Karel Combrinck: Ondermaanse manewales

Life’s but a walking shadow, a poor player
That struts and frets his hour upon the stage
And then is heard no more: it is a tale
Told by an idiot, full of sound and fury,
Signifying nothing

  • Skakespeare, Macbeth

Foto hier bo: Ontwerp van ‘n teaterstel vir Samuel Beckett se toneelstuk: Wagtend op Godot.

Loopgraaf tydens die eerste wêreldoorlog
Loopgraaf tydens die eerste wêreldoorlog

‘n Loopgraaf in die EWO. Miljoene mense het letterlik vir jare lank so gelewe. Miljoene het ook nooit weer teruggekom nie. Beelde soos hierdie, tesame met die vernietiging van die kultuurstad, Dresden, die atoombombardemente van Hirosjima en Nagasaki en die napalmaanvalle op die bevolking van Viëtnam is diep gegrafeer in die psige van die moderne mens. Ons kan sekerlik byvoeg die verskroeide-aardeprogram van die Britte gedurende die ABO en die volkeremoord in die konsentrasiekampe. Beskawings wat tot sulke gruweldade instaat is, kan net nie as beskaafd beskou word nie en daarom word die term “beskaafd” op sigself ook betekenisloos .

Wat kan meer absurd wees as mense van dieselfde ras, van dieselfde geloof en van dieselfde kultuur wat mekaar by die miljoene uitroei in rot- en rioolbesmette loopgrawe met kanonne, bomme, bajonette en gifgas sonder dat hulle hoegenaamd weet waarom hulle daar is of omdat hulle dink hulle is daar omdat ‘n halfgek student ‘n Oostenrykse operetteprins in Sarajewo vermoor het? As die mensdom na Nietzsche se verklaring van 1885 nog hoegenaamd in die sin van die lewe kon glo, was dit na hierdie kataklismes bykans nie meer moontlik nie.

In sy rubriek oor die haregedoente van 5 September praat dr Roodt van die “tragikomedie wat as die nuwe Suid-Afrika bekendstaan”. Tragikomies is dit inderdaad, oftewel teater van die absurde.

Dit is nou eenmaal in die aard van die mens dat hy sal vra na die sin van sy bestaan en van die lewe self. Die rakke van biblioteke staan vol bande deur filosowe, digters en ander denkers wat hierdie ewigdurende vraag probeer deurvors.

Die meeste normale mense sal seker die een of ander tyd voel dat hulle lewe geen sin het nie en meer nog, dat die lewe in sy geheel sonder sin is. Hoeveel sin is daar te make uit ‘n wêreld waar mense in die naam van God ‘n bom in ‘n hospitaal gooi of met ‘n vragmotor tussen ‘n massa feesvierendes injaag of waar ‘n twaalfjarige kind homself en ‘n honderdtal ander mense op ‘n bruilof aan flarde skiet? ‘n Gelowige mens sou sekerlik moeite hê om sulke gebeure te verklaar as die Wil van God. Tog is daar “gelowige” Moslems wat dit wel so verklaar, maar dit is Moslems. Die vraag is hoe verklaar óns dit ? Die meeste mense probeer nie om verklarings vir absurditeit te vind nie, maar om bloot so goed as moontlik daarmee saam te leef. (Hulle cope.)

Alledaagse voorbeelde van die absurditeit van ons bestaan is reeds in ‘n vorige stuk (Absurditeit is ons daaglikse brood van 5 Okt 2014) genoem en verskeie van hulle bevat die mengsel van komedie en tragedie wat so kenmerkend is van die teater van die absurde.

Die enkele belangstellendes wat tot hier gelees het, sou miskien kon raai dat die onderwerp van hierdie artikel die teater van die absurde is. Hulle het reg geraai. Dit gaan in hierdie stuk nie om die sinvolheid of andersins van die lewe in die algemeen nie, maar om die teater van die absurde as literêre vorm spesifiek.

Of ‘n mens die lewe sal beskou as sinvol of absurd sal, soos gesê, in ‘n groot mate saamhang met sy algemene lewensbeskouing. Is hy byvoorbeeld gelowig, of inteendeel ‘n ateïs? Vir ‘n gelowige mens om die lewe as sinloos te sien, is ‘n paradoks. Maar baie mense, waarskynlik die oorgrote meerderheid, is geen gelowiges nie, of bewys net lippediens daaraan.

