DA praat met Bantu Holomisa oor koalisie in Port Elizabeth

Die leier van die United Democratic Movement (UDM), Bantu Holomisa, het aangekondig dat hy deur “groot partye” genader is om ‘n koalisieregering in die Nelson Mandelabaai-metro saam te stel.

Holomisa het gisteraand gesê: “Ek hoor sekere van die groot partye praat met ons om te vra of ons hulle kan help. Afhangend van die finale telling, mag die UDM óf deur die ANC óf deur die DA genader word om hulle te help. Die DA-leier het my genader maar ek het aan hom gesê dat ons moet wag vir die uitslae om bekendgemaak te word.”

 

Volgens Holomisa gee hy nie om met watter party hy saamwerk nie maar dat “kiesergedrag” in ag geneem moet word.

“In die verlede het ons beide partye gehelp. Onthou toe Zille Kaapstad van die ANC oorgeneem het? Ons het die ANC in Kwazulu-Natal in 2004 bygestaan toe dit aan bewind gekom het. Die beginsel wat ons toepas, is om na die wense van van die kiesers te kyk, dan neem ons die besluit, nie of ons van ‘n sekere leier hou of nie, ek werk nie so nie,” sê Holomisa.

Terwyl die DA-leier in die metro, Athol Trollip (foto hier bo), reeds aangekondig het dat sy party die grootste is en daarom ‘n nuwe plaaslike regering behoort saam te stel, het die ANC by die OVK beswaar gemaak dat die verkiesing nie “vry en regverdig was nie”.

‘n Woordvoerder van die party, Bheza Ntshona, het gesê dat die party ‘n klag gelê het weens die ontdekking van stembriewe in ‘n tent aan die agterkant van die lokaal.

“Ons het ook ander onreëlmatighede waargeneem, in so ‘n mate dat ons nie die verkiesing as vry en regverdig beskou nie. Die uitslag van dié verkiesing, hoewel dit nog nie finaal is nie, weerspieël nie die wil van die mense van Nelson Mandelabaai nie,” meen hy.

 

DA se etniese planne in PE ontbloot

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het bewerings ontken dat hulle Danny Jordaan in Port Elizabeth gekies het om bruin kiesers te lok.

Jordaan se aanwysing as burgemeester van die Nelson Mandelabaai metropool is verdoem as ‘n politieke taktiek om bruin steun te werf.

Mantashe het in reaksie gesê Jordaan, ook president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, is ‘n bewese administrateur en bedrewe politikus.

Die DA het voorheen staatgemaak op bruines se antipatie teenoor swartes om stemme te trek. Die party is woedend oor Jordaan se aanstelling wat hulle eie ondermaanse etniese strategie ontbloot.

Die leier van die DA in die Oos-Kaap, Athol Trollip het uitgevaar teen die ANC in Port Elizabeth en gesê hulle bly dieselfde party wat die stad tot op sy knieë gedwing het.

Trollip het gesê die ANC is bang om politieke beheer te verloor en het misluk om ‘n gepaste kandidaat onder sy eie raadslede in Port Elizabeth te kry.