Kader Asmal, destydse minister van onderwys het reeds in 2003 “'n nuwe era van godsdiensvryheid” in Suid-Afrikaanse skole aangekondig. Naledi Pandor het dit later “transformation in education” genoem. Kan dit wees dat ons ouers nie besef wat hier gebeur het of gesê is nie, of is daar dalk ‘n dieper, meer sinistêre antwoord vir die apatiese houding van ons Afrikanerouers teenoor die huidige vlak van opvoeding wat kinders in staatskole ontvang? Dit is miskien harde woorde, maar hoe anders interpreteer mens die feit dat Afrikaners hulle kinders bly terugstuur na hierdie stelsel toe? Dink hulle regtig dit gaan beter word en indien wel, wie gaan dit beter maak?
Op hierdie punt wil ek graag vir die (staats)skoolhoofde wat vir die ouers vertel dat hulle kinders nie deel is van hierdie gemors is nie, en selfs vir die ouers wat dieselfde beweer, graag iets sê: TWAK!
Julle lieg vir die ouers, en julle lieg vir julleself.
Daar is geen manier hoe ‘n staatskool buite die leerplanne van die staat mag of kan beweeg nie. Hoe “steur mens jou nie aan die onderwysdepartement nie”, maar skryf nog steeds die gestandardiseerde eksamens? Het julle ander handboeke as die res van die provinsie/land ?
Deel van die regering se “transformation in education” is die oordrag van ‘n “nuwe, verbeterde” waardestelsel. My vraag aan ouers: Is die waardesisteem van die regering dieselfde as dié van Afrikanerverbondsouers? Is die totale sinkretisties-georiënteerde leerplan bevorderlik vir dit wat veronderstel is om in ons huise gelëer te word? Kinders word blootgestel aan Judaïsme, Islam, Boeddhisme, voorvaderaanbidding, heksery, en en en (die lysie is nimmereindigend). Hierdie gelowe word soos ‘n kieslys aangebied vir die kinders, meestal met gelowe anders as die Christengeloof wat baie aanloklik voorgestel word.
Die gevolge van so ‘n stelsel kan duidelik gesien word: Godsdiensbeoefening word onbelangrik, ‘n eenwêreldgodsdiens, waar die God van die Bybel en Allah as dieselfde entiteit voorgestel word, kry al hoe meer aanhang. Is hierdie ‘n gesonde omgewing waarin Afrikanerkinders vir 6 ure per dag losgelaat behoort te word?
Wat van die aanslag op ons kinders se moraliteit? Kondome word uitgedeel aan laerskoolkinders, met onderrig daarin wat tot in die kleinste besonderhede geskied. “Glipsies” word vinnig reg gemaak met ‘n aborsie, wat die voorkoms van hierdie spesifieke mediese prosedure so algemeen soos asemhalng maak in baie skole. Mens kan ad infinitum aangaan oor die probleme wat so ‘n goedkeuring van ‘n losbandige houding vanaf die owerhede tot gevolg het, maar ek glo die vigs-, aborsie-, swangerskap- en verkragtingsyfers in skole spreek vanself.
Nou hoekom dan hierdie brief as Afrikanerouers, Afrikaneronderwysers, en die VF + reeds hierdie dinge weet? Is ek, die skrywer van hierdie brief, so verwaand dat ek dink ek kan iets aan hierdie groepe mense oordra?
Nee, meneer die redakteur, ek skryf hierdie brief omdat ek voor my siel weet dat, ten spyte van hierdie klaagliedere vanaf ouers, onderwysers en die VF+ , dieselfde mense maar net volgende jaar hulle kinders na dieselfde skole met dieselfde leerplanne en dieselfde opstellers van Afrikaanse vraestelle gaan stuur. Jesus Christus het ‘n spesiale boodskap gehad (soos vervat in Markus 9:42) vir mense wat kindertjies laat struikel.
Ek reken iemand wat ‘n meulsteenfabriek het, gaan binnekort goed geld maak.
