Daar was glo drie maande gelede by die bejaarde Bloemfonteinse vrou, wat laat gistermiddag in haar huis aangeval is, ook ’n inbreekpoging.
Die 80-jarige Thelma Crous, wat alleen in ’n huis in Westpalstraat in Universitas woon, is steeds in ‘n ernstige toestand in die Mediclinic Bloemfontein met veelvuldige beserings.
Sy het nege maande gelede ’n hartomleiding gehad, en sukkel steeds om te herstel. Volgens polisiewoordvoerder, Peter Kareli is daar nog geen inhegtenisnemings gemaak nie.
Dit is ook nog onduidelik hoeveel aanvallers betrokke was en wat uit Crous se huis vermis word.
Intussen het Maggie Goldsmith van plaaslike skoonmaakdienste, wat Crous se huis gereeld skoonmaak, die situasie “betreur”.
Petro Weyers, 66, van Louis Trichardt (Makhado) sê sy is dankbaar dat haar sesjarige kleindogter, Chaney, nog lewe.
Die twee is verlede Donderdagoggend (6de) wreedaardig deur swartes aangeval in ‘n huisroof by Petro se woonstel in die Kismet-kompleks in Andersonstraat. Die aanval het plaasgevind presies ‘n week voor Petro se 66ste verjaardag op 13 Februarie.
Die Zoutpansberger het Petro minder as vier ure ná die aand se skokgebeure by haar woonstel gevind. Bebloed en steeds in skok het Petro dapper die skriknag se gebeure herleef, terwyl die klein blondekop Chaney ongesteurd eenkant gespeel het. Dit was egter moeilik om die bloukolle op haar gesiggie mis te kyk, asook die dik, rooi vingermerke om haar nekkie soos haar aanvaller haar gewurg het.
Petro, Chaney se voog, het omstreeks 23:00 die vorige aand wakker geword van ‘n geraas. Sy het opgestaan en Chaney, wat saam met haar in haar dubbelbed geslaap het, wou dadelik weet wat is fout. Petro het al die ligte in die huis aangeskakel, maar kon niks verkeerd vind nie. Al die deure was gesluit en die twee het rustig weer gaan slaap. Omstreeks 01:30 is hierdie rustigheid verpletter.
“Ek het wakker geword met hande om my keel en ‘n man wat wydsbeen bo-op my sit … daar was ook een op haar [Chaney] … Die maerder een het op haar gesit, maar hy was ‘n baie wrede een,” sê Petro.
In die donker van die kamer was Petro en klein Chaney se aanvallers se gesigte niks meer as swart silhoeëtte teen die dowwe lig deur die toegetrekte gordyne nie. Petro se aanvaller het vlot Afrikaans gepraat, maar het Engels met sy makker gepraat.
Drie keer het Chaney smekend uitgeroep: “Ouma! Ouma! Ouma!” Elke keer het Chaney se aanvaller haar deur die gesig geklap en gewurg met die woorde: “Shut up! Shut up!” “Daar is steeds ‘n wroeging in my hart dat Chaney gedink het ek wou haar nie help nie, maar ek kon nie …” sê Petro.
Ná Chaney se derde angsroep om hulp – met haar aanvaller se hande styf om haar nekkie soos hy die lewe uit haar probeer wurg het – het haar stem stil geword. Die man het haar opgetel en haar lyfie op die vloer gegooi.
“Ek het gedink my kind is dood,” sê Petro. Dan oorval die emosie haar weer en begin sy onbeheersd huil. “Ek het baie gebid … O, ek wil dit nooit weer deurleef nie…” prewel sy die woorde uit.
Die aanvaller op Petro het ‘n mes uitgepluk en kort-kort teen haar nek en sy gedruk. Ses keer het hy haar gewurg, telkens net tot voor sy haar bewussyn verloor. Dan het hy sy greep verslap sodat sy weer kon asem skep, net om haar weer te wurg. Kort-kort het die man wat pas vir Chaney gewurg het, oorgeleun en vir Petro met die vuis in die gesig geslaan. Hierdie marteling het vir bykans twee ure aangeduur.