Veral sedert Friedrich Nietzsche se nihilistiese uitsprake van laat in die negentiende eeu worstel skrywers en filosowe onverpoos (en tevergeefs miskien) met die probleem van watter sin gemaak kan word uit ‘n lewe sonder God. En dan, soos in die eerste paragraaf hierbo gestel, selfs gelowige mense vind dit soms moeilik om die wêreld konsekwent uit ‘n gelowige perspektief te verklaar.

Veral in die twintigste eeu was toneelskrywers soos die Ier Samuel Beckett en die Roemeen Eugène Ionesco eksponente van hierdie letterkundige genre as ons dit so kan noem. ‘n Goeie voorbeeld is die teaterstuk Wagtend op Godot van Beckett waarin die hoofkarakters in ‘n kloustrofobiese landskap rondwroeg op soek na iets wat nie bestaan nie. Die titel Wagtend op Godot is al vertolk as sou dit beteken wagtend op God, maar dis onseker.

teatervdabsurde2

Kenmerkend van die teater van die absurde is onder meer die vermenging van komiese en tragiese elemente, satire, oordrywing, karikatuur, die voorstelling van karakters as harlekyne of marionette, die dekonstruksie van logiese of samehangende taalgebruik en van elementêre logika wat soms so ver gaan as ‘n soort nagmerrie. Hoe sou ‘n bestaan sonder sin anders voorgestel kon word as deur onsamehangende dialoog en groteske situasies ? As ons nie wil huil oor die menslike lot nie, kan ons minstens daaroor lag, al is die lag dan ook hoe wrang.

Nou is dit egter nodig om te beklemtoon dat die teater van die absurde nie die gedagte van die sinneloosheid van ons bestaan geskep het nie, maar bloot in woord en handeling gestalte gegee het aan ‘n tydsgees. Dit is tog meesal die geval: die teater skep nie die wêreldorde nie, maar plaas dit bloot in ‘n min of meer konkrete vorm visueel ten toon. Shakespeare stel dit in die teaterstuk Hamlet so: “the purpose of playing whose end, both at the first and now, was and is, to hold as’t were the mirror up to nature”. “Nature” het hier die betekenis van die werklikheid, die natuurlike orde van dinge soos dit is.

Die twintigste-eeuse teater van die absurde is ook nie die eerste literêre verskynsel wat die sinneloosheid van ons bestaan probeer verwoord nie. Koning Lear en sy metgeselle se manewales op die verlate vlakte is ‘n sprekende voorbeeld van die teater van die absurde en so is ook die streke van Miguel Cervantes se Don Quijote, asook van die verspotte karakters van Molière.

Maar die ware bron van die literatuur van die absurde is nie letterkundig van aard nie. Dis die lewe self, die menslike komedie, waarvan die Suid-Afrikaanse samelewing ‘n uitmuntende voorbeeld is.

Ten spyte van die hansworsery is die teater van die absurde wesenlik pessimisties. Leef ons nie almal in pessimistiese tye nie? Almal sal nie saamstem met die nihlistiese onderbou van hierdie kunsvorm nie, maar geen moderne mens kan afsydig staan nie teenoor die doenighede wat op die verhoog voor hom afspeel en wat die verlorenheid van ons moderne wêreld so treffend weerspieël. Vandaar dan ook die vreemde impak van die teater van die absurde op ‘n moderne gehoor .

Die teater van die absurde hou ten nouste verband met die eksistensialisme. ‘n Mens sou kon sê die eksistensialisme verskaf die intellektuele raamwerk vir die teater van die absurde. Laasgenoemde gee visuele gestalte aan die gedagtegang wat eersgenoemde in woorde uitdruk. Daar is wel ook belangrike verskille. Waar die teater van die absurde selfs nie eers probeer om sin aan die wêreld te gee nie, meen die eksistensialis dat hy wel betekenis aan sy bestaan kan gee en die wêreld ‘n beter plek kan maak deur sy eie bemoeienis. Dit is waarom Jean-Paul Sartre gesê het “die eksistensialisme is ‘n humanisme”. Die humanisme trag by uitstek om van die wêreld ‘n “beter” plek te maak.

Vir ‘n duidelike en bondige uiteensetting van die wesenseienskappe van die eksistensialisme lees Leon Lemmer se artikel Selfmisleiding weens valse bewustheid en slegte geloof van 28 Augustus.

