praag.co.za

Dan Roodt: Al vergaan ons, sal Pierneef bly staan

Redelik onlangs het ‘n versamelaar byna R12m vir ‘n Pierneef-skildery betaal. In die kunswêreld is dit nie so merkwaardig nie, maar wat dit buitengewoon maak, is dat Pierneef al jare lank deur Engelse en Joodse kunstenaars en akademici verguis en bespot word. Hoewel ek gewoonlik ‘n kritiese afstand teenoor die heersende ideologie handhaaf, was selfs ek onverbereid vir dít wat my gister by die Standardbank-galery in Johannesburg getref het: ‘n unieke, Afrikaneruitkyk op die wêreld en ons land deur ‘n grootse kunstenaar wat met die bestes ter wêreld kan vergelyk. Dis altyd ‘n skok, maar omtrent alle gesprek oor kuns of letterkunde in ons land word altyd deur jaloesie en Boerehaat oorheers.

In die aanloop tot die Pierneef-tentoonstelling, het ene Sue Blaine in die Financial Mail na die “stigma” wat Pierneef kwansuis aankleef, verwys. Onderliggend aan dié idee is dat ‘n stigma alle Afrikaners aankleef, tesame met ons skrywers, musici, skilders en elkeen met ‘n Afrikaanse van wat hom nog ooit skeppend oor Suid-Afrika uitgelaat het. Wat gaan met sulke mense aan? Word hulle maar net vol haat en nyd gebore?

Maar terug by Pierneef. Dit is so dat kunswerke deur herhaalde blootstelling in die media van hul varsheid of egtheid beroof word. Eerste Nasionale Bank se embleem herinner vaagweg aan ‘n Pierneef-skildery van ‘n Bosveldboom met ‘n plat kroon. Daaraan is elkeen van ons al duisende kere blootgestel. Op ‘n soortgelyke manier is daar niks so Afrikaans en Suid-Afrikaans soos ‘n Pierneef nie; soos pap en wors verteenwoordig dit ‘n volslae cliché.

Totdat ‘n mens voor die skilderye in dié uitgebreide terugskouende tentoontstelling te staan kom. Dan moet jy jou kop skoonmaak van alles wat jy voorheen van Pierneef gehoor of deur swak afdrukke of foto’s van hom gesien het. Die Ware Jakob tref jou soos ‘n hou op die maag, of soos ‘n oorweldigende skoonheidswolk waarin jy verdwaal en jou sinne laat duisel.

Toegif tot politieke korrektheid: 'Dans op Pierneef se graf' (foto)
Toegif tot politieke korrektheid: ‘Dans op Pierneef se graf’ (foto)

As ‘n toegif aan politieke korrektheid, het die Standardbank-galery dit goedgedink om op die grondvloer “ondermynende kommentaar” oor Pierneef ten toon te stel. Onder andere is daar ‘n foto van mense wat letterlik op Pierneef se graf dans. Hoe onsmaaklik, hoe banaal. Ook die Pierneef-hater William Kentridge wat self, soos my vrou altyd sê, “nie weet hoe om ‘n potlood vas te hou nie”, het ‘n politieke, kwasi-marxistiese kunswerk daar met slagspreuke, onder andere: “Remember the treason trial.”

Die meesal verpolitiseerde kunswerke wat tevergeefs poog om Pierneef af te takel verteenwoordig ‘n soort Hades op die grondvloer van die galery. Stap ‘n mens met die trappe op, beland jy eensklaps in die hemel. Goddank – en hiervoor moet ‘n mens seker die kurator Wilhelm van Rensburg bedank – word die meer onlangse, polities korrekte en swak kunswerke wat Pierneef moet “ondermyn” nie op dieselfde vloer as die groot kunstenaar self vertoon nie.

