‘n Mens kan argumenteer dat ‘n leë rugbystadion jou eie mense seermaak. Ek verskil. Die ANC het lank reeds sy kloue in die boere se tradisionele spel geslaan — kyk maar net na hulle hoofbestuur en die Minister van Sport se voorskrifte. Dit sal ook die boodskap uitstuur dat Afrikaners bereid is om iets waarvan hulle algemeen hou — rugby — op te offer in die stryd om oorlewing en vryheid. ‘n Rugbyboikot sal juis die erns van die situasie onderstreep.
Sulke boikotaksies kan ‘n mobiliserende sneeubal-effek onder Afrikaners meebring. As hulle sien dat hulle kan saamstaan en iets vermag, kan dit hulle net aanspoor tot meer waaghalsige dade. Die ANC het niks daarvan gedink om stede tot stilstand te bring in hulle stryd nie. Hulle het dit "rolling mass action" genoem. Taxibestuurders hou dikwels boikotte wat stede verlam — en daar word nie op hulle geskiet nie. Dan het Afrikaners dieselfde reg.
Moderne kommunikasietegnologie maak dit maklik om ‘n versetaksie te bemark. SMSe en eposse kan binne ‘n paar dae tot miljoene boodskappe dupliseer as elke ontvanger dit verder versend. Ek het onlangs gelees hoe ‘n goeie internet-bieradvertensie binne ‘n paar dae ‘n geskatte miljard mense bereik het.
Praag kan bes moontlik ‘n lys van aksies opstel wat wissel van gematig (die twee voorbeelde hierbo) tot meer radikaal (byvoorbeeld ‘n stedelike verlamming en ‘n belastingboikot.)
