Britse koninklikes verneem van Mandela se dood tydens filmpremiere in Londen

'n Plakkaat wat die film oor Mandela se lewe adverteer, met die akteur Idris Elba
‘n Plakkaat wat die film oor Mandela se lewe adverteer, met die akteur Idris Elba

Mandela se dood is tydens ‘n glansgeleentheid – die premiere van die rolprent Long walk to freedom – in Londen wat deur die Britse prins William en sy vrou Kate bygewoon is, aangekondig. Volgens berigte wat algemeen in die media verskyn, sou Mandela gisteraand om 20:50 Suid-Afrikaanse tyd gesterf het.

Die gehoor by die premiere het van Mandela se dood verneem terwyl die finale titels van die film by die skerm afrol. Mandela se dogters, wat ook die vertoning in die Britse hoofstad bygewoon het, het blykbaar vooraf van sy dood verneem, maar het ingestem dat die vertoning van die film moet voortgaan alvorens die gehoor daarvan in kennis gestel word.

Die vervaardiger van die film, Anant Singh, was insgelyks in Londen teenwoordig en het agterna vir ‘n oomblik se stilte gevra.

Prins William het gereageer deur te sê: “Dis uiters treurige en tragiese nuus.”

Net voor die vertoning het Zindzi Mandela, die groot man se dogter, nog oor die rooi tapyt geloop en op ‘n vraag oor haar vader se welstand aan ‘n verslaggewer gesê: “Dit gaan goed met my pa.”

Mandela het vanjaar 95 geword.

Die Noord-Amerikaanse regte vir die film is deur die Weinstein-broers se The Weinstein Company (TWC) gekoop. Benewens Long walk to freedom, het die Weinstein-broers en die vervaardiger Anant Singh op Sarafina, Cry, the beloved country en ander films saamgewerk.

Harvey Weinstein en sy vrou, Georgina Chapman
Harvey Weinstein en sy vrou, Georgina Chapman, wat 25 jaar jonger as hy is

“Ek voel hartstogtelik oor Mandela: Long walk to freedom,” het die medevoorsitterr van TWC, Harvey Weinstein, vroeër gesê. “Anant Singh het meesterlike werk verrig deur dié epiese verhaal van ons tyd te vervaardig. Deur Anant en Bob de Niro, het ek Nelson Mandela ontmoet, wat een van die grootste ervarings van my lewe was.”

Die transaksie rondom die film is in Londen deur die prokureurrsfirrma David Glasser en Michal Steinberg namensThe Weinstein Company onderhandel terwyl Alan Grodin van Weintraub Tobin-prokureurs namens Singh onderhandel het. Pathe versprei die film in Brittanje en Frankryk en sal ook internasionale verkope hanteer.