Leon Lemmer: Selfmisleiding weens valse bewustheid en slegte geloof

Deel op

Ek het onlangs in ‘n Bolandse dorp oornag. Dit het die hele nag deurdringend gereën. Kort na dagbreek het die wolke gewyk en het die son helder geskyn. Die voëls het die hele nag deurnatheid en yskoue verduur maar het teen sonsopkoms pragtig gesing. Dit het my laat dink aan die Bybelvers: “Nogtans sal ek jubel” (Habakuk 3:18). Klaarblyklik het die voëls nie benadeel gevoel of dat hulle waardigheid aangetas is nie. Hulle het nie gedink iemand moet skuiling teen wind en weer aan hulle voorsien nie. Daar was geen sprake van gegriefdheid nie. Hulle was nie hardegat of oproerig nie en het nie gepoog om iemand anders skuldig oor hulle lot te laat voel nie. Hulle sou griefloos voortgaan met sang en hulle neste op hulle manier bou. ‘n Mens kan sê dit is ‘n geval van: “Gaan kyk na die mier [oftewel die natuur], luiaard, kyk hoe hy werk en leer by hom” (Spreuke 6:6).

In die wysgerige literatuur is daar twee frases wat dikwels gebruik word: “false consciousness” en “bad faith”. Eersgenoemde frase word met Karl Marx (1818-1883) en kommunisme geassosieer en die ander een met Jean-Paul Sartre (1905-1980) en eksistensialisme. Die betekenisse van hierdie frases is nie juis voor die hand liggend nie en hulle oorvleuel in ‘n mate. Albei frases kan in uitnemende mate op die politiek en Suid-Afrika toegepas word.

“False consciousness: (1) lack of clear awareness of the source and significance of one’s beliefs and attitudes concerning society, religion, or values; (2) objectionable forms of ignorance and false belief; (3) dishonest forms of self-deception” (The Cambridge Dictionary of Philosophy, 2nd ed, 1999, p 304). Sonder omhaal van woorde kan ‘n mens sê dat in ‘n land met algemene stemreg die meeste kiesers nie ‘n duidelike begrip het waarvoor hulle stem nie; des te meer as baie van die kiesers onderontwikkeld, funksioneel ongeletterd, swak ingelig en maklik misleibaar is, soos in die nuwe Suid-Afrika. Wanneer ‘n politieke party in sulke omstandighede daarop aanspraak maak dat hy die steun van die meerderheid kiesers geniet, maak hy hom skuldig aan (doelbewuste) selfmisleiding, oftewel valse bewustheid.

“Marxists (if not Marx) use the expression to explain and condemn illusions generated by unfair economic relationships. Thus, workers who are unaware of their alienation, and ‘happy homemakers’ who only dimly sense their dependency and quiet desperation, are molded in their attitudes by economic power relationships that make the status quo seem natural, thereby eclipsing their long-term best interests” (ibid). Vir marxiste gaan dit by uitstek om ekonomiese en politieke oorwegings, wie die deurslaggewende mag het en die omverwerping van daardie mag as dit nie in die werkersklas of gepeupel gesetel is nie. “Homemakers”/tuisteskeppers is die feministiese neologisme vir huisvroue. Hier word ook onderdrukking en marginalisering gepredik terwyl óf die man óf die vrou in werklikheid die baasspeler in ‘n huwelik kan wees. In die getransformeerde hede hoef daar selfs nie twee verskillende geslagte in ‘n huwelik te wees nie. Elsabé Brits, wie se biografie oor Emily Hobhouse onlangs gepubliseer is, verwys graag na “haar vrou, Carol” (Die Burger, By, 13 Augustus, p 4).

“Religion is construed as an economically driven ideology that functions as an ‘opiate’ blocking clear awareness of human needs” (ibid). Volgens Marx funksioneer religie soos opium, ‘n dwelm, as dit mense dermate sus dat hulle nie teen haglike aardse omstandighede in opstand kom nie omdat hulle hulle troos met die gedagte aan ‘n beter hiernamaals. Maar religie is nie noodwendig ‘n ontkenning van mense se behoeftes nie. Baie mense het behoefte aan wat hulle glo bonatuurlike leiding is en aan die troos wat geloof in hulle eie en hulle dierbares se onsterflikheid kan bied.

