Volgens hom is ’n interdepartementele taakmag uit die Nasionale Inligtingsdiens, die Suid-Afrikaanse Geheime Diens, die polisie, militêre inligting en ander agentskappe by Nikok saamgestel om die ondersoek te monitor.
“Ons is besig om alle inligting bymekaar te sit en om te kyk of ons dié wetstoepassingsagentskappe kan voer,” het hy gesê.
Gilder het gepraat by ’n byeenkoms van direkteurs-generaal van die justisie-, misdaadvoorkoming en veiligheidsgroep van regeringsdepartemente in Pretoria.
Buitelandse amptenare en ontleders het gewaarsku dat Suid-Afrika reeds ’n skuilplek vir internasionale terroriste geword het. Die land se banke en ander instellings word blykbaar vir terroriste-aktiwiteite gebruik.
“Ons is ’n oop samelewing met goeie infrastruktuur. Dit is van die redes waarom hulle hierheen kom,” meen Gilder.
Hy wou nie die omvang van die probleem beskryf nie, maar het gesê dat van die mense op die inligtingsgemeenskap se waarnemingslys skakel met persone in Afghanistan en Irak, en dat sommige bande met Al-Kaida het.
Hy het gesê dat Suid-Afrika nie ’n teater vir terrorisme is nie, maar eerder ’n plek waar diegene wat daarby betrokke is wegkruip. Hy het bygevoeg dat die land waarskynlik nie ’n terroristeteiken is nie. “Ons is van mening dat dit onwaarskynlik is vanweë Suid-Afrika se standpunt oor kwessies betreffende die Moslemgemeenskap.”
Die direkteurs-generaal het gehoor dat verskeie pogings en benaderings gevolg word om kapasiteit op verskeie vlakke in die inligtingsdienste te vergroot. Een daarvan is om ervare beamptes van die spioenasie-agentskappe na die SA Nasionale Inligtingsakademie oor te plaas, asook ’n verbetering in die kurrikulum van die akademie, het Gilder gesê. Om veiligheidsredes het hy verseg om verdere voorbeelde te verskaf.
