Adjunk-minister van kommunikasie dink ‘moer’ is goeie taal

Die adjunk-minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, is Donderdag tydens die staatsrede-debat oor die kole gehaal oor haar platvloerse gevloek.

Sy het die parlementêre leier van die DA Mmusi Maimane herinner dat daar dadels gekom het van sy party se beloftes om Gauteng oor te neem met stemme.

“Die ANC het julle fair en sqaure in Gauteng en in Suid-Afrika gemoer.”

Die adjunk-speaker, Lechesa Tsenoli, het haar onderbreek.

“Trek dit asseblief terug. Ons gebruik nie sulke taal hier nie,” het Tsenoli haar gewaarsku.

Die adjunk-minister het nie aanvanklik geweet sy gebruik ‘n platvloerse uitdrukking nie.

Ndabeni-Abrahams het daarop geantwoord: “Wel ons praat so in Gauteng, en in mý land.”

Sy moes egter later bes gee en die stelling terugtrek nadat Tsenoli haar weer vermaan het.

Korrupte munisipale amptenare gewaarsku

Derek Luyt
Derek Luyt

Die Minister van Samewerkende Regering, Lechesa Tsenoli, het korrupte munisipale amptenare gewaarsku dat hulle met die volle mag van die reg te doen sal kry.

Tsenoli het by die konferensie van die Vereniging van Komitees oor Openbare Rekeninge in Port Elizabeth gesê hy wil aanstaande jaar die aantal munisipaliteite met skoon oudits vermeerder.

Hy het ook daarop gewys dat daar reeds 400 mense weens korrupsie in hegtenis geneem is, wat gestraf sal word.

Die Minister sê hy wil ‘n omgewing in munisipaliteite skep waar dienslewering nie net plaasvind nie, maar die aanspreeklikheid gesien kan word in die gehalte van dienste wat gelewer word.

Nog ‘n spreker by die geleentheid, die direkteur van die Sentrum vir Verantwoordbare Regering, [Hoof van Media and Advocacy in the Public Service Accountability Monitor by Rhodes Universiteit] Derek Luyt, sê die regering moet ophou met politieke aanstellings sodat aanspreeklikheid vergroot kan word.

Luyt sê daar is genoeg mense wat die vaardighede en die vermoë het om ‘n oorsigrol uit te oefen.

Volgens hom is die meeste mense in poste politieke aanstellings wat nie oor die vaardighede beskik om mense te verteenwoordig en seker te maak dat alle werksaamhede behoorlik gemonitor word nie. – RSG