Pierneef: 'Thabazimbi'
Pierneef: ‘Thabazimbi’
Pierneef: By Fouriesburg
Pierneef: By Fouriesburg

Die titel van die tentoonstelling verwys na “landskappe”, maar dit is ook eintlik ‘n stereotipe manier om Pierneef se kuns te benader: benewens landskappe, skilder hy stedelike tonele, hier en in Europa, selfs Zanzibar, asook verskeie myne. Op een skildery, wat die Uniegebou in wording kan wees, verskyn ‘n hyskraan. In die sewentiger- en tagtigerjare het mense van “nywerheidsestetiek” begin praat, maar Pierneef het dit al in 1912 of daar rond beoefen! In dié opsig was hy selfs die Italiaanse en Russiese konstruktiviste vooruit. In twee of drie skilderye eksperimenteer Pierneef met geometriese vorms en kubisme, wat natuurlik aanvanklik deur Picasso en Georges Braque beroemd gemaak is. Maar dis amper asof Pierneef net in die rigting van Europese kunsrigtings knipoog; hy bly Pierneef, hy bly uniek.

Pierneef: Premier-myn
Pierneef: Premier-myn

Sekerlik sien ‘n mens iets van Vincent van Gogh hier en daar by Pierneef raak, maar dis veel sagter, fyner, gestileerder. En dan: kleur. As ‘n mens na ons wolke en sonsondergange kyk, ervaar jy skakerings van pienk en pers wat jy nêrens in Europa of in die noordelike halfrond sou beleef nie. En dit is juis dié kleure wat Pierneef in vele van sy skilderye inspireer, sonder enige sweem van kitsch of geyktheid. Trouens, Pierneef se kleurgebruik bly tydloos modern!

Vele van Pierneef se skilderye beeld ‘n leegheid en ongereptheid uit wat my herinner aan Van Wyk Louw se bekende gedig “O wye en droewe land”:

O wye en droewe land, alleen
onder die groot suidersterre.
Sal nooit ’n hoë blydskap kom
deur jou stil droefenis?
Jy ken die pyn en eensaam lye
van onbewuste enkelinge,
die verre sterwe op die veld,
die klein begrafnis;

Selfs in sy stedelike tonele is daar byna nêrens mense nie; dit gaan vir hom om die omgewing, die Umwelt, wat sowel die natuur as die mensgemaakte geboue, myne, kerke of skure kan wees.

Pierneef: Myn (houtskooltekening)
Pierneef: Myn (houtskooltekening)

Dit is geen wonder dat Pierneef in die verlede so aangeprys en vele openbare opdragte – soos die 32 muurskilderye by die Johannesburgse stasie – ontvang het nie. Daar is eenvoudig geen ander Afrikaanse of Suid-Afrikaanse skilder wat met hom kan meeding sover dit die omvang, diepte en trefkrag van sy œuvre aanbetref nie. Daarbenewens beeld hy ‘n soort eksistensiële Afrikanerskap uit soos geen ander kunstenaar in énige genre nie. Vir iemand soos ek wat baie teleurgesteld voel oor die gehalte en intellektuele diepte van die Afrikaanse letterkunde, wat die afgelope paar dekades deur oppervlakkige politieke korrektheid gekenmerk is, is Pierneef ‘n lafenis. Esteties span hy die kroon op alles wat Afrikaners nog altyd wou regkry: om ‘n unieke Afrikabeskawing te skep wat deur die eeue sou weergalm soos ou Egipte, die Italiaanse Renaissance of soos Parys in die negentiende en vroeë twintigste eeue.

Pierneef: Johannesburg
Pierneef: Johannesburg

Terwyl Pierneef deur akademici en marxistiese intellektuele verguis word – juis omdat hy so voortreflik is – is hy by die publiek gewild. In Europa staan mense om die blok ure lank tou om by museums, galerye en sekere tentoonstellings in te gaan. Boonop betaal jy nog ‘n stywe toegangsfooi. Dis net in Suid-Afrika en in die VSA waar ek nog leë galerye en museums wat boonop gratis is, teëgekom het. Die Johannesburgse kunsgalery, waar heelwat interessante werke hang, is soos ‘n mausoleum en byna niemand gaan meer soontoe nie, ook omdat dit in Joubertpark geleë is, wat deesdae soos ‘n buurt van Lagos daar uitsien. Gister is ek dus aangenaam verras om die toeloop van mense by die Pierneef-tentoonstelling te sien. Uitsluitlik blankes – so om die helfte Afrikaans en Engels, sou ek skat – het om die skilderye saamgedrom en te eniger tyd was daar seker so tussen 30 en 50 mense in die Standardbank-galery teenwoordig. Rondom my het ek slegs geesdriftige kommmentaar gehoor, dus geen marxistiese of linkse beledigings vir Pierneef soos wat mens dalk te wagte kon wees nie.

