Dan Roodt: Al vergaan ons, sal Pierneef bly staan

Redelik onlangs het ‘n versamelaar byna R12m vir ‘n Pierneef-skildery betaal. In die kunswêreld is dit nie so merkwaardig nie, maar wat dit buitengewoon maak, is dat Pierneef al jare lank deur Engelse en Joodse kunstenaars en akademici verguis en bespot word. Hoewel ek gewoonlik ‘n kritiese afstand teenoor die heersende ideologie handhaaf, was selfs ek onverbereid vir dít wat my gister by die Standardbank-galery in Johannesburg getref het: ‘n unieke, Afrikaneruitkyk op die wêreld en ons land deur ‘n grootse kunstenaar wat met die bestes ter wêreld kan vergelyk. Dis altyd ‘n skok, maar omtrent alle gesprek oor kuns of letterkunde in ons land word altyd deur jaloesie en Boerehaat oorheers.

In die aanloop tot die Pierneef-tentoonstelling, het ene Sue Blaine in die Financial Mail na die “stigma” wat Pierneef kwansuis aankleef, verwys. Onderliggend aan dié idee is dat ‘n stigma alle Afrikaners aankleef, tesame met ons skrywers, musici, skilders en elkeen met ‘n Afrikaanse van wat hom nog ooit skeppend oor Suid-Afrika uitgelaat het. Wat gaan met sulke mense aan? Word hulle maar net vol haat en nyd gebore?

Maar terug by Pierneef. Dit is so dat kunswerke deur herhaalde blootstelling in die media van hul varsheid of egtheid beroof word. Eerste Nasionale Bank se embleem herinner vaagweg aan ‘n Pierneef-skildery van ‘n Bosveldboom met ‘n plat kroon. Daaraan is elkeen van ons al duisende kere blootgestel. Op ‘n soortgelyke manier is daar niks so Afrikaans en Suid-Afrikaans soos ‘n Pierneef nie; soos pap en wors verteenwoordig dit ‘n volslae cliché.

Totdat ‘n mens voor die skilderye in dié uitgebreide terugskouende tentoontstelling te staan kom. Dan moet jy jou kop skoonmaak van alles wat jy voorheen van Pierneef gehoor of deur swak afdrukke of foto’s van hom gesien het. Die Ware Jakob tref jou soos ‘n hou op die maag, of soos ‘n oorweldigende skoonheidswolk waarin jy verdwaal en jou sinne laat duisel.

Toegif tot politieke korrektheid: 'Dans op Pierneef se graf' (foto)
Toegif tot politieke korrektheid: ‘Dans op Pierneef se graf’ (foto)

As ‘n toegif aan politieke korrektheid, het die Standardbank-galery dit goedgedink om op die grondvloer “ondermynende kommentaar” oor Pierneef ten toon te stel. Onder andere is daar ‘n foto van mense wat letterlik op Pierneef se graf dans. Hoe onsmaaklik, hoe banaal. Ook die Pierneef-hater William Kentridge wat self, soos my vrou altyd sê, “nie weet hoe om ‘n potlood vas te hou nie”, het ‘n politieke, kwasi-marxistiese kunswerk daar met slagspreuke, onder andere: “Remember the treason trial.”

Die meesal verpolitiseerde kunswerke wat tevergeefs poog om Pierneef af te takel verteenwoordig ‘n soort Hades op die grondvloer van die galery. Stap ‘n mens met die trappe op, beland jy eensklaps in die hemel. Goddank – en hiervoor moet ‘n mens seker die kurator Wilhelm van Rensburg bedank – word die meer onlangse, polities korrekte en swak kunswerke wat Pierneef moet “ondermyn” nie op dieselfde vloer as die groot kunstenaar self vertoon nie.

Pierneef: 'Thabazimbi'
Pierneef: ‘Thabazimbi’
Pierneef: By Fouriesburg
Pierneef: By Fouriesburg

Die titel van die tentoonstelling verwys na “landskappe”, maar dit is ook eintlik ‘n stereotipe manier om Pierneef se kuns te benader: benewens landskappe, skilder hy stedelike tonele, hier en in Europa, selfs Zanzibar, asook verskeie myne. Op een skildery, wat die Uniegebou in wording kan wees, verskyn ‘n hyskraan. In die sewentiger- en tagtigerjare het mense van “nywerheidsestetiek” begin praat, maar Pierneef het dit al in 1912 of daar rond beoefen! In dié opsig was hy selfs die Italiaanse en Russiese konstruktiviste vooruit. In twee of drie skilderye eksperimenteer Pierneef met geometriese vorms en kubisme, wat natuurlik aanvanklik deur Picasso en Georges Braque beroemd gemaak is. Maar dis amper asof Pierneef net in die rigting van Europese kunsrigtings knipoog; hy bly Pierneef, hy bly uniek.

Pierneef: Premier-myn
Pierneef: Premier-myn

Sekerlik sien ‘n mens iets van Vincent van Gogh hier en daar by Pierneef raak, maar dis veel sagter, fyner, gestileerder. En dan: kleur. As ‘n mens na ons wolke en sonsondergange kyk, ervaar jy skakerings van pienk en pers wat jy nêrens in Europa of in die noordelike halfrond sou beleef nie. En dit is juis dié kleure wat Pierneef in vele van sy skilderye inspireer, sonder enige sweem van kitsch of geyktheid. Trouens, Pierneef se kleurgebruik bly tydloos modern!

