SA, Zimbabwe vaar teen media uit

Image

Joyce Mujuru

Terwyl ’n geheime vergadering tussen die ANC-bewind se adjunk-president, Phumzile Mlambo-Ngcuka, en haar Zimbabwiese eweknie, Joyce Mujuru, in ’n Johannesburgse hotel plaasgevind het, het beide regerings steeds uitgevaar teen mediadekking van die krisis in Zimbabwe en magte van buite wat “regime-verandering” in die land probeer bewerkstellig.

Die besoek van Joyce Mujuru het tot spekulasie aanleiding gegee dat sy die ANC-bewind mag vra om haar te help om Mugabe uit te werk. Sy en haar man, genl. Solomon Mujuru, word as twee van die magtigste mense in Zimbabwe beskou, maar het blykbaar in onguns by Mugabe verval weens hul ambisie om hom te onttroon.  Mujuru het sy vrou na Suid-Afrika vergesel en albei gaan volgens berigte in die luukse Westcliff-hotel in Johannesburg tuis.

Tot dusver het die ANC-bewind vyandig teenoor Zimbabwiese opposisiegroepe gestaan en dis bekend dat die party sou wou sien dat ZANU-PF, ’n “susterbevrydingsbeweging” soos die party al na laasgenoemde verwys het, die land aanhou regeer. Die moontlikheid bestaan dus dat die ANC ’n paleisrevolusie van binne ZANU-PF teen Mugabe sou kon steun.

Sowel die ANC-onder-minister van buitelandse sake, Azziz Pahad, as die Zimbabwiese inligtingsministerie het teen buitelandse joernaliste uitgevaar. Die Zimbabwiese inligtingsministerie het joernaliste, waaronder twee Britse korrespondente, gewaarsku dat die “regering dalk gedwing mag word om teen hulle op te tree” en het die Amerikaanse uitsaaier CNN daarvan beskuldig dat hy sy regering se beleid van “bewindsverandering” in Harare ondersteun.

Pahad van die ANC het gister op sy beurt gesê dat daar “’n mate van geloofwaardigheid” aan bewerings kleef dat “magte van buite” poog om ’n bewindsverandering in Harare te bewerkstellig en hy het die Suid-Afrikaanse media van vooroordeel in hul beriggewing oor Harare beskuldig.

Volgens hom is die Suid-Afrikaanse media “te sensasionalisties” in hul verslaggewing oor Zimbabwe en wy hulle “massiewe dekking aan die sienswyses van Westerse regerings.

Pahad het gesê dat die huidige krisis in Zimbabwe vermy kon gewees het indien Europa, die Verenigde State en Suid-Afrika ’n gemeenskaplike benadering tot die land se probleme gevolg het.

“Die deure sou nie toe gewees het nie” en dialoog met die regering van president Robert Mugabe sou voortgegaan het, het Pahad aan verslaggewers in Pretoria verklaar.

In antwoord op kritiek tuis en oorsee omdat die ANC-bewind in gebreke gebly het om Mugabe se onderdrukking van politieke opposisie regstreeks te kritiseer, het hy gesê: “Dis nie ons voorneme om militante uitlatings te maak om onsself goed te laat voel en om regerings buite die kontinent tevrede te stel nie. Slegs dialoog tussen die verskillende politieke partye in Zimbabwe kan die huidige dooiepunt oplos.”

Pahad het ook die Australiese regering gekritiseer wat ’n beroep gedoen het dat Suid-Afrika se ANC-bewind meer moet doen om die krisis op te los. “Dit is sinneloos vir die Australiese premier om ons te vra om ‘meer te doen’ sonder om te sê wat presies hulle wil hê Suid-Afrika moet doen. Daar is heeltyd vir ons gesê ons sing van dieselfde bladmusiek af, maar dit lyk nou asof ons in verskillende orkeste speel.”

’n Zimbabwiese opposisiefiguur het ook ’n beroep op Westerse moondhede gedoen om hulself van inmenging in die land se politieke krisis te weerhou.

“Die enigstes met die nodige morele gesag om oor Zimbabwe te praat, is Afrikane, het die faksieleier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), Arthur Mutambara Vrydag in Johannesburg gesê.

“Ons waardeer die ondersteuning van Westerse moondhede, maar die dubbele standaarde van die Weste ondermyn ons stryd,” het hy aan tydens ’n seminaar oor Zimbabwe wat deur die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakverbonde (COSATU) georganiseer is, gesê.

Mutambara, wat leier is van ’n faksie binne die MDC wat gekant was teen die party se besluit om aan die senaatsverkiesings van 2005 deel te neem, het ook gesê dat eenheid in opposisiegeledere ’n sleutelelement in die “bevryding” van Zimbabwe van Mugabe se heerskappy is.

“Dis ’n groot tragedie dat ons steeds twee faksies binne die MDC het. Een van die basiese lesse is dat ons nêrens sonder eenheid gaan kom nie,” het hy gesê.

