Die Afrikaner sit vasgevang in ʼn lewenswyse wat selfvernietigend is, Niemand was so erg betrokke by die Afrikaner se politieke ondergang as die Afrikaner self nie. Die Republiek is vrywillig aan ander volke oorhandig tussen 1961 en 1994 deur ons eie arbeidspraktyke waar ons werk skep vir ander volke en ons ekonomiese afhanklikheid van ander vergroot het. Kodesa en uiteindelike magsoorgawe was slegs die politieke afsluiting van die voorafgaande proses.
Gedurende die sewentiger- en tagtigerjare het die demografiese werklikheid so verswak dat baie Afrikaners hulle nie meer met die stelsel van apartheid kon versoen nie en drie belangrike breukgroepe kon geïdentifiseer word:
Liberaliste – het die stelsel as verdrukkend gesien, kon nie ʼn rewolusionêre sprong maak na ʼn genormaliseerde bestaan nie en het beroep op die beëindiging van die stelsel sonder die daarstel van enige alternatief.
Konserwatiewes – het gepleit dat na die oorspronklike apartheidsteorie teruggekeer word afgesien van die feit dat die oorspronklike plan oorambisieus en slegs gedeeltelik in die praktyk toegepas kon word.
Ver-regses – Hulle het geagiteer dat die Boererepublieke herstel moes word o.g.v. historiese regte deur politieke afdwinging ongeag die feit dat weinig Afrikaners se lewenswyses hom daartoe leen en dat geen gebied bestaan het waar ons ʼn etniese meerderheid was nie.
Daar was individue en regse organisasies wat opgemerk het dat die bestaande orde op ʼn bestaanskrisis gaan uitloop en geskree het: “Wolf!”. Die Afrikaner was egter polities en militêr in beheer van die hele land en kon afsonderlike skole, universiteite en so te sê enigiets afdwing en het dan ook. Daar is so baie “Wolf!” geskree, dat een man gedink het hy is ʼn wolf (wit) en ʼn paar oningeligte individue wou aansluit denkende dat dit ʼn kultuurorganisasie was. Dit is ietwat tong in die kies gestel, maar regse politiek is in die tyd gekenmerk deur ondeurdagte militante optrede maar geen rewolusionêre verandering in die lewenswyse wat die toestand van politieke agteruitgang teweeggebring het nie.
Na 1994 het dieselfde lewenswyse onverpoos voortgegaan en kan ek met gemak argumenteer dat Eugene Terreblanche en Max du Preez dieselfde lewenswyse voer. Die een is bly ons sterf uit, die ander een woedend. Gedragsverskil – geen. Regses en liberaliste verskil slegs in hul ervaring van die NSA, nie in hul optrede nie. Die skrywer Arthur Kemp alhoewel kontroversieel het in ʼn treffende onderhoud die selfvernietigende gevolge van apartheid en die onhoudbaarheid van selfs die huidige bestel op onbetwisbare wyse uitgewys:
“Apartheid had to fall: the only question was when, not if. And the politicians who sold it to White South Africans as their only hope and salvation, lied: either deliberately, or out of ignorance of the reality of the relationship between demographics and power.”
“The only way in which Afrikaners can be saved, is if they come to understand the relationship between demographics and power: with no risk of over repeating this critical point, namely, that those who occupy a territory, determine the nature of that territory.”
Dis 14 jaar na die einde van apartheid, met dieselfde selfvernietiging maar ons het nou die bykomende aftakeling van ʼn land wat in kriminele anargie gedompel is sowel as ʼn antagonistiese regering, Ons is magteloos tot op die punt waar selfs ʼn afsonderlike koshuis onmoontlik is. Het ons gedink dat ons buurte vandag gaan lyk soos 14 jaar terug? Kan enigeen moontlik dink dat dit oor nog 14 jaar sal lyk soos nou? Die patroon is vasgelê: emigrasie op ʼn egalige pas met sporadiese opvlamming tydens onsekere tye. Niemand weet eens hoeveel gaan en hoeveel bly nie, baie Afrikaners weier om sensusvorms in te vul, baie gaan met vakansie en kom net nooit terug nie. Die dier kruip nader, in die verte kan ons die gegrom al hoor maar niemand wil eerste skree “wolf!” skree nie.
Die eerste optrede van Afrikaners wat as kultureel rewolusionêr beskryf kan word, is die stigting van Orania en alhoewel dit as konserwatief en as ver-regs beskou word, is hierdie optrede geensins in lyn met behoudende regse optrede nie, maar eerder links omdat dit skeppend en rewolusionêr 'n gedragsverandering vereis. Selfs met die sterk etniese sy daarvan sou Wladimir Lenin ten aanskoue van ʼn gemeenskap wat saamwerk op alle vlakke ter verbetering, opheffing, groei en geluk van al sy burgers dit as perfekte vrywillige kommunisme kon beskryf. In ʼn Amerikaanse onderhoud met die Chinese president is hy gevra oor die benaming kommunistiese party gegewe die sterk vryemarkstelsel daar, was Lenin se antwoord: “As dit werk, noem ons dit sosialisme”.
Orania behoort dan ook binne sekere perke, tydsgewys verder langs die sosialistiese pad af te beweeg wat toonaangewend gaan wees vir latere Afrikanernedersettings en daarmee impliseer ek direk dat gegewe die huidige demografie en gebruike geen ander bestaan moontlik is nie. Sosialisme is wêreldwyd aangegryp deur verskillende etniese groepe tot voordeel van slegs hul groep. Elkeen het sy eiesoortige styl en vryemark vermenging daarvan geskep; Afrikanersosialisme se aard sal deur onsself bepaal word i.t.v ons eie behoeftes.
Wil ons werklik wag op ʼn krisis, ʼn katastrofiese gebeurtenis van een of ander aard wat ons van materiële bates vervreem en ons verarm en vernietig sal toelaat om saam te span en ons lewens rewolusionêr te verander? Waarom nie saamspan tot rewolusionêre aksie terwyl ons oor daardie bates, kennis en vermoë beskik nie? Of gaan ons aanhou in die verlekkering van alles wat negatief is? Want as ons uit hierdie passiewe náskok van magsverlies wakkerskrik gaan dit alles behalwe lekker wees!
Carel Boshoff som dit in Afrikanerrewolusie die beste op: “Ook met die ontvlugting in materialistiese individualisme kan die Afrikaner nie vrede kry nie omdat hy ook nie sy gemeenskapsbande heeltemal kon aflê nie. ʼn Nuwe geslag moet opstaan, nie om voortgang te vind met ʼn ou, onherstelbare verlede nie, maar om uitdrukking te gee aan die ideale wat geslag aan geslag verbind en nog nooit heeltemal verlore gegaan het nie.”

Daar was al profesieë en krisisvrese onder baie volke. Maar die Afrikanervolk reageer met afgryse sowel as afwagting op syne. Daar is Oehoeroe, die nag van die lang messe, asook vrese vir die oliekrisis, die voedselkrisis en ʼn rits ander. Hoewel enigeen van dié krisissse sekerlik ʼn moontlikheid het om op groot skaal skeef te loop, verlekker sommige Afrikaners hul in die verslegtende toestand wat ons tegemoet gaan.