Onluste oor gratis universiteite by vier kampusse in Oos-Kaap

Onluste oor eise vir gratis onderwys vir arm swart studente veroorsaak ontwrigting by vier universiteitskampusse in die Oos-Kaap.

Die bestuur van die Walter Sisulu Universiteit het ‘n hofinterdik aangevra om orde te probeer handhaaf tydens lesings, te verhoed dat eiendom beskadig word of personeel geïntimideer en aangerand word, het die Daily Dispatch berig.

Studente van die Universiteit se Mthatha, Butterworth en Oos-Londen kampusse is in hegtenis geneem vir openbare geweld, huisbraak en diefstal, opsetlike saakbeskadiging en die besit van petrolhouers.

WSU se registrateur Khaya Maphinda het in ‘n beëdigde verklaring in die Grahamstadse Hooggeregshof gesê: “Personeel het gevlug die kampusse uit vrees vir hul persoonlike veiligheid en die veiligheid van hul voertuie, en het nie teruggekeer nie.”

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) is ook lamgelê deur oproer, met lesings en toetse wat uitgestel is nadat sowat 300 Cosas-studente ‘n ingang na die Suidkampus afgesper het.

Studente is gewaarsku om die kampus Woensdag te vermy.

Die Verteenwoordigende Studenteraad het op Twitter gesê dat ‘n massavergadering met studente Dinsdag geëindig het met ‘n besluit om ‘n voorstel in te dien by die presidensiële kommissie van ondersoek vir hoër onderwys om ‘n verhoging van 0% te vra.

Die vergadering het ook gevra dat akademiese aktiwiteite voortgaan en diegene wat toetse gemis het, toegelaat word om te skryf.

Die Herald het NMMU-bestuur aangehaal wat sê dat geen verhoging in fooie die instelling finansieel sal ruïneer.

“Soos met alle universiteite, staar die NMMU finansiële beperkings in die gesig staar. Geen toename in fooie as (opsie) is nie volhoubaar nie,” het woordvoerder van die universiteit Zandile Mbabela gesê.

Polisie ontplooi by UK

Oproeriges het Maandagoggend buitebande op die kampus van die Universiteit van Kaapstad gebrand en ingange probeer versper.

Die polisie is inderhaas ontplooi om die situasie onder beheer te hou.

Die woordvoerder van die universiteit, Pat Lucas, sê ingange is weer oopgestel en studente kan eksamen gaan skryf.

Lucas sê eksamens sal voortgaan ten spyte van die ontwrigting.

Die visekanselier van die die Universiteit van Kaapstad, Max Price sê intussen die universiteit is daartoe verbind om met die eksamen voort te gaan.

Die universiteit het die keuse aan studente gestel om hul jaareindeksamen tot Januarie aanstaande jaar uit te stel.

Die registrateur, Hugh Amoore sê studente het tot 27 November tyd om te besluit. Hy sê die eksamen sal vir die res van die studente normaalweg voortgaan.

Price sê sowat 17 000 studente het gekies om hul eksamen vanjaar te skryf.

Die betogers eis gratis onderrig en dat agterstallige skuld afgeskryf word. Die betogers het onderneem om met hul ontwrigting voort te gaan totdat daar aan hul eise voldoen is.

Studente van die Universiteit van Kaapstad, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland beplan ‘n massa-optog na die parlement.

Hulle eis dat die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande hulle toespreek.

Dit volg nadat hulle vroeër na die parlement opgeruk het, waar hulle geen verhogings van klasfooie en ‘n einde aan die uitkontraktering van werknemers geëis het, eise waaraan die ANC uiteindelik toegegee het.

Die betogings gaan egter onverpoos voort met nuwe eise.

Duisende het reeds versoekskrifte onderteken om hul jaareindeksamen opsioneeel te maak.

In die eerste petisie word gevra dat studente aan die Universiteit van Kaapstad hul semester-punt as ‘n finale kursuspunt mag gebruik. Byna vierduisend mense het die petisie onderteken.

‘n Soortgelyke versoekskrif by die Universiteit van Wes-Kaapland het meer as drieduisend handtekeninge gekry.

Die woordvoerder van die UWK sê egter hulle verwag nie enige ontwrigtings met die eksamen wat vandag begin nie.

‘Meeste studente by universiteite is swart’

Die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande sê sommige universiteite se probleme is toe te skryf daaraan dat die regering ‘n slagoffer van sy eie sukses is.

Nzimande het gesê die aantal swart studente aan universiteite het sedert 1994 toegeneem, die meeste studente is swart en die universiteite het boonop uitgebrei.

Nzimande sê die land kán wel gratis onderwys bekostig, maar die geld moet uit die privaatsektor kom.

Hy sê al die finansiële implikasies van klasgelde wat nie vir 2016 verhoog sal word nie, is nog nie duidelik nie. Die tekort blyk sowat drie miljard rand te wees.

Nzimande het voorts erken dat daar sedert 1994 ‘n daling in regeringshulp aan universiteite is.

Die aankondiging oor klasgeldverhogings wat verlede week tot landwye betogings gelei het, het etniese politieke faksies binne die ANC en EFF gemobiliseer.

Die opstand het by talle instellings tot geweld, plundery en brandstigting gelei.

President Jacob Zuma sê ernstige oorweging word tans geskenk aan die hersiening van universiteite se outonomie.

Hy het by die Oliver Tambo-gedenklesing in Port Elizabeth gesê die siening is dat daar ‘n verskil moet wees tussen die outonomie van universiteite en akademiese vryheid.

Die sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe vroeër gesê universiteitsrade en visekanseliers misbruik hul outonomie om studente uit te sluit.

Die DA sê intussen die regering moet sy aandeel in Vodacom wat vir R2 miljard verkoop is, gebruik om universiteite te befonds.

Die DA sê ‘n verdere sowat R720 miljoen wat aan die departement van internasionale betrekkinge toegeken is om die verswakking van die rand teen te werk, kan eerder aan universiteite gaan.