Pierneef: Selfportret (lino)
Pierneef: Selfportret (lino)

Pleks dus daarvan dat Pierneef deur die huidige dogma “ondermyn” word, is dit Pierneef wat die dogma ondermyn. Hy bewys met een oogopslag vir ons dat daar wel iets soos ‘n Afrikanerkultuur en -beskawing bestaan, wat hand aan hand met die Europese beskawing ontwikkel het, maar tog anders is, gesetel in ‘n ander omgewing, ‘n ander lig, ‘n ander landskap, selfs ‘n ander heelal.

Die uitdaging vir ons almal is om Pierneef te probeer lees, om te verstaan wat hy op die doek vasgevang het. Ons behoort ons hele geskiedenis en menswees na aanleiding van sy skilderye te herbedink. Die Afrikaner mag misluk het, maar Pierneef het uitmuntend geslaag.

Dit verklaar waarom hy vir die huidige orde en sy ideoloë so ‘n doring in die vlees is. Afrikaners mág nie slaag nie, maar moet voortdurend verguis word, op hul plek gehou word, tot magteloosheid afgetakel word. Op ‘n sekere manier verbaas dit my dat daar nie polities korrektes is wat bomdreigemente teenoor die galery maak, of sy mooi skilderye probeer vandaliseer nie, want hierdie orde is fundamenteel tot aakligheid en boosheid verbind.

Al word alles tot op die grond afgebreek en al bly daar niks van ons tradisie oor nie, sal daar steeds Pierneef wees. Hy is byna so ewig soos die piramides van Egipte, die simbool van ‘n unieke Afrika-beskawing wat eens in ons land bestaan het.

Lank leef Pierneef!

Die tentoonstelling duur vanaf 8 Julie tot 12 September 2015. Daar is veilige onderdakparkering vanaf die ingang in Harrisonstraat beskikbaar.

Standardbank-galery

Adres: hoek van Frederick en Simmondsstrate, Johannesburg, 2107.

Telefoon:011 631 4467

Ure:

Sondag
  • Gesluit
Maandag
  • 08:00–16:30
Dinsdag
  • 08:00–16:30
Woensdag
  • 08:00–16:30
Donderdag
  • 08:00–16:30
Vrydag
  • 08:00–16:30
Saterdag
  • 09:00–13:00

Comments

18 responses to “Dan Roodt: Al vergaan ons, sal Pierneef bly staan”

  1. Eseltjie Avatar
    Eseltjie

    Dr. Roodt, daardie uitstalling klink so lekker, ‘n mens wil sommer ‘n volksaamtrek daar hê!
    Om net vir ‘n slag jou Afrikanerwees, jou land, onder ‘n boel woorde en polemiek toegegooi te ervaar nie. Iets soos, Afrikanervolk, aanskou, word oorweldig en wees dankbaar.

    1. Dan Roodt Avatar

      Ek stem! Almal behoort dit te gaan sien. Ook al die Afrikaanse skole behoort spesiale uitstappies daarheen te reël.

      1. Dolk Avatar
        Dolk

        Is u bewus van Picasso se misgeboorte wat hulle so ophemel?

        http://artthrob.co.za/99may/artbio.htm

        “William Kentridge is undoubtedly the best known South African artist, currently in demand by major institutions all over the world. Working with what is in essence a very restricted technique – charcoal drawings with limited touches of pastel colour – Kentridge has deployed these drawings into an oeuvre of astounding depth….”

        (Ek het in my lewe nog nie sulke vrot “kuns” soos W.K. s’n gesien nie. Sien onder andere die verwronge perspektief – van die trollie se pote en die lig se hang-hoek… Ek gee nie om wat hy uitbeeld nie – dis vrot! Swak lokasiekuns…)

        http://artthrob.co.za/99may/images/kentridge-ubutruth.jpg

        1. Dolk Avatar
          Dolk

          Na aanleiding van: “”William Kentridge is undoubtedly the best known South African artist, currently in demand by major institutions all over the world. Working with what is in essence a very restricted technique – charcoal drawings with limited touches of pastel colour – Kentridge has deployed these drawings into an oeuvre of astounding depth….”, kan ek nie help om dit by te voeg nie. Dis eenvoudig belaglik dat iemand dit kan ophemel!

