Die onlangse rubriek deur dr. Dan Roodt, Wanneer gaan die Afrikaner koers kry? het betrekking. Daarin haal hy vir M.T. Steyn aan wat gesê het: “Om Afrikaners te lei, is soos om ‘n klomp hoenders aan te jaag!”
Die kultuurpolitieke beweging PRAAG, soos ek dit verstaan, strewe die doelwitte van Vryheid, Afrikaner-behoud en die beskerming van Afrikaans na. Ek assossieer in ‘n mate hiermee en is dus lankal reeds ‘n lid van hierdie kultuurpolitieke beweging en sy forums. Ek deel nie noodwendig dieselfde sieninge as PRAAG of PRAAG-lede met betrekking tot die belangrikheid van my taal nie en ook nie met die party-verhoudinge wat PRAAG noodgedwonge moet handhaaf met ander organisasies nie. Maar ek deel wel die enkele grootste ooreenstemmende doelwit van vryheid.
Soos wat die wêreld die afgelope paar jaar ‘n nuwe herlewing begin ervaar in die rigting van sogenaamde regse politiek, in lande soos Nederland, België en selfs Duitsland; is daar ‘n soortgelyke wakker-wording in die arena van ekonomiese beleid en teorie. Die doktrines en beleide van mense soos John Maynard Keynes, Thorstein Veblen en Alfred Marshall begin al hoe meer krake en gate toon in hulle absolute fondamente. Die neo-klassieke ekonomiese denke waarop ons welsynstate gebou is word daagliks as gefaald uitgewys. ‘n Wesenlike rigting-verandering na die amper verlore “Oostenrykse Skool” begin plaasvind. Die “Austrians”, soos Ludwig von Mises, Murray Rothbard, Henry Hazlitt en meer onlangs, Hans Hermann Hoppe se bekroonde werke begin al hoe meer van ‘n aanklank in vrye lande ervaar. Hulle teoriëe en doktrines bly steeds uitgesproke en onder druk, maar die verdedging daarvan op eie meriete is onbetwyfeld.
Die laissez-faire ekonomiese beginsels van die Oostenrykse skool bewys, onteenseglik, dat die teenwoordigheid van die staat negatief inwerk op die welvaart en uiteindelike vryheids-doelwitte van ‘n gemeenskap. Die staat is, en sal altyd oop wees vir onbevoeglike invloed, neig tot korrupsie en on-effektiwiteit. Die staat het die monopolie op mag in die land en kan deur middel van wetgewing, belasting en gewapende mag enige van ons vryhede “wettiglik” ontneem. As groep A se eindom onteien kan word om tot voordeel van groep B aangewend te word net omdat groep B vinniger aanteel as groep A, wat is die burokrasie anders as die stelers en die delers alles in een? As daar sulke arbitrêre bepalings gebruik word om mag te misbruik dan ontstaan daar mos aansporings om:
(i) Deel van hierdie besluitnemings groep (die staat ) te wil word sodat jy die een kan wees wat die onteiening kan doen. Verwys elke staats amptenaar wat al van nepotisme of bedrog aangekla is. Verwys ook Mugabe se oorlogs-veterane.
(ii) Hierdie groep te beïnvloed sodat hulle nie joue ontneem nie, maar net jou bure se eiendom. Sien die algemene rampokker in die land wat sy ANC konneksies verkoop en daaroor spog. Wat geld bydrae tot die verdediging en bevordering van politici sodat hulle die roede gespaar sal wees. Wat sy politieke vernuf (nie ekonomiese of industriële vernuf nie) gebruik om tenders te wen.
(iii) Of om jou eie groepie te stig wat eendag maar net dieselfde wil doen sodat jy van groep A kan ontneem om aan groep C te gee. Verwys COPE, DA end die MDC.
Het ons soveel van ons vryhede al verloor dat ons dit amper nie eers meer mis nie? Is die skille al vas gegroei aan ons oë?
