Van Tamatiestraat na die Trasimeense meer

Nie tamatiestraat nie, sou baie argumenteer, na aanleiding van dit wat deesdae werklik in die strate afloop.

Suid-Afrika het nie ‘n besonder goeie reputasie as dit by referendums kom nie. Die referendumvraag oor republiekwording was of die status quo gehandhaaf moes word, of ‘n republiek binne die Statebond uitgeroep moes word. ‘n Republiek is buite die Statebond uitgeroep.

Met die 1983-grondwet was dit weer so. By herhaling het regeringswoordvoerders ergerlik na opposisiesprekers gekap wat die kiesers gewaarsku het dat die regering die uitslag as ‘n mandaat vir hervorming sou gebruik. By herhaling, en strykdeur, het regeringswoordvoerders die publiek egter verseker al wat op die tafel was, was ‘n ja of nee vir die driekamerparlement.

Die stemme was skaars getel, of die refrein klink op oor die mandaat wat vir hervorming verkry is.

Met die referendum rondom die Kemptonpark-gebeure was dit weer so. Die referendumvraag was gewoon of met die nie-parlementêre groepe oor ‘n nuwe bedeling onderhandel kon word (met versekerings van wigte en teenwigte wat sou werk).

Die resultaat was veel anders.

Kwalik ‘n gesonde grondslag om die publiek eendragtig te betrek, en saam te neem, veral noudat polarisasie blykbaar hoër vlakke bereik het as tydens die vorige bedeling.

Wat egter vandag aan die bod kom, is ‘n mediaberig waarin mnr. FW de Klerk te kenne gee dat die huidige afloop die noodwendige afloop en enigste opsie was, anders as om aan die ou bedeling vas te klou, met die gevolge wat gereeld in groot grusaamheid soos ‘n paaiboelie aan kiesers voorgehou word.

Dit, sal enige politieke wetenskaplike en staatsregkundige uitwys, is doodgewoon nie waar nie. Moderne modelle oorsee en die volkereg bied talle opsies anders as die twee pole wat Suid-Afrika as keuse gebied is.

Onder hierdie modelle tel talle wat juis ontwerp is om heterogeniteit te ondervang, en in die praktyk veel, veel beter werk as dit wat nou as enigste alternatief aan Suid-Afrikaners voorgehou word.

Dit is jammer dat die onderhandelaars om redes wat net aan hulle bekend is, nie ruiterlik erken dat hulle verbrou het nie. Trouens, De Klerk het al dikwels baie na daaraan gekom om te erken daar is verbrou, soos sy uitlating enkele jare gelede dat hy self ‘n Christen-demokratiese bedeling volgens Wes-Europese model voorstaan. Sou hy weet waarvan hy gepraat het, en mens wil graag, beteken dit hy sou ‘n model voorstaan waar minderheidsregte grondwetlik verskans word, soos die beleid van die Duitse regerende Christen-Demokratiese Unie bepaal.

Dit verg geen Einstein om te weet dat die geïmplementeerde alternatief wat op volledige liberale beginsels gebou is, nie werk nie. Trouens, de Klerk is gereeld sigbaar op die punte waar hy vure probeer doodslaan soos die rysmier van Afrikaans in skole en universiteite. Die Rubicon om te erken hy het gefouteer word egter nie oorgesteek nie, met die gevolg dat die Rubicon sy politieke Trasimeense Meer kan word.

De Klerk se besluite sal in die toekoms vraagtekens so groot soos piramides bly – soos om die Presidentsraad se ondersoek na tussengroepverhoudinge op te skort – juis strategies so kort voor hy ‘n Rubicon oorgesteek het waar hierdie kundigheid onontbeerlik sou wees.

By die Trasimeense Meer, nie ver van die Rubicon nie, het Honibal in sy opmars na Rome ‘n groot Romeinse Leër na hul waterdood gestuur. Suid-Afrika se Trasimeense Meer prut stinkend van iets anders as vars bergstroomwater.

Selfs vandag nog kan gesê word daar lê vir die land se mense ‘n blink toekoms voor mits die leiers besef dat daar nou, by gebrek aan iets beters, maksimaal van die grondwetlike ontsnaproetes gebruik gemaak moet word om te beredder wat te redde is.

Die horlosie kan nie teruggedraai word nie, maar op die pad vorentoe kan weer na die onderhandelingstafel teruggekeer word en ‘n behoorlike, volkeregtelik-geldende skikking beding word – mits al die betrokkenes erken dat die wyse waarop die Rubicon oorgesteek is op ‘n gewisse ondergang in die Trasimeense Meer uitloop.

купить люстру припотолочнуюлобановский класс харьков