Onder die verlorenes en verdwaaldes wat die eksistensiële letterkundige wêreld bevolk, is goeie voorbeelde die karakters Joseph K in Franz Kafka se roman Der Prozesz (Die verhoor) en Meursault in Albert Camus se roman L’Etranger (Die buitestaander wat deur PRAAG uitgegee is.)

Franz Kafka
Franz Kafka

Die naam K lyk baie na ‘n verwysing na die skrywer self. K weet nie waarvan hy aangekla word nie en hy weet ook nie wie hom vervolg nie, miskien ‘n soort gesiglose totalitêre burokrasie. In Die buitestaander, ‘n roman van Albert Camus gaan dit om die amoraliteit van Meursault, ‘n onbetrokke, afsydige, emosioneel neutrale en ongeërgde figuur wat uiteindelik ‘n soort eie waarheid en outentisiteit probeer vind, vry van sosiale voorskrifte en konvensionele moraliteit.

Die roman maak deel uit van ‘n groep van vier werke wat Albert Camus self beskryf het as sy “Siklus van die absurde” en wat ook nog insluit die essay, Die Sisyphusmite en die teaterstukke Caligula en Die misverstand. Die Sisyphusmite gee misien die duidelikste uiteensetting van wat Camus met eksistensialisme bedoel. Sisyphus is ‘n figuur uit die Griekse mitologie wat as straf vir oortredings van sosiale en morele kodes van die tyd, verdoem is om ‘n reuseklip tot in alle ewigheid teen ‘n berg op te rol. Telkens as hy ‘n bietjie vorder, rol die klip net weer terug. Camus beskou Sisyphus as ‘n gelukkige mens wat sy geluk put uit sy volgehoue poging om hierdie doelwit te bereik wat hy uit die staanspoor weet onuitvoerbaar is.

Die teater van die absurde stel ‘n hele versameling kultuurgoedere daar waarvan ‘n ingeligte en denkende mens graag sal wil kennis neem.

Enkele eksistentialiste en skrywers van die absurde:

Martin Heidegger
Karl Jaspers
Søren Kierkegaard
Jean-Paul Sartre
Simone de Beauvoir
Albert Camus
Maurice Merleau-Ponty
Feodor Dostojefski
Samuel Beckett
Eugène Ionesco
Arthur Adamof
Edward Albee
Tom Stoppard
Harold Pinter
Jean Genet

Ons absurde toneel

Deur Joseph Secreve.

Soos seker baie mense gaan ek deur verskillende giere, en verdiep myself in diverse stokperdjies van tyd tot tyd. Veral op literêre gebied het ek al sedert my hoërskooljare begin wetenskapfiksie lees, gevolg deur die werke van die sielkundige Carl Jung vanaf my tweede jaar, en daarna verskeie eksistensiële strominge in my latere studiejare. Voorwaar ’n fees vir die gees!

Die werke van die Franse Algeriër Albert Camus en die Ierse Samuel Beckett staan my by. Die groot absurdiste. Denkers soos Camus wat op ’n ernstige noot die absurditeit van die lewe benadruk het en Beckett wat hierdie absurditeit op ’n speelse wyse vertolk het in sy skrywes en toneelstukke. Beckett se “Wag vir Godot” is nogal ’n interessante swart komedie. Twee boemelaars, Vladimir en Estragon, durf nie te veel te doen nie omdat hulle vir Godot sit en wag. Wie of wat Godot is word nêrens bekendgemaak nie. Al wat ons weet is dat hierdie Godot veroorsaak dat hulle lewens pynlik inhoudloos is soos wat hulle vir hom/haar/dit wag.

Ek wonder so dan en wan wat hierdie groot literêre beroemdhede sou gedink het van Suid-Afrika. Ek lees verlede week die artikels van twee geroemde intellektuele; die een is prof. Pierre de Vos en die ander dr. Piet Croucamp. Albei Afrikaners, albei Afrikanerhaters, maar die een skryf gif in Engels en die ander in Afrikaans. Ons eie Vladimir en Estragon. Albei wag ook vir hul eie Godot, en ondertussen goël hulle met allerlei gesofistikeerde woorde en terme wat uiteindelik nie baie betekenisvol is nie. Onderliggend aan hul retoriek sien ons voortdurend dieselfde onderwerpe terugkeer, naamlik die eindelose verontwaardiging van wat dit is om wit en Afrikaans te wees. Intussen wag hulle vir een of ander utopie om oor Suid-Afrika te verskyn, maar hoe hierdie utopie daaruit gaan sien weet ons nie.

