Hallo Tim
Ek wou eintlik vanoggend op jou eie koerant se webwerf reageer, maar die kommentaar is gesluit.
Jy skryf: “Ons gaan aanhou berig oor ander groot gebeure.” Dié rubriek is ook by ons in Volksblad geplaas.
Vanoggend gaan koop ek en Pumba die Volksblad by die keraats op die hoek. Dit het taamlik gereën, en sulke haele geval, en benewens die ou slaggat in ons woongebied se “hoofstraat” wat vanoggend soos ‘n binnelandse meer lyk, het daar ‘n entjie weg nog een ontstaan. Dit maar terloops. Ek het in ‘n tuiskoerant gelees die munisipaliteit betaal nie die teermense nie, en dus kan slaggate, oues en nuwes, nie meer reggemaak word nie.
Gelukkig is Pumba ‘n boerboel, want die spanjoel wat ons gehad het sou onderweg, en op pad terug, eers in die slaggate wou waad. Met die lang ore wat so uitgesprei langsaan uitsprei soos dit van die klosse op die water dryf.
By die huis gaan ek deur die Volksblad. Teen dié tyd het ek darem geweet wat die uitslag van die Bafana-wedstryd was, en het ek al self vir ‘n publikasie ‘n wedstrydverslag gestuur. In Engels.
Maar “aanhou berig oor ander groot gebeure” soos jy geskryf het?
Oornag het die buitelandse besoekers blykbaar immuun teen misdaad geword, soos met die Konfed. Toe was die enigste buitelanders wat onheil op die lyf geloop het die besoekers wat saam met die Britse en Ierse Leeus getoer het, en waarvan ‘n mens dikwels maar in oorsese koerante moes lees (jy weet, met die internet en die “alewige blogs”).
Vanoggend se Volksblad laat my dink aan die blonde buurvrou wat vanoggend kom verneem het of daar dan iets aan die gang is. Sy luister nie nuus nie, want dis so “depressing” en is baie verbaas as sy hoor iemand koop nog ‘n koerant.
“Dis net slegte nuus.” Mens is skoon verbaas haar hare bly so blond van die volstruispolitiek.
“Hoekom is daar so ‘n geraas? Asof iemand op iets blaas wat so ‘n aaklige geluid maak. “
Ek wikkel my weg by die rekenaar en die internet. Ek het pas na ‘n taamlike soektog darem die uitslag en wedstrydverslag van die sokkerwedstryd tussen Frankryk en Uruguay gekry. Gelykop. Dié wedstryd se uitslag is vir die Bafana net so belangrik soos die een wat in Soccer City gespeel is, want al het Zuma nie daar Mandela se boodskap gelees nie, is daardie twee spanne in dieselfde groep as die Bafana en Meksiko, en kan die Bafana se lot net sowel daar beslis gewees het. Dié geploeter – so blyk dit uit die verslag – was ook gelykop.
So tussenin het ek ‘n paar buitelandse koerante deurgedraf om te kyk of die res van die wêreld werklik so gaan stilstaan het soos mens uit vandag se Volksblad sou aflei.
Soos dat België môre verkiesing hou. Dis nou wel nie die queen se land nie, maar nou ja, ek is miskien ‘n skwêr wat meer in ons stamlande se wel en weë belangstel as wat die lotjie op die eiland maak. Ek sien in Nederland het die heer Gert Wilders met hul koningin ‘n gesprek gehad, en die “rapporteur” wat ‘n regering moet probeer saamstel, moet nou met Wilders praat om te kyk of ‘n regering moontlik is waarvan Wilders deel is.
Ek kan sien hoekom dit vir Obama belangriker is om met BP oor die olielek te raas, as om te kom sokker kyk.
Iewers sien ek daar was naby Soccer City ‘n kragonderbreking, maar dit is nou een van daai items wat regtig nie meer nuus is nie, en dus lees ek nie of dit ‘n geval was van onwettige aansluitings wat oorlaai geraak het nie.
Asseblief, stuur tog ‘n e-possie die kant toe en vra dat die manne by Volksblad tog ook jou rubrieke lees. Hier is darem mense wat van iets anders as die sokker ook wil weet. Veral van “belangrike nuusgebeure,” soos jy geskryf het.
En o ja, terwyl ek die pen opgeneem het, daar is ook ander partye as die DA, die ANC, die DA, Cope en die DA.
Groetnis
Herman