R(obin) G(eorge) Collingwood (1889-1943) “interprets false consciousness as self-corrupting untruthfulness in disowning one’s emotions and ideas ( The principles of art, 1938)” (ibid). ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is politieke korrektheid wat dikwels vals en opportunisties is; ‘n manier waarop iemand soms materieel winste kan toon maar dit word ten koste van sy siel, sy diepste wese, gedoen. Hoeveel Afrikaanssprekende blankes het in die nuwe Suid-Afrika die moed van hulle oortuiging om openlik en onomwonde te sê: Ek is ‘n Afrikaner, dus wit en Afrikaanssprekend, en in vergelyking met ander etnisiteite trots op wat die meeste van my mense was en die nie-verlooptes steeds is?

Ek kom nou by die tweede frase, slegte geloof. “Bad faith: (1) dishonest and blameworthy instances of self-deception; (2) inauthentic and self-deceptive refusal to admit to ourselves and others our full freedom, thereby avoiding anxiety in making decisions and evading responsibility for actions and attitudes (Sartre, Being and nothingness, 1943); (3) hypocrisy or dishonesty in speech and conduct, as in making a promise without intending to keep it” (op cit, p 70). (1) is soos die (3) van valse bewustheid hier bo. ‘n Sprekende voorbeeld van die nie-aanvaarding van verantwoordelikheid by (2) is die slegte gewoonte om blankes of die blanke bewind en by name apartheid die skuld te gee vir alles wat in die nuwe Suid-Afrika verkeerd loop. Seker die destruktiefste plaaslike voorbeeld van ‘n verbreekte belofte by (3) is FW de Klerk se versuim om ‘n opvolgreferendum te hou oor sy span se inwilliging tot politieke magsoorgawe aan die swartes pleks van instemming tot ‘n mate van magsdeling.

“One self-deceiving strategy identified by Sartre is to embrace other people’s views in order to avoid having to form one’s own; another is to disregard options so that one’s life appears predetermined to move in a fixed direction” (ibid). Dit is makliker om idees van ander mense oor te neem as om self te dink en eie menings te verwerf. Die oorgrote meerderheid mense verkies om in die mode te wees, om eerder saam met die stroom te dryf as om ferm ‘n minderheidstandpunt in te neem. Byvoorbeeld, vergelyk wat in die hoofstroominligtingsmedia staan met wat op Praag gepubliseer word. In die nuwe Suid-Afrika is Praag noodsaaklik vir geestelike higiëne, dus vir meer ewewigtige ingeligtheid.

Sartre word gewoonlik as die toonaangewende eksistensialis beskou. Een van die uitgangspunte van sy denke is dat ‘n nie-lewende ding, bv ‘n klip, is en dat ‘n lewende ding, bv ‘n mens, word. ‘n Klip bly wesenlik dieselfde terwyl ‘n mens tydens sy lewensloop gevorm word en dus deurlopend verander. As ek ‘n voorwerp, bv ‘n mes, wil maak, besluit ek vooraf hoe dit moet wees en dan maak ek dit. Dus, die voorwerp se wese (of essensie) word bepaal voor sy bestaan (oftewel eksistensie) werklikheid word (dit is ‘n “being-in-itself”). By die mens is dit andersom: eers eksistensie en dan essensie. ‘n Mens word gebore en daarna is sy lewe ‘n aanhoudende proses van wording. Hy verwerf deurlopend die eienskappe wat hom maak wat hy op elke oomblik is (hy is ‘n “being-for-itself”). Sartre beklemtoon die mate van vryheid wat mense het om hulleself te vorm. Hy het sterk linkse politieke oortuigings gehad. Hy het kommunisme selfs in sy uiterste Stalinistiese vorm aangehang. Die nadruk wat Sartre op individuele vryheid geplaas het, sou hom egter kwalik simpatiek kon stem teenoor diegene wat alewig slagofferskap as rede vir hulle gebrek aan prestasie voorhou.

“Occasionally Sartre used a narrower, fourth sense: self-deceptive beliefs held on the basis of insincere and unreasonable interpretations of evidence, as contrasted with the dishonesty of ‘sincerely’ acknowledging one truth (‘I am disposed to be a thief’) in order to deny a deeper truth (‘I am free to change’)” (ibid). Sartre verwerp calvinistiese voorbeskikking en omarm vrye wil. Deur inisiatief, inspanning, toewyding, harde werk, ens, kan ‘n mens bv armlastigheid afskud en suksesvol word.

Wat slegte geloof beteken, behoort nou duidelik te wees: “Bad faith in the existentialist philosophy of Jean-Paul Sartre, a type of moral self-deception, involving our behaving as a mere thing rather than choosing authentically. In bad faith, we evade responsibility and anxiety by not noticing possibilities of choice, or by behaving in a role others expect of us” (The Hutchinson Dictionary of Ideas, 1995, p 45). Ingevolge Sartre se filosofie kan ‘n mens sê iemand wat in sy slagofferskap berus, handel nie soos ‘n mens nie maar eerder soos ‘n nie-lewende ding omdat hy nie sy geleenthede tot wording, verandering of ontwikkeling aangryp nie.