          Ek het sy lyne simbolies en kru uitgelig met Ms. paint – seker die eenvoudigste inkleurprogram vandag…

  2. Boerseun Avatar
    Boerseun

    Sue Blaine is waarskynlik ‘n engelse Jodin, en hulle kry die Boerehaat al van kleins af in saam met borsmelk … Helen Zille is nog ‘n voorbeeld. Wat anders moet ons verwag? Die Boere – en hul geskiedenis/kultuur – moet verguis en vermoor word sodat die land geplunder kan word tot voordeel van die Geldmag.

  3. Willem Avatar
    Willem

    My oupa was die derde van ses broers. Die broer net ouer as hy, toe ‘n 12 jarige seun, is saam met sy pa en twee ouer broers op kommando met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog. (My oupa, toe 10 jaar oud, en sy twee jonger broers het in die Bloemfontein konsentrasiekamp beland)
    Aanvanklik was die jongste broer op kommando (Jan) net sy pa se handlanger, maar het later, soos meeste penkoppe, geveg soos gewone burgers. Al drie broers wat op kommando gegaan het, en hulle pa, het deur die hele oorlog geveg, en dit oorleef.
    Jan het na die oorlog, al het hy drie jaar skool gemis, sy matriek op 18 voltooi, en homself as ‘n onderwyser gekwalifiseer, net soos sy twee ouer broers.
    Maar met die uitbreek van die 1914 rebellie het hy aan die rebellekant geveg, en is geskors as onderwyser.
    Hy is na Holland waar hy homself as mediese dokter, en later internis, gekwalifiseer het, en hy is daar met ‘n Hollandse musikant getroud.
    Terug in Suid-Afrika het hulle vriendekring in Pretoria uiteraard baie Hollanders ingesluit, en hulle was goed bevriend met Pierneef. Pierneef se skilderye van die Oos-Vrystaat is onder andere geskilder tydens besoeke aan sy vriend Jan se familieplaas in die Rooiberge tussen Fouriesburg en Clarens.
    ‘n Niggie van my pa (‘n dogter van Jan) het nog ‘n skildery van Pierneef met die onderskrif “Aan my vriend Jan”, van ‘n landskap in die Rooiberge.
    Jan du Preez het afgetree as die superintendent van die Pretoria Akademiese Hospitaal.
    ‘n Naskrif tot hierdie verhaal:
    Van die drie jonger broers wat afgevoer is konsentrasiekampe toe, is die jongste, soos meeste kinders van vyf en jonger, oorlede. Sy naam is daar op die gedenkmuur van die kampkerkhof, ek het hom daar gaan soek. Sy twee ouer boeties was egter so disleksies dat, alhoewel hulle intelligent was, hulle geen verdere skoolopleiding kon ontvang na die oorlog nie. Beide het ‘n sukkelbestaan as boere gemaak vir die res van hulle lewens. Dit is erg om te dink dat die post traumatiese stres van die konsentrasiekampe erger nagevolge gehad het op kinders, as drie jaar van aktiewe oorlogvoering..

    1. Gustav Avatar
      Gustav

      Baie dankie Willem. Ek woon al vyftien jaar in hierdie omgewing. Dis eers as ‘n mens die Oos-Vrystaat leer ken, wat ‘n mens begryp wat Pierneef gesien het.

      Dan daardie ellendelinge: Enige persoon wat op ‘n graf dans, vier sy eie dood.

  4. Bert Avatar
    Bert

    By Strauss afslaers naby die Wanderers was daar ‘n tydjie gelede ‘n Pierneef beskikbaar. Die visuele impak daarvan was ongelooflik. Wat ‘n kunstenaar!

