Neo-Cons gereed om Sirië aan te val

bushobamaAmerika en Brittanje het Dinsdag intensiewe voorbereidings getref om weer ‘n soewereine staat aan te val, nadat hulle voorheen redes versin het om Irak sowel as Libië te teiken. Die rede sal oënskynlik wees om pres. Basjar al-Assad van Sirië te straf vir sy gebruik van gifgas teen burgerlikes verlede week.

Die VSA en Brittanje soek reeds geruime tyd ‘n voorwendsel om Sirië aan te val. Hulle het ‘n aantal jare gelede egter aan Saddam Hussein chemiese wapens voorsien wat hy teen duisende Koerde aangewend het, sonder enige teenkanting.

Rusland het begin om alle Russe uit Sirië te verwyder te midde van toenemende aanduidings dat Westerse moondhede gereed maak om ‘n lugaanval uit te voer. Die Amerikaanse minister van verdediging, Chuck Hagel sê hulle wag slegs op President Barack Obama se bevel.

Intussen is daar in Israel ‘n toestroming na verspreidingsentrums vir gasmaskers. Dié land verwag ‘n vergeldingsaanval uit Sirië of een van sy bondgenote. Die Israelse Eerste Minister het op sy beurt gewaarsku dat Israel hewig sal reageer indien daar enige aanval op hom is.

Chuck Hagel, Amerikaanse minister van verdediging, is gereed as die bevel gegee word. Die Britse weermag is reeds in die Middellandse See ontplooi.

The Guardian het berig dat die vlieëniers van passasiersvliegtuie uit die lug verhoogde aktiviteite by die lugmagbasis Akrotiri in Ciprus, slegs 160 km van die Siriese kus, opgemerk het. Talle C-160-vragvliegtuie is opgemerk, terwyl ’n aantal bomwerpers op die teerblad gereed gestaan het.

David Cameron, Britse premier, sal ’n spesiale parlementsitting lei om toestemming vir deelname aan die operasie te verkry. In die VSA sal pres. Obama, in weerwil van die Grondwet en internasionale reg, die aanval waarskynlik sonder die Kongres se toestemming moet lei.

Obama se besluit kan meer ongewild wees as tydens die laaste dae van Amerika se oorlog in Viëtnam. Byna tweederdes van Amerikaners het aangedui dat hulle nie só ‘n inval steun nie, selfs al is Sirië vir die dood van sy eie inwoners verantwoordelik.

Intussen het die VN-span ondersoekers in Damaskus gister hul tweede besoek aan die buitewyke van die stad waar die gasaanvalle plaasgevind het ’n dag uitgestel. Hulle sal alleen bepaal of daar chemiese wapens gebruik is en nie wie daarvoor verantwoordelik is nie.

Hoofstroommediabronne het egter seker gemaak dat hulle sulke inligting van die publiek weerhou. Hulle het ook die aantal sterftes oordryf. MSF (Dokters Sonder Grense) het aangedui dat net meer as 300 mense dood is, terwyl HSM die getal op 1 000 gestel het.

Die Washington Post het die jongste ingryping op sy voorblad aangekondig. Obama oorweeg glo ‘n kort bombardement van twee dae. Dit sal missiele insluit wat van skepe in die Middellandse See gelanseer word, asook bombardemente uit die lug.

Obama se besluit sal glo afhang van drie faktore: ’n Intelligensieverslag wat aandui dat Sirië bo alle redelike twyfel vir die chemiese aanvalle verantwoordelik was, konsultasie met Amerika se bondgenote en die Kongres se mening.

Walid Moeallem, Siriese minister van buitelandse sake, het ten sterkste ontken dat sy land vir die chemiese aanvalle verantwoordelik was.

Rusland en China het aangedui dat die Veiligheidsraad eers toestemming moet gee. Hulle sal waarskynlik hul vetoreg uitoefen indien die Raad in die guns van die Anglo-Amerikaanse Neo-Cons besluit.

Volgens bronne wat ‘n vergadering met die Siriese Nasionale Koalisie in Istanbul bygewoon het, was gesante van 11 “Vriende van Sirië” teenwoordig, insluitende Robert Ford, die voormalige Amerikaanse ambassadeur in Sirië wat nou Washington se skakel met die opposisie is, het die bronne gesê.

Die vergadering het in ‘n hotel in die middestad van Istanbul plaasgevind.

Die Vriende van Sirië-kerngroep bestaan uit die Verenigde State van Amerika, Brittanje, Frankryk, Italië, Duitsland, Turkye, Saoedi-Arabië, Egipte, Jordanië, die Verenigde Arabiese Emirate en Katar.

“Die Amerikaners wil ‘n militêre aksie vasmaak aan die chemiese wapen-kwessie, maar die boodskap is duidelik: Hulle verwag dat die dreigement sterk genoeg sal wees om Assad na Genève te dwing sodat hy ‘n tussentydse regering aanvaar met volle gesag,” het ‘n Siriese opposisiefiguur gesê .

Assad se minister van buitelandse sake, Moeallem, het in Junie gesê die owerhede is gereed om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm, maar nie hulle mag oorhandig aan die ander kant nie, in ‘n aanduiding dat Assad nie van plan is om beheer van die land af te staan nie.