar is akademici wat openbare intellektuele (of soos ons voorheen sou gesê het: volksbesit) wil wees. In hoeverre hulle werklik intellektueel uitmunt, gaan ek nie hier aan die orde stel nie. Ek gaan ook nie die noodsaaklike onderskeid tussen ‘n akademikus en iemand wat bloot in ‘n akademiese pos is, hier tref nie.

Aan die Universiteit Stellenbosch (US) is daar minstens twee mense wat van publisiteit hou: Russel Botman en Anton van Niekerk. Een manier hoe hulle te werk gaan om hulle verlangde beeld as openbare intellektuele te bou, is om aanvanklik teks op die US-webwerf te publiseer. Maar dit is publisiteit van ‘n te beperkte of lokale aard. Die volgende stap is om die teks na Die Burger te stuur, in die hoop dat dit nie net in daardie koerant nie maar dalk ook in Beeld en Volksblad gepubliseer word, verkieslik saam met ‘n foto van die outeur. Leke kan dan geneig wees om te dink: Mapstieks, maar hierdie ouens kán darem navorsing doen. Dít terwyl wat hulle kwytraak (dikwels) in ‘n kits op die internet opgespoor kan word.

Sowel Botman as Van Niekerk kom sleg tweede as hulle publisiteitsukses met dié van daardie baaspublisiteitsoeker, Desmond Tutu, vergelyk word. By geleentheid het Tutu publisiteit gesoek deur aan te kondig dat hy uit die openbare lewe tree. Sedertdien soek hy egter steeds onverminderd publisiteit omdat hy nie daar sonder kan lewe nie. Tutu het ‘n assistent wat die koerante in kennis stel wanneer en waar sy volgende openbare verskyning gaan wees. Anders as in die geval van bv plaasmoorde, stuur Die Burger na elke sodanige Tutu-geleentheid sowel ‘n verslaggewer as ‘n fotograaf. Wat Tutu ook al mee vorendag kom, word onkrities in die koerant gepubliseer. Hierdie oud-sanksiedrywer word verkeerdelik as ‘n onuitputlike bron van nuuswaardigheid beskou.

In Die Burger (12 deser, p 4) is daar ‘n berig deur Elsabé Brits oor die Crispr-tegniek. Met hierdie metode is foutiewe geenreekse van aap – en muisselle suksesvol verander, afgeskakel of uitgesny. Die hoop word gekoester dat sommige siektetoestande by mense op hierdie manier genees of verkieslik voorkom kan word. “Daar is kommer dat Crispr vir eugenetika gebruik sal word eerder as vir die kuur van siektes.” Van Niekerk, wat om kommentaar gevra is, het gesê dit wil “voorkom of Crispr ongekende moontlikhede inhou en ‘n verstommende bydrae tot die verligting van lyding kan lewer.” Dit moet egter eties “verantwoordbaar en verantwoordelik” aangewend word.

Aansluitend hierby is daar in dieselfde uitgawe van Die Burger (p 11) ‘n forumartikel deur Van Niekerk: “‘n Nuwe superspesie wat uit ons eie spesie sou kon ontwikkel, word internasionaal ernstig opgeneem en ondersoek. Wat moet ons hiervan maak?” Hy vestig die aandag daarop dat ons spesie, homo sapiens, binne ‘n miljoen of twee jaar meer as enige ander spesie bereik het. Van Niekerk noem tegnologiese uitvindings soos motors, vliegtuie, wolkekrabbers, televisie, rekenaars en selfone. Verder is daar die wonder van die internet en die merkwaardige vordering in geneeskunde.

[Wat ons ons in hierdie stadium kan afvra, is in hoeverre die genoemde wetenskaplike en tegnologiese prestasies uit die Weste of uit Afrika kom. Na die Tweede Wêreldoorlog het Asiate hulle aanvanklik as kundige na-apers van Westerse uitvindings bewys, maar mettertyd al hoe meer uit eie reg presteer. Deesdae word dit aanvaar dat Oosterlinge veralgemenend beter as blanke studente aan Amerikaanse universiteite vaar.]