  5. Dolk Avatar
    Dolk

    Tussen hakkies gesê: (Net ‘n beskeie waarneming – geensins as kritiek bedoel… Wat enige skilder wat opleiding gehad het ook sal opmerk. Pierneef het ‘n pragtige en unieke styl en, ‘n besondere en sonderlinge oog vir vorm en kleur gehad – wat opmerklik is uit die paar geplaaste skilderstukke en sketse is die afwesigheid van heelwat skilderreëls – soos met die eeue heen deur alle skildermeesters toegepas. Wat my ook opval is die afwesigheid van lineêre perspektief en dat die skadu’s lukrake ligbronne impliseer.)

    1. Karel Combrinck Avatar
      Karel Combrinck

      Interessante opmerkings Dolk. Persoonlik vind ek die lig- en skaduweespel meesterlik hanteer. Daar is duidelik ‘n konsentrasie van lig op die dorpie aan die regterkant van die doek soos die son wat deur ‘n gaping in die wolke breek, wat heeltemal verantwoordbaar is deur die wolkemassa bo. En dan die geleidelike afname in die intensiteit van lig of die toename van skaduwee dan, na die linkerkant van die doek vind ek onverbeterlik.
      Wat is van die haan? Bedoel jy mens kan hom nie sien Nie? ‘n Haan wat ‘n mens op daardie afstand kan sien, sou minstens so groot moet wees soos ‘n volstruis of hoe?!
      Groete.

      1. Dolk Avatar
        Dolk

        Ek moes vir jou skrywe oor die haan glimlag. Nee, ek het iets anders bedoel. Oor die skilderye was dit bloot my waarneming as iemand wat ook skilder – geensins soos gesê bedoel om dit te kritiseer nie. Daar is waarlik net een soos hy gewees. ‘n Meester in kleur en vorm vir my.

  6. kiarel Combrinck Avatar
    kiarel Combrinck

    Dankie, dr Dan vir die mooi artikel en ook die pragtige reproduksies wat dit vergesèl. Watter kleinood is Pierneef en sy werke nie; sonder twyfel die grootste beeldende kunstenaar wat ons land opgelewer het. Wat sal ‘n mens sê oor die barbare wat op sy graf dans. Hulle verstaan eintlik nie waaroor alles gaan nie. Enige geleentheid om te Toyi Toyi is goed genoeg, veral as dit anti-blank is. En meesal is dit anti-blank. Die groot bydraes uit ons Bantoekultuur: die Vuvuzela en die toyi toyi. Maar laat ons nou nie ‘n vername kulturele gebeurtenis soos wat die Pierneef uitstallingi inderdaad is, bederf met die primitiewe lyftaal van barbare nie.

    1. Dolk Avatar
      Dolk

      https://en.wikipedia.org/wiki/List_of_South_African_artists

      Ek glo nie mens kan die graad van banaliteit van iemand bepaal wat op mense se grafte dans nie. Dis te agterlik vir woorde.

      1. Gas Avatar
        Gas

        As ek hulle skeppinge so bekyk lyk hulle na ‘n Afro-Engelse gatlekbende. En baie behep met die f-woord. En die te veel bokhorings… En die gedans op ‘n graf (vergeet maar dat dit op Pierneef se graf is). Wonder of kol. Kobus Jonker se eenheid in die polisie hulle nie in een of ander stadium onder observasie gehad het nie. Kan nie toevallig wees dat hulle vreemde uitleef van hul kunsgevoelens deur die galery as ter sake vir die uitstalling beskou is nie; in die sin dat daar oorleg tussen, sal ‘n mens maar skryf, hierdie “sel” en die galery gepleeg is in die koppeling aan die uitstalling nie. Nee wat, die drie “kunstenaars” se doen en late, en “kuns”, lyk bisar. Om die minste te sê.

    2. Willem Avatar
      Willem

      Die drie knapies wat op die graf daans is Blom, Booyens en MacGarry.

      Hier is ‘n uitstalling van húlle skilderwerk..

      http://stevenson.info/exhibitionsbs/acg/index.htm

      1. Dolk Avatar
        Dolk

        So, klippe kan ook spring en smeer?

  7. jan Avatar
    jan

    Baie dankie vir hierdie kosbaarheid, Dan

Leave a Reply