Colombiane verwerp ooreenkoms met Marxistiese rebelle

Colombia se regering en die Marxistiese Farc-guerrillas het Maandag alles in die stryd gewerp om ’n plan te laat herleef wat ’n einde aan die 52 jaar lange oorlog moet maak.

Dit volg nadat kiesers ’n onderhandelde ooreenkoms tussen die twee partye in ’n referendum verwerp het. Kiesers meen die ooreenkoms is die rebelle te genadig.

Ná die verpletterende politieke nederlaag het pres. Juan Manuel Santos Maandag probeer om ondersteuners van die vier jaar lange onderhandelinge met die Rewolusionêre Gewapende Magte van Colombia (Farc) moed in te praat.

Santos, het met opposisieleiers vergader, en twee kabinetsministers en die hoofonderhandelaar, Humberto de la Calle, aangestel om te poog om die vredesonderhandelings met die FARC-rebellegroep aan die gang te probeer hou.

De la Calle het vroeër aangebied om te bedank.

Die voormalige president wat die leier is van die groep wat onderhandelings teenstaan, het veranderinge in die ooreenkoms met die rebelle geëis. Hy glo soos baie Colombiane dat die regering te veel toegewings gemaak het.

Meer as 220 000 mense is in Latyns-Amerika se langdurigste konflik in meer as ’n halfeeu dood.

“Ek sal nie moed opgee nie. Ek sal aanhou na vrede soek tot die laaste minuut van my termyn,” het Santos gesê, oomblikke nadat die referendum se uitslae Sondag bekend gemaak is.

Rodrigo (Timochenko) Londono, die top FARC-bevelvoerder, het op sy beurt ook die versekering gegee dat die rebelle steeds daartoe verbind is om ’n vreedsame politieke party te word.

“Farc herbevestig sy uitgangspunt om net woorde as ’n wapen te gebruik om ’n nuwe toekoms te bou. Maak staat op ons, vrede sal seëvier,” het Timochenko gesê.

Santos, wat nie wetlik verplig was om ’n referendum uit te roep nie, oorweeg nou sy opsies.

Die vredesooreenkoms wat verlede maand bereik en verlede week onderteken is, bied aan rebelle die moontlikheid om hul wapens aan die Verenigde Nasies te oorhandig, hul misdade te erken en ’n politieke party, gegrond op hul Marxistiese beleid, te vorm.

Farc, wat in 1964 as ’n arbeiders­klas-rewolusie begin het, behoort in staat te wees om aan die 2018-­presidentsverkiesing en die ­verkiesing vir die wetgewende vergadering deel te neem.

Hierbenewens sal die groep van tien ongeopponeerde setels in die land se kongres tot 2026 ­gewaarborg wees.

Dit het ondersteuners van die nee-stem woedend, want hulle meen die rebelle moet gevangenisstraf uitdien en nooit toegelaat word om die politieke terrein te betree nie.

Israeli president opgeneem na beroerte

Die voormalige Israelse eerste minister en president, Shimon Peres, is in die hospitaal opgneem ná ‘n ernstige beroerte.

Volgens berigte is hy aan ‘n asemhalingstoestel gekoppel.

Die 93-jarige langsdienende politieke figuur het vroeër vanjaar ‘n operasie ondergaan om ‘n pasaangeër te kry ná ‘n ligte hartaanval.

Peres het in die 1990’s ‘n sleutelrol gespeel in vredesonderhandelings in die Midde-Ooste en was in 1993 een van die argitekte van die Oslo-akkoord.

Hy het in 1994 as president van Israel die Nobelprys vir Vrede saam met sy destydse eerste minister, Yitzhak Rabin, en die Palestynse leier, Yasser Arafat, ontvang vir hul vredespogings.

Dié pogings het egter niks opgelewer nie.

Peres is in Pole gebore en was een van die stigterslede van die Arbeiders se Sioniste Jeugbeweging.

DRK-vredesooreenkoms in die weegskaal

Mary Robinson
Mary Robinson

‘n Vredesooreenkoms tussen die regering van die Demokratiese Republiek van die Kongo en M23 rebelle is in die weegskaal, nadat ‘n finale ooreenkoms nie bereik kon word nie.

Die sogenaamde Kampala Dialoog moes gisteraand afgesluit word, en die ondertekeningseremonie sou Maandag plaasvind.

Daar is blykbaar ‘n verskil oor of die ooreenkoms ‘n vredesooreenkoms moet wees of ‘n verklaring waarin die rebellie verwerp word.

Spesiale gesante in die DRK het onder leiding van Mary Robinson van die VN ‘n dringende beroep op die partye gedoen om hul verskille oor die formaat van die dokument by te lê en verbind te bly tot vrede. – RSG