Van Niekerk kom hierna by sy eintlike onderwerp uit [waaroor daar ‘n gesaghebbende artikel in bv die Wikipedia is]: transhumanisme, wat kan evolueer tot na- of posthumanisme: “Dit is ‘n intellektuele beweging wat die moontlikheid van die ontstaan van ‘n superspesie wat uit ons eie spesie sou kon ontwikkel, ernstig opneem en ondersoek.” Onderliggend is daar twee redenasies. “Die eerste is dat ons as ‘n spesie onsself sedert die vroegste tye verbeter (enhance) het, en dat dit steeds moet en sal voortgaan … Die tweede redenasie is dat tegnologie onstuitbaar is en nie liniêr ontwikkel nie, maar eksponensieel … Ray Kurzweil … voorsien … dat ‘n breuk in die menslike geskiedenis sal ontstaan waarin biologiese en nie-biologiese [bv masjien-] intelligensie sal versmelt en ‘n gans nuwe spesie die ‘geskiedenis’ sal voortsit.”

“Bestaande tegnologieë wat hierdie apokaliptiese [of: wonderbaarlike] gebeure onderlê, is dinge soos robotika, genetiese manipulasie, die toenemende ineenstrengeling van menslike en rekenaarmatige neurale netwerke, kunsmatige intelligensie en … nanotegnologie*.” ‘n Voorsmaak hiervan is Crispr-tegnologie “waarmee genetiese informasie met onvergelyklike akkuraatheid ‘geredigeer’ kan word. Dit stel wetenskaplikes in staat om gedetailleerde veranderinge in menslike DNS te maak en daardeur voortaan ernstige genetiese siektes … met baie groter sukses te behandel.” Uiteindelik sou alle mensselle wat disfunksioneel word, moontlik suksesvol vervang en selfs verbeter kon word. Implisiet kan daar ‘n verandering van die menslike natuur of spesie wees. Dalk gaan ons vorentoe nie meer net “natuurlik” ontwikkel nie, “maar dat ons ons eie evolusie ter hand gaan neem en gaan stuur in ‘n rigting wat ons self bepaal.”

[*”Nanotechnology: experimental technology using individual atoms or molecules as the components of minute machines, measured by the nanometre, or millionth of a millimetre … The ultimate aim is to create very small computers and molecular machines which could perform vital engineering or medical tasks” (Collins World Encyclopedia, 2003). Ek is geneig om aan die nuwe Suid-Afrika te dink as die era waarin mikrogeeste die kitaar slaan. Daar is egter ‘n duidelike neiging dat al hoe groter poste deur al hoe kleiner geeste beklee word. Dalk moet ek eerder van nanogeeste praat.]

Die skouspelagtige vordering in wetenskaplike kennis en die suksesvolle tegnologiese toepassing daarvan, herinner aan wat Steve Jobs (1955-2011) voorsien het, maar nie verder kon meemaak nie: “We stand at the intersection of art and science; at the intersection of creativity and technology” (Fortune, 3.12.2012, p 56).

Wanneer ek vervolgens oor die voorafgaande besin, is daar minstens drie fundamentele aspekte wat in ag geneem moet word:

* Eerstens gaan dit hier primêr om die verdere geestelike (veral intellektuele, dus breingebaseerde) ontwikkeling van die mens. Dit is ‘n voorvereiste vir die moontlike kundige verbetering van bv die mens se liggaam.

* Tweedens moet die waarheid onder oë gesien word dat sommige indiwidue en etniese groepe voorheen beter as ander presteer het. Dit is tans ook die geval en sal waarskynlik vorentoe steeds die geval wees.

* Derdens is dit hierdie deskundige elite, bv natuurwetenskaplikes en tegnoloë, maar ook geesteswetenskaplikes, wat die kwalitatiewe gaping tussen hulle en die gepeupel of massa progressief gaan vergroot.

Die supermensspesie wat Van Niekerk in die vooruitsig stel, sal in die voorsienbare toekoms klaarblyklik eerder uit die Weste of die Ooste as uit Afrika kom. Dit is bekend dat die mens se biologiese evolusie op ‘n deurlopende grondslag plaasvind; dat wat voorheen as gevorderd beskou is, deesdae as primitief bestempel word. Byvoorbeeld, voorheen was funksioneel geletterdes die uitsondering, terwyl nie-geletterdes deesdae agtergeblewenes is. Tot dusver het onderrig, opvoeding, toewyding, ens, die mens in staat gestel om sy intellek te ontwikkel. Vorentoe kan dit al hoe meer deur tegnologiese uitvindings gerugsteun word.

