Uit beskeie doelwitte kom grootse oorwinnings

Deel op

roodt_dan_wiki

deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Vandag op praag verskyn Leon Lemmer se stuk waarin hy die hopeloosheid van ons situasie raaksien. Hy skryf:

In Suid-Afrika is blankes se posisie bedenkliker as in Europa, nie net vanweë hierdie korter tydsverloop nie, maar ook weens die immer groter wordende, dus verswelgende, getalsoorwig van die swartes. Daarom is ek so raadop soos HG Wells.

Soms word ek insgelyks oorval deur ‘n geval van hopeloosheid. Dit was veral my gewaarwording by die Vryheidsfront waar ‘n handjie vol beroepspolitici eenvoudig jaar na jaar voortploeter asof daar geen probleem op die horison is nie. Solank vier of drie of twee of selfs een, die Leier, nog parlement toe kan gaan en ‘n salaris van die staat kan verdien, roem hulle hul op hul rasende sukses! Glo dit of nie, in die party word daar na die Leier – met ‘n hoofletter – verwys, amper soos in daardie B-flieks van die 1950s waar ‘n Marsmannetjie op aarde land en sê: “Vat my na jou Leier toe.”

Leon Lemmer verwys na die groteske verraad wat FW de Klerk, Roelf Meyer en ander beroepspolitici teen die Afrikaner en blankes in die algemeen gepleeg het. En dis waar: dis erger as wat ons ‘n oorlog sou verloor het! Sowel Duitsland as Japan het die tweede wêreldoorlog verloor, maar agterna van die sterkste ekonomieë opgebou en vandag word Duitsland as die leidende land in Europa gesien. Ná die tweede vryheidsoorlog was die Afrikaner platgeslaan en die land tot as verbrand deur die Engelse verskroeide-aardebeleid, om van die verlies aan ons kinders en vroue in die konsentrasiekampe nie te praat nie. Maar omdat ons steeds grondgebied gehad het, kon ons weer opstaan. Tydens die twintigste eeu het Suid-Afrika feitlik ‘n supermoondheid geword en onder die regte leiding kon die land en ons volk vandag baie sterk gestaan het.

As is egter verbrande hout. Ons moet ons politieke bankrotskap vierkantig in die oë kyk. Joe Slovo en die Suid-Afrikaanse Komunisteparty het ons ‘n geweldige loesing toegedien, want ons span was nie eens op die veld nie. Hulle was op ‘n Griekse jag – ons ken almal die res van die grappie. Oor die afgelope twintig jaar is ons verguis, vermoor, verwilder, verarm, verneder… En nog is’t einde niet. Verdere “transformasie”, asook die nasionalisering van grond en ander eiendom, lê voor die deur.

Alles is egter nog nie verlore nie. Ons is almal bekend met die Amerikaanse begrip van ‘n SWOT-ontleding (strengths, weaknesses, opportunities, threats). Dis al ‘n bietjie van ‘n cliché, maar as ons kortliks besin oor waar die Afrikaner vandag staan, dan kan ons dit só opsom:

Sterkpunte: Ons goeie opleiding, skole en oorblywende brokstukke van die voorheen Afrikaanse universiteite. Ons is rekenaargeletterd en verbind deur die internet, sosiale media, ens. Daar is nog van die oumanne met militêre of polisie-opleiding.

Swakpunte: Amper te veel om op te noem! Hopelose politici, hopelose joernaliste, hopelose skrywers, bangbroek-akademici, toenemende armoede, ekonomiese marginalisering, politieke ondergeskiktheid, onveiligheid, demografiese afname weens ‘n lae geboortesyfer en emigrasie, min kritiese denke of politieke verbeelding, gebrek aan samehorigheid of ‘n gemeenskaplike visie. Só kan ‘n mens aangaan.

Geleenthede: Die tegnologiese revolusie skep geleenthede vir geletterde, ontwikkkelde mense soos ons. Die twee snelgroeiendste ekonomiese sektore is IT en finansiële dienste. Die ineenstorting van munisipaliteite en dele van die staat verteenwoordig insgelyks geleenthede om alternatiewe daar te stel, hetsy privaat, hetsy as kantonne of gemeenskapsinisiatiewe. Ook die onveiligheid skep ‘n vraag na veiligheidsdienste waarin dikwels deur Israelse, Britse of ander buitelandse maatskappye voorsien word.

Bedreigings: Leon Lemmer verwys na die demografie en as ‘n mens sien hoe miljoene der miljoene mense van regoor Afrika hier rondom ons groot stede kom plak, bydra tot misdaad en die algemene etniese spanning, dan moet mens hare op jou tande hê. Ons tradisionele vyande wat die staat en sleutelsektore van die ekonomie beheer, wil ons juis almal landuit verdryf en lag in hul mou oor ons verdeeldheid en gebrek aan planne. Die hoofstroommedia met hul boodskap van kommervrye multikulturalisme, kom drink nog ‘n bier saam met ‘n swartman en vergeet van môre, ondermyn ons gemeenskaplike bewussyn en identiteit. Plaasmoorde, huisrowe, regstellende aksie, Julius Malema, die onderrwysdepartement wat vyandig teenoor Afrikaanse skole staan, gesondheidsdienste en hospitale wat verval, is nog alombekende bedreigings.

Die Afrikaner is van nature ‘n idealis wat na grootse oplossings soek: Kom ons trek oor die Drakensberge, kom ons skep tuislande en republieke vir almal, kom ons maak olie uit steenkool, kom ons los Nederlandse spelling en skep ‘n eie taal. Soms werk dit, soms nie, soos met alles.

Tans verkwis ons egter te veel energie om aan ‘n globale oplossing vir ons, maar ook die land as geheel, te dink. Om dit pront te stel – en ek dink Leon Lemmer sal met my saamstem – ons moet vrede daarmee maak dat die land in sy moer in is. Hy sal nooit weer regkom nie. Maar dis nie te sê dat die Afrikaner nie kan herstel en weer ‘n opbloei, selfs grootse sukses, kan beleef nie! Ons het dit in ons om terugslae te oorkom, soos ons al soveel kere vantevore gedemonstreer het.

Soos hulle sê: Voor jy kan loop, moet jy eers kan kruip. Waarom pak ons nie ons probleme een vir een aan en probeer hulle stelselmatig oplos nie? Verlede jaar het ons reeds ‘n beroep op vrywilligers gedoen om betrokke te raak by dinge soos:

  • die verdediging van ons menseregte,
  • die vertaal van artikels,
  • ‘n onderwysdirektoraat wat die ondermyning van Afrikaanse skole kan beveg, asook
  • ekonomiese inisiatiewe soos die skep van eie ondernemings en werksgeleenthede.

Word ‘n praag-vrywilliger en leef u belangstelling uit terwyl u iets vir die Afrikanersaak doen

Die moontlikhede is legio. Ons het net enkele suksesse nodig vir mense om weer moed te skep. Met al die tegnologie tot ons beskikking, is ek seker dat groot dele van ons stede en die platteland weer veilig gestel kan word, sodat ons rustig met groente of rekenaars kan boer.

Ons moet net ‘n paar eerste doelwitte stel, soos om binne die volgende ses maande drie klein sake-ondernemings van die grond af te kry, een woonbuurt te beveilig waar erge moorde gepleeg word, en een bedreigde Afrikaanse hoërskool uit die kloue van die onderwysdepartement te red.

As ons net eers agterkom hoe goed dit voel om saam te staan en met spanwerk dinge te bereik, sal Afrikanermag vanself en ongemerk begin toeneem en groei.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.