светильники потолочные светодиодныеАлександр Фильчаков Васильевич

Helen Zille bou monument vir PAC-stryders

Image

Zille se linkse gade, Johann Maree en seun

Mev. Helen Zille, burgmeesteres van Kaapstad, gaan ’n gedenkteken vir die helde van ’n betoging teen die paswette in 1960 laat oprig. R500 000 gaan bestee word aan ’n monument aan die betogers van die Pan Africanist Congress (PAC) wat in Kwa-Langa deur polisie doodgeskiet is, soortgelyk aan die Sharpeville-insident.

Die opmars deur 30 000 Xhosas van die PAC onder leiding van Philip Kgosana op 30 Maart 1960 het reeds legendariese afmetings in linkse kringe aangeneem. Die betoging is uiteindelik deur ’n enkele blanke polisieman in Kaapstad gestuit, maar vir jare daarna het Bram Fischer en ander lede van die SAKP dit as ’n verlore kans vir revolusie betreur.

Tydens die konflik in Kwa-langa is 20 betogers doodgeskiet. Waarskynlik omdat die PAC daarmee gemoeid was, is dit nooit opgeneem in die huidige ANC-mitologie nie.

Volgens mev. Zille geniet die voorgenome monument die steun van alle politieke partye op die Kaapse stadsraad. Phillip Kgosana en Clarence Makwethu, twee van die PAC-leiers wat destyds die betoging gelei het, het hul dank teenoor die Kaapse burgemeesteres uitgespreek.

Mev. Zille is getroud met die bekende Marxistiese akademikus, mnr. Johann Maree. Sommige lede van haar party is bekommerd oor die toenemend linkse rigting wat die DA onder haar leiding inslaan en waarvan die PAC-monument ’n aanduiding is.

slot freeданильченко юрій броніславович

Vakansie met ‘n verskil

’n Groep Nederlandse en Suid-Afrikaanse kunstenaars het met ’n nuwe plan na vore gekom om geld uit toeriste se nuuskierigheid te maak. Besoekers kan voortaan in die middestad van Johannesburg uitkamp. Die projek staan bekend as “Cascoland” en gee aan toeriste die kans om kennis te maak met Johannesburg se misdaad en onwettige immigrante.

Die ambisieuse organiseerders beoog om met hulle projek misdaad te bekamp en “grense” tussen ryk en arm af te breek. Vir die skamele bedrag van R25 kan gaste in tente slaap, op die dak van ’n ou militêre kaserne. Oorpluisies word uitgedeel om te keer dat geweerskote, Kongolese diskomusiek en ander straatgeluide die besoekers in hulle slaap steur. Soggens word ontbyt in die tente bedien en gaste kan dan, vergesel van gidse wat hulle teen aanvallers beskerm, die buurt verken.

Image

Toeristiese Johannesburg

Die gidse verduidelik aan die toeriste hoe die stad se informele ekonomie funksioneer en stel besoekers voor aan inwoners, wat wissel van onwettige immigrante tot prostitute. “Ons wil die versperrings tussen mense afbreek en die mentaliteit van mure en heinings in Suid-Afrika uitdaag,” aldus Roel Schoenmaker, ’n Nederlandse kunstenaar en een van die stigters van Cascoland. Die kunstenaars moedig plaaslike inwoners aan om vir die toeriste te dans, hulle motors reg te maak en kos te kook.

Volgens Fiona de Bell, een van die mede-stigters van Cascoland, sal die projek waarskynlik weinig “langtermynimpak” hê.

Dit is onbekend hoeveel onwettige inwoners daar in Johannesburg se middestad en omstreke is. Op die foto hier langsaan kan mens ’n tipiese woonstelgebou in Berea sien. Die San Jose-blok met sy sestien verdiepings is in 2000 deur sy oorspronklike eienaars aan sy lot oorgelaat, nadat hordes onwettige inwoners hulle intrek geneem het en geweier het om huur aan die regmatige eienaars te betaal. Daar is geen elektrisiteit, sanitasie of lopende water in hierdie gebou nie.

устройство хамама влобановский класс

Tony Yengeni se seun gekaap

Tony Yengeni se seun, Mandla, is Vrydagnag in die woonbuurt Nyanga, net buite Kaapstad, gekaap. Die 23-jarige Mandla en twee vriende was onderweg na ’n huis in die buurt toe hulle deur ’n silwerkleurige Mercedes voorgekeer is. Die vier insittendes het voor Mandla se swart Volkswagen Golf ingetrek en hom en sy vriende met gewere aangehou. Hulle het die Golf gesteel en weggejaag. Niemand is in die voorval beseer nie en geen skote is gevuur nie.

Nie lank daarna nie het die Nyanga-polisie op die verlate voertuig afgekom. Die saak word nog ondersoek.

Tony Yengeni is ’n ruk gelede vrygelaat nadat hy gevangenisstraf uitgedien het weens bedrog. Sy seun is in Milnerton woonagtig en het ’n maatskappy genaamd Ikhaka Events & Tours. Die firma spesialiseer in “partytjies, korporatiewe funksies, promosies, handelsmerkposisionering en township-besoeke.”