Of dalk sien ek dit verkeerd. Volgens linkse kringe sien ek mos gereeld dinge verkeerd. Ek dink so terug aan my afstudeerskripsie aan die Universiteit van Amsterdam toe ek ’n artikel gelees het van twee navorsingsielkundiges, die Italianers Cadinu en Reggiori. In hierdie artikel het hulle na drie verskillende statusgroepe gekyk, te wete dokters, sielkundiges en maatskaplike werkers. Sodra die middelstatusgroep – die sielkundiges – neerhalende berigte ontvang het van die hoë statusgroep – die dokters – het hulle nie die dokters se professionaliteit aangeval nie, maar hul verontwaardiging op die lae status groep – die maatskaplike werkers – uitgehaal. Hulle het met ander woorde hul gekrenkte status kunsmatig verhoog deur na onder te trap.

Dit is seker nie vergesog om te beweer dat ons eie Vladimir en Estragon dieselfde doen nie. Die pynlike druk van bo maak dat hulle ondertoe trap na die lae status groep. Ek is stellig oortuig dat hierdie twee menere hul roeping gemis het. Ongelukkig het die Tour de France alreeds afgeskop, anders kon hulle saamgery het, die bene wat ywerig ondertoe trap. Op die pedale kan ons die Oranje Blanje Blou plak en dan sien ons hoe hulle geeltruie opstryk soos nie eens Lance Armstrong met sy towerdoepa kon regkry nie.

As hul Godot nou eenmaal opgedaag het, en hierdie engel des doods wat Suid-Afrika so teister nou eenmaal oorgewaai het, sal ek verbaas wees om te sien wat hul reaksie gaan wees. Al daardie jare het hulle nêrens standvastig in belê nie. Dit was alles ’n blinde gejaag na effek. Wat sou die antropoloë en historici van more dink van hierdie absurditeit, dat sulke geleerde en gerespekteerde burgers van die samelewing so veel skade berokken het aan die kultuur wat hulle opgevoed het? In plaas van ’n “dankie” aan hul voorvaders wat met bloed, sweet en trane ’n volwaardige en bloeiende kultuur in die suide van Afrika bewerkstellig het, soek hulle voortdurend die slegste daarin op en probeer dit as norm voor te hou. In plaas daarvan om ’n suiwer hart en siel te kweek wat aan die kinders oorgedra moet word, het hulle hierdie heilige verbintenis geskend en vervang met ’n Frankensteiniaanse tipe hart en siel, so aanmekaar gelap sonder harmonie, eenvoud of suiwer waarhede, hul identiteit slegs bestaande uit haat en antipatie in plaas van ’n soektog na die hoogste deug.

Nes die kommuniste van weleer wat meesterwerke soos die Matthäuspassion van Händel verbied het en vervang het met sulke belaglike operas waar daardie bloeddorstige klein tor genaamd Lenin opgehemel word, sien ons dieselfde patroon by Vladimir de Vos met sy stelling dat: “During Apartheid the state spent vast sums of taxpayers money on these institutions (histories Afrikaanse universiteite) as part of its policy of almost exclusively promoting the education of white students”. O me! O my! En hier dog ek dis omlat Suid-Afrika dit nie kon bekostig om sy internasionale kompetisieposisie in die wêreld te verbeur deur die hele tyd bakke vol geld te strooi na studente wat ’n universiteit slegs beskou as ’n broeiplaas vir rewolusie nie. As Suid-Afrika uitmis op die wêreldtoneel, kan swartes nog minder gehelp word, nie waar nie? Laat staan nog die feit dat die wittes die mees troue belastingbetalers was, en dat swart universiteite ook grotendeels deur wit belastinggeld onderhou was. Die feit bly bestaan dat beleggings nou eenmaal stroom na die mees betroubare spelers. Selfs die vorige hoof van die Reserwebank Tito Mboweni was mos versot gewees op sy Afrikaners. Hulle is betroubaar, werk hard en word nie deur regstellende aksie voortdurend oorgekoop deur ander bedrywe nie, seg hy.

En dan kom Estragon Croukamp en meen: “Etniese en rassemeerderwaardigheid kon Afrikanerskap uiteindelik uitgedoof het indien De Klerk nie pragmaties begin dink het in die 1990’s nie”. Etniese en rassemeerderwaardigheid nogal. Vanwaar gehasi? Afrikaners was juis een van die min Protestantse volkere wat nie sulke twak geglo het nie. Het Afrikaners ooit ander rasse bestudeer en gesteriliseer soos die Skandinawiërs en Amerikaners gedoen het? Het een van die drie susterkerke ooit swartes vir Mengele-eksperimente gebruik soos die Katolieke en Anglikaanse kerke met vyftig duisend Indianekinders in Kanada gedoen het? Het Afrikaners ooit duisende Naziwetenskaplikes ingevoer soos die Amerikaners onder Operasie Paperclip gedoen het?

