Op bladsy vier sit joernalis Lizel Steenkamp die vendetta teen Mulder voort deur 'n berig “Ons betaal vir Zuma en sy ministers se huishulpe” met dr Pieter Mulder se foto waar hy ingesweer word as adjunkminister van landbou. Die aksie om Mulder te stigmatiseer deur negatiewe assosiasie word in dieselfde Rapport nog verder voortgesit waar Jan-Jan Joubert politieke kommentaar lewer onder die opskrif “Eers Kortbroek en nou Mulder”.
Die kwaadwillige wyse waarop Rapport (Joubert en Steenkamp) die aanstelling van Pieter Mulder as adjunk-minister van landbou hanteer, is verstommend en onverskoonbaar.
Graag wil ek die lesers van Rapport herinner aan die verhale van Josef en Daniël in die Bybel. Josef is deur die koning van Egipte aangestel in 'n gesagsposisie, net onder dié van die koning, om deur die land te reis en die boere aan te moedig om op grootskaal graan te verbou.
As Rapport in daardie jare in Egipte verskyn het, sou die Egiptenare en Josef se familie inkluis, almal doodgegaan het tydens die hongersnood. Gelukkig was daar nie 'n Rapport met kortbroek-joernaliste nie!
Mag die verhale van Josef en Daniël in die Bybel met Pieter Mulder as adjunkminister van landbou in ons tyd herhaal word.
