Twee vroue voltooi Amerikaanse spesmagkursus

Twee vroue het “militêre geskiedenis” gemaak toe hulle die eerste vroulike soldate geword het wat die Amerikaanse weermag se moordende Ranger-kursus voltooi het, het die weermag gesê.

Ongeveer 12 persent van die Amerikaanse mag wat in Irak en Afganistan ontplooi is, was vroue, en hulle verteenwoordig tans sowat twee persent van die Amerikaanse weermag se sterfgevalle in dié oorloë.

Luidens ’n verklaring het dié twee saam met 94 mans dié 62 dae lange leierskapskursus geslaag wat studente leer “hoe om uitputting, honger en spanning te oorkom en om soldate in klein eenhede gedurende gevegsoperasies te lei”, het Reuters berig.

Die eerste Ranger-skool wat vroue ook insluit, het in April met 19 vroulike en 381 manlike studente begin. Die kursus wat by Fort Benning, Georgia, aangebied word, sluit opleiding in woude, bergagtige terrein en Florida se vleilande in.

Die Rangers is vinnig ontplooi­bare troepe wat opgelei is vir berg-, woestyn- en vleiterreine en hulle word dikwels in spesiale operasies gebruik.

“Hoogtepunte van die kursus sluit in ’n fiksheidstoets, ’n swemtoets, ’n omgewingnavigasietoets; ’n 20 km-staptog in drie uur, verskeie hindernisbane, vier dae van militêre bergklim, drie valskermspronge, vier lugaanvalle op helikopters, verskeie rubberboot-operasies en 27 dae van skyngeveg-patrollies,” lui ’n verklaring.

’n Uitpasseringsplegtigheid sal môre by Fort Benning gehou word.

Die Amerikaanse weermag het twee jaar gelede met ’n proses begin om ’n duisend leiersposte in gevegseenhede vir vroue beskikbaar te stel. Die dienstakke ontwikkel ook geslagsneutrale vereistes vir weermagposte.

Die weermag het baie teenkanting ervaar nadat vroue toegelaat is om in gevegseenhede te dien. Omdat ondervinding belangrik is vir bevordering, was dit tot dusver vir vroue moeiliker om vooruitgang te maak en topposte te kry in vergelyking met mans, het beamptes gesê.