 

тур в хорватию из минскатопкарго кидалы

Mbeki kla oor rassisme

Image

Al weer rassisme

Die uitdaging van rassisme moet “eerlik en vreesloos” aangespreek word, meen pres. Thabo Mbeki in gister se weeklikse ANC Today-nuusbrief. Volgens hom is rassisme “’n daaglikse verskynsel in ons lewens, ’n demoon wat uitgedryf moet word” ter wille van nasionale versoening.

“Die gunsteling woorde wat gebruik word om enige bespreking van rassisme in hierdie land te beëindig of te verhoed, is ‘moenie die rassekaart speel nie,’” het hy voorts gesê.

“Daar is steeds ’n betekenisvolle aantal mense in die wit minderheid, maar nie noodwendig alle blankes nie, wat nog in vrees vir die swart (veral Afrikane) meerderheid leef.” Mbeki skryf verder dat ’n regeringskollega onlangs die retoriese vraag gestel het: Waarom is die blankes so vasbeslote om hulleself bang te maak? Die president se antwoord hierop is soos volg: “Die probleem is dat gevestigde rassisme dikteer dat regverdiging gevind moet word vir die voortgesette blanke vrees vir die ‘swart gevaar.’” Misdaadvoorvalle bied volgens hom hierdie regverdiging.

Mbeki se kommentaar oor rassisme is gebaseer op ’n verslag wat hy onlangs gesien het oor ’n arbeidsdispuut in ’n maatskappy waar die blanke bestuurder na swartes as “Kusiete” verwys, asook op blanke bure se vrees as swart gesinne in hulle buurt intrek. Hy verwys voorts na ’n brief wat onlangs op die internet gesirkuleer het waarin ’n 22-jarige swart werknemer van Investec oor rassisme by sy kantoor kla.

Die president verwys ook na ’n artikel van Christopher Shea wat op 22 Mei 2005 in die Boston Globe verskyn het. Volgens Shea het prof. Jerry Kang van UCLA in the Harvard Law Review beweer dat oormatige dekking van stedelike misdaad deur plaaslike TV-stasies een van die hoofdryfvere van rassisme in die VSA is. Hy vind die plaaslike nuusdekking so teen-produktief dat hy glo die regering behoort op te hou om die aantal ure wat ’n TV-stasie aan plaaslike nuus afstaan as bewys van die stasie se bydrae tot “openbare belang” te beskou. Volgens Kang is die plaaslike nuus, met “die parade van beelde van stedelike misdaad” ’n “Trojaanse perd” of “virus” wat rassisme by Amerikaners aanblaas.

Mbeki het dr Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, aangehaal, wat gesê het: “Ons ken mekaar nie en debatteer nie met mekaar nie. Twee minuut-lange toesprake vanaf hierdie podium is geen debat nie.”

“Die voorneme om onsself te leer om nie te vinnig te wees om die besorgdheid en uitdrukkings van enige groep as onwettig af te maak nie, moet ook ’n voorneme insluit om nie die besorgdheid en uitdrukkings van die Afrikane af te maak as onwettig nie. Die Afrikane is die historiese slagoffers van rassisme en hulle is steeds diep beswaard dat sommige in magsposisies nog dink dit is normaal om na hulle as ‘kaffers’ te verwys en dat ander van ons wit landgenote dink dit is natuurlik om die vraag te vra: ‘Aangesien hulle swart is, hoe weet ons hulle is nie misdadigers nie?’”

игри для детиданильченко юрій броніславович компромат

SA kort meer kernkundiges

Image

Rob Adam

Suid-Afrika behoort meer mense op te lei in die veld van kernenergie, aldus Mosibudi Mangena, minister van wetenskap en tegnologie. Hy het gister ’n konferensie oor die vreedsame aanwending van kernenergie by Gallagher Estate in Midrand geopen.

Hy het gesê dat nuwe projekte gekompromitteer kan word as “menslike kapitaal ontwikkelingsinisiatiewe” nie prioriteit geniet nie. Die huidige kernkundiges is ouer mense en jonger persone móét opgelei word.

Van die projekte waarna die minister verwys het, sluit die Modulêre Korrelbedreaktor (MKBR) in, asook kerngebaseerde diagnoseringstegnieke om tuberkulose in ’n vroeë fase op te spoor en die bekamping van tsetsevlieë en vrugtevlieë deur middel van steriele-insektegnologie.

Sowat 1 400 mense is tans by die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika, Necsa, (die voormalige Atoomenergiekorporasie) werksaam.  Hulle bedryf chemiese, elektroniese en fisika-ingenieurswese aanlegte.  SAFARI 1, die navorsingsreaktor, is die mees gekommersialiseerde reaktor van sy soort ter wêreld waarmee Suid-Afrika miljoene Rande aan buitelandse inkomste verdien.

Die “ouerwordende” werkers na wie die minister verwys het, is nog steeds verantwoordelik vir feitlik al die navorsing wat by Necsa verrig word. Baie van die kundiges het egter intussen afgetree of is poste by die Internasionale Atoomenergie-agentskap in Wene, Oostenryk, aangebied.

