Twee vroue voltooi Amerikaanse spesmagkursus

Twee vroue het “militêre geskiedenis” gemaak toe hulle die eerste vroulike soldate geword het wat die Amerikaanse weermag se moordende Ranger-kursus voltooi het, het die weermag gesê.

Ongeveer 12 persent van die Amerikaanse mag wat in Irak en Afganistan ontplooi is, was vroue, en hulle verteenwoordig tans sowat twee persent van die Amerikaanse weermag se sterfgevalle in dié oorloë.

Luidens ’n verklaring het dié twee saam met 94 mans dié 62 dae lange leierskapskursus geslaag wat studente leer “hoe om uitputting, honger en spanning te oorkom en om soldate in klein eenhede gedurende gevegsoperasies te lei”, het Reuters berig.

Die eerste Ranger-skool wat vroue ook insluit, het in April met 19 vroulike en 381 manlike studente begin. Die kursus wat by Fort Benning, Georgia, aangebied word, sluit opleiding in woude, bergagtige terrein en Florida se vleilande in.

Die Rangers is vinnig ontplooi­bare troepe wat opgelei is vir berg-, woestyn- en vleiterreine en hulle word dikwels in spesiale operasies gebruik.

“Hoogtepunte van die kursus sluit in ’n fiksheidstoets, ’n swemtoets, ’n omgewingnavigasietoets; ’n 20 km-staptog in drie uur, verskeie hindernisbane, vier dae van militêre bergklim, drie valskermspronge, vier lugaanvalle op helikopters, verskeie rubberboot-operasies en 27 dae van skyngeveg-patrollies,” lui ’n verklaring.

’n Uitpasseringsplegtigheid sal môre by Fort Benning gehou word.

Die Amerikaanse weermag het twee jaar gelede met ’n proses begin om ’n duisend leiersposte in gevegseenhede vir vroue beskikbaar te stel. Die dienstakke ontwikkel ook geslagsneutrale vereistes vir weermagposte.

Die weermag het baie teenkanting ervaar nadat vroue toegelaat is om in gevegseenhede te dien. Omdat ondervinding belangrik is vir bevordering, was dit tot dusver vir vroue moeiliker om vooruitgang te maak en topposte te kry in vergelyking met mans, het beamptes gesê.

Noord-Korea maak gereed vir missieltoetse

Noord-Korea maak glo gereed vir medium afstand missieltoetse om sy afkeur uit te spreek oor die gesamentlike militêre oefeninge van Amerika en Suid-Korea wat vandeesweek begin het.

Mobiele lanseerders vir Rodong-missiele is by ‘n Noord-Koreaanse missielbasis noord van Pyongyang ontplooi, het Suid-Korea se Yonhap-nuusagentskap volgens militêre bronne gesê.

Volgens AFP het Noord-Korea het in Maart 2014 soortgelyke lanseerders gebruik om twee Rondong-missiele af te vuur wat sowat 1 000 km tot 1 500 km ver trek.

Suid-Korea se ministerie van verdediging het nie die Yonhap-berigte bevestig nie, maar gesê dit monitor die situasie.

“Ons troepe hou Noord-Korea vir bykomende missiellansering dop,” het die ministerie se woordvoerder Kim Min-Seok aan verslaggewers gesê.

“Ons het ons observasie in samewerking met Amerika verskerp en ‘n krisisbestuurstelsel ingestel,” het hy gesê.

Noord-Korea het Maandag twee kortafstand Scud-missiele in die see by die suidkus afgevuur toe Suid-Korea ‘n reeks gesamentlike militêre oefeninge begin het.

Die jaarlikse oefeninge veroorsaak altyd militêre spanning tussen dié twee lande. Resolusies van die Verenigde Nasies het alle ballistiese missieltoetse deur Noord-Korea verban.

Die grootste van die twee militêre gesamentlike oefeninge van Suid-Korea en Amerika, Foal Eagle, het Maandag begin.

Die militêre oefeninge sal agt weke lank duur en sluit die opleiding van sowat 200 000 Koreaanse en 3 700 Amerikaanse troepe in die lug, see en op die grond in.

Amerikaanse weermag in Afrika ontplooi teen ebola

Die Amerikaanse weermag gaan toetree tot die stryd teen die ebola-epidemie in Afrika. President Barack Obama het dié aankondiging gemaak in ‘n onderhoud Sondag, maar hy het gewaarsku dit sal maande wees voordat die epidemie verlangsaam. Hy het op NBC se Meet the Press verskyn.

Obama het gesê dat, in sy huidige vorm, sal ebola nie die Verenigde State bereik nie, maar het gewaarsku dat die virus kan muteer en ‘n veel groter bedreiging vir diegene wat buite Afrika woon, inhou. Die president het aangevoer dat die dodelike aard van die siekte vererger word as gevolg van die gebrekkige openbare gesondheidsinfrastruktuur in Afrika.

Hy sê die Amerikaanse weermag sal betrokke raak by take soos die oprigting van afsonderingseenhede, die installering van toerusting en beskerming verskaf aan gesondheidswerkers wat met die siekte te doen het.

Die dodetal in veral lande soos Liberië, Sierra Leone en Guinee het reeds meer as 2000 lewens geëis. Meer as 30 sterftes het ook in die noorde van die Demokratiese Republiek van die Kongo voorgekom.

“Jy weet, soms sê die Amerikaanse publiek: ‘Hoekom geld mors op hulle?'” het hy gesê.

“Wel, deels, want as ons nou die korttermyn-belegging maak, kan dit werklik baie van dividende in die toekoms betaal.” Obama het gewaarsku dat dit in ‘n nasionale veiligheidsaangeleentheid kan ontaard indien die VSA nie optree nie.

Obama het nie besonderhede gegee oor die Amerikaanse weermag se toetrede nie, maar hy het bygevoeg: “As ons nie nou ‘n poging insit nie, en dit versprei nie net regdeur Afrika nie, maar na ander dele van die wêreld, is daar die vooruitsig dat die virus kan muteer. Dit raak makliker oordraagbaar. En dan kan dit ‘n ernstige gevaar vir die Verenigde State van Amerika inhou.