Hoewel die DA bekendstaan as "die grootste Afrikanerparty", met ongeveer 'n miljoen Afrikaners wat daarvoor stem, bestaan die vermoede steeds dat die ou liberale Prog-groepering, met Helen Zille as hul leier, die partyleierskap in 'n ystergreep het. Daarom verkies die party om Engelssprekende Johannesburgers op sy Gautengse kandidatelys te plaas, eerder as Afrikaanssprekende Pretorianers.
Hoewel die DA met behulp van die Kleurlingstem in die Weskaap beheer oor Kaapstad geniet en 'n kans staan om die provinsie in te palm, verteenwoordig die Gautengprovinsie steeds die ekonomiese en politieke swaartepunt van die land. Daar woon ook meer Afrikaners in Gauteng, in Pretoria en aan die Oos- en Wesrand, as in enige ander deel van die land of selfs ter wêreld, as mens die diaspora-Afrikaners in ag neem.
Soos ons op hierdie blad al male sonder tal geargumenteer het, verteenwoordig die PWV-gebied die hinterland van die Afrikaner. Dis hier waar ons 'n Eerste, Tweede en 'n Derde Republiek opgerig het en in die verlede vir ons vryheid gestry en gesterf het.
Die gedagte dat die liberale en toenemend linkse DA van Afrikanerstemvee in ons hinterland gebruik maak ten einde die agtergehaalde Prog-tradisie in die SA politiek te laat voortleef, laat voorwaar 'n wrang smaak in die mond.
Dan is dit ook so dat 'n groot groep Afrikanerpolitici in die DA hulself soos Sappe uit die jare twintig en dertig gedra, toe G.D. Scholtz gepraat het van "mense met Afrikaanse vanne maar wat hulself nie as Afrikaners beskou nie en eerder sal sterf as om Afrikaans in die parlement te praat".
Die DA skuld die publiek een of ander verduideliking oor die oorverteenwoordiging van die liberale Prog-element vanuit die noorde van Johannesburg en die agter-Tafelbergse dele van Kaapstad in die party en die oënskynlike miskenning van die party se groot aantal Afrikanerkiesers wie se sienings en kultuur nie in die party weerspieël word nie.
