Onderstaande stuk is op 16 April 2010 in al die Naspersdagblaaie se By geplaas, maar het intussen spoorloos verdwyn en is ook nie in enige van hul argiewe te vinde nie! Dit onthul egter iets van die masochistiese voorskrifte wat hulle vir Afrikaners het, gewoonlik met ‘n Christelike sousie daarby: Raak lief vir diegene wat jou aanval. Draai die ander wang. Vergewe die plaasmoordenaars, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Ons herpubliseer dit hier as bewysstuk van die soort etnomasochistiese, Stockholm-sindroom-denke wat by Naspers vaardig is en waarmee hulle ons volk breinspoel. Ene Jan ver Maak, wat dit geskryf het, word as ‘n “vryskut-fotojoernalis” beskryf. Vermoedelik is hy egter ‘n redaksielid van ‘n Naspersdagblad wat onder ‘n skuilnaam sy mening lug.
Let wel, dat hy nie letterlik sy dankbaarheid oor die gruwelike moord op Eugene Terre’Blanche uitspreek nie. Maar hy sê darem die volgende: “Die Afrikaner behoort fees te vier dat ‘n simbool van daardie deel van sy geskiedenis wat die meeste Suid-Afrikaners en gans die mensdom verfoei het, uiteindelik tot rus gekom het.” Die afleiding dat ons eintlik ET se moordenaars moet “bedank”, is dus nie so vergesog nie…
Raak lief vir Malema
Afrikaans kan glo enige dag uitsterf, Eugène Terre’Blanche is vermoor en Julius Malema hou Robert Mugabe as ‘n held voor.
Dié nuusgebeure, die een smartliker as die ander, val my tuis ten oor ná ‘n onlangse besoek aan Zimbabwe.
Sedert apartheid se amptelike oorlye is die dood al soveel keer oor Afrikaans uitgespreek dat hierdie woorde wat ek tik en as Afrikaans op die rekenaarskerm voorkom, my skyn ‘n wonderwerk in die kleine te wees.
Of is ons al in die hel, die enigste plek in die kosmos waar ons geliefde moedertaal nog ‘n kans op oorlewing het?
Die afgelope nege maande het ek ongeveer die helfte van die tyd in Mosambiek, Namibië en Zimbabwe rondgereis.
Dáár is Afrikaans gelukkig nog nie aan’t stuiptrek nie. I
n die vertes van Mosambiek kom jy nog af op bordjies soos “Hout te koop”, in ‘n gehuggie in Ovamboland is daar ‘n Wag Biekkie Bar, in Hwange waar feitlik geen toeriste meer uitkom nie, vra ‘n beampte toe ons aangestap kom en hy hoor ons is Afrikaans: “Hoe gaan dit, meneer?”
Maar terug op eie bodem maak ons al reg vir begrafnis! Indien dan voorlopig nog nie Afrikaans s’n nie, minstens Terre’Blanche s’n.
‘n Stortvloed emosies word op elke denkbare plek op die web uitgestort. Die Afrikaner is kwáád, soos ‘n woedende leeu, erger as Andries Treurnicht se destydse tier.
Die vraag ontstaan watter doel hierdie uitinge van frustrasie, rassisme, haat en bitterheid het. Kan ‘n mens enigiets bereik deur so in die kuberruimte te kere te gaan?
Soms word meer as ‘n honderd gevoelens binne enkele ure afgelaai na aanleiding van ‘n berig of brief wat in ‘n koerant verskyn het.
Lengte, taalgebruik en spelling is nie ter sake nie, ook nie identiteit nie. Alle skrywers is adresloos, die meeste gebruik skuilname en hul kommentaar word ongeredigeer geplaas.
Bitter min van dié skrywes sal ooit die gepubliseerde weergawe van die koerant haal.
Die internet het duidelik ‘n uitlaatklep vir Afrikaner-ontsteltenis geword en skynbaar word alle menings toegelaat, hoe lasterlik of haatdraend dit ook al mag wees.
Soms wonder ek of Naspers se base ooit bewus is van hierdie golf van negatiwiteit wat ongestuit op hul kuberblaaie aangerol kom.
Die sogenaamde webredakteur het oornag in die hartjie van sake beland en speel ‘n verrassend magtige rol.
‘n Ernstiger vraag is: Hoekom het soveel Afrikaners die behoefte om gif te spoeg? Gaan dit werklik so sleg met hulle?
Terre’Blanche se familie het vanselfsprekend alle reg om gekrenk te voel oor sy dood, maar aan die ander kant slaan Max du Preez in verlede week se By (“Basta met dié helde”) die spyker op die kop wanneer hy Terre’Blanche onder meer as ‘n skobbejak, karikatuur en harlekyn beskryf.
