Die polisie het gesê die sekuriteitsmaatskappy ADT het Donderdag ‘n paniekalarm uit ‘n Donegallaan-huis in Parkview, Johannesburg ontvang.
‘n Woordvoerder, sersant Lloyd Ramovha, het gesê toe veiligheidsbeamptes op die toneel aankom, het hulle die eienares van die huis, ‘n wit vrou, in ‘n plas bloed aangetref “met ‘n steekwond in haar nek en skaars lewend”.
Ramovha sê daar was geen tekens van gedwonge toegang tot die eiendom nie en geen waardevolle items is gesteel nie.
‘n Moordsaak is geopen en ‘n ondersoek is onderweg.
Intussen het Wyk 87 se raadslid Amanda Forsythe gesê sy is geskok deur die tragiese gebeurtenis want Parkview was tot dusver een van die veiligste voorstede.
Forsythe het gesê die vrou het alleen gewoon. Sy het bygevoeg dat hulle bekommerd is want die vrou se huishulp is dalk ontvoer. Die swart huishulp se handsak is in die huis aangetref maar daar was geen teken van haar nie.
Ramovha het ‘n beroep gedoen op enigiemand met inligting om na vore te kom.