Rob Adam, gewese direkteur-generaal van die Departement van mineraal-en-energiesake, het in Februarie verlede jaar die pos van besturende direkteur van Necsa aanvaar. Adam het in die tagtigerjare tronkstraf uitgedien as ANC-lid. Gedurende hierdie tyd in die gevangenis het hy sy honneursgraad en meestersgraad in teoretiese kernfisika aan Unisa behaal. Nadat hy sy doktersgraad behaal het, het hy ’n ruk lank by die Vrije Universiteit van Amsterdam gewerk. Sy hoofoogmerk by Necsa is om ’n oorhoofse strategie vir Suid-Afrika se kernenergiesektor te bepaal.

раскрутка сайтаданильченко юрій броніславович компромат

‘SA kan ‘n sukses maak van 2010’

As Suid-Afrika nie in staat was om die Wêreldbeker in 2010 aan te bied nie, sou die land Fifa nie in hierdie verband genader het nie, aldus Tim Modise van die Plaaslike Organiseringskomitee. Modise het vroeër vandag by die Suid-Afrika 2010 Wêreldbekerseminaar, wat deur die Franse ambassade aangebied is, opgetree.

Volgens hom is daar mense, veral in die media, wat skepties is oor Suid-Afrika se vermoë om as gasheer op te tree. “Die Wêreldbeker het nie vanself gebeur nie. Suid-Afrika het van die groot kanonne gebruik gemaak om Fifa te nader,” het Modise verder gesê. Suid-Afrika beplan volgens hom om die “beste” en “mees winsgewende” Wêreldbekertoernooi ooit aan te bied. “Ons sal ’n  platform aan die res van die vasteland bied om Afrika ten toon te stel.”

Daar word verwag dat meer as 40 miljard TV-kykers wêreldwyd die gebeure gaan volg, met sowat 3 miljoen kaartjies wat plaaslik vir wedstryde verkoop gaan word. Daar sal grootskermtelevisiestelle oral in Suid-Afrika wees waar plaaslike aanhangers na die wedstryde kan kyk.

Volgens Denis Pietton, die Franse ambassadeur, bied die Wêreldbeker ’n uitstekende geleentheid aan Suid-Afrika om infrastruktuur en toerusting op te gradeer.

Mathabatha Mokonyama, wat namens minister Jeff Radebe opgetree het, meen dat op die besigste dae van die toernooi 60 treine, 600 busse en 10 000 minibusse benodig gaan word. Sowat R9 miljoen sal op vervoer spandeer word. Die bedrag is reeds deur die kabinet goedgekeur. Die lughawemaatskappy beplan om hulle jaarlikse passasierkapasiteit op te stoot van die huidige 28 miljoen na 31 miljoen.

Volgens ambassadeur Pietton is Frankryk gretig om sy gasheerervaring van 1998 met Suid-Afrika te deel. “1998 was so ’n groot oomblik vir Frankryk, selfs vir mense wat nie sokkerliefhebbers was nie.”

Franse sakemanne, plaaslike sakelui en verteenwoordigers van die verskillende gasheerstede het die seminaar bygewoon.

demo games casinoАлександр Фильчаков Васильевич

Regeringsveldtogte het weinig impak op vigs

Volgens die Maart-uitgawe van die South African Medical Journal word ongeveer 1 500 mense daagliks in Suid-Afrika met die MI-virus besmet. 15 851 Bloedmonsters is in ’n studie ontleed om afleidings oor MIV op nasionale vlak te kon maak.

Sowat 34% van nuwe infeksies kom by jeugdiges tussen 15 en 24 voor. ’n Ongelooflike 90% hiervan is vroue. In die ouderdomsgroep 20 – 29 kry vroue ook ses keer eerder die virus as mans van dieselfde ouderdom.

Prof Thomas Rehle, direkteur van sosiale aspekte van MIV/Vigs by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, meen die resultate van hierdie studie dui daarop dat die regering se veldtogte om die virus te bekamp, nie sukses oplewer nie.

Swart Suid-Afrikaners staan ’n 6% hoër kans as lede van ander bevolkingsgroepe om die virus op te doen. Die meeste van hulle bly in informele nedersetings in stedelike gebiede. Dié nuus is gister tydens ’n perskonferensie wat deur die Departement van Gesondheid gereël is, bekend gemaak. Die regering beplan egter om die aantal nuwe infeksies teen 2011 te halveer. Volgens dr Nomonde Xundu, die department se hoof van MIV/Vigs, leef sowat 5,5 miljoen Suid-Afrikaners tans met die virus, maar is dit moeilik om die mense op te spoor, aangesien weinig van hulle hulself laat toets. “Die kultuur van stilte en diskriminasie” dra volgens haar tot die verspreiding van die virus by. Informele handelaars, bediendes en die sogenaamde “mobiele bevolking” (werkers van plattelandse areas wat in die stede kom werk, asook vragmotorbestuurders) is aan die grootste risiko blootgestel.