Die Afrikaner behoort fees te vier dat ‘n simbool van daardie deel van sy geskiedenis wat die meeste Suid-Afrikaners en gans die mensdom verfoei het, uiteindelik tot rus gekom het.
Hoekom kan ons egter nie vorentoe beweeg nie? Hoekom moet ons die vrot verlede bly uitkots en boonop almal se aandag daarop vestig met die swaai van vlae wat in museums hoort?
‘n Kopskuif rakende die nuutste vergestalting van die swart gevaar – Malema – is ook moontlik. Is daar enige verskil tussen hom en die Nelson Mandela van vyftig jaar gelede?
As die internet toe bestaan het, sou nóg meer Afrikaners hul absolute hoon verkondig en vurig gepredik het dat hy en sy kommunistiese trawante in die tronk wegkwyn.
Net soos Terre’Blanche lief was om uit die Bybel aan te haal, asook die dominee op sy begrafnis én daarna Stofsuier Hofmeyr, kan ek dit ook doen: “Jy moet jou vyand liefhê soos jouself.”
Dít is natuurlik effe te veel gevra. Malema liefhê?
My vraag is: Waarom nie? Hy is bloot ‘n produk van omstandighede, iemand wat ly as gevolg van die wond in sy psige wat deur wit bevoorregting veroorsaak is.
Omhels hom, nooi hom om by jou te kom kuier, stort aalmoese uit na hom. Wat kan jy verloor? Wat kan jy wén?
Ook in verlede week se By (“Liefdesland”) kom Eben Venter tot die gevolgtrekking dat daar “doodgewoon geen bevredigende antwoord is” op die hedendaagse problematiek in Suid-Afrika nie. Regtig?
Hoeveel van ons het al werklik probeer om enigsins ‘n antwoord te vind?
Nie met woordspeletjies of die klap van jou vingers nie, maar met opoffering, met die deel van jou rykdom, met die deel van jou menswees. Geen openbare verhoog of erkenning is nodig om ‘n positiewe bydrae te lewer nie.
Wanneer laas, byvoorbeeld, indien ooit, was jy in jou huishulp se pondok? Wanneer laas het jy haar kinders se skool besoek, selfs hulp aangebied met die onderrig van Afrikaans?
‘n Gemeenskapsvergadering in die township bygewoon? Enkele woorde van ‘n swart taal aangeleer?
Een van die werkloses op die straathoek ‘n werkie aangebied, of net ‘n paar vrugte? Sy pyn, per slot van rekening, is groter as joune.
Nee, ná sestien jaar van demokrasie wil ons liefs kritiseer: swak dienslewering, die toestand van paaie, die ganse ANC, korrupsie, Eskom, FW de Klerk – hoe verder ons van 1990 af wegbeweeg, hoe groter word sy statuur as volksverraaier …
Ons “pet hate” bly egter geweld.
Kyk hoe word ons uitgemoor! Sóveel duisend boere, sóveel duisend vroue en kinders, net soos in die konsentrasiekampe van honderd jaar gelede (iemand hou tred van die getal net soos ‘n tellinghouer in ‘n eindelose krieketwedstryd).
Die verlede en die hede is vir ons ewe afskuwekkend, laat staan nog die toekoms.
Hoekom laat ons geheue ons in die steek dat ons heeltemal vrywillig bly in Afrika, die swart vasteland? Wanneer het ons dan vergeet dis nie ‘n plek, soos hulle sê, vir sissies nie?
Of die jagter nou ‘n roofdier in die donker bos is, of ‘n moordenaar in jou huis, jy gaan die aanval net oorleef mits jy immer waaksaam is. Wat is so erg daaraan? Bitter min het sedert 1652 verander.
G’n wonder nie die skedel van ons verre voorsaat, Australopithecus sediba, word op ons drumpel uitgegrawe en wêreldwyd op TV-skerms vertoon net toe Terre’Blanche se verminkte skedel laat sak word.
Hoe lank nog? Oorlogspraatjies, wraakgedagtes en ‘n obsessiewe fokus op die slegte is ‘n kortpad.
Soos om ‘n kind ‘n oorveeg te gee. Die langer pad, weg van die doodloopstraat, bly immer een van geduld, beswering van diepgewortelde vrees en die uithou van ‘n hand van vriendskap.
Julius Nyerere, ‘n diktator in eie reg, het gesê die een sonde waaraan ‘n Afrikaan hom nie skuldig durf maak nie, is wanhoop.
Jan ver Maak is ‘n vryskut-fotojoernalis.
