Biobrandstofbedryf wag in spanning

Die regering gaan moet klarigheid gee oor pryse en subsidies vir die biobrandstofbedryf, indien hy die 1 Oktober 2015 sperdatum vir die implementering van sekere wetgewing rakende die bedryf wil haal, het OFM berig.

Die uitvoerende hoof van Graan SA, Jannie de Villiers, het vanoggend in Bloemfontein gesê dié wetgewing behels onder meer, dat oliemaatskappye teen Oktober moet begin om klein persentasies biobrandstof in te meng by gewone brandstof.

Hy sê die graanbedryf het reeds begin voorberei.

De Villiers sê almal, insluitend beleggers wat beoog om biobrandstof-aanlegte te bou, wag op die minister van energie om ‘n aankondiging te maak.

“Ek kan nie sien dat ons die datum van Oktober 2015 gaan haal nie, selfs al sou die staat dit nou aankondig – die aanlegte neem ‘n jaar of twee om gebou te word omdat dit baie kompleks is.”

Hy sê ten spyte van die onsekerhede is die graanbedryf steeds baie optimisties. “Die biobrandstofbedryf kan nuwe werksgeleenthede skep en kan veroorsaak dat die land groener raak.”

Ernstige brandstofuitdagings vir SA

Ernstige uitdagings staar Suid-Afrika se brandstofverskaffing in die gesig.

Die land voer tans 3% van sy petrolbehoeftes en 5% van sy distillate, wat diesel en vliegtuigbrandstof insluit, in. Teen 2016 kan die invoere tot onderskeidelik 14% en 34% toeneem. Dit beteken 'n yslike 7 miljard liter distillate en 2 miljard liter petrol per jaar in totaal.

Dr. Faizel Mulla, hoofstrateeg by die staatsoliemaatskappy PetroSA, het by Africa Energy Week gesê om brandstof aan die binnelandse mark teen 2016 te lewer, sal 10 tenkvragmotors elke uur, sewe dae per week, vanuit Durban na Gauteng moet vertrek.

Die Coega-raffinadery se bykomende produksievermoë sal reeds teen 2021 ten volle verbruik word en gaan invoere beslis styg.

Mulla sê sonder investering in verdere raffineringsvermoë sal invoere selfs dramaties styg, en die land se betalingsbalans benadeel.

Ingevolge die staat se energiemeesterplan moet PetroSA vir 30% van Suid-Afrika se ruolie-invoer via die Coega-raffinadery instaan.

Brandstofmaatskappye sal gevra word om 30 dae se ruolievoorraad asook 30 dae se voltooide brandstofvoorraad aan te hou, terwyl 30% van brandstofbehoeftes van plaaslike bronne soos aardgas, steenkool en biobrandstof afkomstig sal moet wees.

 
 

play gladiatorОлександр Васильович Фільчаков