As ons die betekenisse van valse bewustheid en slegte geloof reduseer tot (doelbewuste) selfmisleiding is daar talle voorbeelde hiervan in die populêre, polities korrekte, openbare diskoers in die nuwe Suid-Afrika en tans ook in Westerse lande. Ek gebruik vervolgens die jongste skrywe van Jannie Gagiano in die rubriek “Onder die eik” (Eikestadnuus, 18 Augustus, p 5) as ‘n klassieke voorbeeld van doelbewuste selfmisleiding. Die oorverligte Gagiano, ‘n Dakar-ganger in 1988, was voor sy aftrede ‘n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch. Ek haal Gagiano se teks in sy geheel aan.

“Die onderliggende probleem wat aanleiding gee tot die soort relletjie wat nou alweer oor die seksualiteit van Caster Semenya in Rio ontvlam het, is dat ons, as ‘n samelewing, daarmee volhard om oudmodiese onderskeidings tussen geslagte teen wil en dank te handhaaf.

“Hoekom kan ons nie vir eens en vir altyd aanvaar dat die geslagstereotipes waaraan ons vaskleef, ‘n produk is van testosteroon-geteisterde koorsdrome wat mans laat hyg na hegemonie nie? Dié perspektief is per slot van sake onderliggend aan die wydverspreide wanopvatting dat mans deur die natuur beter toegerus is om bv vinniger te kan hardloop as vrouens, hoër te kan spring, ‘n spies of ‘n diskus verder te kan slinger, stewiger in ‘n skrum te kan staan of om die wêreld se swaargewigbokstitel te verower. Daar is nou wel oppervlakkige stawende getuienis vir so ‘n bygeloof, maar omdat ‘n dame tot dusver nog nie vir die Springbokspan gehaak het nie, beteken tog nie dat dit vir altyd so gaan bly nie.

“Net vyftig jaar gelede het professore aan vooraanstaande universiteite nog geglo dat die vroulike geslag nie gebore in staat is om bv wiskunde of fisika of selfs so ‘n eenvoudige [!] dissipline soos filosofie op die verhewe peil van mans te bedryf nie.
Hulle kon hoogstens daarna streef om dinge soos kombuischemie of vroedvrou-ginekologie onder die knie te kry. Min mense weet dat vrouepresteerders soos madame Marie Curie ook destyds deur die patriagale priesters daarvan verdink was dat daar heelwat meer Jacks as Queens in die geslagtelike kaartehand was wat moeder natuur aan haar uitgedeel het.

“Maar vereis ons vandag ‘n seksbevestigingstoets voor ons haar bydraes tot die wetenskap na waarde skat? Wat skeel dit ons of ‘n paar skugter wegkruipertjiekliere haar heimlik bly voed het met die stof wat aan die wortels van haar muse gelê het? Newton se inspirasie het uit ‘n appelboom geval, nie uit sy broek nie. Laat mens tog wonder waarmee Archimedes eintlik besig was toe hy met ‘n eureka-kreet uit sy bad gesping het.

“Die oplossing vir dié soort verknorsing waarin Semenya verstrik sit, is dus duidelik. Verwyder die oudmodiese praktyk om mense in geslagsbepaalde kategorieë met mekaar te laat meeding in atletiek of in enige ander mededingende sport. Dan maak dit mos nie meer saak met watter soort fisieke toerusting jy by die wegspringplek opdaag nie. Of jy nou met ‘n tweeslag- of ‘n drieslag-engin voortgedryf word, of jy nou beide die ma of die pa van die kinders kan wees, of jou nou van Venus of van Mars af kom, is neither here nor there.

“Versplinter die glasplafon! Verpletter die testosteroondrumpel! Laat sak net jou kop en wen ‘n medalje vir die reënboognasie.”

Met rubrieke word dikwels gepoog om lesers eerder te vermaak as in te lig. Byvoorbeeld, met sy verwysings na kombuischemie, vroedvrou-ginekologie, Newton en Archimedes poog Gagiano om guitig te wees. Dit word egter deesdae algemeen aanvaar dat vroue geestelik, bv akademies of wetenskaplik, in dieselfde mate as mans kan presteer. Maar dit verwys na geestelike of intellektuele vermoëns. Wat Gagiano doen, is om die geestelike mededingendheid van vroue te gebruik om ‘n saak vir hulle liggaamlike gelykheid of eendersheid uit te maak. Die beduidende fisieke verskille tussen mans en vroue word as “oppervlakkige stawende getuienis” afgemaak. Dat vroue geboorte kan skenk en mans nie, is eerder ‘n fundamentele as oppervlakkige verskil.

