Die 33-jarige Claudi van der Merwe is dood in ‘n waterpyp naby ‘n plaas in Breyten gevind, het die polisie van Mpumalanga vandag laat weet.
‘n Plaaswerker het Saterdagoggend iets gesien in ‘n pyp wat na ‘n mens se arms lyk en het sy werkgewer in kennis gestel, wat toe die polisie ontbied het, het kolonel Leonard Hlathi gesê.
Die polisie het Claudi se halfkaal liggaam, met haar keel afgesny, gevind. Volgens die polisie is twee swart vuilgoedsakke naby haar lyk gebruik om haar daarheen te dra.
Hlathi het verder vermeld dat haar motor, ‘n Kia Picanto, drie kilometers weg gevind is.
Van der Merwe is Vrydag laas by die gastehuis in Hendrina waar sy werk, gesien.
Niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie. – Sapa
