Oproeriges het Maandagoggend buitebande op die kampus van die Universiteit van Kaapstad gebrand en ingange probeer versper.
Die polisie is inderhaas ontplooi om die situasie onder beheer te hou.
Die woordvoerder van die universiteit, Pat Lucas, sê ingange is weer oopgestel en studente kan eksamen gaan skryf.
Lucas sê eksamens sal voortgaan ten spyte van die ontwrigting.
Die visekanselier van die die Universiteit van Kaapstad, Max Price sê intussen die universiteit is daartoe verbind om met die eksamen voort te gaan.
Die universiteit het die keuse aan studente gestel om hul jaareindeksamen tot Januarie aanstaande jaar uit te stel.
Die registrateur, Hugh Amoore sê studente het tot 27 November tyd om te besluit. Hy sê die eksamen sal vir die res van die studente normaalweg voortgaan.
Price sê sowat 17 000 studente het gekies om hul eksamen vanjaar te skryf.
Die betogers eis gratis onderrig en dat agterstallige skuld afgeskryf word. Die betogers het onderneem om met hul ontwrigting voort te gaan totdat daar aan hul eise voldoen is.
Studente van die Universiteit van Kaapstad, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland beplan ‘n massa-optog na die parlement.
Hulle eis dat die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande hulle toespreek.
Dit volg nadat hulle vroeër na die parlement opgeruk het, waar hulle geen verhogings van klasfooie en ‘n einde aan die uitkontraktering van werknemers geëis het, eise waaraan die ANC uiteindelik toegegee het.
Die betogings gaan egter onverpoos voort met nuwe eise.
Duisende het reeds versoekskrifte onderteken om hul jaareindeksamen opsioneeel te maak.
In die eerste petisie word gevra dat studente aan die Universiteit van Kaapstad hul semester-punt as ‘n finale kursuspunt mag gebruik. Byna vierduisend mense het die petisie onderteken.
‘n Soortgelyke versoekskrif by die Universiteit van Wes-Kaapland het meer as drieduisend handtekeninge gekry.
Die woordvoerder van die UWK sê egter hulle verwag nie enige ontwrigtings met die eksamen wat vandag begin nie.
