Suid-Afrika se werkloosheidskoers het in die tweede kwartaal van die jaar tot 25,6% gestyg, hoofsaaklik as gevolg van verlore poste in landbou en vervaardiging.
Daar was 122 000 méér mense teen einde Junie sonder werk as in die vorige drie maande, wat die aantal werkloses tans op 4,7 miljoen te staan bring.
Nog ‘n kommerwekkende styging is dat die aantal ontmoedigde werksoekers van die eerste tot die tweede kwartaal met 35 000 meer geword het.
In die eerste kwartaal (tot einde Maart) was die werkloosheidskoers 25,2%.
In vergelyking met verlede jaar het werkloosheid in die tweede kwartaal met 5,7% gegroei.
Daar is 18 000 poste in vervaardiging besnoei en 26 000 in landbou. Selfs in die sektor vir gemeenskaps- en maatskaplike dienste – wat die staatsdiens insluit – het 22 000 poste verloor.
Konstruksie het egter 62 000 poste geskep en handel 52 000. In die mynbou is 9 000 poste geskep en in vervoer 19 000.
Die Reserwebank meen ekonomiese groei vanjaar sal nie 2% haal nie – die stadigste sedert die 2009-resessie. Die land word ingeperk deur trae vraag uit Europa, terwyl inflasie plaaslik verbruikers se sak raak. Meer as 60% van die besteding in die ekonomie word deur verbruikers gedoen.
Die regering se teiken is dat 5 miljoen poste teen 2020 geskep word, maar dit sou ’n groeikoers van minstens 5% vereis. – Bloomberg
