Clive Derby-Lewis terminaal siek

derby-lewisGaye Derby-Lewis het vanmiddag by monde van haar prokureur erken dat haar man, Clive terminaal siek aan kanker is.

Die omvang van sy siekte is na verskeie toetse bekend gemaak.

Volgens mev. Derby-Lewis is Clive se siekte probleme nou as gevolg van die feit dat sedert kanker die eerste keer ‘n paar jaar gelede by hom gediagnoseer is, hy geen professionele behandeling daarvoor ontvang het nie.

Indien mev. Derby-Lewis haar nie verlede maand tot die hooggeregshof gewend het en ‘n hofbevel teen die Departement van Korrektiewe Dienste verkry het om te sorg dat haar man in die hospitaal opgeneem word om ordentlike behandeling te kry vir die beserings wat hy gedurende die eerste moordaanslag op sy lewe ontvang het nie, sou niemand geweet het hoe ernstig siek hy werklik is nie.

Indien die DKD gehoor gegee het aan die hofbevel en dit nie op ‘n onwettige en kriminele wyse geminag het nie, sou die tweede moordaanslag, waarin hy baie naby aan sy dood gekom het, ook nie plaasgevind het nie.

Clive is uit die ICU eenheid, maar hy is baie maer en verswak, het swart kringe om sy oë en sy regterlong het platgeval na die tweede aanval op hom. Die groeisel in dieselfde long is ‘n weefsel biopsie van gedoen en hy is gediagnoseer met aggressiewe longkanker.

Hy is tans te swak om bestraling of chemoterapie te ontvang na die operasie op sy regterlong om die bloeding te stop.

Die linkerarm se beenpyp wat in die eerste aanval gebreek is, is swak en skeef geset deur Kalafong Hospitaal sodat die gebreekte armpyp nie behoorlik “op lyn” is nie.

Dr Durand het gesê dat die arm nooit sou aangegroei het nie en Clive sou gangrene in die arm kry as dit so gelaat is. Dr Durand het die arm weer oor geset sodat die arm kan aangroei.

Clive se gesondheid is verwaarloos in die tronk oor die afgelope jare sedert 2008 en dit was nou die 2de keer wat die hof genader is om Clive by ‘n bekwame dokter te kry, terwyl die DKD skynbaar nie ‘n flenter oor Clive se gesondheid omgee nie.

Besware deur die Hani-gesin dat hulle “pyn” hulle nie toelaat om Derby-Lewis se vrylating te ondersteun nie, is uiters skynhelig. Chris Hani sowel as sy vrou het albei buite-egtelike verhoudings gehad toe Hani geskiet is.

Van die sogenaamde “hegte band” tussen die twee was daar geen sprake nie.

Bron: Die Vryburger

Selebi verbeek glo nie paroolvoorwaardes nie

Selebi
Selebi

Die departement van Korrektiewe Dienste het bevestig dat die voormalige polisiekommisaris Jackie Selebi nie sy paroolvoorwaardes verbreek het deur sy huis te verlaat nie.

Volgens koerantberigte is Selebi gister in Pretoria gewaar waar hy inkopies gedoen het.

Die adjunk-hoofkommisaris van Korrektiewe Dienste, Teboho Mokoena sê die media mislei mense deur te insinueer dat Selebi sy paroolvoorwaardes oortree het.

Selebi is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van korrupsie, maar is verlede jaar op mediese parool vrygelaat.

Mokoena sê Selebi het die reg om sy huis elke Sondag tussen 9uur die oggend en 5uur die middag te verlaat.

Die koerantberigte het egter bevraagteken hoe Selebi se gesondheid só verbeter het dat hy sonder ondersteuning inkopies kan doen. – RSG

Jackie Selebi vry en doen inkopies in Pretoria

Jackie Selebi in die hof
Jackie Selebi in die hof

Die voormalige polisiehoof en veroordeelde misdadiger Jackie Selebi, wat in 2012 op mediese parool vrygelaat is weens sy ernstige siektetoestand, is afgeneem waar hy in Pretoria inkopies doen, berig Beeld Maandag.

Hy is in sy luukse BMW-6-reeks deur ‘n chauffeur na ‘n winkelsentrum in Monumentpark toe aangery om die Sondagkoerante te gaan koop.

Selebi het met ‘n paar inkopiegangers gepraat alvorens hy sy koerant gekoop het.

Hy het sonder enige hulp geloop en, volgens Beeld, het hy heel gesond gelyk.

Toe verslaggewers hom ‘n paar ure later bel om oor sy gesondheid uit te vra, het hy gesê hy voel bietjie beter en hoop dat sy toestand verder sal verbeter.

Selebi sê dat sy siekte hom tuis laat bly en hom nie toelaat om te bestuur nie.

DIe mediese paroolraad het op 20 Julie 2012 besluit dat Selebi vrygelaat kon word aangesien hy aan onomkeerbare nierversaking, hoë bloeddruk en suikersiekte ly.

Sy skielike verval in swak gesondheid het onafhanklike dokters verbaas, wat gesê het dat nierversaking normaalweg ‘n siekte is wat stadig vererger.

Ten tye van sy vrylating op mediese parool, het die minister van korrektiewe dienste, Sibusiso Ndebele, gesê dat Selebi huis toe gestuur word omdat sy departement oor beperkte middele beskik om na terminaal ongestelde pasiënte om te sien.

Selebi is op 3 Augustus 2010 tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis omdat hy omkoopgeld van die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti aanvaar het.

Toe sy laaste appèl in Desember 2011 van die hand gewys word, het hy by sy huis inmekaar gesak.

Die gemaklike manier waarop Selebi mediese parool ontvang het, staan in kontras met die aansoeke van Clive Derby-Lewis om parool. Die voormalige LV van die Konserwatiewe Party, wat reeds 20 jaar gevangenisstraf uitgedien het, is reeds vir sowel mediese as gewone parool deur amptenare van die departement van korrektiewe dienste aanbeveel. Sy vrylating word egter deur dieselfde minister wat Selebi vrygelaat het, teruggehou.

– Sapa en praag