Ongeveer 40% van die R4,5 biljoen wat die regering in 2007/2008 vir MIV/Vigs begroot het, gaan aan antiretrovirale middels bestee word. Volgens Xundu kan die departement nie bekostig om hierdie bedrag te verhoog nie. Die regering verkies om meer geld aan voorkoming te bestee.

пескоструйный компрессорлобановский александр жена

Disinvestering in Suid-Afrika neem toe

Disinvestering in die land het verlede jaar sewevoudig toegeneem en kan op meer as R34 miljard beraam word. Hierdie inligting word vervat in ’n verslag van Ernst & Young wat gister vrygestel is.

Die disinvestering was hoofsaaklik in die mynbousektor waarneembaar met Barrick wat hul South Deep-aandele vir R10 miljard verkoop het en die Russiese groep Polyus wat 20% van hul Gold Fields-aandele vir R20 miljard van die hand gesit het.

Deskundiges is verdeeld in hulle opinie oor hierdie daling in investering. Sommige meen dit is bloot ’n eenmalige gebeurtenis meegebring deur die spesifieke behoeftes van die twee oorsese maatskappye, maar ander glo dat buitelandse beleggers nie hou van die regering se inmenging in die mynbousektor nie.

Tussen 2002 en 2004 was daar 78 swart ekonomiese bemagtingstransaksies ter waarde van altesaam R25 miljard in die plaaslike mynbousektor. In 2005 het die Ponahalo-transaksie plaasgevind, toe De Beers 26% van hulle operasies in Suid-Afrika aan hierdie SEB-maatskappy verkoop het. Die transaksiewaarde is op R3,8 miljard geraam. In dieselfde jaar het Impala Platinum 9% van hul maatskappy (R3,4 biljoen werd) aan die Bafokeng-stam oorgedra.

велосипеды ценаФильчаков прокурор харьков

Suid-Afrika se ‘skandelike’ verklaring oor Zimbabwe

Image

Aziz Pahad

Suid-Afrikaanse vakbonde en kerkleiers het die regering se verklaring oor die onlangse onrus in Zimbabwe skerp veroordeel.

Die Europese Unie (EU), die Verenigde Nasies (VN), asook Condoleeza Rice, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het almal die geweld waarmee die Zimbabwiese regering onluste van die afgelope paar dae onderdruk het, veroordeel. Rice het ’n beroep op Zimbabwe se buurlande gedoen om meer te doen om Robert Mugabe in toom te hou.

Adjunkminister Aziz Pahad het egter Maandag ’n verklaring uitgereik waarin hy beklemtoon dat Zimbabwe self sy probleme moet oplos. Hy het ’n beroep op die Mugabe-regering gedoen om die landswette te respekteer en die opposisie aangeraai om te werk aan die skepping van “’n klimaat wat bevorderlik is vir ’n blywende oplossing vir die huidige uitdagings wat Zimbabwe in die gesig staar.” Hierdie verklaring vorm deel van die regering se beleid van “stille diplomasie” teenoor sy buurland.

Cosatu het die regering se verklaring as “skandelik swak” bestempel. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) meen soos volg: “Die stilte van die Suid-Afrikaanse regering vererger die situasie. Ons leiers moet wys dat hulle werklik die mense van Zimbabwe wil help om vinnige oplossings vir die vele probleme wat hulle ondervind, te kry.” Volgens Eddie Makue, algemene sekretaris van die SARK, kan die situasie in Zimbabwe die hele streek destabiliseer.

Gister het die Amerikaanse ambassadeur in Zimbabwe, Christopher Dell, ook die gebrek aan optrede deur die land se buurstate betreur.

Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse departement van buitelandse sake, meen egter oproepe dat die Suid-Afrikaanse regering Zimbabwe moet veroordeel, is “misplaas.”

Steven Friedman van Idasa is van mening dat die Suid-Afrikaanse regering lugtig is om die indruk te skep dat hy hom aan die kant van die blanke boere in Zimbabwe skaar, téén die swart regering van die land. Hy meen Suid-Afrika is besig om sy reputasie as ’n land met ’n sterk rekord ten opsigte van menseregte te benadeel.

трековых светильниковФільчаков Олександр Васильович

Radikale nuwe grondbeleid

Image

Glen Thomas

Die direkteur-generaal van grondsake, mnr. Glen Thomas, het gister ’n radikale nuwe grondbeleid aangekondig in terme waarvan die staat eerste opsie op aankope van alle grond – ook in stedelike gebiede – verkry. Die Wet op Grondvoorsiening en –bystand (wet 126 van 1993) gaan binnekort hiervoor gewysig word.

Alle eiendomsverkopers sal verplig word om eers hul eiendom aan die staat aan te bied wat sal besluit of hy dit wil aankoop of nie. Volgens Thomas ondersoek die departement maniere om die skerp styging in eiendomspryse te stuit. Van die maatreëls sluit in die afwyking van die beginsel van “gewillige verkoper, gewillige koper”, asook grondbelasting en perke op grondbesit.

