Wenke aan ‘n volksmoeder

Deel op

In Rapport (10.03.13) begin Sonja Loots haar rubriek deur na ID du Plessis se “sogenaamde” Maleierverhale te verwys. Hoewel Du Plessis werklik ‘n kenner van die Kaapse Maleiers was en sekerlik meer kontak as Loots met hulle gehad het, word sy skryfwerk verdag gemaak.

Loots vertel vervolgens hoe sy as goeie moeder haar kinders inlei in die wonderwêreld van die Moslems. Toe een van hulle beweer dat daar duiwelsheid skuilgaan, neem sy haar kinders na ‘n Moslem sodat hulle kan sien watter goeie mense Moslems is; dus, een swaeltjie maak ‘n somer.

By die Woordfees gaan Loots na ‘n gesprek luister waaraan Shaka Sisulu en Carel Boshoff deelneem. Heel voorspelbaar hou sy van wat Sisulu te sê het, maar Boshoff irriteer haar en sy wil nie na hom luister nie.

Dit lyk asof die fout nie soseer by Loots se kind lê nie, maar by haar as ouer. In opvoeding is ewewig noodsaaklik. Dit is waar dat daar goeie Moslems is, maar kinders behoort daarvan bewus gemaak te word dat daar ook slegte Moslems is, dat daar in die verlede en ook in die hede baie onheile deur sommige van hulle gepleeg is.

Wanneer ‘n ouer sy kinders oor bv Nelson Mandela inlig, moet daar nie vasgesteek word by die getal jare wat hy in die tronk deurgebring het en dat dit sogenaamde bose wittes is wat hom sy vryheid ontneem het nie. Daar moet ook vir hulle vertel word van bv die bomplantveldtog wat Mandela aangevoer het, dus hoekom hy in die tronk was, en dat hy baie korter in die tronk sou gewees het as hy bereid was om geweld af te sweer. Dan sal Loots se kinders besef dat Mandela nie sonder meer ‘n vredesikoon is nie, dat hy hierdie beeld verwerf het eers nadat hy in sy doel geslaag het om die politieke mag oor te neem en hy dit raadsaam geag het om die wittes oor hulle magsverlies te paai.

As Loots ‘n goeie ouer wil wees, sal sy haar kinders leer dat daar onder die spreekwoordelike wit omies met grys skoene uit die apartheidsera, soos ID du Plessis, ook goeie mense is. Sy sal haar kinders dan ter illustrasie na sommige van hierdie omies neem wat taalbulle genoem word omdat hulle veg vir die behoud van Afrikaans as voertaal aan die Universiteit Stellenbosch. Die kinders sal dan besef dat om vir jou moedertaal te veg, eerbaar is, dat nie net Engels ‘n reg op voortbestaan het nie.

Vir ‘n ewewigtige uitkyk op sake sal Loots haar kinders na bv Orania neem en uitwys dat dit oorwegend ordentlike mense is wat in ‘n grootliks misdaadvrye omgewing arbei en dat hulle nie bakhand staan vir gratis huise en dienste nie. As hulle “Neanderdalmense” is, kan dit nie net sleg wees om so te wees nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.