Moontlik was dit tradisioneel veral aan universiteite waar hierdie geestelike ontwikkeling aanvanklik by studente gestimuleer is. Daarna is dit deur graduandi in hulle private hoedanigheid of in die werkplek verder gevoer. Die vraag is of dit steeds die geval is. Deesdae is dit plaaslik eintlik algemene praktyk dat studentetoelating en die toekenning van studiebeurse, asook die aanstelling en bevordering van dosente en navorsers, op veral ras-/kleur- en geslagsgronde geskied. Voorheen was daar die gesonde akademies-wetenskaplike gebruik om die akademies beste studente tot universitêre studie toe te laat en die akademies beste dosente en navorsers aan te stel en te bevorder.

Van Niekerk gee hoog op oor navorsingsetiek. Myns insiens mag daar navorsing gedoen word oor enige empiriese onderwerp waaroor daar ‘n gebrek aan betroubare inligting bestaan. Dit sluit bv intelligensie in. In 1994 het Richard Herrnstein en Charles Murray in hulle boek, The Bell Curve: Intelligence and Class Structure in American Life, die elitistiese kat in die polities korrekte duiwehok losgelaat met hulle taamlik voor die hand liggende bevinding dat intelligensie by mense nie net deur omgewingsfaktore bepaal word nie, maar ook geneties, dus deur oorerwing. Die outeurs beweer dus dat party mense slimmer as ander gebore word. Dadelik was daar sowel ondersteuners as teenstanders van hierdie navorsingsresultate. Daar is ‘n artikel hieroor in bv die Wikipedia. Ek gaan dus nie hieroor uitwei.

Hoewel alle mense in Suid-Afrika gelyk verklaar is, word algemeen erken dat almal nie naasteby gelyk in die praktyk is nie; selfs dat (van) die grootste ongelykhede in die wêreld plaaslik voorkom. As alle mense oor dieselfde potensiaal beskik, moet daar ‘n sondebok vir hierdie ongelykhede gesoek word. Marginalisering, benadeling, veronregting, uitbuiting, ens, word dan voor die deur van die blankes gelê. As Herrnstein en Murray reg sou hê, sou hoogstens deel van die agterstand van bv (sommige) swartes aan die boosheid van blankes toegeskryf kon word. Die res van die tekortkominge sou geneties, dus DNS-gebaseer, oftewel natuurlik, wees; iets wat vir polities korrektes in beginsel heeltemal onaanvaarbaar is.

Die punt wat ek wil stel, is dat aan ‘n universiteit soos die US, wat openlik (en myns insiens oordrewe en verkeerdelik) voorkeur aan sekere “aangewese groepe” gee, dit van deurslaggewende belang is dat daar klaarheid oor menslike intelligensie in groeps- en geslagsverband moet wees. As daar geen sekerheid hieroor is nie, kan die universiteit mettertyd uitvind dat hy op die verkeerde spoor is; dus dat veral diegene wat die evolusie van die mens kon aanhelp juis van studie, doseerwerk en navorsing uitgesluit word. Die vraag wat ek in die midde wil lê, is of Van Niekerk ten gunste van wetenskaplike navorsing oor menslike intelligensie aan die US is. Suiwer akademies-wetenskaplik behoort daar geen beswaar hoegenaamd teen sodanige bona fide navorsing te wees nie. Maar Van Niekerk se oorbekende politieke korrektheid kan dit vir hom onmoontlik maak om hom vir navorsing oor hierdie belangrike onderwerp te beywer.

Daar word deesdae van die standpunt uitgegaan dat nie-wittes nie aanstoot gegee mag word nie, maar die jag op wittes is heeltemal oop. Dit geld ook navorsing. Navorsing mag maar bewys hoe goed of veronreg nie-wittes is en ook hoe boos wittes is. Vergelykende navorsing oor die intelligensie van verskillende etniese groepe is egter heeltemal taboe. Die waarheid moet dus trustaan vir opportunistiese politieke korrektheid. Iemand soos Botman sou myns insiens te graag wou hê dat die US bekend word as die plek waar die boosheidsgeen in wittes opgespoor is. Navorsing wat nie-wittes moontlik aanstoot kan gee, sal egter nie op dié kampus geduld word nie. Die voorsitter van die navorsingsetiekkomitee, Van Niekerk, sal dit verseker.

Ras- en geslagskwotas is ‘n anti-akademiese en anti-wetenskaplike wanpraktyk wat nie in die beste belang van die samelewing is nie. Dit behoort duidelik te wees dat eerder die tradisionele as die huidige universitêre beleid bevorderlik vir die evolusie van supermense sou wees. Van Niekerk is, sover bekend, ‘n entoesiastiese ondersteuner van die Botman-US se toepassing van ANC-beleid. Daarmee lewer hy moontlik sy bedrae om die kanse te dwarsboom dat supermense ontstaan.

