Die historiese metode vereis dat die historikus sy bronne krities benader. Wat wou! Ash aanvaar kritiekloos Britse jingo-bronne voor 1902, soos Creswicke, H.W. Wilson en Rider Haggard, vir sy siening van die Boere, maar hy is skokkend beledigend teenoor gerespekteerde historici soos Rodney Davenport, Leopold Scholtz, Iain Smith, Bill Nasson en Thomas Pakenham.
Daar is 15 hoofstukke oor die verloop van die oorlog, die verskroeideaardebeleid, konsentrasiekampe, Boeregeneraals, die “superhuman”- Boer en swart betrokkenheid.
Sy vooroordeel en onvermoë om die kompleksiteit in die geskiedenis raak te sien, maak dat hy ’n prentjie skets van bose Boere en brawe Britte. President Paul Kruger het met sy “violent conquest” die Anglo-Boereoorlog veroorsaak, terwyl Britse imperialisme ’n welwillende krag was wat slegs gebiede geannekseer het wanneer die swart inwoners Britse beskerming teen die Boere gesoek het.
Die Boere word veroordeel dat hulle die Pedi aangeval het, maar die Britte mag dieselfde doen en bowendien Zoeloe, Griekwa en Basotho se grondgebied annekseer.
Die Britse Intelligensiediens mag sedert 1896 heimlik inligting in die ZAR insamel en ’n geheime verslag saamstel vir militêre doeleindes, maar die spioenasie van die Boere se Geheime Dienst in die Britse kolonies bewys Kruger het uitbreidingsoogmerke gehad. Die Boere het met hul inval in die Kaapkolonie gebiede geannekseer, wat hul uitbreidingsoogmerke bewys, maar dat dieselfde argument uitgemaak kan word vir lord Roberts se anneksasie van die Vrystaat en die ZAR, ontgaan die skrywer.
Hy veroordeel gevalle (en maak asof dit deur historici verswyg word) waar die Boere private eiendom plunder, die wit vlag misbruik en dumdumpatrone gebruik, maar hy swyg oor soortgelyke Britse optrede.
Onkundig is die opmerking dat die Transvalers lank voor die Jameson-inval met ’n bewapening gekom het (en dus bewys dat Kruger die oorlog veroorsaak het). Na regte het die ZAR-regering ná die Jameson-inval ontdek dat 41% van sy burgers geen gewere besit nie, die res was verouderd. Tóé eers het die ZAR-regering sy burgers op groot skaal begin bewapen.
Ook sy hantering van die konsentrasiekampe is deurspek met feitefoute, vooroordeel en onkritiese gebruik van bronne. Voorspelbaar vereenselwig hy hom met Elizabeth van Heyningen se geloof in die Britse Blouboeke (gepubliseerde regeringsdokumente) en haar standpunte oor die konsentrasiekampe (“die meerderheid inwoners was bywoners”). Ash se versuim om S.B. Spies se Methods of Barbarism? te raadpleeg, maak sy aannames verdag. Skouerophalend verklaar hy: “To this day people die of natural causes in hospitals.” Hy begryp nie dat die sterftes in die eerste plek voorgekom het vanweë die gebrekkige administrasie van die Britse leërleiding nie. Emily Hobhouse se rol om die bestaan van die kampe en die haglike toestande in Brittanje te openbaar, en só die weg tot die aanstelling van die Dameskomitee en die gevolglike verbetering van die kampadministrasie te open, is ook vir hom geen begrip nie.
Ash se argument dat Britse soldate eweseer aan siekte gesterf het as die inwoners van die konsentrasiekampe, hou nie steek nie – feit is dat 14 000 uit 450 000 Britse soldate aan siekte oorlede is, teenoor 28 000 sterftes uit 110 000 inwoners in die wit konsentrasiekampe. Hy beweer die wit kampinwoners se rantsoene was beter as dié van die Britse soldate – maar kampinwoners het ná verhoogde rantsoene in Maart 1901 elk ’n half pond (dikwels oneetbare) vleis per dag gekry, teenoor die Britse soldaat se twee pond vleis.
Die Boere se “moenie” en die Britte se “mag maar” duur voort: Boere-simpatiseerders soos Olive Schreiner is verblind deur hul irrasionele haat vir die Britse ryk, maar die Britse jingo’s se haat en minagting vir die Boere is volkome in orde. Boere wat die wapen aan Britse kant opneem, is verstandig, maar Britte wat die Boerekant ondersteun, is “treacherous and loathsome renegades and extremists”. Tereg wys Ash daarop dat Boeregeneraals soos Cronjé, Snyman en Erasmus power was, maar hy weerhou kritiek op ewe-vrotsige Britse generaals, soos Buller aan die Natalse front, Clements en Colvile (wat hy ophemel en wie se van hy verkeerd spel).
Sonder bewyse (en verkeerdelik) voer hy aan dat die meeste bittereinder-Boere die armste en mees ongeskoolde burgers was, “essentially White Trash”. Baie van hulle was “a less pleasant bunch” en “common criminals”, en hul aktiwiteite “pure banditry”. En die Boere se guerrilla-optrede? “As long as they stayed hidden and managed to shoot a policeman, murder some Africans or blow up a railway line now and again, the conflict dragged on.”
Met die herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat tans onder die ANC-bewind aan die gang is, moet nie net Joe Slovo en sy Kommunisteparty, of ANC-Winnie Mandela en haar halssnoerbendes nie, maar ook Rhodes, Milner, Roberts en Kitchener, as helde uit die stryd tree.