Die staat kan tog nie die vryheid van sy burgers beloof of beskerm aan die een kant en dit ontneem aan die ander kant nie? Jou staat kan tog nie ‘n derde van jou salaris neem, die taal beleid van jou kind se skool voorskryf, jou grond onteien, die arbeidspraktyk van jou besigheid bepaal en dit alles doen onder die dekmantel van vryheid nie? Boonop is die ander kant van die “kontrak” ‘n kamstige lewering van dienste? Amper alle ekonomiese doktrines bewys dat sulke dienste beter, goedkoper en meer effektief deur die burgers in ‘n vrye mark gelewer sou kon word as wat die staat dit ooit kan doen.
Elke een van ons weet hoe werk jy met jou eie geld as jy vir jouself iets moet koop (‘n nuwe kar). Jy lê self-beheersing en oorweging aan die dag. Jy probeer die meeste vir jou begrote rand kry.
Ons weet ook hoe elke een van ons werk wanneer jy met iemand anders se geld vir jouself iets moet koop (jou baas se kredietkaart vir ‘n werksete). Jy is nog steeds besorgd oor die uitgawe want jy wil darem ‘n goeie diens / produk vir die geld kry. Daar is ‘n oorweging om ten minste ‘n goeie voordeel uit die transaksie te trek. Jy het waarskynlik geen probleem om die R100 van jou baas te spandeer nie, maar jy wil darem iets goeds en ordentliks koop daarvoor. Jy wil nie R100 spandeer op ‘n brood nie.
Derdens weet ons ook hoe jy met jou eie geld vir iemand anders iets koop (bv ‘n geskenk vir iemand anders). Jy is nie soseer bekommerd oor wat die produk of diens se kwaliteit is nie, jy wil net nie te veel van jou eie begrote rand spandeer nie. Jou besorgdheid lê inherent in die koste van die transaksie want dit is tog jou geld.
Die laaste groepie is die groep waarin jou regering, die ANC, jou staat, JZ en Malema val. Hulle spandeer iemand anders se geld op iemand anders. Dieselfde besorgdheid oor fondse bestaan nie. Dieselfde besorgdheid oor die kwaliteit van die diens bestaan nie. En dit is te verstane. Dit is die aard en natuur van die staat, alhoewel dit net erger en meer opvallend is in Afrika. Dit is onafwendbaar dat hierdie koei moet dood gemelk word. Dit kan nie anders nie.
Nêrens is die bewyse van die Oostenrykste skool so ooglopend soos in die Nuwe Suid-Afrika onder die ANC nie. Hulle ekonomiese teoriëe voorspel, verduidelik en bewys hoekom die staat ‘n groter vergryping van hulle burgers se eiendom sal moet doen. Dit sal en moét kummulatief net groter word a.g.v die monetêre en fiskale beleid van die ANC. Die fiskale en monetêre beleid van die DA sal waarskynlik tot op die letter met dié van die ANC saamstem, met dalkies ‘n groter klem op die kwaliteit van die diens. Groepe sal egter steeds gepaai moet word, gunsies bekom moet word en die welsynstaat gehandhaaf moet word. Alles met die belasting-betaler se rand.
Kan jy in Suid Afrika:
– Jou privaat eiendom en lewe met alle middele tot jou beskikking beskerm?
– Jou inkomste aanwend soos jyself goeddink?
– By jou afsterwe, jou inkomste oordra aan jou kinders sonder dat die staat ‘n deel van jou afneem?
– Diamante op jou eiendom ontgin en vir jouself hou?
– ‘n Selfoon network begin sonder goedkeuring van ‘n staatsamptenaar?
– ‘n Arbeidskontrak met die proliteriaat sluit op terme wat vir julle aanvaarbaar is?
– Sê wat jy wil en publiseer wat jy wil?
En ons dink ons het vryheid?
As ek by dr Roodt se aanhaling van MT Steyn mag leen, is die klomp hoenders heeltemal te deur die mis. Die blanke Afrikaner in Suid Afrika gaan verseker nie enige tyd homself uit sy verknorsing probeer loswikkel nie. Nie vir sy geloof, sy taal, sy gesin se veiligheid of enige iets anders nie. Hy sal dit net doen as sy lewensmiddele en inkomste finaal bedreig word. Die hoenders se mieliepitte moet eers opraak. Ons wil eers voel voor ons hoor.