Maar deur te skryf oor die moontlike ontstaan van supermense en oor die wetenskaplike erkenning wat hierdie pogings geniet, gee Van Niekerk toe dat alle mense (gewoon en super), indiwidueel en groepsgewys, nie gelyk of wesenlik eenders is nie, nie so hoef te wees nie en dalk in die toekoms al hoe minder en duideliker nie so sal wees nie. Wat dus toenemend ooglopend kan word, is dat daar naas die kwantitatiewe gepeupel of massa, ‘n kwalitatiewe elite bestaan, wat die huidige gelyk- of eenderswensing van mense die nek in behoort te slaan. Maar is dit juis hierdie vermeende gelykheid of wesenlike eendersheid van mense wat die polities korrektes predik. Van Niekerk is klaarblyklik een van hulle. Beweerde gelykheid/eendersheid is immers die grondslag van die huidige dwase manie van een mens, een stem en dus ook van ons “jong demokrasie”.

In hierdie stadium is dit nodig om twee van die terme wat ek gebruik het, “eugenetika” en “elite”, te verduidelik. Ek haal uit die HAT (2005) aan:

* Eugenetika: “Wetenskaplike ondersoek van alle faktore wat ‘n ras kan verbeter; rasverbeteringsleer.” Dit is iets wat reeds lank in die landbou algemeen en met groot sukses op diere toegepas word. Wanneer gepoog word om mense in sekere opsigte te verbeter, kan daar etiese besware wees. Deesdae word sodanige besware blykbaar in die geledere van die polities korrektes oordryf, want sekere etniese groepe kan dalk in groter mate as ander by verbetering baat. Die blote identifisering van sodanige groepe en indiwidue is heiligskennis vir mense soos Van Niekerk. Hy is een van diegene wat beweer dat die begrip ras onwetenskaplik is. Om daardie beswaar te vermy, verkies ek om in die geval van mense van (etniese) groepe te praat.

Die sensitiwiteit oor hierdie saak kan teruggevoer word na veral die Nazi’s, wat rasverbetering in sommige opsigte verkeerd toegepas het. Maar as ‘n mens onbevooroordeeld oor hierdie saak besin, behoort daar in beginsel nie beswaar te wees teen pogings om mense, indiwidueel en groepsgewys, te verbeter nie. Dit kan klaarblyklik in die belang van die indiwidu, groep en samelewing wees. Dit is ook wat tradisioneel met onderrig en opvoeding beoog is.

* Elite: “Keur, boonste laag van ‘n gemeenskap; aansienlikes.” Daar is verskillende soorte elite. In die nuwe Suid-Afrika het daar myns insiens ‘n skyn-elite ontstaan, naamlik diegene wat sonder werklike verdienste op grond van kleur en geslag en veral ANC-konneksies in topposte beland het. Dit gaan in hierdie gevalle eerder om bevoorregting as egte kwalitatiewe elitisme. Rhoda Kadalie verwys na “hoe vervleg die regerende elite en die misdaad-elite van hierdie land is” (Die Burger, 19 deser, p 10). In die konteks van my skrywe noem die HAT ‘n meer ter saaklike soort elite, naamlik die intellektuele.

Nadat enkele blanke politici (en sekerlik nie die meerderheid blanke kiesers nie) die politieke mag aan swartmagaktiviste oorgegee het, is dadelik met ‘n veldtog teen elitisme begin. Die (politieke) gelykverklaring van mense veronderstel dat daar in elke mens dieselfde natuurlike potensiaal is. Alle mense moet glo net dieselfde geleenthede kry om tot volle en gelyke wasdom te kom. Elitisme, daarenteen, gaan van die veronderstelling uit dat party mense in sommige opsigte bokant die massa uitstyg omdat daar so iets soos talent, gehalte, voortreflikheid en intelligensie is, wat nie aan almal in dieselfde mate toegedeel word nie. By implikasie is dié elite ‘n minderheid en diesulkes is geneig om meritokrasie bo demokrasie te verkies.

In sy boek, In Defense of Elitism (New York: Doubleday, 1994), skryf William Henry: “The point of elitism … is to provide sufficient rewards for winning, and suffient support for ideas that have shaped past progress and that might aid future progress so that society as a whole wins, that is, gets richer, better educated, more productive, and healthier” (p 26). “The defence of elitism that our society so sorely needs is ultimately nothing more than the defence of common sense” (p 32).

