Só lyk dienste in Suid-Afrika in 2010 – Die Jaar van die Groot Sokker.
Ek is ‘n inwoner van Ritchie. ‘n Stil, rustige plekkie met vriendelike mense.
Maar ai tog! Die dienste!
In die straat waar ek woon, is daar vier lekplekke in die hoofwaterpyp. Twee plekke bevat groot lekke, en somtyds stroom die water in ‘n klein riviertjie af na die rivier se kant toe. Dae lank, soms weke aaneen. En dan, eendag, ry jy verby die riviertjie en sien ‘n klompie mans by ‘n ou, verwaarloosde bakkie besig om met pik en graaf en draad die lekplek te probeer regmaak. Dit is eintlik pynlik om daarna te kyk, want jy weet op dié manier gaan die lek nie ophou lek nie. ‘n Paar dae later merk jy dat jou voorspelling reg was. Die water stroom weer. En so maak die vier lekke beurte om te lek en die mans in die verwaarloosde bakkie stry ‘n verlore stryd.
Jy in jou eie onkunde – maar met toepassing van logika – besef dat daar eintlik net twee maniere is om die probleem op te los. Dit is duidelik dat die pyp vrot is en vervang moet word. Heeltemal. Grou oop en sit ‘n nuwe pyp in. As dit dan te duur is, moet die hele vrot gedeelte van die pyp uitgesny word en vervang word met ‘n nuwe gedeelte. Dit verg ‘n groumasjien en behoorlike gereedskap. Nie ‘n klompie mans wat met pik en graaf en draad sukkel nie.
En dan gebeur dit. Jy sit sonder water. Hulle kom sukkel weer met die pyp en jy het darem weer water, maar die stroompie is maar skraal en bly skraal.
Donderdae is dit die Groot Gebeurtenis. Jou beurt om jou sakkie vullis in die lorrie te sien verdwyn. ‘n Lorrie wat jy waar kry? Want hy staan stukkend. Vandag het vier Donderdae verby gegaan sonder dat my sakkie in die lorrie se ingewande verdwyn het. Want die lorrie hy “ês stêkkênd”. Intussen baljaar die buurt se honde in my vullis, en as ek nie maar weer my sakkie vullis op ‘n veilige plek bêre nie, lyk dit kort voor lank voor my erf soos dit lyk by die amptelike vullisgate van Kimberley. En dit is nie ‘n mooi gesig nie.
En dan die krag. Om een of ander rede suig die straat waar ek bly aan ‘n droërige speen van elektriese toevoer. Elke kort-kort ondervind ‘n groot gedeelte van die huise ‘n “voltverlaging”. Dit beteken daar is ‘n kraggie, maar dis maar effentjies. Die ligte het ‘n kerslig-effek, en moenie eers probeer om aan ‘n skakelaar te raak wat verbind is aan ‘n neonlig nie. Jy mors jou tyd. Jy rapporteer dit aan Eskom, en so twee dae later kan jy darem weer koffie drink.
Wat ‘n gesukkel. En dan kry jy gereeld soos klokslag jou rekening. Die bewering is jy het R4000.00 se water gebruik vir die maand. Onmoontlik. Jy gaan besoek die kantore, kom af op ‘n klompie vrouens wat by ‘n lessenaar sit, lê en hang en jou aankyk of jy iets is wat die hond ingedra het omdat jy durf steur aan die sosiale byeenkoms. As jy uiteindelik een van hulle se onwillige aandag getrek het, word jy meegedeel die persoon wat die valse bewerings gemaak het “is nie nou hier nie – kom later”. Dan word jy met rente gestraf omdat jy weier om R4000.00 te betaal vir ‘n armsalige stroompie water waarmee jy nie eers jou tuin kan natlei nie.
Vra ek julle met trane in my oë: Moet ‘n mens maar sug en net sê: “Afrika”? Of is daar êrens ‘n oplossing?
