Phiyega geskors hangende ‘n ondersoek

President Jacob Zuma het aangekondig dat die Nasionale Polisiekommissaris, Riah Phiyega geskors is met volle vergoeding.

Haar skorsing is hangende ‘n raad van ondersoek wat haar geskiktheid om die pos te beklee sal bekyk.

‘n Aanbeveling van die Marikana Kommissie het tot die ondersoek gelei .

Phiyega se rol in die dood van 44 mense wat deur die polisie geskiet is met die Lonmin-platinumstaking in 2012 is reeds maande onder bespreking.

Ontleders meen sy word uitgesonder om die blaam teen adjunk-president Cyril Ramaphosa wat nou betrokke is by Lonmin, te verlig.

Opposisiepartye het Phiyega se skorsing verwelkom. Die party sê hulle het lank reeds gevra dat die president teen Phiyega moet optree.

Phiyega is by verskeie skandale betrek.

Haar skorsing sal deur talle polisielede verwelkom word omdat sy nie uit ‘n polisie-agtergrond kom nie. Sy is dikwels gekritiseer oor haar tekort aan polisie-ervaring.

Phiyega moet getuig in heraanstellingsaak

Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega sal na verwagting vandag in die Arbeidshof in Johannesburg getuig nadat die hof genader is om die fluitjieblaser, Kobus Roos te herontplooi.

Phiyega sal moet verduidelik waarom sy Roos nie in die misdaadintelligensie-eenheid wil aanstel nie ten spyte daarvan dat ‘n vakante pos vir hom bestaan.

Roos is verplaas deur die voormalige misdaadintelligensie-hoof, Richard Mdluli nadat hy korrupsie ontbloot het.

Die Arbeidshof het in April verlede jaar beveel dat Roos in ’n soortgelyke pos in die SAPD aangestel moet word.

Die polisie word daarvan beskuldig dat hulle ‘n hofbevel verontagsaam.

Wit polisieman vandag begrawe te midde van vrae

klapmuts2Die begrafnisdiens vir die wit polisieman van Klapmuts, Steven Britz, word vandag in Brackenfell buite Kaapstad gehou.

Adjudant-offisier Britz is verlede week doodgeskiet terwyl hy alleen aan diens was by die Klapmuts-polisiestasie.

Daar word vermoed dat sy aanvallers bewus was daarvan dat hy alleen op diens sou wees. Wapens, waaronder moontlik aanvalswapens, is ook uit die kluis van die stasie gesteel.

Die Nasionale Polisiekommissaris Ria Phiyega het Woensdag die moord op Britz by `n gedenkdiens skerp veroordeel en gesê daar is steeds baie onbeantwoorde vrae oor die aanval op die polisiestasie.

Een van die drie verdagtes, Luvuyo Ndevu, is ‘n speurder by die Klapmuts-polisiestasie.

‘n Span ondersoekers sal intussen die beweegredes vir die politieke moorde by Umshwathi buite Pietermaritzburg in die KwaZulu-Natalse Middelande probeer oopvlek.

Die Provinsiale Polisie-kommissaris, Mamonye Ngobeni, sê die ondersoek sal handel oor die onlangse moorde op twee ANC-vrywilligers en ander sake in dié gebied.

Ngobeni sê die skuldiges sal aan die pen ry. Sy het `n beroep op alle politieke partye gedoen om met die ondersoekspan saam te werk.

`n Openbare Orde-polisiespan sal intussen in die gebied ontplooi word om die omloop van onwettige vuurwapens te bekamp.