Van Niekerk se forumartikel waarna hierbo verwys is, het reeds op 24 Oktober publisiteit in Die Burger (p 14) gekry. Dit is op sy beurt gebaseer op ‘n berig wat twee dae vroeër op die US-webwerf gepubliseer is. Die aanleiding tot al hierdie publisiteit was ‘n toespraak wat Van Niekerk by die sesde Stellenbosch Forum gelewer het. Volgens die US-webwerf word hierdie lesings aangebied sodat meer geleer kan word “oor die relevante en wêreldklas navorsing wat aan die US gedoen word.”

Van Niekerk: “Ons behoort versigtig te wees oor die moontlike ontwikkeling van ‘n superspesie wie se stel morele waardes met ons eie kan bots, en wat oor die krag en intelligensie beskik om die res van ons te verwerp en ons wêreld in groter chaos te dompel.” Hy het ook ‘n ander moontlikheid uitgelig, naamlik dat “hierdie intelligente afstammelinge van ons dalk die wêreld oneindig kan verbeter, en selfs daarin kan slaag om die meeste van ons te probeer oortuig van ‘n dieperliggende betekenis wat in ons waardes opgesluit lê.”

Enersyds is daar die bestaande menslike natuur en andersyds die toekomstige uitgebreide menslike natuur, wat supermense kan insluit. Soos die toekomstige kan die bestaande menslike natuur uitdrukking vind in wat goed en reg of sleg en verkeerd is. “Die menslike natuur is per slot van rekening nie net dit wat in ons vernaamste menslike en morele rolmodelle soos Jesus, Mohammed, Moeder Teresa en Nelson Mandela na vore kom nie. Deel van die aard van ‘menslike natuur’ is, helaas, ook diegene soos Stalin, Hitler en Jack the Ripper.”

Nadat Van Niekerk, die direkteur van die US se Sentrum vir Toegepaste Etiek en bekend as die polities korrekte kampusgewete, verwys het na wesens wat “die wêreld oneindig kan verbeter”, was die tafel gedek vir sy onvermydelike verwysing na Nelson Mandela. Kyk na sy lysie van “goeie mense”: dit is inklusief, oftewel multikultureel. Kyk na sy lysie van “slegte mense”: dit verwys eksklusief, oftewel uitsluitlik, na blankes.

Dit word dikwels beweer dat die “apartheidsregime” van Mandela ‘n martelaar gemaak het deur hom op te sluit. Watter (beter) alternatief was daar? Om hierdie geweldenaar te hang of om hom los op straat te laat loop? Wat nie gesê word nie, is dat die “apartheidsregime” deur die wanhantering van die grondwetlike proses onbedoeld en verkeerdelik van Mandela ‘n swartmagheld en daarby een met toegedigte hoë morele waardes gemaak het. In werklikheid het Mandela sy sin gekry, naamlik buitensporige oorkompensasie aan sy mede-swartes ten koste van die blankes.

Daarna het Mandela begin met sy paaideuntjie van nie-geweldadigheid, versoening en moraliteit. Van Niekerk aanvaar blykbaar dat Mandela Suid-Afrika (“oneindig”) verbeter het. In hierdie proses is daar heelwat wat Van Niekerk (doelbewus) miskyk. Ten behoewe van sy eie openbare beeld is die Mandela-verwysing die soort opmerking waarmee Van Niekerk dit wys ag om sy toespraak op die US-kampus mee af te sluit.

Samevattend kan gesê word dat Van Niekerk met sy toespraak oor die moontlikheid van toekomstige supermense waarskynlik onbedoeld ook erkenning aan die moontlikheid of werklikheid van elitisme gegee het. Maar hy is uitgespoke polities korrek en dus ‘n entoesiastiese ondersteuner van die gelyk- of wesenlik eendersverklaring van mense. Daarom steun hy die akademiese wanpraktyk aan die Botman-US waarvolgens blatante voorkeur aan lede van die “aangewese groepe” gegee word. Hy sou ook geneig wees om enige navorsing wat nie-wittes aanstoot kon gee, in die kiem te smoor. Op al hierdie maniere dwarsboom hy moontlik die ontstaan van supermense. Van Niekerk is in woord en daad nie tot kwalitatiewe elitisme bekeer nie.

Les bes is dit myns insiens heeltemal onvanpas om in ‘n toespraak oor supermense gunstig na Mandela te verwys. Mandela is bv nie naasteby ‘n intellektueel nie. Ek verkeer onder die indruk (of in die waan) dat “die geskiedenis” my gelyk sal gee.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.