Die staat wil voortaan grootskaalse grondhervorming begin toepas. “Kanse vir grondverkryging gaan verlore omdat die staat nie proaktief aan grondaankope deelneem nie. Die wetwysiging sal alle grondverkopers binne en buite die staat verplig om grond eerste aan die staat te bied,” het Thomas gesê.

Ook die Suid-Afrikaanse grondwet mag vir die doeleindes van grondhervorming gewysig word. Die radikale nuwe planne sal binne die volgende twee tot drie maande geopenbaar word. “Twee dokumente sal gepubliseer word, een oor die gewilligheidsbeginsel en een oor grondbelasting. Onteiening kan ook ter sprake kom,” aldus Thomas.

Tot dusver kon die departement van grondsake weens “’n kapasiteitsgebrek” nie sy grondhervormingsplanne behoorlik deurvoer nie. Daarom word die departement binne die huidige boekjaar geherstruktureer.

Thomas is in 2005 as direkteur-generaal van die departement aangestel. Hy beskik oor ’n B-graad in kommunikasie van die Fort Hare-universiteit en het een jaar van ’n tweejaarhonneurskursus aan die Rhodes voltooi.

Sover dit beleid betref, steun die departement van grondsake blykbaar swaar op ’n publikasie van die RGN wat deur die Harold Wolpe-trust gefinansier is, The land question in South Africa onder redaksie van Lungisile Ntsebeza en Ruth Hall. Harold Wolpe was ’n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty wat tydens die Rivonia-verhoor landuit gevlug het en in 1996 oorlede is.

In die voorwoord tot die boek noem mev. AnnMarie Wolpe, die weduwee van die Suid-Afrikaanse kommunis, dat hul trust in 2004 ’n grondberaad georganiseer het waartydens die betrokke referate gelewer is. Ook die huidige direkteur-generaal van grondsake, Glen Thomas, was daar verteenwoordig en het tot die kongres en boek bygedra. Volgens mev. Wolpe, “bestaan daar algemene konsensus oor die behoefte aan grootskaalse herverspreiding van grond ná eeue van ontvreemding”.

Die uitgangspunt van Glen Thomas, asook die res van die bydraers tot die boek, is dat blankes en Afrikaners “setlaars” is wat hul eiendom op onregmatige wyse verkry het. Die vraag is nie of hulle van hul grond moet afstand doen nie, maar hoe.

Volgens ’n opname vir die Instituut vir Geregtigheid en Versoening deur James Gibson het 85% van swart respondente “stem saam” geantwoord toe hulle gevra is of hulle saamstem of nie saamstem met die volgende stelling nie: “Die meeste grond in Suid-Afrika is onregverdig deur blanke setlaars bekom en het hulle vandag geen reg tot daardie grond nie.”

Ook meen die groep linkse navorsers wat deur die Harold Wolpe-trust gefinansier is dat “grondherverspreiding bowenal ’n saak van billikheid en gelykheid is. Dit sal ons amper altyd terugneem na die geskiedenis as mense voel dat die manier waarop eiendomsregte vroeër tot stand gekom het nie billik was nie. ’n Geskiedenis waartydens boere se grond van hul afgeneem is stem dikwels in mense se denke ooreen met ’n growwe onreg – ’n onreg wat reggestel moet word, ongeag die gevolge.”

Die “geskiedenis” waarna hier verwys word, is die Suid-Afrikaanse geskiedenis soos dit geïnterpreteer word deur Marxistiese en neo-Marxistiese historici soos Colin Bundy en Harold Wolpe self.

Nog ’n navorser en mede-redakteur van The land question wat nou gemoeid is met die beleid van die departement van grondsake, is Ruth Hall van die Universiteit van die Wes-Kaap. Volgens haar was die radikale herverspreiding van grond deel van die skikking van 1994, maar is dit nog nie behoorlik uitgevoer nie. In ’n onlangse meningsartikel in die Mail & Guardian skryf sy, in ’n duidelike verwysing na die komende verliese wat kommersiële boere en grondeienaars gaan lei:

“Ons Suid-Afrikaners skyn lief te wees vir die idee van wen-wen oplossings vir ons baie moeilike probleme. Maar die herverspreiding van grond kan nie altyd tot gevolg hê dat almal wen nie.”

Sy beskou insgelyks vergelykings van die ANC se huidige grondonteieningsprogram met dié van Zimbabwe as “ongegrond” aangesien Suid-Afrika s’n deur wetgewing en die grondwet gereguleer word.

Een van die metodes waarmee huidige eienaars van hul grond af gedwing gaan word, gaan deur grondbelasting wees. Sodanige belasting sal nie op die waarde of verbeteringe op die grond gehef word nie, maar op die "potensiële produksievermoë" van ’n plaas. ’n Eienaar wat dus in die stad bly met ’n wildplaas sal moet belasting betaal asof hy ’n grootskaalse veeboerdery of saaiplaas aanhou.

