
Die swartman wat homself internasionaal as ‘n gebaretolk voorgedoen het by Nelson Mandela se begrafnis, is eintlik ‘n “gawe ou”, sê ‘n Israelse advertensiemaatskappy.
Thamsanqa Jantjie skitter nou in sy eie TV-advertensie waarin hy as ‘n grapjas uitgebeeld word. Jantjie het na die internasionale skandaal gesê hy is ‘n skisofrenie-lyer.
Die TV-advertensie vir ’n video-toepassing word in Israel bemark met die twaktolk as hoofpersoonlikheid.
In die advertensie skerts Jantjie oor die onsinnighede wat hy tydens die gedenkdiens van oudpres. Nelson Mandela by die ENB-stadion kwytgeraak het.
Grepe van sy onverstaanbare handgebare word ook gewys, met Jantjie wat sê hy is nou ’n glanspersoonlikheid wat bemarking doen vir geld.
Gedurende die Mandela-begrafnis het Jantjie sonder dat hy geweet het wat hy doen, sekere gebare gemaak wat dowes as “garnale” en “skommelperde” gelees het. Die res was leë handgebare.
Die twaktolk is na die voorval na ‘n psigiatriese inrigting verwys, maar die eienaar van die Israelse advertensiemaatskappy Sefi Shaked, het ‘n joernalis in Johannesburg gehuur wat homself voorgedoen het as ‘n familielid van Jantjie om hom uit Sterkfonteinhospitaal buite Johannesburg te kry.
Die skelmstreek het gewerk en die psigiatriese inrigting het Jantjie laat gaan. Hy het nog nie weer teruggekeer na die hospitaal as psigiatriese pasiënt nie.

