Menseregtekommissie op die aanval teen oorblywende blanke skole

Kort ná die histerie oor die Curro-skool Roodeplaat, beplan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie nou ‘n groot aanval op “rassistiese” skole. Dit gaan oor skole wat nog nie na ‘n swart meerderheid getransformeer het nie, en selfs skole wat wel oor ‘n swart meerderheid beskik, maar waar blanke onderwysers steeds standaarde probeer handhaaf. By sulke skole is daar klagtes dat die skool self “getransformeer” het, maar nie die onderwyserskorps nie.

Volgens die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, Isaac Mangena, “oorweeg die kommissie ‘n nasionale ondersoek na rassisme in openbare en privaat skole”. Blykbaar is die kommissie “bekommerd” oor klagtes wat hy ontvang het, vanuit Mpumalanga, die Vrystaat en die Wes-Kaap, veral waar onderwysers ter sprake is.

“Klagtes is vanuit Mpumalanga, die Wes-Kaap en die Vrystaat ontvang,” sê Mangena.

“Dit is onaanvaarbaar dat onderwyers, wat in die afwesigheid van ouers beheer oor die kinders neem, hulle op so ‘n manier gedra.”

Mangena is van mening dat die departement van basiese onderwys bewerings van rassisme behoort te ondersoek. ‘n Woordvoerder van die SA raad van opvoeders, Thembinkosi Ndhlovu, sê dat dit “hoog tyd is dat rassisme op skool volwaardig gekonfronteer word”.

Hy het ‘n beroep op leerlinge en ouers gedoen om rassistiese voorvalle aan die owerheid te rapporteer.

“Dié onderwysers bederf die reputasie van die beroep,” sê Ndhlovu.

Praag het reeds voorheen berig dat sowel die huidige LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, as die vorige, me. Barbara Creecy, dreig om Afrikaanse skole te verengels en te verswart.

Ons het ook die volgende vrae – in Afrikaans – aan mnr. Isaac Mangenya, woordvoerder van die SA menseregtekommissie gestuur en sal die antwoorde publiseer sodra ons dit van hom ontvang:

Geagte mnr. Isaac Mangena,

Ons publiseer ‘n daaglikse aanlynkoerant, praag.co.za en het die volgende vrae aangaande u onlangse verklarings rondom rassisme in skole:

  1. Beskou die SA menseregtekommissie skole waar daar ‘n meerderheid blanke kinders in klasse of op die speelgrond is, as per se rassisties?
  2. Hoe voel die SAMRK oor Afrikaanse skole? Is daar steeds plek vir Afrikaanse skole of moet alle skole nou Engels word om sogenaamd “toegang” te verseker?
  3. Is daar iets soos die reg op moedertaalonderrig of beskou die kommissie ras as ‘n maatstaf wat alle ander kwessies (moedertaal, gehalte, kultuur) troef?

As u so gou moontlik op dié vrae sal antwoord, sal ons bly wees.

Lees ook: Rasherrie by skool op Witbank: wit onderwyser noem swart ouer ‘bobbejaan’