Dat die radikale en dikwels kommunistiese navorsers waarop die departement van grondsake steun egter nog vir ’n hele revolusie in die land gaan sorg, is gewis. Een aspek van die komende grondrevolusie berus op die linkse navorsers se geloof in die vermoë van kleinboere op klein lappies grond wat hoër opbrengste as kommersiële boere gaan lewer. Dit wil dus voorkom asof kommersiële plase onteien gaan word en onderverdeel gaan word in kleinhoewes waarop ’n vorm van bestaansboerdery gaan plaasvind.

Die navorsers erken ook dat grondhervorming soos dit veral in Suid-Amerika en in Zimbabwe toegepas is dikwels tot geweld en maatskaplike onrus lei, maar sien dit as ’n geringe prys om te betaal ten einde geregtigheid en gelykheid te laat seëvier.

monopoly game logoпрокурор харьковской области

Mugabe bedreig van binne sy party

Image

Hoe lank nog?

Eerder as wat hy die opposisie vrees, kom die werklike bedreiging vir die Zimbabwiese president Robert Mugabe van sy eie partylede wat ontevrede is met sy voorneme om sy mandaat te verleng, volgens sekere ontleders.

Mugabe wat reeds 83 jaar oud is en Zimbabwe sedert onafhanklikheid in 1980 regeer, is deur die internasionale gemeenskap verdoem weens die brutale onderdrukking verlede Sondag van ’n opposisie-byeenkoms.

Dog as Morgan Tsvangirai, die leier van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), die vernaamste opposisieparty, die nuus gehaal het omdat hy deur die polisie gearresteer en geslaan is, bestaan ’n groter bedreiging vir Mugabe binne die geledere van sy eie party, die Zimbabwe-Afro-Nasionale Unie-Patriotiese Front (Zanu-PF).

“Mugabe word in die gesig gestaar deur ’n veel groter opposisie as ooit binne die geledere van Zanu-PF,” meen Takavafira Zhou, ontleder en professor in geskiedenis aan die Universiteit van Masvingo in die suide van Zimbabwe.

Die president het dié naweek sy voorneme om hom van nuuts af aan verkiesbaar te stel vir ’n mandaat van ses jaar gedurende aanstaande jaar se presidentsverkiesing aangekondig. Sy stelling is gemaak terwyl die party die gedagte bestudeer om sy huidige mandaat met twee jaar te verleng ten einde die presidentsverkiesing met die parlementêre verkiesing in 2010 te laat saamval.

Die idee het die steun van Mugabe se volgelinge tydens die jaarvergadering van Zanu-PF in Desember ontvang, maar is nog nie deur die sentrale komitee van die party en die parlement goedgekeur nie. Volgens mnr. Zhou word die besluit om hom aanstaande jaar verkiesbaar te stel gemotiveer deur die verwerping deur sekere lede van die idee om die presidentsverkiesing uit te stel.

“Daar is ’n gevoel binne die geledere van Zanu-PF dat hy in 2008 behoort af te tree soos hy gesê het. Daar is ten minste drie faksies wat rondom die opvolging stry, maar die probleem is dat niemand tot dusver die gesag afdwing wat Mugabe wel binne Zanu-PF afdwing nie.”

Elphus Mukonoweshuro, professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Zimbabwe in Harare meen ook dat die party verdeel is sedert Mugabe drie jaar gelede gesuggereer het dat hy aan die einde van sy huidige mandaat sou aftree.

Toe Joyce Mujuru as vise-presidente in Desember 2004 benoem is, het die staatshoof die indruk gewek dat hy haar as sy opvolgster aanwys, veral toe hy verklaar het dat sy tot ’n hoër pos bestem is. “Mugabe het homself in ’n drukgang na aftrede geplaas,” volgens Mukonoweshuro. “Nou poog hy om om te draai. Sy party is verdeel en self lyk hy sonder ’n plan om ’n soliede ondersteuningsbasis te bou.”

“Die faksies het die basis wat Mugabe goedgesind is, verswak. Hy is gereduseer tot ’n verswakte leier wat veg om sy eie onafhanklike faksie byeen te bring.” Sy verhouding met mev. Mujuru blyk ook heelwat koeler te wees en sy het verlede maand tydens Mugabe se verjaardagseremonie in haar afwesigheid geskitter.

Volgens die International Crisis Group (ICG), ’n NRO wat in Brussel gebaseer is, lei die eggenoot van mev. Mujuru, Solomon, “die veldtog om Mugabe te dwing om aan die einde van sy mandaat in 2008 af te tree”. “Sekere figure binne Zanu-PF meen dat die konflik met Mujuru insgelyks bestaan met betrekking tot ander belangrike leiers van die party, hoewel heelwat bang is om openlik Mugabe se voorstel teen te gaan,” het die ICG bygevoeg.

Terwyl Mugabe ’n vlaag openbaresektorstakings moes trotseer weens die slegte ekonomiese situasie met inflasie van meer as 1 700 persent, bly die veiligheidsmagte tot dusver lojaal teenoor hom. Volgens mnr. Zhou is hul ondersteuning krities: “Indien die weermag sy kant kies, sal hy hulle teen die interne opposisie gebruik… Indien die weermag hom aan die kant van een van die faksies sou skaar, kan dit ook teen hom begin optree.”