“Hulle het aanmekaar gevra ‘Waar is die wapens?’ dan sê ek ‘Ek het nie’, dan vra hulle weer ‘Waar is die geld?’ dan sê ek ‘Ek het nie’. Ek het ‘n R1 200 in my beursie gehad … hulle het dit gevat,” vertel Petro, terwyl die trane oor haar wange rol. Sy wys dan na haar hande en arms. Dit is vol diep snye wat veroorsaak is toe haar aanvallers haar ringe, horlosie en armbande van haar afgeruk het. Sy sê sy slaap altyd met haar juwele aan.
In ‘n stadium het die twee eers Petro se bene vasgebind, asook haar hande. Daarna het hulle een van Chaney se vuil slaapbroeke gevat, opgerol en ‘n knoop daarin gemaak. Hulle het die knoop in haar mond gedruk en die slaapbroek om haar kop vasgemaak. Daarna het hulle met gordyntou uit Petro se studeerkamer haar hande styf om haar nek vasgedraai en vasgebind. Asof dit nie genoeg was nie, het hulle ‘n laken om Petro se kop gedraai en haar met kussings en komberse toegepak op haar bed. Sy kon beswaarlik asemhaal en wou kort-kort haar bewussyn verloor.
“Gelukkig kon ek met my vingers die lap uit my mond kry, anders het ek versmoor,” sê Petro. Intussen is haar kamer en die res van die huis geplunder.
Na wat soos ‘n ewigheid gevoel het, het dit skielik stiller geword. “Ek het so ‘n halfuur gelê, toe roep ek ‘Chaney? Chaney?’ … toe kom sy by.”
Chaney het opgestaan en haar ouma tot in ‘n sittende posisie gehelp. Haar klein handjies was egter nie sterk genoeg om die toue om haar ouma se nek los te woel nie. Sy kon wel die tou om Petro se bene loskry, sodat Petro een voet kon uitkry. Hierna het klein Chaney, vreesbevange en nie eers seker of hul aanvallers nog in die huis was nie, na die studeerkamer gestap en die telefoon gaan haal, aangesien Petro se selfoon ook gesteel was. Petro kon toe haar broer, mnr. Johnny Gouws, skakel. Dit was ongeveer 03:30.
“Sy [Chaney] het vir my die nommers gedruk. Sy is my held! Sy het ons lewens gered. Ouma is trots op jou!” sê Petro terwyl sy na klein Chaney kyk. Weer rol die trane.
Johnny en sy seun het hulle na die woonstel gehaas. Daar aangekom, is die polisie ontbied.
“Ons het eers om die woonstel geloop en toe kom ons in. Toe maak ek haar los, want sy was vas, vas, vas! Sy sou in haar lewe nie daardie tou afkry nie,” sê Johnny. Hy sê hy het amper 10 minute gesukkel om Petro los te kry. Haar toestand was vir hom ‘n groot skok, maar immers het sy suster en klein Chaney nog gelewe.
“Dank die Here ons altwee lewe, my kind lewe! Ek was bang sy was dood. Toe ek so lê en ek hoor haar nie, toe dink ek sy is dood … dit sou my dood beteken het,” sê Petro. Sy het geen twyfel daaroor dat hul aanvallers aangeneem het dat nie een van hulle die aanval sou oorleef nie.
Die polisie was redelik vinnig op die toneel, maar het klaarblyklik geen verklarings afgeneem of die misdaadtoneel afgesper voordat hulle weer gery het nie. Vrae hieroor en ander vrae, soos hoe die aanvallers toegang tot die woonstel verkry het, bly steeds onbeantwoord. Geen diefwering is geknip nie en al die deure was gesluit na die aanval. Een van die buitedeure se sleutel was egter vermis, alhoewel dit nog die vorige aand daar was.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisie woordvoerder, is gevra waarom daar nie tydens die polisie se eerste besoek verklarings geneem is of die area afgesper is nie. Sy het gesê dat die polisielede wat eerste op die toneel was weliswaar die toneel moes beveilig het, totdat die misdaadtoneelbevelvoerder die toneel kom oorneem het. “As dit nie gebeur het in hierdie geval nie, dan sal daar ‘n volledige interne ondersoek wees. Sou daar verkeerde optrede gewees het, kan dissiplinêre stappe geneem word,” het Otto gesê. Die polisie het wel later die oggend die toneel besoek, goeie vingerafdrukke gekry en verklarings afgeneem. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in die saak gewees nie, alhoewel die polisie steeds besig was met ‘n intensiewe ondersoek na die voorval.