Daarom is die liggaamsbou van mans en vroue verskillend. Daarom is mans en vroue se vermoëns om in fisieke sportsoorte te presteer, nie eenders nie. Mans is inderdaad beter as vroue vir prestasie in sommige sportsoorte toegerus. Ten spyte van al die verligtheid en ontkenning van verskille wat in die hedendaagse wêreld bestaan, ding mans en vroue plaaslik en internasionaal (meesal) apart in sport mee. Apartheid in sport is nie saam met apartheidspolitiek afgeskaf nie. Geslagsdiskriminasie word geduld wanneer dit vroue bevoordeel. Daarteenoor is rassediskriminasie net toelaatbaar as dit blankes benadeel.

Gagiano tree as kampvegter op vir Semenya, wat volgens die hedendaagse mode-ideologie in drie opsigte ‘n benadeelde en gevolglik ‘n simpatiespons is: sy is swart, geklassifiseer as vrou en daarby skynbaar seksueel anders, bv moontlik transseksueel. Transseksueel beteken:”Met die liggaamlike eienskappe van een seks maar die ingesteldheid van die ander” (HAT). Iemand wat as vrou, maar gerugsteun deur manlike eienskappe, aan sport deelneem, het ‘n onbillike voordeel bo vroulike vroue. Insgelyks word verwyfde mans benadeel as hulle in sport met manlike mans meeding. Bewustheid van bv liggaamlike verskille by mans en vroue moet nie as oudmodies, as moedswillige stereotipering, of as ‘n wanopvatting of bygeloof afgemaak word nie, want daardie verskille is werklik. Hulle is geanker in realisme. Daarom maak dit sekerlik deurslaggewend saak “met watter soort fisieke toerusting jy by die wegspringplek opdaag.”

Omdat Gagiano polities korrek daarop ingestel is om met gelykverklaring en eenderswensing verskille by mense te ontken, beveel hy aan dat mans en vroue saam aan sport moet deelneem en direk met mekaar moet meeding. Op hierdie manier sou die Semenya’s kritiekloos en naatloos geakkommodeer kon word. Daarteenoor erken ek ruiterlik dat mense verskil. Pleks van net twee geslagskategorieë te erken, kon dit dalk beter wees om ‘n derde kategorie in fisieke sportsoorte te skep vir diegene wat nóg vis (mans) nóg vlees (vroue) is. Ek vermoed dat daar min eksemplare van so ‘n tussengeslag is, dus dat hulle uitsonderings is, want daar moet onderskei word tussen mense se aangebore seksualiteit (soos seker in Semenya se geval) en aangeleerde seksualiteit. As tussengeslagtelikes inderdaad ‘n klein groepie is, kan dit onprakties wees om vir hulle ‘n aparte derde kategorie in fisieke sport te skep en moet hulle dan eerder in die mans- as die vroue-afdeling meeding.

In die plaaslike hoofstroommedia is Semenya die afgelope dae sonder meer beskryf as die goue meisie wat pure goud is. Die onbillike voordeel wat sy in vrouesport geniet, is polities korrek en patrioties geïgnoreer of geminimaliseer. Maar dit is ‘n feit dat sy, soos Elsabé Brits, met ‘n vrou getroud is. Semenya se goue medalje laat heeltemal tereg ‘n wrang smaak in die mond van vroulike vroue-atlete. Vir blankes en veral vir Afrikaners is dit deesdae ook bitter moeilik om enigsins so patrioties soos voorheen te wees. Soos Andy Nowicki dit stel, die Afrikaner se “country, in essence, no longer exists” (Praag 19 Augustus). Omtrent niks is meer dieselfde nie. Wat onmiskenbaar skeef was, word deesdae reguit genoem. Dit herinner aan Isaiah Berlin (1909-1997) se boek, The crooked timber of humanity (Princeton University Press, 2013, 372p; Amazon Kindle $16,78). Die boektitel is ontleen aan Immanuel Kant (1724-1804) se stelling: “Out of the crooked timber of humanity, no straight thing was ever made.”

Dit staan Gagiano vry om homself te mislei. Lesers moet egter daarop bedag wees om nie deur sy oorverligte koorsdrome bedot of bedonner te word nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.