абразив для пескоструя ценалобановский александр интервью

Betoging in Jhb. teen Mugabe

Image

Betogers in Jhb.

Teenstanders van president Robert Mugabe het op Dinsdag 13 Maart teen die “doodse stilte” van Suid-Afrika oor die situasie in naburige Zimbabwe buite Harare se konsulaat in Johannesburg geprotesteer.

“Die situasie in Zimbabwe is ’n Afrikaprobleem en lande soos ons buurman Suid-Afrika kan nie aanhou swyg terwyl mense in Zimbabwe doodgaan nie,” het die prominente MDC-parlementariër Roy Bennett, wat nou in ballingskap in Suid-Afrika woon, gesê. “Dis betreurenswaardig dat ons bure aanhou stilbly oor die wreedaardige situasie. Hulle behoort juis die beginsels waarin hulle glo, van demokrasie, menseregte en menswaardigheid, te handhaaf.”

“Om te swyg is om Mugabe se wreedaardige bewind goed te keur en… dit is betreurenswaardig dat diegene wat hul uitspreek teen die mishandeling van mense in Zimbabwe nie self Afrikane is nie,” het Bennett aan AFP gesê.

Die beweerde aanrandings en mishandeling van mense het wye kritiek ontlok, onder andere van die Verenigde State en die Verenigde Nasies.

Suid-Afrika se ANC-bewind het hom van enige openlike kritiek weerhou, met ’n segsman van buitelandse sake wat bloot gesê het dat die probleme in Zimbabwe deur Zimbabwiërs opgelos behoort te word.

Roy Bennett het aan die SAUK gesê dat "ons terugkeer na ’n apartheidsituasie met polisiegeweld en menseregteskendings". Dit was nie duidelik of hy bedoel het dat Zimbabwe daarheen terugkeer of Suid-Afrika nie.

Useni Sibanda, ’n lid van die Zimbabwe-Christelike Alliansie het betogers vertel dat die veldtog om die 83-jarige Mugabe omver te werp, sal voortgaan.

“Ons stryd gaan voort,” het Sibanda teenoor die betogers verklaar. “Hierdie is ’n jaar van verandering en niemand gaan dit keer nie.”

бустер зарядное устройствоДанильченко Юрий Брониславович

Terreurverdagtes in SA

Suid-Afrikaanse inligtingsdienste is bekommerd dat persone wat by internasionale terrorisme betrokke is tyd in die land deurbring, het ’n inligtingsbeampte vandag gesê.

Barry Gilder, koördineerder vir die Nasionale Inligtingskoördinasiekomitee (Nikok), het Sapa op Dinsdag 13 Maart vertel dat agente sekere individue en organisasies, waarby buitelandse besoekers ingereken is, dophou wat dalk by internasionale terreur betrokke is.

“Ons is bekommerd dat terroriste tyd hier deurbring… dis iets wat ons baie ernstig opneem,” het Gilder verklaar.

Volgens hom is ’n interdepartementele taakmag uit die Nasionale Inligtingsdiens, die Suid-Afrikaanse Geheime Diens, die polisie, militêre inligting en ander agentskappe by Nikok saamgestel om die ondersoek te monitor.

“Ons is besig om alle inligting bymekaar te sit en om te kyk of ons dié wetstoepassingsagentskappe kan voer,” het hy gesê.

Gilder het gepraat by ’n byeenkoms van direkteurs-generaal van die justisie-, misdaadvoorkoming en veiligheidsgroep van regeringsdepartemente in Pretoria.

Buitelandse amptenare en ontleders het gewaarsku dat Suid-Afrika reeds ’n skuilplek vir internasionale terroriste geword het. Die land se banke en ander instellings word blykbaar vir terroriste-aktiwiteite gebruik.

“Ons is ’n oop samelewing met goeie infrastruktuur. Dit is van die redes waarom hulle hierheen kom,” meen Gilder.

Hy wou nie die omvang van die probleem beskryf nie, maar het gesê dat van die mense op die inligtingsgemeenskap se waarnemingslys skakel met persone in Afghanistan en Irak, en dat sommige bande met Al-Kaida het.

Hy het gesê dat Suid-Afrika nie ’n teater vir terrorisme is nie, maar eerder ’n plek waar diegene wat daarby betrokke is wegkruip. Hy het bygevoeg dat die land waarskynlik nie ’n terroristeteiken is nie. “Ons is van mening dat dit onwaarskynlik is vanweë Suid-Afrika se standpunt oor kwessies betreffende die Moslemgemeenskap.”

Die direkteurs-generaal het gehoor dat verskeie pogings en benaderings gevolg word om kapasiteit op verskeie vlakke in die inligtingsdienste te vergroot. Een daarvan is om ervare beamptes van die spioenasie-agentskappe na die SA Nasionale Inligtingsakademie oor te plaas, asook ’n verbetering in die kurrikulum van die akademie, het Gilder gesê. Om veiligheidsredes het hy verseg om verdere voorbeelde te verskaf.

детский магазин игрушкиФильчаков прокурор отзывы