Die adjunk-minister van kommunikasie, Stella Ndabeni-Abrahams, is Donderdag tydens die staatsrede-debat oor die kole gehaal oor haar platvloerse gevloek.
Sy het die parlementêre leier van die DA Mmusi Maimane herinner dat daar dadels gekom het van sy party se beloftes om Gauteng oor te neem met stemme.
“Die ANC het julle fair en sqaure in Gauteng en in Suid-Afrika gemoer.”
Die adjunk-speaker, Lechesa Tsenoli, het haar onderbreek.
“Trek dit asseblief terug. Ons gebruik nie sulke taal hier nie,” het Tsenoli haar gewaarsku.
Die adjunk-minister het nie aanvanklik geweet sy gebruik ‘n platvloerse uitdrukking nie.
Ndabeni-Abrahams het daarop geantwoord: “Wel ons praat so in Gauteng, en in mý land.”
Sy moes egter later bes gee en die stelling terugtrek nadat Tsenoli haar weer vermaan het.