Vele van Pierneef se skilderye beeld ‘n leegheid en ongereptheid uit wat my herinner aan Van Wyk Louw se bekende gedig “O wye en droewe land”:

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,
die klein begrafnis;

Selfs in sy stedelike tonele is daar byna nêrens mense nie; dit gaan vir hom om die omgewing, die Umwelt, wat sowel die natuur as die mensgemaakte geboue, myne, kerke of skure kan wees.

Pierneef: Myn (houtskooltekening)
Pierneef: Myn (houtskooltekening)

Dit is geen wonder dat Pierneef in die verlede so aangeprys en vele openbare opdragte – soos die 32 muurskilderye by die Johannesburgse stasie – ontvang het nie. Daar is eenvoudig geen ander Afrikaanse of Suid-Afrikaanse skilder wat met hom kan meeding sover dit die omvang, diepte en trefkrag van sy œuvre aanbetref nie. Daarbenewens beeld hy ‘n soort eksistensiële Afrikanerskap uit soos geen ander kunstenaar in énige genre nie. Vir iemand soos ek wat baie teleurgesteld voel oor die gehalte en intellektuele diepte van die Afrikaanse letterkunde, wat die afgelope paar dekades deur oppervlakkige politieke korrektheid gekenmerk is, is Pierneef ‘n lafenis. Esteties span hy die kroon op alles wat Afrikaners nog altyd wou regkry: om ‘n unieke Afrikabeskawing te skep wat deur die eeue sou weergalm soos ou Egipte, die Italiaanse Renaissance of soos Parys in die negentiende en vroeë twintigste eeue.

Pierneef: Johannesburg
Pierneef: Johannesburg

Terwyl Pierneef deur akademici en marxistiese intellektuele verguis word – juis omdat hy so voortreflik is – is hy by die publiek gewild. In Europa staan mense om die blok ure lank tou om by museums, galerye en sekere tentoonstellings in te gaan. Boonop betaal jy nog ‘n stywe toegangsfooi. Dis net in Suid-Afrika en in die VSA waar ek nog leë galerye en museums wat boonop gratis is, teëgekom het. Die Johannesburgse kunsgalery, waar heelwat interessante werke hang, is soos ‘n mausoleum en byna niemand gaan meer soontoe nie, ook omdat dit in Joubertpark geleë is, wat deesdae soos ‘n buurt van Lagos daar uitsien. Gister is ek dus aangenaam verras om die toeloop van mense by die Pierneef-tentoonstelling te sien. Uitsluitlik blankes – so om die helfte Afrikaans en Engels, sou ek skat – het om die skilderye saamgedrom en te eniger tyd was daar seker so tussen 30 en 50 mense in die Standardbank-galery teenwoordig. Rondom my het ek slegs geesdriftige kommmentaar gehoor, dus geen marxistiese of linkse beledigings vir Pierneef soos wat mens dalk te wagte kon wees nie.

Pierneef: Selfportret (lino)
Pierneef: Selfportret (lino)

Pleks dus daarvan dat Pierneef deur die huidige dogma “ondermyn” word, is dit Pierneef wat die dogma ondermyn. Hy bewys met een oogopslag vir ons dat daar wel iets soos ‘n Afrikanerkultuur en -beskawing bestaan, wat hand aan hand met die Europese beskawing ontwikkel het, maar tog anders is, gesetel in ‘n ander omgewing, ‘n ander lig, ‘n ander landskap, selfs ‘n ander heelal.

Die uitdaging vir ons almal is om Pierneef te probeer lees, om te verstaan wat hy op die doek vasgevang het. Ons behoort ons hele geskiedenis en menswees na aanleiding van sy skilderye te herbedink. Die Afrikaner mag misluk het, maar Pierneef het uitmuntend geslaag.

Dit verklaar waarom hy vir die huidige orde en sy ideoloë so ‘n doring in die vlees is. Afrikaners mág nie slaag nie, maar moet voortdurend verguis word, op hul plek gehou word, tot magteloosheid afgetakel word. Op ‘n sekere manier verbaas dit my dat daar nie polities korrektes is wat bomdreigemente teenoor die galery maak, of sy mooi skilderye probeer vandaliseer nie, want hierdie orde is fundamenteel tot aakligheid en boosheid verbind.

Al word alles tot op die grond afgebreek en al bly daar niks van ons tradisie oor nie, sal daar steeds Pierneef wees. Hy is byna so ewig soos die piramides van Egipte, die simbool van ‘n unieke Afrika-beskawing wat eens in ons land bestaan het.

Lank leef Pierneef!

Die tentoonstelling duur vanaf 8 Julie tot 12 September 2015. Daar is veilige onderdakparkering vanaf die ingang in Harrisonstraat beskikbaar.

Standardbank-galery

Adres: hoek van Frederick en Simmondsstrate, Johannesburg, 2107.

Telefoon:011 631 4467

Ure:

Sondag
  • Gesluit
Maandag
  • 08:00–16:30
Dinsdag
  • 08:00–16:30
Woensdag
  • 08:00–16:30
Donderdag
  • 08:00–16:30
Vrydag
  • 08:00–16:30
Saterdag
  • 09:00–13:00