In die 31 jaar sedert Hannes (61) en Hannetjie (66) le Roux in hul huis in Noordheuwel, Krugersdorp woon, was die bejaarde egpaar nooit slagoffers van enige vorm van misdaad nie, maar op 28 Januarie het alles verander.
Hannes was besig om buite die huis te werk toe twee onbekende swartes sy erf binnekom, het hy aan looklocal.co.za vertel.
“Die swartes het navraag gedoen oor ‘n werker van my, en die volgende oomblik is ek en een van my ander werkers beveel om die sekuriteitshek van my huis oop te sluit en om hulle in te laat,” vertel hy.
Binne etlike oomblikke het die Le Roux’s se huis in ‘n slagveld verander.
“Toe ons instap het een van die swartes ‘n mes en geweer uitgepluk. Hy het my grond toe gegooi en meubels is heen en weer gegooi; ons het lank met mekaar gestoei.”
Uit die hoek van sy oog het Hannes gesien hoe sy werker met ‘n mes gesteek word en daarna reggekry het om te ontsnap.
Hy het by die bure gaan hulp soek en sekuriteit ontbied.
Elders in die huis is Hannes se vrou, Hannetjie en hul 15-jarige kleindogter en drie van haar vriendinne intussen met ‘n vuurwapen aangehou en beveel om in ‘n ry te staan.
“Hulle het geld en skootrekenaars gesoek en almal wat selfone gehad het moes dit oorhandig,” vertel Hannetjie.
Hannes het aangehou om met die een swarte in die sitkamer te stoei en hom uiteindelik uit die huis gekry.
“Ek het geweet dat die ander man nog in die huis is en het dadelik na my vrou en die kinders gehardloop waar ek die geveg voortgesit het. Ek kon die tweede man ook uiteindelik uit die huis kry en albei het gevlug.
“Ons was verlig en dankbaar dat ons leef. Ons wil dit net nooit weer oorhê nie,” vertel Hannetjie.
Maar presies vyf dae later, op Maandag 3 Februarie omstreeks 1vm is die egpaar en hul kleindogter se grootste vrese bewaarheid die rowers was terug.
“Dit was soos ‘n fliek. Ons was almal in die hoofslaapkamer toe ons ‘n harde geluid hoor en skielik vier gemaskerede mans deur die plafon sien val,” vertel Hannes.
Die Le Roux’s se kleindogter, wat twee van die rowers herken het van die vorige inbraak nadat hulle die maskers afgehaal het, is beveel om stil te sit en stil te bly.
Die rowers het daarna met aggressie op die egpaar toegesak. Hannetjie is met ‘n hamer in haar gesig geslaan en Hannes twee keer met ‘n mes in die bors gesteek.
“Hulle wou die kluissleutel hê,” vertel Hannes.
Terwyl drie van die rowers die huis gestroop het, het die ander lakens om Hannes se kop en komberse om sy lyf gedraai.
“Hulle wou my versmoor.”
Hannes wat teen daardie tyd al n groot hoeveelheid bloed verloor het, sê dat hy net vir kort oomblikke sy bewussyn herwin het.
“Ek was seker ek gaan sterf.”
Hannetjie is beveel om vir die swartes te wys waar hulle die kar parkeer.
“Ek moes die kar aansluit en uitklim, toe het die vier ingeklim en gevlug.”
Toe dit stil word het die Le Roux’s se kleindogter die straat ingehardloop om hulp te soek.
Inwoners verder af in die straat het uiteindelik kom help en die ambulansdienste is ontbied.
Na dae in die intensiewe sorg-eenheid van die Netcare Krugersdorp Hospitaal is Hannes ontslaan en sterk nou by die huis aan.
Die egpaar en hul kleindogter het hul storie aan vertel om mense daarvan bewus te maak en doen ‘n beroep op Krugersdorp-inwoners om veiligheidsmaatreëls in plek te stel.
“Moenie dink dat dit nie met jou kan gebeur nie dit kan,” waarsku Hannes.