Die Engelse eugenetikus Havelock Ellis het mos geglo dat selfs sy hond meer tussen die ore gehad het as ’n Bantoe in Suid-Afrika, dog sê Croukamp niks oor hoe die Souties se rassemeerderwaardigheid hulle dalk kan uitdoof nie. Ek weet nie hoe slim Ellis se brak was nie, maar hy was kennelik wys genoeg om geen harde bene te kou oor sulke opvattings nie.

Maar gelukkig word Afrikanerskap volgens Croukamp nie nou uitgedoof nie. Sommer in die eerste week toe sy werkgewer, die Joedjy sy deure oopgemaak het, begin swartes op hul blink nuwe kampus te sing “Kill all whites, Afrikaans and English”, so asof die stoflike oorskot van die Rand Afrikaans University nie hul behoefte tot vernietiging kon bevredig nie. Nee wat, dit is omdat Afrikaners blykbaar nie die geleentheid benut het om meer empaties, aanvaarbaar en konstruktiewer Suid-Afrikaners te word nie. Van die Engelse sê hy nie veel nie, seker omdat selektiewe verontwaardiging aan die orde van die dag is in die wêreld van linkse akademici.

Mandela, Zuma, Malema en seker nog ’n klompie ander swartes het hulself al iewers skuldig gemaak aan aanhitsery teen wittes, maar daaroor is ons groot geleerdes doodstil. Daardie ander hofnar, Tutu meen dat Afrikaners nie besef hoe gelukkig hulle is dat swartes hulle nie massaal afgeslag het nie, die tientalle duisende vermoorde Afrikaners ten spyt. Weereens kan my effense bekrompe lewensuitkyk nie die vredeliewendheid daarvan insien nie.

Was dit nie CJ Langenhoven wat gesê het dat so gevaarlik soos ’n aap met ’n mes in sy hand, is geleerdheid in die kop van ’n dwaas nie? Dan is daar nou wraggieswaar ’n epidemie van ape met messe agter die voorgewel van die elite.

Hoe dwaser hul standpunte, hoe groter meen die hoofstroommedia is die waarheidsgehalte daarvan. So dom soos wat dit mag oorkom is dit ironies genoeg juis die hele punt. As jy afstudeer praat die Engelse mos van “graduate”, wat blykbaar afgekort is van “gradually indoctrinate”. Niemand sê dit egter beter as die Duitse filosoof Johann Gottlieb Fichte nie, soos aangehaal deur die Engelsman Bertrand Russel:

“Education should aim at destroying free will so that after pupils are thus schooled they will be incapable throughout the rest of their lives of thinking or acting otherwise than as their school masters would have wished … The social psychologist of the future will have a number of classes of school children on whom they will try different methods of producing an unshakable conviction that snow is black. Various results will soon be arrived at: first, that influences of the home are ‘obstructive’ and verses set to music and repeatedly intoned are very effective … It is for the future scientist to make these maxims precise and discover exactly how much it costs per head to make children believe that snow is black. When the technique has been perfected, every government that has been in charge of education for more than one generation will be able to control its subjects securely without the need of armies or policemen.”

En dit is die logika van ons tyd. Daar is geen vryheid en indiwidualisme meer nie, slegs kuddediere wat die opvattings van die dag klakkeloos napraat, aangestuur deur die kommmuniste se buiksprekerpoppe De Vos en Croukamp.

En terwyl die dom massa in ’n staat van oorlog verkeer oor wie se sneeu die swartste is, sit die magtigste elite ter wêreld agter die skerms en skaterlag oor die absurditeit wat hulle losgelaat het op die mensdom.

Teen daardie tyd sit ons eie Vladimir en Estragon en besef seker die absurditiet van hul situasie. Soos “Wag vir Godot” se slotdialoog:

Vladimir: Ons sal onsself more ophang. Tensy Godot kom.

Estragon: En as hy opdaag?

Vladimir: Dan is ons vry.

Vladimir: Wel, sal ons gaan.

Estragon: Ja, kom ons gaan.

Hulle bly stilsit.